2013 in review

The WordPress.com stats helper monkeys prepared a 2013 annual report for this blog.

Here’s an excerpt:

The concert hall at the Sydney Opera House holds 2,700 people. This blog was viewed about 21,000 times in 2013. If it were a concert at Sydney Opera House, it would take about 8 sold-out performances for that many people to see it.

Click here to see the complete report.

Advertisements

Die einde van die Donkie.

Dit is nou vanmiddag mooi duidelik vir my gemaak dat ek mense te na kom met my blog. Sekere mense sal sekere van my blogs kan interpreteer dat dit skadelik vir my beeld as NG Dominee is. Sekere kere het ek woorde gebruik wat nie by my amp pas nie.

Vir al die seer wat my blog vir mense veroorsaak het, vra ek onvoorwaardelik om verskoning.

Vir die kere wat dit my werkgewer benadeel het, vra ek om verskoning.

Aangesien ek nie die professionele beeld kan handhaaf wat van my verwag word nie, is dit die einde van die pad.  Ek kan nie net ‘n masker opsit en praat presies soos die broers en susters dit wil hê nie.

Ek wil baie dankie sê vir baie goeie vriende wat ek gemaak het langs die pad. Dit voel vir my soos dood in die familie.

Vergewe my, maar ek kan net nie meer nie…

Vir oulaas

Die Donkie

 

Avontuur in die woestyn, Episode 7

Natasha het die fakkel vir my aangegee, en Donkies mag geduldig, gedienstig en gedweë wees. Maar ons is ook party- animals in die woestyn wanneer ons op vakansie is. Ons is net effens langdradig, wat mense soms kan irriteer, so sorry heehaah (sorry Riaan Cruywagen) .  Hoe het ons in die woestyn beland? Seegogga het ons saamgenooi op vakansie in die woestyn…

In die woestyn het ons saam om die kouevuur gesit, wat so warm soos die son gebrand het.  Die Maankind het oor die duine gedans.  In die woestyn vind jy vrede en rus vir jou siel, soos ons vriende in Rolbos gereeld laat weet.

Kamele is natuurlik die beste geskik vir hierdie harde wêreld, en veral hulle kan in die aand langs die kampvuur diep dinge begin gesels.  Selfs wanneer Jan sy Pyp volgestop het, kan jy maar luister, daar kom baie meer as twak tussen die lyne deur. Rissiepit Ru het vir ons baie lekker kos gemaak, ons bekers loop oor!

Kind van Afrika kon dit regkry om spookasem in die stiller wordende nag op te tower. Maar die wolk spookasem het al hoe groter geword en al meer dreigend nader gekom.  Newsferret het dadelik sy kamera gegryp, want niemand het nog ooit so ‘n vreemde verskynsel gesien nie. Murphy het ook dadelik die notaboek gegryp om die scoop vir die Volksblad neer te skryf:  Die Apokaliptiese bedreiging van Spookasem vir onskuldige woestynbewoners…

Dirkie sê: Vriende, ek kan in my wildste drome nie dink dat spookasem ‘n mens kan seermaak nie. Dalk is die vrees vir die dinge baie erger as die dinge wat ons vrees! Slakkelak beaam en sê: Daar is niks in hierdie wêreld wat ons regtig seer kan maak nie. Lekkerjeuk sê: al kom hier ‘n pienk fluffy storm nader, is dit nog steeds interessant om te sien hoe julle almal daaroor dink. Sê nou maar net die spookasem is ‘n metafoor vir die einde van die wêreld op 21 Desember. Kan dit nie ons kollektiewe bewussyn wees wat hersenskimme vir ons optower nie?

Die Donkie vra: Is ons vrese nou eg, of nie? Hoe groot is die gevaar wat ons werklik bedreig? Dis nou ‘n stekelrige vraag, sê Turksvy Toorts sê: ek is gewoond daaraan om mense teen gevaar te waarsku. Ek dink nie die Spookasem is enigsens meer gevaarlik as die hart van ‘n mens nie. Gaan vra MnrNel, hy het al baie oor hierdie dinge gedink! MnrNel sê:  Spookasem kan dalk net ‘n optiese illusie wees. Dit het iets te doen met die verbuiging van die son se strale, soos gerefrakteer teen die besondere kwaliteit van die lug in die woestyn, wat die pienk golflengtes van lig helderder laat vertoon.  Ek sê: ons hoef nie bang te wees daarvoor nie! Vir die inherente volume is die gepaardgaande gewig te lig om enige skade aan ‘n mens te doen.

