Waar mot en roes verniel hier kort voor die einde…

Die Goeie Meester het in die Goeie Boek gesê ons moenie skatte op aarde bymekaar maak nie, want hier gaan mot en roes dit verniel. Of ons geliefde naastes gaan dit steel.  Vandag is ek sommer weer ekstra die hel in vir die sondeval. As ons nog in die volmaakte wêreld gelewe het, het ek glad nie vandag se moeilikheid gehad nie. Inteendeel, dan het ons nog kaalbas in die tuin baljaar…

Ek het die voorreg om verskeie ou voertuie te besit, wat op verskillende tye verskillende gesinslede na verskillende plekke toe moet vervoer. Onlangs het my geliefde naaste my dogter se motor probeer deel maak van die herverdeling van welvaart transformasie program. Ek sukkel nog steeds om al die regte pirate parte op te spoor (Toyota genuine Parts- R2800 vir die ignition barrell, en enkele sente onder R1000 vir die deurlslot…)

My Mazda Drifter bakkie het ook net een bestaande sleutel gehad. Ek weet Newton se eerste wet sê materie kan nie geskep of vernietig word nie. Erens op hierdie planeet, of een of ander paralelle heelal, is ‘n heel Mazda Drifter sleutel, met ‘n ekstra sleutel vir my Carryboy Canopy, asook ‘n Santam botteloopmakertjie vir daardie Windhoekies wat nie kan oopdraai nie, alles aan een carabiner. Daardie sleutel pas op my Drifter, en werk baie mooi. Behalwe dat hy totaal en al  weg is. R300 beloning vir die een wat hom in my hande plaas!

Die tweede sleutel van my bakkie was vandat ek hom gekoop het, al stukkend. Die “casing” was met superglue vasgeplak. Raai watter sleutel kies om nie weg te raak nie? Die stukkende een. En toe ek op die Rally was, toe gee hy die gees, in my vrou se hande…

Ek het my bakkie nodig om op vakansie te gaan Dinsdag.  Ek het ‘n werkende sleutel nodig. Die ou ene werk so effens, as jy die swart plastiek vashou aan die los metaalpunt, en dan so in die ignition druk. Maar dis groot werk vir elke staart!

Eers vra ek die Mazda agente in ons dorp- ek soek net graag ‘n werkende sleutel vir my bakkie. Nee, sê hulle- ‘n mens het albei nodig om ‘n nuwe een te programmeer. Of die hele stelsel moet vervang word! Nee, sê my baie goed opgeleide Ford mekêniek in my gemeente, dis nonsens. Tzaneen se tak kan dit met een sleutel doen. Maar Tzaneen is 320 km weg, met erge padwerke.

Ek skakel Lazarus Ford in Centurion. Hier volg die pret: Die sleutel kos R576, die chip nog so R560. Dan moet dit in die werkswinkel geherprogrammeer word- nog so R500 arbeid. Ja, hulle het die sleutel en die chip in voorraad. Maar hulle kan my eers Woensdag help. Maar ek ry Dinsdag see toe! Jou probleem, nie ons s’n nie!

Ek begin op die internet rondspeel. Silverton Locksmiths sê ek kan maar stad toe kom, hulle kan help. Gister is ons Pretoria toe, met die sleepwa om ons dogter se trek te gaan haal. Ma en die seuns bly by ousus se woonstel om te help pak. Ek jaag Silverton toe. “Jammer meneer, net die agente…” Julle het dan oor die foon gesê… Ag focacia pizza!

So ry ek vir ure rond in die stad, op soek na antwoorde. Aurina Ford in Silverton boek hom selfs in die werkswinkel in- hulle het die parte. Jammer meneer, ons het albei sleutels nodig…  Ag foxterrier!

Na ure se rondjaag sê ‘n sleutelplek in die Waterglen sentrum- die enigste ouens wat jou kan help, is Gateway Locksmiths daar in Esselenstraat in Sunnyside. Ek skakel hulle: ja, hulle kan help… Ek ry weer al die pad Sunnyside toe. Die ou wat so pas gesê het hy kan my help, is nie meer daar nie. Die ander probeer kyk.  Daar is sulke no-name brand sleutels teen die muur. Ek verduidelik- ek wil NOG ‘n werkende sleutel hê, ek kan hierdie een sommer weer met superglue plak, hy werk al 4 jaar so vir my. Die ouens sê hulle sal kyk wat hulle kan doen. Na so ruk kom hulle uit- hulle het vir my een van die generiese sleutels gesny. Hulle het my ou sleutel oopgesny en sy chip uitgehaal en in die generiese sleutel ingesit.  Ek was op hulle perseel, hulle het niks geprogrammeer nie. Wat skuld ek hulle? R650!!!!  Vir iets wat ek self kon doen met R20 se Super Glue, want ek het nog steeds net EEN werkende sleutel!!!

Gateway LOcksmiths mag dalk die beste in die kontrei wees, maar ek voel ordentlik deur die ore ge… werk…!!! Hoe op aarde kos ‘n no-name brand sleutel sonder enige inherente elektronika meer as ‘n nuwe karbattery, of ‘n Perfecto Motorfietsbaadjie???

My gevolgtrekking liewe vriende, as jy ‘n MAzzda sleutel verloor, steek maar die kar aan die brand en eis hom  by jou versekering. Want daar is GEEN manier waarop jy in hierdie lewe ‘n sleutel kan verloor, en weer een in die hande vir daardie voertuig kan kry nie.

GElukkig eindig die wêreld mos Vrydag, dan hoef ons nooit weer met slotte hoef te sukkel nie, dan kan ek speel met my Bugatti Veyron wat in die hemel vir my wag… .

As dit nie so uitwerk nie- ek is die ou by die see wat oral loop met sy bakkiesleutel met slot en ketting om sy gewrig vasgebind. Want as daardie generiese stuk plestiek eers gebreek het- dan gooi jy ‘n Ford produk weg…

Jeremia vat die pad…

Vanoggend was ‘n heel historiese dag in my motorgeskiedenis.  Jeremia het vir die eerste keer in 18 jaar verder as 12 km gery!

