Die Onderdanige vrou… ?!

Hierdie blog kan vir sensitiewe ateïste aanstootlik wees- hou eerder verby…

Herriemerrie het ‘n ding begin, en Toortsie het daarmee voortgegaan… en nou wil ek ook net ‘n eiertjie daaroor lê…

Dit gaan oor die “Bybelse” siening van die Onderdanige vrou, soos aangehaal in Efesiërs 5:22 en verder…

Volgens die tradisionele verstaan daarvan moet die vrou onderdanig aan haar man wees- en onse voorouers het in baie huishoudings verstaan dit beteken pappie is die baas, en mammie is klaas… Pappa sit op die stoep met sy pyp en sy sweep, en die ma en kinders dra die koffie aan en doen al die ander werkies. Ja, ek weet ek oordryf dalk so bietjie, en ja, daar was verseker skitterende uitsonderings op hierdie reël. En tog sien ek die verskynsel steeds so dikwels hier in die Bosveld in ons eie gemeente- omies wat stoere patriarge is, ‘n man wat ‘n kyk kan kyk en sy staan kan staan… en vroue wat soos ‘n ingehokte sirkusleeu na baie jare lyk- die lig is uit hulle oë uit…  (raai wie kyk nou Water for Elephants saam met sy kinders terwyl hy hierdie op die laptop skryf…)

Toorts het so mooi verduideliking gegee in haar skrywe oor die bedoeling van Efesiërs 5.

Die onderdanige vrou was deel van die vloek van die sondeval- ‘n vrou sou na haar man hunker, en hy sou oor haar heers… (Genesis 3:16)

Maar Jesus het die sosiale orde van sy dag op sy kop kom keer. Eers doen Hy die ondenkbare in Johannes 4-  Hy is ‘n Jood, wat met ‘n Samaritaan praat, Hy is ‘n man, wat met ‘n vrou praat, Hy is ‘n Rabbi, wat met ‘n “gevalle” vrou praat…  (Johannes 4:9) Al hierdie dinge was taboe in daardie samelewing.  Daar was sulke duidelike grense tussen manne en vroue, tussen Jode en nie- Jode, en tussen vry mense en slawe.

Toe Jesus die dood oorwin het, het daar ‘n nuwe wêreld begin- een waarvan Hy die mensgemaakte grense afgebreek het. Die eerste ooggetuies van sy opstanding was vroue! Vandag lyk dit nie na veel nie, maar onthou- vroue het destyds geen regstatus gehad nie- hulle kon nie in enige hof ‘n ooggetuie wees van enige iets nie. Maar Jesus kies hulle om die eerste vertellers te wees dat Hy lewe! (As die Bybel net mensewerk sou wees- wie sou so onnosel wees om die storie so te skryf- die magteloses getuig dat Hy die Here is?!)

In hierdie nuwe wêreld het die grense verval. Paulus sê dit so mooi in Galasiërs 3:28- “Hier maak dit nie saak of iemand man of vrou is, Griek of Jood is, slaaf of vry is nie, hier (in die kerk!) is almal één in Jesus!

As jy hierdie beginsel mooi verstaan, kom ons gaan dan na Efesiërs 5 toe.

Die fondament van die hele gedeelte begin nie in vers 22 soos al die ou dominees dit preek nie. In vers 21 staan ‘n verskriklike belangrike vers, wat die fondament is van drie gedeeltes wat daarop volg.

Efesiërs 5: 21- “Wees uit eerbied vir Christus aan mekaar onderdanig…” ‘n Versie wat ons so gou kan mislees, word skielik een van die heel belangrikste verse vir die verstaan van die koninkryk van God.  Die fondament vir Christene- in my vertaling daarvan: “Omdat julle Jesus liefhet, DIEN MEKAAR!

Dit word op drie baie belangrike lewensterreine toegepas- en ons sien dit gewoonlik net raak as toepassing van die huwelik.