Merrie wil ons breine losbrand, en gooi die vraag op die tafel: Nou waarvoor is julle dan so bang soos ‘n klomp ou hekse met nat broeke? Olga brand die brein los en sê: Ja, wat is daar nou eintlik om voor bang te wees so kort voor 21 Desember? Hier in die woestyn vat alle goeie dinge in elk geval langer om te arriveer! Boer in Ballingskap herinner ons daar uit sy hoekie uit: More teen 12 minute en 12 sekondes oor 12 sal die datum en tyd 12:12:12 12/12/12 wees en dan is dit 12 dae voor Kersfees…

Wanneer die groepie om die vuur uiteindelik bedaar het, sê Donkie hy wil graag ‘n fabel vertel wat al vir hom baie beteken het. Hy hoop net nie sy sensitiewe gemeentelede neem aanstoot nie. Donkies is nie altyd sulke goeie storievertellers nie, en soms baie langdradig… en kan nog soms te veel herhaal ook. Maar dié tipe stories is vir hom baie moeilik om uit te dink… so daarom hierdie pêrel van wysheid, dalk kan dit net vir iemand iets beteken…

Eendag, lank lank gelede, was daar in ‘n baie koue land se winter ‘n klein voëltjie, wat op ‘n tak gesit en skree het terwyl alles rondom hom wit toegesneeu was. Hy val toe uit die boom uit, en lê en skree in die sneeu onder die boom. Die koei het die storie so op ‘n afstand gestaan en kyk, en die voëltjie intens, uit sy hart uit jammer gekry. Daarom het koei nader gestap, en op die voëltjie gemis. Toe skree die voëltjie eers erg. Die kat het dit gehoor, ook nader gestap, en toe die voëltjie skoon gelek. Daarna het die kat die voëltjie opgevreet… Wat wil hierdie ou stukkie antieke wysheid graag vir ons sê, vriende?

Die fabel van die voël, die koei en die kat wil dit vir ons leer:

  1.  Nie almal wat op jou kop skyt is jou vyande nie.
  2.  Nie almal wat jou gat lek is jou vriende nie…
  3.  as jy in die stront is, hou jou bek!

‘n Baie dapper, stiller een in die vuurkring, die Veilige Reisiger sê: Donkie, nou praat jy stront!  Maar ek dink een ding wat vanaand om die vuur uitgekom het, is baie waar. Die vrees wat ons het vir sekere dinge, is dikwels baie erger as die dinge wat ons vrees. Ek gaan nie meer bang wees vir spookasem nie!  Ek wil net liefhê, en lewe! Rosige Maryn beaam dit heelhartig en sê: Vrees se boudjies moet brand! Vrees is ons vyand, nie spookasem nie!

Dit is hoekom dit goed is om saam met vriende in die woestyn om die vuur te gaan sit. Partykeer is dit baie goed om in die groot ooptes van die natuur te gaan sit en klein word. Te kyk hoe die sterre stadig in die hemelruim draai. Om die verskietende meteoriete dop te hou, en weer behoorlik klein te voel, soos dit hoort. Want in die stilte kan ons soms nonsens praat, maar soms groot waarhede by iemand anders hoor wat ons weer bybly as ons terug moet gaan na die “beskawing”, waar ons soos lemoene leeggesuig word in die korporatiewe wêreld.

Ons is nie net in die woestyn om ons vrese in die oë te kyk nie, ons is ook hier om ons drome te ontdek.

En daarom tag ek graag vir Vlooi om die storie van drome verder te vat, as jy kans sien…

Mapstieks, dis moeilik om julle almal in te skryf! Groot ekskuus vir almal wat per ongeluk uitgelaat is in hierdie sêd sêd storie!

Die Donkie ontmoet ‘n legende, en maak reg vir Poison Rally 2012

Lodie de Jager se nuutste foto op sy blog van hom en sy buurman Klaas.

Vandag was nou meer soos die lewe veronderstel was om te wees. Eers het ek by Binnelandse Sake twee huwelike geregistreer gekry in minder tyd as wat die Wimpy vat om ‘n mega koffie aanmekaar te slaan. Dit, liewe vriende, is ‘n wonderwerk!  Daarna het die Staatsaanklaer my pleidooi aanvaar vir die R500 verkeersboete en dit afgeskryf! (dit was regtig ‘n noodgeval om vinnig in Pretoria uit te kom!)

Maar dis nie die dinge wat vandag baie spesiaal gemaak het nie. Vandat ek Lodie de Jager se boek gelees het van sy epiese motorfietstog van Naboomspruit af tot in Duitsland, wou ek hom graag ontmoet. Hy bly immers net in die buurdorp, 42 km van ons af. (Sommige mal mense hardloop gereeld daardie afstand- iets van 42.2 km gemeng met Spreuke 28:1)

In elk geval, Lodie het in 2008 van Naboomspruit tot in Duitsland met ‘n Kawasaki KLR 650 gery, sonder enige borge van Kawasaki SA. Vanjaar het hy die Kawa tot in Berlyn gevlieg, en toe van daar af deur ‘n groot deel van Rusland en die Skandinawiese lande gery. Enkel en alleen. Sy blog is ook so lekker om te volg, omdat hy so intens lief is vir Afrika, en om interessante mense te ontmoet.