Nie almal is ewe lief vir Jeremia nie. My een goeie vriend, wat ‘n uitstekende werktuigkundige is, sê sommer reguit vir my om daardie stuk kilo alfa kilo van sy perseel te verwyder, hy raak nie met ‘n tang aan een nie… Top Gear haat Jeremia en al sy broers ook baie. Hier is die grootste nagmerrie vir enige een wat vir Beetles lief is: The Beetle Drop… episode van Top Gear…

Jeremia het egter ‘n besondere plek in my hart. Want ek ken Jeremia al my hele bewuste lewe lank.

Toe ek 1 jaar oud was, het my Ouma Jeremia splinternuut, uit die boks uit gekoop. Jeremia is ‘n Volkswagen Beetle, 1968 model 1500. Daardie tyd was die prys R1/ cc. DWS nuwe prys was R1500 gewees!

VAndat ek my verstand het, ken ek al hierdie karretjie. Toe ek klein was, het ek agter in die dogbox gesit… kan dit nie meer dink dat EK daar sou inpas nie…  Ouma het vir Jeremia al een keer gerol ook soos alle goeie Beetles glo maar moet doen. Sy het met hom geleer bestuur en het een keer ‘n 90 grade draai volspoed probeer vat…  Die tegniese skool het hom glo as ‘n projek probeer regmaak. Vandaar die DIK lae body putty op hom.

Ouma het al ouer geword, en het in elk geval net een werkende oog gehad. Sy het die ander een verloor in ‘n ongelukkige voorval as ‘n suster tydens ‘n operasie. Sy het diabetes gehad en later het die werkende oog ook begin ingee. Daarom, toe ek in matriek kom, het sy besluit om nie meer Carletonville se onskuldige publiek te terroriseer nie, en het sy die Beetletjie vir my gegee.  Op daardie stadium het die Beetle net 34000 myl opgehad. My pa het ‘n km/u spoedmeter gekry, en die myle na km omgewerk en die odometer dienooreenkomstig aangepas. My pa was ‘n wyse man om dit te doen, anders het ek seker teen 60 myl/u oor elke spoedlokval in die dorp gery.

In my eerste jaar het ek Kovsies toe gery met hierdie Beetle. Dis waar sy naam Jeremia geword het- hy was ‘n Klaaglied om te  ry!

In my 2e jaar het moeder bekommerd geraak oor Beetles wat maklik rol en windgat studente (wie, ekke?? Ek studeer dan vir dominee…) Sy het vir my haar Passat Stasiewa gegee, en self net tussen die huis en die hospitaal gependel met Jeremia.

Toe my pa in 1993 oorlede is, het my ma weer die Beetle vir my teruggegee. Ek het k0rt daarna my eerste beroep gekry. Vir jare het Jeremia gestaan. Hpoekom? Daar was vir jare net nie geld om ‘n nuwe battery te koop nie. Vir baie jare het Jeremia buite in son en wind en weer gestaan, van sy eerste dag af. Vyf jaar gelede het ons na die ander pastorie van die kerk toe getrek. Vir die eerste keer was daar ‘n afdak vir Jeremia.

NA my dogter se kar amper gesteel is, het ek begin bekommerd raak oor die veiligheid van ‘n Corolla- niks fout met die kar nie, maar elke (paar vieslike vloekwoorde…) dief wil hom ook hê. En vir wat die versekering aanbied vir die Corolla kan ‘n mens niks koop nie. Maar daar is nog ou Jeremia.

Die ontvanger van Inkomste was ook vir ‘n slag so effens vriendeliker met sy terugbetaling van my reistoelaag belasting.

Nou wil ek graag by jou weet- watter ander kar wat vir jare staan, sit jy ‘n nuwe battery in, gooi ‘n koppie petrol in sy carborettor (sorry Riaan Cruywagen!) en staart hom?

Ek moes die seëls op die enjin laat vervang, hulle was klaar van die staan. Die voorste wielbearings was klaar, en kingpins en linkpins wat nooit olie gekry het nie, was ook nie lekker nie…

Ek het die talle roeskolle met daardie Rustop produk geverf wat so verbind met die roes om ‘n swart onderlaag te maak. Ek het op die internet iets opgelees oor glasvesel werk om die gat in die bestuurdersdeur reg te maak.

VAnoggend was die groot oggend. Ek het kerk gebank, want ek het ‘n GROOT bekommernis in my gesin, wat ek dalk eendag iets oor sal sê… Ek het toe besluit om ‘n roadtrip te vat om my kop skoon te kry.

Soos gesê: VAnoggend was die eerste keer wat Jeremia in 18 jaar verder as 18 km gery het- ek het 90 km gery sonder voorval.

Hier is Jeremia in al sy glorie vanoggend:

https://lh4.googleusercontent.com/-Rx7k3nYhKao/ULsfbp5KayI/AAAAAAAABmM/IyXVsT_TNok/s640/IMG_0264.JPG

Peet se PAdstal is net so 10 km buite Warmbad op die Thabazimbi pad…

https://lh6.googleusercontent.com/-449ygIm4fZ8/ULsfh-37s6I/AAAAAAAABmU/iNCz8cj7XR0/s640/IMG_0265.JPG

Die bande is nog ‘n probleempie- ‘n mens kry nie meer 155/15 bande nie…  Ek het vroeër in die jaar 4 14duim Rostyle rims gekoop, maar het nie nou al geld vir die buitebande wat nodig is nie.

Ek wil nie die kar te mooi maak nie, vir ingeval my dogter met hom sal moet in Pretoria rondry. Ek wil hom net meganies 100% hê, maar buite kan hy maar so lelik bly lyk, solank die roes gestop is…

Om mee af te sluit: Ek het darem vanoggend ‘n baie interessante “special” op ‘n taxi raakgesien! Ek het ongelukkig nie ‘n nommer as een van julle dalk graag wil gebruik maak van die aanbod nie!

https://lh4.googleusercontent.com/-WBzvCmFyf50/ULsfmh4yGCI/AAAAAAAABmc/vndGls3slig/s640/IMG_0263.JPG

die Jollie Jik en Vingers in vishoeke verander…

My naasteliefde het gister rock bottom geslaan… Die mooi goeters wat ek Sondag vir Sondag van die kansel af probeer sè is nou ernstig in vertwyfeling. Want ek is die bliksem in. En ek wil so graag twee gepigmenteerde here in ‘n silwer karretjie èrens in Brooklyn raakloop en hulle gesigte herrangskik sodat hulle ook beter kan sien, my kind.

