Gaan na die mier en word wys…

“Gaan na die mier, luiaard, kyk na sy weë en word wys.”  So het die Spreukedigter dit 3000 jaar gelede al genoem. (Spreuke 6:6)

My seun, luister na die verordeninge en insette van jou wyse vader.  Soos ek en jou moeder dit vanmiddag in die pastorie se agterplaas weer geobserveer het.

PAsop, my liewe seun, vir dinge in die lewe wat te goed lyk om waar te wees…

So het die grastermiete vanmiddag baie opgewonde geraak. Hulle hoef nie meer die hele grasperk te gaan opdon… foeter nie… Kyk net, halleluja, die kos het tot by die voordeur gekom!  VAt net en eet, soveel as wat jy graag wil hê. Magie dik, ogies toe. Vir altyd…

Maar die BB Toorts kan nog mooi fotos neem!

  •  Niks in die lewe kom sommer net vanself nie.
  •  Gratis geskenke is nie altyd goed vir jou nie.
  •  Pasop vir die vriendelikheid van sekere mense…
  •  Moenie sommer enige gemors huis toe bring nie.
  •   As jy nie versigtig is nie kan jy jou gat sien…

Enige ander wyse raad wat julle graag met my seun wil deel?

Advertisements

Om duimspykers op jou naaste se pad te gooi…

Ek hou baie van fietsry.  Na 18 Argusse mag ek seker ook iets te sê hê daaroor.

Hierdie tyd van die jaar kyk ek en my geliefde graag na die Tour de France- mos maar die toppunt van die fietsrysport.

Vandag, op die skof van Limoux na Foix het ‘n mens net weer die beste en slegste van menslike optrede gesien.

Een of ander aashool het duimspykers op die pad gegooi op die bokant van die een groot klim. Die eerste een wat ‘n pap wiel gekry het, was Cadel Evans. Omdat die bokant van ‘n klim so afgesper word, is dit ook moeilik vir die ondersteuningsvoertuie, span of neutraal, om vinnig by ‘n ryer in nood uit te kom. Cadel het meer as ‘n minuut verloor, en kort daarna weer ‘n pap wiel gehad. Iemand het die sport probeer saboteer, en baie van die manne het pap wiele gekry. Dit is die laagtepunt.

Cadel Evans het darem verlede jaar die Tour gewen, en is baie kort op die geeltrui- Bradley Wiggens se hakke wat tyd vir algehele voorloper van die hele Toer. (3″17’)  Bradley Wiggens het die duimspykers ontwyk. Hy kon BAIE vandag gebaat het by Cadel se hartseer. Maar hy het met die ander fietsryers gepraat, en hulle het dadelik besluit om vir vandag nie verder te kompeteer nie, maar vir Cadel te wag.  Dit kan hom dalk die wedren kos in die lang duur. Maar ek het respek vir so ‘n sportman, wat nie wil wen uit die slegte wat met sy hoofopponent gebeur het nie.

Foto van Bradley Wiggins gekry by http://www.bbc.co.uk/sport/0/cycling/18755896

Dit het my nou weer diep aan die dink oor die lewe!  Daar is mense wat graag duimspykers in hulle naaste se pad gooi, om hulle te verhinder om hulle lewenswedloop na die beste van hulle vermoë te kompeteer.

En daar is ander wat eerder sal verloor as om onregverdig te wen in die spel van die lewe.

Ons het ‘n keuse wat ons wil wees in die lewe- saboteurs, of sportmanne en -vroue.

Mense is hel! Of hulle is nie…

Die Franse filosoof  JEan Paul Sartre het dit gesê: “Mense is hel.”  En hoe dikwels het ek nie al met hom saamgestem nie!

As ek terugkyk oor my lewe, dan is daar mense se gesigte wat opduik by elke insident wat baie seer was.

Ek het al verskeie kere van fietse afgeval. Ek het al dosyne kere van motorfietse en perde afgeval. Dikwels op my kop, en daarom sal ek julle glo as julle sê dit lyk nie of al die varkies daar is nie. Ek het toe ek drie jaar oud was, my linkerarm die eerste keer gebreek toe ek van ‘n tennis skeidsregterstoel afgeval het. Drie jaar later het ek dieselfde arm weer gebreek uit ‘n boom uit.  Ek het al lewendig uit ‘n kop aan kop motorongeluk uitgeklim, wat my geliefde Conquest 16 Valve Sport totaal opgeneuk het.  Ek was besig. Dalk selfs hiperaktief. Natuurlike rampe soos al hierdie het maar gereeld gebeur, dit het dalk permanente lidtekens op die lyf gelos, maar nie op die hart nie.

Daardie tekort aan dopamien het verseker gemaak dat ek nie baie seker van myself was nie, nie in die Laerskool nie, nie in die Hoërskool nie, en selfs nie op Universiteit nie.  Dis eers noudat ek ouer is wat ek begin besef ek kan maar net ontspan, en my lewe geniet vir wat dit is. Ek hoef nie meer die sexyste ou op die strand te wees nie. Ek hoef nie die Argus onder 4 1/2 ure af te jaag nie.  Ek hoef nie alles te weet nie.

Deur die jare heen was daar baie mense wat dinge gesê of gedoen het wat diep seergemaak het. Ek het baie dikwels verwerping in my lewe ervaar. Ek het baie dikwels die gevoel gekry dat ek nie goed genoeg is nie…

Die wonderlike ontdekking is dat ‘n mens nie daardie woorde hoef saam te dra in die lewe nie.  Ek het die reg om te vergewe, vry te spreek, en aan te gaan met my lewe. Ja, mense kan hel wees.