Vanoggend het 5 dae se verlof begin. Ek het na Naboom toe gery, en lekker by Lodie gaan Duitse koffie drink.  Daar was ook van Lodie se vriende, een van Naboom en een van Kairo af daar. Dit was nou die lekkerste kuier, met vier manne wat vir die Here en vir motorfietse lief is!  Ek kon ook aan die legendariese KLR wat al in Siberië was, vat!

Lodie is besig met ‘n ander “reis” op die oomblik. Daar is ‘n gewas uit sy hart verwyder twee weke gelede, en volgende week moet hy vir ‘n PET scan gaan om te kyk of die kanker versprei het.  Hy hanteer dit so positief, en het soveel goeie vriende wat hom ondersteun. Ons sal ook saam bid vir goeie nuus volgende week, en vir die pad van genesing wat voorlê! Dit was vanoggend vir my baie, baie lekker om so ‘n opbouende en positiewe kuier te beleef daar in Lodie se stukkie paradys!

Vanmiddag is ek besig om te pak. More oggend vroeg wil ek vertrek Klerksdorp toe, waar ‘n goeie vriend ‘n De Graaff uitlaatplek oopgemaak het. Hy gaan my help om my BMW se uitlaatpyp so effentjies aan te pas- klein bietjie meer geraas en klein bietjie meer spoed en krag… net so bietjie meer, oom Spietkop! Vrydagoggend gaan ek en die BMW na Kroonstad, waar ek my enigste jaarlikse rally weer bywoon- die derde Poison Rally in ‘n ry. Dis al wat ek by uitkom in ‘n jaar!  Ek het weer dringend my jaarlikse dosis van gewone mense nodig om al my varkies op hok te hou. Hou maar hierdie spasie dop…

Die lang, lang pad na Suikerbossie toe…

Oor 103 dae spring ons weg op my 19e Argus. 10 Maart 2013. Waarskynlik rondom 08h25.   103 Dae om van totaal onfiks (alweer!) tot by oorleef-fiks te wees vir daardie oomblik wanneer ‘n mens bo-oor Suikerbossie gaan- dan het jy dit darem gewoonlik gemaak, behalwe as die Suidooster wreed is, of iemand in jou voorwiel vasry en jy lê en bloei voor al die Supermodelle in Kampsbaai se koffieshops… (gelukkig nog nie met my gebeur nie, halleluja- ek het met groot genade al 18 klaargemaak- nog net 1 val, 1 puncture, 1 gebarsde wiel – alles drie jaar gelede met die 120 km/h Suidooster…)

So saal ek vanoggend weer my ou Trek 800 Trail Bergfiets op. Ek het eenkeer die fout gemaak om hom te weeg- 19 kg. Dit is gelykstaande aan ‘n Centurion Tank by Pantserskool- vra maar my neef die Sammajoor daar, hy sal vir jou kan sê dis waar!

My Argus fiets, ‘n Schwinn Fastback, waarop ek bergfiets stuurstang en sagte bergfietssaal gesit het, se voorwiel is nog steeds net so uit die raam uit soos daardie dag by die Waterfront toe ek Argus 2012 klaargemaak het- hy staan nog onder die stof in die spaarkamer.

En ekke? Tim Noakes het altyd gesê die rus is net so belangrik soos die oefen in ‘n mens se program. So ek het van 12 Maart af gerus. Ek vermoed dit was alweer bietjie lank. Die bier was te lekker, veral in my nuwe bierbeker. Die winterkossies was te lekker. Ek lyk nou soos die vetgemaakte kalf vir die kersfeesete.  So my suidpool en die fiets se saal geniet mekaar glad nie. Opdraandes is nag. Afdraandes is hemels. Ek hyg en syg soos ‘n ou stoomlokomotief. Ek sien visioene van geopende hemelpoorte, ek hoor harpmusiek en sien engele langs die pad… Ek het nou hoofpyn en hoes al te lekker na vanoggend se 20 km.

Elke jaar dreig ek myself. Hoe kan ‘n mens ‘n Argus se fiksheid net so weggooi? Hou aan oefen, al is dit net 20 km per dag so 3 keer ‘n week. Skryf in vir die 94.7. Maar nee- elke jaar pik die luislang my net na die Argus.  Dis nie lekker om onfiks te wees nie… ek verstaan dit glad nie. En dan kry ek weer daardie Deja Vu gevoel van hoe Suikerbossie ‘n mens kan seermaak as die temperatuur anderkant 40 grade is, en ‘n mens nie asem kry nie. Daardie aanhoudende pyn van elke trap. Die hertverskeurende bordjie met die koffiebeker op wat  se dat jy nou eers halfpad is.

Ja, hier lê ‘n lang, lang 103 dae voor! Intussen is daar ook nog ‘n Poison Rally en ‘n week by die see om na uit te sien- nog verlore tyd vir die fiets…

Maar daar is niks, maar niks (behalwe nou een ding) wat daardie biertjie by  Ferrymans op die Waterfront wen as ek hier rondom 5 ure in die saal daar aankom nie!