My dogter studeer by een van die duurste moontlike plekke in die land. Nie oor ons grend probeer wees nie, maar oor dit die enigste plek was wat haar ‘n geleentheid wou gee. Met vier onderskeidings en twee Bks was sy mos nie goed genoeg vir die PUK nie. Soos elke Kovsie weet is die Puk in elk geval… Kom ons laat dit maar daar…

Die plek waar my kind bly, is 8 km van haar kampus af. Hulle is so klein hulle het nie koshuise nie. Soms moet die donkiemerrie met groot kunswerke klas toe gaan- ek kon nie vir haar net ‘n scooter gee nie. Ek wou betroubare wiele vir haar gee- haar ma se Corolla 1997 model. Ou lesers ken die trauma van sy wat daardie kar om ‘n splinternuwe Jetta gevou het op my verjaarsdag. Die kar was afgeskryf. Dit was ‘n helse stryd om die wrak by die versekering te koop, by scrapyards rond te hang, en die kar met groot moeite weer rybaar te maak.

Al hierdie dinge het veroorsaak dat ons op ‘n krans se afgrond loop wat ons geldsake aanbetref_ om vir ons kind ‘n toekoms te probeer gee.

Gistermiddag was my dogter by ‘n vriendin se huis reg agter Waterkloof N.G Kerk- hulle moet ‘n klomp praktiese werk inhandig vir eksamen.

Sipho en Vusi ry in hulle silwer karretjie daar in Brooklyn rond. Vandag gaan hulle weer die Whiteys ‘n ding wys. Hoekom mag ander so ryk wees en hulle so arm? Hulle het dan ook ‘n GG vir houtwerk gekry, nes Comrade Joelijas. Hulle wil ook in smart huise bly… Nes hy en die vader van die nasie…

Jojojo- kyk daardie wit Corolla! Kom ons vat hom, Whitey is mos ryk, hy sal mos maklik ‘n ander een kan koop. Hulle stop agter die corolla. En binne sekondes het hulle die deur oopgemaak met ‘n slimjim. Hulle probeer hom hotwire, maar daar is ‘n skelm skakelaar wat hulle nie van weet nie, uit frustrasie donder hulle die hele ignition housing op. Met hierdie geraas sien die bure se tuinwerker hullle- en hulle jaag weg.

Nou bel my kind my. Maar ek kan nie deurjaag stad toe nie, ek moet oor drie ure ‘n kerkraadsvergadering lei. Ek sit die nood op facebook. En Plasie ry al die pad van Pta Noord af om te haan help- ek waardeer dit BAIE, vriend! Intussen het die Polisie my dogter gehelp om die kar te hotwire sodat sy huis toe kan ry. Sy is geskok en die woorde vlieg tussen pa en dogter. Plasie vind haar blyplek, en kyk na die skade. Ons het gehoop vir ‘n tjiep universal ignition maar nee- alles is so opgef…oeter dat daar nou Toyota parte nodig gaan wees om alles in die stuurkolom bymekaar te hou. Duisende rande skade.

Ek kan nie voor Maandag stad toe gaan om te kyk of ek dalk tweedehandse parte teen 2/3 van die reuse prys kan kry nie. Ek is woes gefrustreerd daarmee, maar vanaand het ek alweer ‘n belangrike kursus wat ek deeglik voor moet voorberei.

Liewe Vusi en Sipho- my dogter dink ek is ‘n poepol omdat ek ‘n oplossing probeer soek van ver af. Die kar kan nou met ‘n skroewedraaier gestaart word deur enife iemand wat net die venster breek. Daar is nie geld vir ‘n ander kar nie. Julle het ook nou my bietjie geld vir ‘n moontlike vakansie gesteel. Ek is diep omgekrap, em dan raak my vrou moeilik met my oor die dominee nie net kan glo alles sal reg uitwerk nie.

So liewe Vusi en Sipho- in die gees van christelike naasteliefde- mag julle in interessante tye lewe. Mag die vlooie van ‘n duisend kamele in julle armholtes nes maak, mag julle skrotums vir ewig begin jeuk en julle vingers in vishoeke verander. Sela.

‘n Mooi feesseisoen word alle kriminele toegewens, soos in hier onder…

By die Bandeplek het ek geween…

Vanoggend moes ek en Pastoriemoeder Gomorra toe gaan. Nommer 3 het sy pa se aandagafleibaarheid geneties geëef, en moet soms ‘n pilletjie drink om in eksamentyd te onthou hy is nog op planeet aarde. Die dokters wat daardie pilletjies voorskryf, is nie meer op planeet aarde woonagtig nie, want hulle rekeninge is gelykstaande aan die koste om iemand by die Internasionale ruitestasie te kry met Space X se vuurpyl…

Van die Moothospitaal Menlyn toe, om die tweetjies af te laai. Sewe keer is daar bottelnekke in die pad- daardie oranje kegels, dan word twee bane toegemaak om een pyltjie in die pad te verf… Dis ook die tyd wat Gomorra se ouetehuise almal wat nog 10 persent visie het, stuur om in die paaie te gaab speel met hulle 1973 Corollas. Ek dink onpastorale gedagtes…

Ek MOET ook nuwe voorwiele op my Corolla sit- soos ek soms ry moet hy kan sit in die draaie… So hol ek in by die Kietsiekat bandeplek agter Menlyn in- nie lus om nou die middestad te gaan aandurf vir Malas nie…Twee Continental Sport Contacts asb… Toe begin die verkoopsman my meer vrae vra as die Nuwe Testament prof in my eindeksamen. Bandgrootte. Seker van die model- die Michelin kos net 500 meer… Nitrogen in die bande? Balanseer 1, 2, 3 of al 4? Wielsporing? X- Sure… Die paaie is sleg, jy weet…

Met die finale bedrag wat ek moet hoes sou ek in Standerd 8 twee nuwe motorfietse kon koop! Nou sit ek en wag. Hulle het gawe koffie hier by Kietsiekat Bande. Maar die tydskrifte! Waar is die FHM of die GQ, selfs die Car of Bike SA? Nee- Longevity. Home Owner. Sarie. Rooi Rose… My magtag, wat gaan in die Ooste van die stad aan, is almal nou Metrosexuals?