  1. Dien mekaar in die huwelik– (Efes 5:22- 33) Man en vrou dien mekaar- stel die ander een eerste, dra die ander een se belange op die hart, maak ruimte vir die ander een om sy/haar volle potensiaal uit te leef in die lewe.  ‘n Man moet sy vrou liefhê soos Jesus, wat sy lewe opgeoffer het vir sy kerk.  En ‘n vrou gee haar man eerbied- dis mos waarop ons manne floreer- ‘n vrou wat ons potensiaal raaksien.  Dien mekaar- en albei is gelukkig. Heers oor haar, en alles is uit balans uit!
  2.  Ouers en kinders dien mekaar! (Efs 6:1- 4) Nie net soos die ou model wat sê kinders moet gesien en nie gehoor word nie. Nie kinders wat met swepe uitmekaar ge… slaan word nie… Ouers wat raaksien dat hulle kinders ‘n geskenk van die Here is, en dis ons taak om hulle te begelei tot volwassenheid…  Kinders wat respek vir ouers het, omdat hulle die Here se liefde deur hulle ouers ervaar… dien mekaar in ouer- kind verhouding tot eer van die Here.
  3.  Werkgewer en werknemer wat mekaar dien! (Efes 6: 5-9)  Ja, die kontroversie is dat daar van slawe en base gepraat word. En die slim een by litnet maak baie daarvan. Die eenvoudige feit is dat die Christene in Efese (aan wie die brief in die eerste plek geskryf is!) maar van die armstes van die armes was- tot in die 3e eeu na Christus was dit die algemene tendens oor die hele wêreld van destyds heen- die armes het meestal eerste tot geloof gekom, dikwels was daar niks anders wat hulle hoop gegee het nie. Die gedeelte wil nie slawerny regverdig nie. Die hartseer situasie wat baie Christene hulle in bevind het, is dat hulle deel van ‘n baie klein minderheid was, in ‘n Romeinse Ryk wat Christene maklik gekruisig het omdat hulle nie die keiser as ‘n god wou aanbid nie. Hoe gee jy hoop vir iemand wat geen hoop het nie?  Doen dit wat jy kan doen in jou lewe voluit, asof jy dit vir die Here doen. As die slawe in opstand gekom het, sal die geskiedkundiges vir jou vertel wat met hulle gebeur het- openbare kruisiging of vir die leeus gegooi word.  Maar as jy dan vry was, en ‘n Christen geword het, is jy teenoor die Here verantwoordelik hoe jy die magteloses behandel, selfs die slawe in jou diens.  Jy mag nie mense uitbuit nie.  Dit was radikale teologie vir die Bybelse tye. Dit was radikale teologie in die ou Suid-Afrika, en ons wil dit steeds nie altyd hoor nie- die Bybel sê alle mense het dieselfde waarde in die Here se oë, Hy trek niemand voor nie. Die basiese reël bly: omdat jy Jesus liefhet, dien jou naaste.  As jy meer oor Christenbase en slawe wil lees, lees Paulus se brief aan Filemon oor Onesimus, die wegloopslaaf, wat gekruisig kon word, maar baie meer werd sou wees as ‘n geliefde broer.

Ek preek nou lekker, né!  ‘n Mens kan sien ek was af die naweek, en nou haal ek dit op julle uit!

My bedoeling is nie om te preek nie, maar om die Bybelse beginsel van onderdanigheid net so bietjie meer te verhelder, veral met al die nonsens wat ek op ander forums die afgelope ruk gelees het.

Die Nuwe Testament se beginsel wat Jesus ‘n paar keer gegee het is: Behandel ander soos jy graag self behandel wil word. Gee respek, en jy kan respek terug verwag. Gee liefde, en jy behoort dit terug te kry.  (dis nou te sê in die ruimte van God se koninkryk! As jy dink daar is nie ‘n Here nie, dan is ek die verkeerde raadgewer vir jou- dan is jy seker maar op jou eie… )

Vir die manne wat baie wonder oor die onderdanige vrou- lees gerus Kameel se wonderlike inskrywing oor hoe ‘n vrou graag behandel wil word… dit kan baie help!

Prentjie gekry by: http://4.bp.blogspot.com/_6OJluRodrNA/TUOut9hHqlI/AAAAAAAABUI/kIcIR9dfDUo/s1600/good_wife.jpg

Advertisements

Om soms verlief te wees…

Ek en my vrou het mekaar maar min in Maart gesien. Eers was daar die hartseer dat sy skoolhou, en nie saam met my Argus toe kon gaan nie. Ek moes ook in Maart van al my opgehoopte verlof ontslae raak om dit nie te verloor nie.  Om by die huis te sit met verlof werk net nie in ons huis nie, mense daag steeds op vir hulp, of die kinders antwoord die telefoon in die hoop dat daar ‘n opwindende partytjie êrens vir hulle is. Daarom het my vrou my Kaap toe gejaag, om met haar seën ekstra dae in die Kaap te bly en my Kaapse vriende te gaan geniet.