In my werk werk ek baie met mense. En daar is ‘n hele klompie selfs in die kerk! wat ‘n mens se vreugde in die lewe bedreig. Daar is sekere name, as dit op my selfoon se skerm verskyn, wat my eers baie diep laat asemhaal, voor ek antwoord. Elke gemeente het sy kwota smartvrate. Hier by ons is enkele dames wat absoluut genot daaruit put deur my in die supermark raak te loop, en dan vir ‘n uur lank vir my die ellende van haar vier mislukte huwelikke en drie kinders by verskillende vaders te vertel. Of  haar eksman wat vir haar sms’e stuur van wat se f***n teef sy is. Of ‘n oom wat gereeld in kerkvergaderings sal opstaan en vertel hoe die dominees van vandag niks meer voel vir mense en huisbesoek nie…  Rick Warren het gepraat van die EGR mense in ons lewe- “Extra Grace Required… ”  Ja, die ding wat my werk die moeilikste maak, is mense. Mense met hulle eie opinies. Mense met hulle eie verwagting. En daardie eie Ek in mense wat verwag dat die dominee dadelik alles sal los, en dadelik aan my alleen sal aandag gee.

Mense word net hel as jy hulle toelaat om dit in jou lewe te wees.Jy kan nie altyd kies wat mense rondom jou doen nie, maar jy kan kies hoe jy daarop gaan reageer.

Haat word kettings wat ‘n mens vasbind, en al jou vreugde uit jou lewe kom steel. Bitterheid kan selfs jou gesondheid kom steel.  Maar ons het die keuse om mense te vergewe, vry te spreek, en nie toe te laat dat hulle optrede die res van my lewe se vreugde kom steel nie. Wanneer ons vergewe, is dit ons self wat vry kom van ander mense se strikke.

Gelukkig is daar ook die ander kant van die muntstuk as ons oor mense praat.  Mense kan ook hemels wees in ons lewe. Ek wil nie nou gesels oor die vreugde van die huwelik (in my lewe) nie. Dit sou ‘n ensiklopedie vra, nie ‘n bloginskrywing nie.  Ek wil nie nou deel oor die vreugde van ouerskap, en die oorweldigende liefde wat ‘n mens gereeld oor jou voel spoel as jy na ‘n bloedjie kyk wat jou ore het nie…

Daar is sekere mense, wat sonder dat hulle dit dalk self weet, so ‘n positiewe verskil in ander mense se lewens maak. Daar is mense, selfs in ons ouetehuis, by wie ek baie meer kry as wat ek ooit vir hulle kan gee. ‘n Siek tannie, wat dalk binnekort gaan sterf, wat nog met soveel liefde eerder wil hoor hoe dit met my en my gesin gaan, sy is nie vandag lus om oor haarself te kla nie.

Ek het vanoggend by ‘n 82 jarige oom in ons gemeente gaan kuier. Daar is longkanker by hom gediagnoseer, en dit lyk asof dit reeds versprei het. Hy moet more die onkoloog in Pretoria gaan sien.  Dan sal daar besluit moet word watter behandeling, indien enige, die pad vorentoe gaan wees.  Hierdie oom leef nie in ontkenning nie. Hy weet dit is ernstig, en dit gaan dalk die laaste skof van sy lewenspad wees wat nou aanbreek. Maar hy is tevrede daarmee.  Hy is steeds gelukkig.  Die lewe is steeds vir hom mooi, en hy gaan voluit leef tot by die einde.  Dit is vir hom belangrik om ‘n positiewe verskil in ander mense se lewens te maak, en daarmee wil hy aanhou tot by die einde.

Ek het vanoggend gaan kuier om hom te bemoedig vir die besoek aan die onkoloog. Ek het daar uitgestap, baie bemoedig dat ‘n mens nie oudword, of selfs kanker en die dood, hoef te vrees nie. ‘n Mens kan jou lewenspad met blymoedigheid bly stap, totdat jy eendag by jou wenstreep aankom. Selfs in die donkerste dieptes sal ons nie verdwaal nie, in die donkerste oomblikke is ons nooit alleen nie. En daar sal steeds elke dag oorgenoeg dinge wees om dankie voor te sê.

Ek moet vir julle sê: Neulende oumense kan my klaar maak. Maar mense wat in wysheid oor jare toegeneem het, wat deur hulle lewenservaring geslyp is, en gepoleer is, sulke mense maak dit weer lekker om my werk te kan doen.  Ek sal die pad saam met hierdie oom kan stap, tot by die einde van sy aardse reis. Ek sal langs sy sterfbed kan staan, en dit sal seker vir my meer beteken as vir hom.

Dit lyk vir my ons het nogal ‘n keuse oor wat van ons gaan word in die lewe. Ons kan kies of ons bitter ou mense gaan word. Of ons kan die res van ons lewe bly groei, en meer en meer vir ander beteken soos ons in wysheid toeneem.  Ek wil graag self kies vir die tweede opsie. Sekere mense maak daardie besluit soms baie moeilik.  Ek glo ek het ‘n keuse wie of wat ek gaan toelaat om my vreugde in die lewe te steel.  En niemand of niks is waardig om dit te doen nie…