My koets is amper gereed. Nou kom die verkoopsman met so begrafnisondernemer gesiggie na my toe… ” Uhm, meneer- het jy onlangs gesien hoe lyk jou AGTER wiele…”

Ek het dit verloor… Het iemand hier rond nie dalk vir my ‘n pink tissue nie?

Die voertuig uit die hel uit om hemelse werk te doen…

Die opdrag van die Admin kommissie was eenvoudig: ons soek ‘n goedkoop bakkie.  Daar moet kos aangery word vir ons hulpverlenings aksie. Sondag moet sendelinge rondgery word op die plase. En soms wil ons tafels vervoer vir die gemeente se funksies, daar waar ons heerlik vreetsaam is.

Dadelik het ek in my geestesoog gesien hoe ons nou ‘n pragtige tweedehandse Hilux bakkie gaan koop. ‘n 3 liter Diesel, wat sal hou tot by die Oordeelsdag, en wat tonne en tonne kos gaan aanry vir honger mense, en ‘n miljoen kilometer gaan doen om vir mense Goeie Nuus te vertel. Maar nee, ek het alweer verkeerd verstaan.

Die begroting is toe nie in Hilux klas nie. Ook nie Amarok, of Isuzu nie. Nee, selfs nie eers Mahindra of Tata nie.

En so word ek toe die gelukkige wenner om ons gemeente se nuwe voertuig in Pretoria te gaan haal, terwyl ek en Kollega mos nou juis daar is om kreatief oud te word…

Die wenner van die Soek ‘n Bakkie kompetisie is… (drumroll…)

‘n 2007 Chana bakkie!

Nogal by die agente in Voortrekkersweg gekoop!

Kyk, ‘n Chana bakkie is veronderstel om baie goed te wees. Toe die goed op die mark gekom het, was daar ‘n konvooi van Beijing af Kaapstad toe deur Afrika se bose sandpaaie heen. Nie een het uitgebrand langs die pad nie. Nie een is gehijack langs Soweto nie. Niemand het een gesteel, en die kajuit met ‘n grinder afgesny, ‘n jong boompie met gesteelde doringdraad vasgemaak en twee donkies ingespan nie.  Almal het hier uitgekom! (Na gisteraand het ek GROOT RESPEK vir die bestuurders op daardie ekspidisie!)

Maar in elk geval.

ONs spesifieke Chana bakkie het 77000 km op. Sy enjin het al een keer geseize by die vorige eienaar. Maar dis mos nie ‘n probleem nie, hy is oorgedoen, en ons kry ‘n 10 000 km meganiese waarborg.

Die Chana lyk amper groot met sy hoë kajuit. Tot jy in daardie kajuit inklim. Jy sit bo-op die stuurwiel. En as jy die sitplek wil terugskuif, kan jy nie regtig nie, die agterruit is reg agter jou kop. Die omies met die groter biermagies in die gemeente gaan verseker nie hierdie wa kan bestuur nie, al wil hulle en ons dit dalk hê.

Onse Chana het ‘n nuwe radio in, op aandrang van kollega. Maar die “aerial” is steeds afgebreek. In Voortrekkersweg vang hy Jacaranda mooi op. Tot by die steengroewe daar by Montana, dan maak hy net gssjhghsshhsshhsshhhshkksshhsskksggshssshhsshshshshshshshssh.

Die voertuig is ook gisteroggend deur die Toets. Maar sy linker voorste flikkerlig het intussen gedros. En die voorste skokbrekers (indien enige) is nie baie lekker nie.

Ek het vir Kollega opdrag gegee om vir my Geliefde mooi te vertel hoekom ek so vroeg deur die Jordaan is, indien dit nou my lot sou wees. Met ‘n vinnige gebed het ek die kajuit bestyg, en met ‘n swaar gemoed die deur vir die laaste keer (soos ek  gevrees het op daardie oomblik) agter my toegemaak.

Ons het net na skemer in die pad Noorde toe geval.  Nog voordat ons by die eerste tolhek gekom het, het ek agtergekom hoekom Chana nie te veel moeite doen met die radio nie.  Jy sit bo-op die 1300 enjintjie.  Tussen jou en daardie klein enjintjie, wat ek gevrees het enige oomblik soos Chernobyl gaan ontplof en al my vreugde vir die volgende 40 jaar van getroude lewe gaan ontneem, is ‘n baie dun sitplekkie.  Die Chinese wou nie graag hê die bestuurders van hulle voertuie moet terugsak in die sitplek, en die rit geniet nie. O nee, hulle moet regop sit, sodat hulle elke stampie in die pad op die 3e en 4e rugwerkwel kan beleef.  ‘n Rit moet so vinnig as moontlik klaargemaak word, produktiwiteit is immers uiters belangrik vir die Chinese, om die bose Amerika te onttroon as die wêreld se ekonomiese reus…  Die Chana as afleweringsvoertuig het baie met China se produktiwiteit te doen.

Nou: die enjin. Ons spesifieke enjin is pas oorgedoen. ‘n Mens kan dit ruik. Daar is verseker olie teenwoordig in die enjin hier kort duskant my suidpool.  En daardie enjin: ‘n mens kan liedere daaroor skryf wat tot in ewigheid om die kampvure gesing sal word. ‘n Mens gaan verskriklik vinnig deur die ratte. Reeds op 40 sit ‘n mens oor in die hoogste rat. En dan moet jy hom trap, soos jy mos die buurman se kat se stert vastrap as jy hom vang waar hy jou steak onder die tafel by die braaivleisvuur sit en eet as jy ‘n biertjie gaan haal het. Die klank is dieselfde. Die oomblik as jy in 5e rat kom, moet jy hom trap. Pappie, jy moet hom TRAP! Stadig, soos die ekonomiese groei van Suid-Afrika, klim daardie naaldjie op na 50 toe.  Dan, soos die omgekeerde van gewigsverlies na Kersfees, stadig, o so stadig na 60 toe. Uiteindelik bereik ‘n mens die fenominale spoed van 80. Jy moet daardie enjin hoor. Dit klink soos die geskreeu van drie duisend demone wat uit die vark by Gadara uitgedryf is. Dit is ‘n onaardse geluid, en dit resoneer deur die hele kajuit. ‘n Mens se oordromme sukkel om dit te hou! En op hierdie oomblik val die Chinese radio se gesiggie af, maarjy kom dit nie agter nie.  Nog 100 km huis toe!