Verlede week was daar die een keer per dekade geleentheid om ‘n bok te gaan skiet, en kon ek en my oudste seun ‘n wonderlike tyd in die Bos gaan beleef.

Die vrou van my drome moes Sondagaand na Potties toe vertrek om ‘n CAPS kursus te gaan bywoon- iets te doen met Loopbaanbeplanning, Assessering en ander derglike sondige dinge in die Onderwysdepartement se beplanning. Dié kursus maak eers vanmiddag om 14h00 klaar.

Dit het my nou aan die dink gesit… ek ken my vrou van my eerstejaar op Universiteit af. Ons het aan die einde van my tweedejaar begin uitgaan. Die verhouding het ‘n moeilike tyd beleef in my vierde jaar, toe ek nog in Bloemfontein gesit en probeer slim word het (onsuksesvol…) en sy gaan skoolhou het in Oos Londen. Daardie reis van 560 km het ek in een jaar iets soos 21 keer aangepak.  Ek het een keer op my motorfiets afgery om net te gaan sê ek is jammer ek was ongeduldig op die telefoon! Sy het in ‘n meisieskoshuis gebly in die dae voor die selfone, die dae van die lang tiekie, en om verby honderde estrogeenfabriekies by die telefoon in haar koshuis uit te kom- kommunikasie was ‘n groot probleem! Hoe het ons sonder selfone en facebook en eposse reggekom? Ek het maar enige geleentheid aangegryp, en al die Oos-Londen studente by Kovsies geken- as een of twee wil huis toe gaan, is ek dadelik beskikbaar. Net om by HAAR te gaan kuier. Dit het net ‘n jaar aangehou, toe besluit ons die huwelik sal goed wees vir twee nat agter die ore jong mense. En teen sommiges se bedenkinge in is ons in my vyfde jaar getroud. Hierdie Saterdag 22 jaar gelede…

So besluit ek gister: as ek Oos Londen toe kan gaan om te gaan jammer sê, gaan ek nie 95 km toelaat om my langer van my vrou af weg te hou nie. Ek was eers gister tussen 17h30 en 18h30 by my gemeente se nuwe biduur (bywoning 3- ek, my kollega en die orrelis!)  Daarna twee huisbesoeke gedoen, en by albei iets gemompel van die seuns wat alleen by die huis is, ons gaan dit kort hou vanaand… teen 20hoo was ek klaar gewerk, en 35 minute later stop ek voor die Oasis hotel in Potties…

My vrou was baie verbaas om my daar te sien. Ons het heerlik gaan kuier by o’Hagans, sy net op ‘n Milo, ek het dit Iers gehou met ‘n Guinness Draught en bordjie tjips.  Daarna het ons teruggegaan hotel toe om verder te gaan gesels…

Ek moes so 22h30 weer in die pad val, maar die keer het vroulief my mooi gevra om nie weer anderkant 180 kmu te ry nie. Ek het geluister en so teen 23h20 tuis gekom.

Party ouens ry so ver om ‘n skelmpie te gaan sien.  Dit was sommer weer lekker om so ver te ry net om by my vrou te gaan kuier.

As ek so op besoeke uit is in die gemeente, en baie mense in my studeerkamer sien met huweliksprobleme, dan is ek diep dankbaar vir die lewensmaat wat die Here vir my gegee het.  Ek hoop die kiddies gaan eendag vir ons ‘n baie mooi 50e huweliksherdenking paartie gee… ek hoop so ons albei word gespaar vir daardie dag!

Vanmiddag kom sy huis toe. Ek is opgewonde daaroor!  Ek bly verlang na haar. Ek moet nou gaan dink wat ek vir haar gaan maak vir aandete.

Ek het darem mooi na die seuns probeer kyk terwyl sy weg was.

Maandagaand het ons maar Spur ribburgers gaan eet, twee vir die prys van een.

Dinsdag het ons die Wok wat ek vir haar by Builders Warehouse daar langs oom Samie se winkel gekoop het, ingewy. Goulash blokkies, Stirfry groente, nuwe Castle marinade en rys…

Gister was dit Pick ‘n Pay gebraaide hoender, sulke wonderlike buns, my eerste koolslaai (wat die seuns haat!) en pitmielies vir ete- hulle kan mos nie net gemorskos eet nie!