By die tolhekke soek ‘n mens verwoed na die remme. Ok, mens kan seker nie F1 Ferrari remstelsels verwag nie, met Carbon remskoene en hitte dissipasie eienskappe nie. Maar dit sou help as daar darem IETS was om mee te rem! Ons sal seker nog die rekening van Sanral kry vir die “boom” daar by die Carousel.

Toe ek, dit voel asof die rit ‘n volle dagreis was, uiteindelik in onse tuisdorp inry, maak daardie Chana die vreemdste geluide. Die spoedmeter werk wel, maar hy hop so rond dat ‘n mens enige iets tussen 15 en 55 in die hoofstraat afgery het. En iets rumoer daar agter die spoedmeter, hy maak die vreemdste geluid, asof daar sewe rotte besig is om die spoedkabel en mekaar se sterte af te vreet.

Ek het met ‘n groot verligting uiteindelik by my huis aangekom met die Chana. Nadat die enjin uiteindelik opgedraai het, het daar ‘n hemelse stilte in die kajuit neergedaal. Ek het ‘n lang dankgebed gesê, dankbaar dat ek darem ‘n kans sal hê om eendag my kleinkinders te groet voor ek die laaste reis deur die Jordaan meemaak. Toe ek uitklim, het my bene gebewe. Ek het soos Pous Johannes Paulus II eers op my knieë gegaan en die grond gesoen, so dankbaar dat dit nie met my bloed deurdrenk is nie.

En nou is die bakkie in ons dorp, waar hy maar so 50 km per week gaan ry agter kos en sending aan. Hopelik kry ons so drie jaar se diens uit hom uit. Hopelik hoef ek nie te gereeld agter die stuurwiel in te klim nie.

Nadat ek genoemde voertuig 120 km bestuur het, wil ek net op aandag staan en die bestuurders van die Chana Beijing Ekspidisie salueer- julle ouens kan!  Ek sou dit nie maak tot by Beitbrug nie!

Ekonomies onherstelbaar se Gamma Alpha Tango!!!

Soos in Februarie berig, het my merrievul  haar Corolla om ‘n splinternuwe Jetta se neus gevou agter Menlyn. Dit het gebeur op my verjaarsdag- en sy skuld my nou nog ‘n MOERSE verjaardagpaartie eendag…

Hierdie was mos nou die voor foto van genoemde karretjie…

Die insleepkoste van Menlyn af na Silverton toe, 8.5 km verder, met stoorkoste vir twee weke, was R 5000.

Die onafhanklike assessor het kom kyk, sy kop geskud en gesê: Nee, heeltemal ekonomies onherstelbaar…

Die plek wat hom ingesleep het, se kwotasie, met tweedehandse parte, het R38 000 beloop, met die boekwaarde net R23000 op hierdie 1997 130 Corolla.

Soos berig, was dit ‘n helse stryd om die wrak uit te koop- ja, ek moes toe R7500 betaal om dit terug te kry.

Die bybetaling op die eis was R4500, aangesien dit nie ek was wat die voertuig bestuur het nie, en omrede my dogter 18 is, en haar lisensie met die Big Bang net 2 maande oud was…

Ek en ‘n vriend het die wrak in Pretoria gaan haal, en dieselfde dag onse alies afgesoek in die hele Pretoria Wes, maar uiteindelik reggekom met tweedehandse deure en ‘n “centrepost” by Wannenburg Scrapyard in Paul Krugerstraat. Koste van die Parte- R5500.

Een van die Spesiale skool se onderwysers, ‘n gekwalifiseerde paneelklopper, het vir my R 6000 gekwoteer om die werk te doen- insluitend materiale, en om die hele voertuig oor te verf.

Die aanvanklike tydsberekening was 2 weke, maar die skade was groter as wat hy aanvanklik voor beplan het. Dit het toe uiteindelik 10 weke geneem. En ek het uit my eie vir hom R1000 ekstra gegee vir die groter werk wat hy moes doen.

So lyk die kosteberekening:

Versekerde bedrag: R23 000

Bybetaling: R4500

Wrak uitkoop: R7500

Bedrag om mee te werk= R11000

Parte: R5 500

Arbeid en verf: R7000

Wielbalansering: R350

Totaal van herstelwerk= R12850

Ek het dus R1850 inbetaal om hierdie voertuig terug te kry. Dit is natuurlik nou sonder die verhoogde versekeringspremies en sulke koste, asook petrol en tolgeld vir ‘n hele paar trippies stad toe om alles te reël.

Maar die feit is- ek sou R 18500 uitgekry het as die kar afgeskryf was. En die gemiddelde 1997 130 Corolla verkoop nie vir R23 000 nie- kyk maar op Gumtree en Autotrader se webwerwe- ek skat die gemiddelde verkoopprys is R45 ooo.

Hoekom ek so vir hierdie karretjie geveg het- hy het maar 135000 km op die klok, met ‘n baie goeie diensgeskiedenis.

En dis hoe hy op die oomblik lyk, voor ek hom netnou aan sy eienaar gaan terugbesorg…

(En daar skuins agter hom staan die volgende projekkie…)

Ek wil net vir die privaat assessor en die stad se paneelkloppers sê: Julle gatte man!

‘n Pleit om genade…

Die Verkeershoof

Munisipaliteit  van Hangover

Erens tussen Colesberg en nerens.

Nou, vandag

 

Geagte Meneer Speedy Dan Katshebolsof

 

‘n Versoek tot groot genade, asseblief meneer…

 

Hiermee wil ek u graag plegtig dog nederig smeek om genade. Meneer weet, ek is getroud met ‘n vrou wat baie lief is daaroor om verskillende opsies op die tafel te plaas vir oorweging. En soms is een van die opsies nie lekker vir my nie.

 

Ek bely hiermee dat ek gister, op die liewe dag van onse Heer, wel met een wit Corolla die spoedgrens in u roemryke distrik oortree het.  En dat ek vermoedelik in die proses betrap is deur u hardwerkende dienaar met die kamera, die een daar op die koppie onder die sambreel. Ek glo hierdie daad gaan dalk gevolge vir my inhou. Maar synde dat u mos nou ‘n redelike mens is, wil ek graag die volgende opsies vir u voorhou. Die gedagte is dat u een sal kies wat my die minste sal seermaak, want naasteliefde loop glo nog sterk in die Karoo.

  1.  U gee dadelik vir daardie verkeersman ‘n verhoging en ‘n bonus. Om op ‘n Sondagoggend in kerktyd onder ‘n sambreel in die son te sit, vra toewyding en besondere lojaliteit.
  2.  U beveel daardie verkeersman dadelik aan by die Special Forces, want meneer, hy het so mooi weggekruip dat ek hom heeltemal te laat gesien het!  Kan u dink wat sal daardie man as sniper vir onse republiek kan beteken?
  3.  U voel in u gemoed die drang om alle verkeerskaartjies tussen 10 en 12 op Sondag 4 Maart 2012 weg te gooi, aangesien daar waarskynlik fout met die toerusting was weens ernstige sonuitbarstings.
  4. U spreek die betrokke verkeersman ernstig aan oor hy in kerktyd onskuldige toeriste molesteer.
  5.  U vind in u hart die begrip daarvoor dat daar tussen Bloemfontein en Kaapstad meer as 9 sulke wrede padverleggings is. Op so ‘n warm dag soos gister (bevestig gerus met SA Weather!)  het dit gevoel soos 97 verleggings. ‘n Mens haal nie derde rat nie, dan moet jy weer woes briek vir die volgende f-op op die paaie… Dit veroorsaak dat as daar wel 1 km se ononderbroke teerpad is, ‘n motoris graag die beste daarvan wil maak. Daarom skryf u uit medelye die boete af.
  6.  Ek was verskriklik haastig om die groot en beroemde Hanover te bereik, aangesien ek so baie daarvan gehoor het. Vergewe my gretigheid om betyds by u pragtige dorp uit te kom, deur die kaartjie op te skeur.
  7.  Die meatpie wat ek in Colesberg geeët het, was baie af. Ek moes jaag om by die naaste toilet uit te kom, en daarom, vanweë ‘n mediese noodgeval, is ‘n kaartjie hier nie wenslik nie.
  8. Ek het ‘n professionele noodgeval ervaar. Ek moes voor Sononder in Kaapstad wees om oud lidmate te besoek, wat soms krisisse ervaar.  Uit “professional courtesy” laat u my gaan.
  9. In die vlaktes van daardie deel van die Karoo het ‘n alien spacecraft my probeer ontvoer om wrede mediese ekspirimente op my uit te voer, wat die toepassing van pragtige blondines behels. U los my uit en gaan arresteer die groen mannetjies dadelik, dis ‘n saak van nasionale sekuriteit!
  10.  Ek het die vorige aand by my sammajoor neef gekuier in Bloemfontein, en ons het troos nodig gehad na die rugby. Ons het deurnag maar hoesmedisyne geneem, en ek het nie so goed gevoel nie, ek wou by die naaste apteek uitkom vir hoofpynpille, wat in Beaufort Wes is, soos u bewus is. Omdat u die dinge van ‘n man so goed verstaan, laat u die kaartjie ongemerk wegraak.
  11.  Ek het ‘n skaap op die langplaas raakgeloop, wat baie senuweeagtig geraak het in die kar se boot. Die reuk was eenvoudig onhoudbaar. As u die boete afskryf, dan stuur ek vir u ‘n skaapboud, u kan self kies, linker of regterboud.
  12. Ek moes eenvoudig verby die donnerse lorries kom, skryf maar die boete! Los net een van die nulle uit agter die syfer, want u raak self gatvol as u Bloemfontein toe ry, met al die lorries op die pad wat die laaste stukkie teerpad opneuk deur oorlaai te wees. Daar is nou ‘n gedagte- bou nog ‘n weegbrug, en werk my boete in by Johan Rissik se lorriebesigheid…
  13. Dis ‘n nuwe kar wat ek ‘n maand terug in ontvangs geneem het. Ok, hy is 4 jaar oud. Die petrolkabel het vasgehaak en ek kon eenvoudig nie die hele tyd rem trap nie. Automark se waarborg herstel dit vandag vir my. U verstaan dit, u ou kapoen Mazda 323 maak mos ook so, nie waar nie?

Dit sal so opreg waardeer word as u enige van bogenoemde wil aanvaar.

Indien nie, is die allerlaaste opsie seker maar die volgende een:

14. Aangesien u my brief wat u as u aanspreek, so opreg waardeer, gee u my die helfte afslag oor ek so mooi skuld erken het. Ek is baie jammer oom, ek sal nooit weer nie, ek belowe…

Net om u beter te laat voel, met al die padstoppe sê my aanboordrekenaar my gemiddelde spoed tussen Bloemfontein en Kaapstad was net 52 km/u. Dit is gemiddeld totaal aanvaarbaar selfs binne dorpsgebied.

Ek wou net hierdie van my hart af kry. Ek het Vanoggend 7 uur eers in die Kaap aangekom nadat ek gister oggend 7 uur al weg is uit Langenhovenpark.  Nou gaan ek stort en slaap, voordat ek gaan kyk wat gaan by die Woordfees in Skelmbos aan, en daarna beplan ek om Clifton te besoek, want die mense daar is waaragtag mooier as die Karoo se spietkops!

Baie vriendelike groete en dienswillig die uwe,

 

Bileam se Donkie

Vandag se Gumtree advertensie wat ek nog moet stuur…

Nee, hierdie is nou nie bedoel om jou dag te spam nie, ontspan!