Vanmiddag eet hulle vetkoeke wat ‘n baie vriendelike gemeentetannie vir hulle gemaak het- dis so lekker dat daar mense is wat vir my gesin lief is en omgee!

Maar ‘n mens kom in so week agter hoeveel doen die Ma van die huis vir ons!   Dit gaan so lekker wees om haar weer terug te hê.

Wat ‘n vrou graag in ‘n man wil hê…

Suna se worsteling met die manne het my diep aangegryp.  Is daar nog mans wat liewer vir hulle vrouens is, as vir hulleself? Dit is wat Vega vir haar 3 dogters daar toegewens het.

 

Ek wonder al baie jare lank oor hierdie ding. Stephen Covey het mos gesê ‘n mens moet by die eindpunt begin, en terugwerk na vandag toe. Wat sou jy graag wou hê mense moet op jou begrafnis van jou sê? Ek sou so graag eendag onthou wou word as iemand wat wel vir sy vrou lief was. Ek sou graag wou onthou word as ‘n pa wat werklik omgegee het. Ek dink nie ek gaan dit maak tot by die Dominee van die Eeu/Dekade/ Jaar/Maand/Week nie, anders sou ek seker ook by die Algemene Sinode gesit en mooi bydraes maak het, wat die kerk vir die volgende eeu op die regte pad sou help.

 

Ek het diep nagedink oor die rol van die man in die vrou se lewe. Soos die Prediker het ek ook besluit: Ook dit kom tot niks, dis ‘n gejaag na wind… ‘n Man kan nie ‘n vrou gelukkig maak nie…Ek het dit met Pastoriemoeder gedeel…

 

En toe my oë twee weke later weer kon sien, het ek anders besluit. Behalwe nou vir Mel Gibson se fliek: “What Women want”  het ek ook my boekrak gaan bestudeer. En afgekom op John en Diana Hagee se boek. Dis in die helfte gedeel, met die tweede helfte onderstebo. Hy het geskryf: Wat elke man in ‘n vrou wil hê… en sy oor: Wat elke vrou in ‘n man wil hê (CUM uitgewers, ISBN 978-1-77000-295-1) Die man se weergawe is natuurlik reg, en die vrou s’n agterstevoor.

 

En tog moet ‘n man ook soms Diana Hagee se stukkie lees. Oor wat die vrou graag in ‘n man wil hê. En dalk oortree ek nou die kopiereg, maar ek ag dit my verantwoordelikheid om hierdie wyshede met die broers in verdrukking te deel. Want ons almal wil graag weet- dit verhoog ons kanse om gelukkig te wees!

 

Hulle het verskillende ouderdomme dames gevra: Wat wil jy graag in ‘n man hê? En hier is die antwoorde wat die mensdom tot stilstand geruk het…

 

Ouderdom 25

  • Baie aantreklik
  • Sjarmant
  • Finansieel suksesvol
  • Goeie sin vir humor
  • Fisieke fiksheid
  • Modieuse klere
  • Goeie maniere, en waardeer die fyner dinge  (nie net fyndraai nie!)
  • Spesiale verrassingsgeleenthede
  • Verbeeldingryke romantiese minnaar…

Ouderdom 40

 

  •  Aantreklik
  • Maak kardeure oop, en trek stoele uit
  • Genoeg geld hê vir ‘n lekker ete
  • Meer luister as wat hy praat
  • Lag vir my grappies
  • Moet sakke kruideniersware gemaklik kan dra
  • Een das in sy kas hê
  • Hou van goeie tuisgemaakte kos
  • Onthou verjaarsdae en herdenkings
  • Darem een maal per week romanties raak

Ouderdom 55

 

  • Sny gereeld sy hare
  • Moenie winde opbreek of homself krap in die openbaar nie
  • Leen nie te gereeld geld nie
  • Moenie aan die slaap raak as ek frustrasies lug nie…
  • Vertel dieselfde grappie nie te dikwels nie
  • Fiks genoeg om naweke van die rusbank af op te staan
  • Dra gewoonlik bypassende sokkies en skoon onderklere
  • Hou van goeie kitskos
  • Onthou my naam af en toe
  • Skeer party naweke

Ouderdom 75

 

  • Moenie klein kindertjies bang maak nie
  • Onthou waar die badkamer is
  • Het nie te veel geld nodig om aan die gang gehou te word nie
  • Snork net liggies as hy slaap
  • Onthou waarom hy begin lag het
  • Is fiks genoeg om sonder hulp op te staan
  • Dra gewoonlik klere
  • Hou van sagte kos
  • Onthou waar hy sy tande gelos het
  • Onthou dat dit ‘n naweek is.