Vir die meer ernstige lesers se oorweging net die volgende:

1997 Toyota Corolla 130 te koop, net 135000 km op, volledige diensrekord, R55 000. Die voertuig is soos nuut, is net bestuur deur drie geslagte van dieselfde familie se dames. Daar is wel enkele krappies op, maar wat verwag jy van ‘n 15 jaar oue voertuig? Ek glo ‘n lagie politoer ywerig opgevryf behoort die krapmerkies te kan hanteer…

Ons wys graag daarop dat hierdie die A100 vorm is. Sekere aerodinamiese vermoëns onderskei dit van vorige modelle, bv die gesofistikeerde lugversorgingseenheid, soos opgemerk in die vorm van die linker voordeur se ontwerp.  Dit voorsien vars lug vir die bestuurder as deel van die Arrive Alive veldtog soos deur die Minister van Padveiligheid geïnisieer.

Op minder ernstige noot, ek het darem die wrak na groot gesukkel uitgekoop gekry vir 30% van versekerde waarde. En na groot gesukkel het ons die nodige deure en deurpilaar gekry in goeie toestand by Wannenburgs in Pretoria… ek weet nou hoe lyk die hele Pretoria Wes ook.  Die koste van twee deure, deurpilaar, en die voorste “fender” sover is R4500, BAIE minder as die eerste paneelklopper se kwotasie vir tweedehandse parte! Nog so R1000 vir verf, skuurpapier en derglike, en dan het ek al die materiaal nodig om die voertuig te herstel.

 

So- die voertuig is nou veilig by ons huis, vir verdere beplanning…

Sonde met die wiele…

Die een ding wat ek al lankal sien aankom het, het nou gebeur. Met ons dogter se studies het ons maar ma se Corolla so op semi- permanente basis vir haar geleen.

Pastoriemoeder ry nou die bakkie, want sy ry min, en diesel is duur. Maar ek kan nie oral op die motorfiets uitkom nie, veral nie in hierdie reënmaand nie.

So- ek moes nou maar vir myself ‘n ander voertuig koop om mee te werk. Vir maande lank doen ek al huiswerk. Tweedehandse waarde, brandstofverbruik, betroubaarheid, sexygeit. Ek is maar in my hart ‘n Toyotaman. Nog nooit met een van hulle langs die pad gaan staan nie. Alles loop reg, altyd reg…

Maar watter model? Land Cruiser, (daardie) nuwe Hummerige wa, die FJ Cruiser, Fortuner- alles hartsbegeertes, maar te duur. Hilux dubbelkajuit- die ideaal, steeds te ver bo my vuurmaakplek. Aygo kan ek nuut bekostig. Maar dis nie ‘n kar nie, dis ‘n duikpak! Yaris, sexy, maar ook klein!

Ek besluit om ‘n kar te koop wat ek van hou. Terwyl ek nou in elk geval in my motoriese vaardighede in is, doen dit reg.

Ek kyk op Automark se webwerf vir my 3e Corolla. En ek kry een, wat ek dadelik baie van hou. ‘N 1.4 Advanced, met net 28000 km op. Maar hy staan in Tzaneen, 250 km weg! Ek bel, en hoor hoe werk so afstandkopery… (Sallie werie!) Die kar is Mooi! Ek teken die kontrak, en hy word verlede Woensdag by my afgelewer. Maar dadelik sien ek- HKGK! Die flikkerligte werk nie. Die sentrale sluit werk nie. Die elektriese spieëls werk nie. Die CD speler werk nie… Ek kontak die handelaar- hulle sê ek moet hom plaaslik laat regmaak en vir hulle die rekening stuur.

Die plaaslike auto elektrisiën maak oop, inderdaad GK! Die hele elektriese stelsel is deur rotte opgevreet! Die kar word gehaal, diie verkoopsman los vir my sy Yaris T1 as “courtesy vehicle”. My hart is seer, ek het daardie swaar gevoel op die maag as iets verkeerd loop…

Die middag skakel ek ‘n paar kundige vriende. Mense soos Son wat weet van. Hulle almal sê- raak ontslae. My vriend die vliegtuig mekaniek dominee sê elektriese skade hou aan en aan en aan.

So begin ek maar weer op Automark rondkyk. En sien dieselfde handelaar het ‘n 1.6 Professional vir dieselfde prys. Ek skakel hom. Aangesien ek nog in die 7 dae tydperk is, kan ek hom mos omruil? Die handelaar sê dis reg.

Vanoggend na die 7-8 biduur val ek in die pad, Tzaneen toe. Die Yaris het nie êrkon nie, maar ry verder baie lekker! Kom in pieterskwane, en nou moet ek verby Moria ry, Haenertsburg toe. Maar daar is WOESTE padverleggings! En as ons uiteindelik mag ry, beland ek elke keer agter giggelgeel 2e Wêreldoorlog model ou Fatap lorries wat nie meer as 20 km per uur kan ry nie.

Die 250 km het my amper 4 ure geneem. Maar die 1.6 is aanvaarbaar, en het toe net 74000 km op (in plaas van) die 94000 op die advertensie. Volle diensrekord, waarborg nog in plek. Dit lyk tog na goeie nuus.

Maar- die ding het lelike mags op. Maar sê die DP, ek kan maar die wiele omruil met die een wat ek amper gehad het. Baie mooier Toyota Mags…

Die kar het vanoggend sy 75000 diens gekry. Nou moet hy deur die toets. En ek sit en wag. En wag. En wag… En vanaand lê daardie pad weer voor- sou dit so groot draai wees om Maputo, Nelspruit, Pretoria, Thabazimbi om te ry (in plaas van) die stuk oor Haenertsburg?

Hierdie mense moet gou maak, ek het more oggend ‘n aksie saammet my gemeente se bejaardes om 10h00, en hier sit ek nog steeds…

Huldeblyk aan ‘n lang verlore vriend…

Uit gister se skrywe, met Son se hartseer ervaring in gedagte, deel ek die volgende met julle vanoggend.

My pa is skielik oorlede aan ‘n hartaanval in 1993.  Dit was juis in een van die moeilikste tye van my lewe. Ek het pas uit die Weermag uitgeklaar, en kortdiens was nie meer ‘n opsie nie. Ons moes aansoek doen vir beroepe, en ek het al naby 67 aansoeke getrek. Ek was in ‘n plattelandse gemeente in die Vrystaat ‘n Proponent- dit beteken ten volle opgelei, maar nie ten volle aangestel nie… jy werk vir peanuts…  My vrou het ‘n baie goeie werk gehad, en was sewe maande swanger met ons eersteling toe my pa dood is.

Nadat die boedel uitbetaal het, het my ma my ‘n keuse gegee- sy sou my studieskuld afbetaal, of vir my ‘n kar koop. Toe al was my voertuie redelik gehawend… soos nou weer…  ‘n Baie oulike ouderling in die gemeente het ‘n tweedehandse motorplek gehad, en ek was dadelik verlief op hierdie karretjie, toe hy die dag daar staan. Toe alreeds vyf jaar oud gewees, maar baie mooi opgepas deur die vorige eienaar. My luukse lewenswyse sluit gewoonlik in dat ek net 5 jaar oue motors rondom 120 000 km op die klok kan bekostig.

Maar hierdie een was dadelik een wat in ‘n jong man se hart ingekruip het… Toyota Conquest 16 Valve Sport (nie die i nie, Charlene, myne was te oud, het nog carburettor gehad). Baie, baie sexy vir sy tyd- die Tazz het later te lank aangehou en die lyne vir ons almal opgefoeter… Maar daardie sportiewe uitleg, die mooi rooi kleur, die mags, natuurlik het hy ‘n goeie klankstelsel ingehad, rooi matte…  maar die beste van daardie motor was die enjin gewees.

Met daardie kar het ek en my jong vroutjie, en rooikopdogtertjie baie ver paaie gery. Daardie kar het Bray gesien, en Struisbaai. Pofadder en Pelgrimsrust. Dit was nou een karretjie wat altyd gesê het: Welkom, my vriend, kom ons vat die pad!   Ek het net een ander kar gehad wat so diep in my hart gekruip het- die Camry… (ook 5 jaar oud, 127 000 km op die klok)

Ek het hierdie kar vir baie jare gery.

Die einde het sleg gekom. Ons het ons belydeniskamp op ‘n wildsplaas gehou. My destydse kollega het die meerderheid kinders op ‘n beestrok vervoer. En ek moes die Saterdag ‘n paartjie trou, so ek het my eie wiele nodig gehad.  Ek het drie seuns saam met my gevat.  Toe ons naby die grondpad kom wat uit die teerpad afdraai, wou ek my kollega verby steek. Ek was so heilig op daardie kar, ek het nie klipmerke op sy verf en voorruit gesoek deur agter ‘n lorrie grondpad te ry nie. Na 12 jaar was die kar nog steeds redelik krapvry, en gewoonlik mooi skoon (rooi wys vuil en krappe verskriklik vinnig!)

Ek steek hom verby. Die grasse en onkruide was verskriklik hoog op daardie stuk pad. Maar ‘n grondpad van die plotte by die buurdorp het ‘n T- aansluiting met die hoofpad gemaak. En ‘n ou oom het uit die grondpad aangery gekom, net na regs gekyk, en toe reg voor my ingery.  Ek was langs die lorrie, met net nêrens heen om te gaan nie. Dit het ‘n paar illusies by my geskud- ek het gedog ek is ‘n uitstekende bestuurder (watter man dink nie so nie?) en sal altyd deur wakker te kan wees, enige ongeluk vermy. Toe nou nie.  In hierdie een was ek ook ‘n onwillige toeskouer.

Ek het agtergekom hoe ‘n mens se lewe voor jou oë verbyflits. Alles gebeur so in slow motion, en jy het net absoluut geen keuse nie, en nêrens om heen te gaan nie.  Die impak was verskriklik, maar gelukkig nie 100 % kop aan kop nie, anders was ons almal deur die Jordaan…  Ek het weggeskram van die ander voertuig af, agter die beestrok verby, tot in die veld anderkant, terwyl ek my beste skills moes gebruik om nie nog te rol ook nie.

Die wonderwerk van daardie dag was dat niemand dood was, of ernstig beseer was nie. Ek was omtrent op 90 km/u, en die ander oom was maar stadig, maar op die verkeerde plek op die verkeerde tyd.

Omdat die karretjie toe al 12 jaar oud was, was die boekwaarde nie baie nie. Die versekering wou hom net daar afskryf, en my ‘n belaglike prys gee. Ek het met ‘n ander vriend onderhandel, wat vir ‘n kort ruk in die paneelklop bedryf was. En hy het met ‘n kwotasie gekom net onder die afskryfwaarde, deur tweedehandse parte te gebruik en my bitter min vir arbeid te vra. Die kar is herstel. Maar hy was nooit weer dieselfde nie. Skielik het alles ge”rattle”.

Kort na hierdie episode moes ek vir die eerste (en enigste) keer in die hof verskyn. Die oom wat voor my ingery het, was ‘n ongerehabilteerde insolvent gewees.  En toe dagvaar hy my vir die skade.  Die een ou foutjie wat hy en sy prokureur gemaak het, was om die hofsitting na die ongelukstoneel toe te neem, en toe aangery te kom soos die oom gedoen het, om die landdros te wys hoe roekeloos ek was. En toe ontplof dit in hulle gesig. Die landdros sien toe dat ‘n mens nie die paadjie kan sien nie, dis nie gemerk met ‘n padteken nie. Daar is stippellyne op die teer, ‘n mens mag daar verby steek. Die landdros sien toe met haar eie oë ook hoe hoog die grasse is, en dat ‘n mens enige voertuig eers op die laaste oomblik kan sien, voor dit op die teerpad draai. Die hof het bevind dat ek 100% onskuldig was, en dat die oom nalatig was deur nie links te kyk voor hy in die teerpad ingedraai het nie.  Maar omdat hy insolvent was, kon ‘n mens niks van hom eis nie… ek het baie verloor deur sy nalatigheid!

Omdat ek baie op grondpaaie rondry op ‘n plattelandse gemeente, het ek self net agtergekom hoe maklik is dit om te doen wat die oom gedoen het- ‘n mens vergeet maklik om links te kyk… ek het ook begrip…

Teen daardie tyd was die gesin ook besig om woes uit te brei. Ek het die Conquest toe maar ingeruil op ‘n Venture 2.2. GLE met ‘n VanderLinde Conversion…  Ek was dom genoeg om R10 000 te aanvaar, maar die Conquest was nie meer so lekker nie.

Maar ek mis daardie karretjie met sy gewillige hartjie en sy liefde wat hy altyd vir my en my gesin gewys het…

Roes in vrede, my ou vriend…