Ouderdom 85

  • Haal asem
  • Moenie die toilet mis mik nie.

So- broers, die geheim is- hou net lank genoeg uit- dit word makliker anderkant 85 om ‘n vrou gelukkig te maak!

 

Suna, ek hoop dit help so bietjie?

 

Hagee, Diana; 2005; Wat elke vrou in ‘n man wil hê;  Vereeniging, Christelike Uitgewers Maatskappy

Om Gelukkig getroud te wees is al erg genoeg…

Op my vorige inskrywing het ek nommer 4 geplaas. Sug.

Ek wil net sê dis al klaar erg genoeg om gelukkig getroud te wees. Ek weet nie hoe dit voel om te skei, of om dit te vrees om huis toe te gaan nie. Ek kan dit nie begin indink nie!

Ek verstaan nie hoe die teenoorgestelde geslag se koppe werk nie. Punt.

As ek paartjies in huweliksgesprekke voor die tyd sien, doen ek graag ‘n geneagram met hulle. Dit is ‘n skets waarin ‘n mens hulle twee teken, en dan die verhoudinge waarbinne hulle staan. In die middel van die bladsy teken ek ‘n vierkant vir die man, en ‘n driehoek vir die dame. Dan, met lyne, teken ‘n mens die gesinne van oorsprong waaruit hulle kom. Waar pas elkeen in die gesin in. Lewe almal nog? Is daar enige egskeidings, of traumatiese gebeure rondom die gesin van oorsprong? En so gaan ‘n mens so een of twee geslagte terug. Nie om seer te maak nie, maar om elkeen se storie te hoor. Wat en wie het hulle gevorm?

Gewoonlik trek ek groot sirkels rondom elkeen se familie. Daardie familie is ‘n unieke stel mense. Hulle het hulle eie manier van dink en doen. Dikwels het hulle hul eie woordeskat- dit wat hulle met ‘n woord bedoel kan heeltemal anders wees as die volgende gesin s’n. En geen twee gesinne van oorsprong is dieselfde nie!

Elkeen in ‘n verhouding kom uit ‘n sekere agtergrond, met ‘n sekere manier van dink. En nou, wanneer ek hulle trou, word nie net twee mense een nie, maar twee families word in een huis ingebring in die manier van dink. En dis hoekom die vonke so maklik spat! Jy klink nou nes jou ma!  Jy suip nou weer nes jou pa.  Jy neul nou weer net so baie soos daai ouma van jou met die nat broek…

Verder het ons nog te doen met ‘n man en ‘n vrou wat in ‘n verhouding is. Hulle is totaal verskillende wesens, wat fisiologies verskillend dink.  Die dames het baie meer neuronverbindings tussen hulle twee breinlobbe as ons mans. En daarom kan hulle baie beter multitask… Ek kan darem die Weg op die toilet sit en lees terwyl ek na Kurt Kerm luister…

Ons het nog verskillende temperamente ook (normaalweg). By die kerk se lentekonferensie verlede jaar het ek by ‘n dame uit die geesteswetenskappe  se werkswinkel gesit. Sy  sê dat die nuutste navorsing sê selfs ons temperament (ekstrovert, introvert, emosioneel, onemosioneel) kan deesdae met ‘n bloedtoets bepaal word, nav die balans van chemiese oordragstowwe in die brein.

Ons is twee uiteenlopende mense, met verskillende stories (verskillende stelle bagasie…), verskillende fisiologie (dankie tog vir die ander anatomiese verskille!) verskillende maniere van dink… wat een word.

Al hierdie goeters weet ek so effens. Ek verstaan dit so bietjie, en ek gesels gereeld met ander paartjies daaroor.

Maar op hierdie oomblik sit ek op my laptop, en Pastoriemoeder op die desktop hier langs my, en ons kommunikeer met mekaar op facebook se chatfunksie…

Met alles wat ons albei van kommunikasiekunde weet, met ‘n geloofsperspektief wat so min of meer ooreenstem (pastoriemoeder wil net graag alle kerkgeboue afbrand, en ek is nog nie daar nie…) met twee baie besige dagboeke, en vier kinders in gemeen, met al hierdie dinge…

Hoekom sukkel ons nog steeds om mekaar partykeer te hoor?