Die grootste stryd is die een in myself…

Dis alweer belydenistyd. Ek sukkel. En daar is niemand anders te blameer nie.

Oor ses weke is dit die Argus 2013. Ek het hierdie droom om 21 Argusse in ‘n ry te doen, dan kry ‘n mens ‘n blou nommer en word sommer soos ‘n eregas oorlaai met hartlikheid- die afsetter groet jou sommer op die naam as jy wegspring. Ek is mooi op pad, hierdie jaar is nommer 19.

Maar die oefenry! Ek sukkel om hierdie jaar aan die gang te kom! Ek het op hierdie oomblik 187 km vir Januarie gery, en my doelwit is ten minste 1000 km vir Januarie en Februarie.  Maar aai. Vrydagoggend was daar ‘n elektriese storm. Saterdag was ek na ‘n troue toe in Gomorrah, en ek moes vroeg ry om van my dogter se goetertjies terug te vat vir nog ‘n jaar op Universiteit. Sondag was ek nie lus nie. Maandag was die pap wiel episode. Gister was dit reënerig. Vanoggend is dit bewolk. .

Daar is mense wat in die hael en sneeu en Suidooster op fietse klim, en gaan oefen. Selfs al sou die wêreld op 21 Desember geëindig het, sou sommiges nog steeds gou ‘n laaste oefensessie wou gaan inwerk! Ek kry dit net nie meer reg nie. Ek is bang vir weerlig op ‘n fiets, iets te doen met die hoeveelheid mense wat doodgeslaan is deur weerlig waar ek in Noord-Natal grootgeword het.  Ek hou nie van natreën op die fiets nie. Dan koel ‘n mens verskriklik vinnig af, en kry krampe, en kry verkoue. Jy sien ook nie die pothole raak as dit baie gereën het nie. En magtag, julle moet sien hoe loop die slange rond in die Bosveld op die oomblik, daar lê juis weer ‘n moerse pofadder doodgery net hier buite die dorp. Hulle is nog vriendelik, die mambas is nie so lekker nie… En so sit ek en praat myself uit vanoggend se oefensessie uit, vanmiddag gaan dit weer erger reën. Ja, daar is so baie goeie verskonings… maar Suikerbossie wag…

Dis waaroor ek vanoggend sit en wonder. Hoekom het party mense daardie dryfkrag om groot suksesse te maak van alles wat hulle aanpak? Is deursettingsvermoë geneties, is dit persoonlikheid, is dit houding in die lewe?

Ander kere dink ek oor daardie stryd wat maar alewig in my gedagtes is. Hoekom kan party mense so gemaklik met hulleself saamleef, en ander, soos ek, voel die hele tyd of iets jou jaag? Ek sien dit ook in my kinders. Twee van hulle het totale rustigheid en vrede, met donderbuie plek-plek, net soos hulle ma. En twee is sommer die hele tyd van die prêm af, en altyd bedonnerd, soos hulle pa.

Wat kan ‘n mens self kies om te verander?  Wat is net ‘n houdingsaanpassing? Ek kan amper net dink wat sou Karen Brynard dit genoem het…  En waarmee moet ‘n mens maar rustig vrede maak, en weet jy gaan nou maar hierdie omie in die ouetehuis wees wat eendag nog steeds wonder: “What happened?”

Miskien is dit so eenvoudig soos hou op nonsens skryf op jou blog, en gaan ry 30 km fiets, reën nat as dit dan moet… sonder om te veel te tob daaroor…

Die lang, lang pad na Suikerbossie toe…

Oor 103 dae spring ons weg op my 19e Argus. 10 Maart 2013. Waarskynlik rondom 08h25.   103 Dae om van totaal onfiks (alweer!) tot by oorleef-fiks te wees vir daardie oomblik wanneer ‘n mens bo-oor Suikerbossie gaan- dan het jy dit darem gewoonlik gemaak, behalwe as die Suidooster wreed is, of iemand in jou voorwiel vasry en jy lê en bloei voor al die Supermodelle in Kampsbaai se koffieshops… (gelukkig nog nie met my gebeur nie, halleluja- ek het met groot genade al 18 klaargemaak- nog net 1 val, 1 puncture, 1 gebarsde wiel – alles drie jaar gelede met die 120 km/h Suidooster…)

So saal ek vanoggend weer my ou Trek 800 Trail Bergfiets op. Ek het eenkeer die fout gemaak om hom te weeg- 19 kg. Dit is gelykstaande aan ‘n Centurion Tank by Pantserskool- vra maar my neef die Sammajoor daar, hy sal vir jou kan sê dis waar!

My Argus fiets, ‘n Schwinn Fastback, waarop ek bergfiets stuurstang en sagte bergfietssaal gesit het, se voorwiel is nog steeds net so uit die raam uit soos daardie dag by die Waterfront toe ek Argus 2012 klaargemaak het- hy staan nog onder die stof in die spaarkamer.

En ekke? Tim Noakes het altyd gesê die rus is net so belangrik soos die oefen in ‘n mens se program. So ek het van 12 Maart af gerus. Ek vermoed dit was alweer bietjie lank. Die bier was te lekker, veral in my nuwe bierbeker. Die winterkossies was te lekker. Ek lyk nou soos die vetgemaakte kalf vir die kersfeesete.  So my suidpool en die fiets se saal geniet mekaar glad nie. Opdraandes is nag. Afdraandes is hemels. Ek hyg en syg soos ‘n ou stoomlokomotief. Ek sien visioene van geopende hemelpoorte, ek hoor harpmusiek en sien engele langs die pad… Ek het nou hoofpyn en hoes al te lekker na vanoggend se 20 km.

Elke jaar dreig ek myself. Hoe kan ‘n mens ‘n Argus se fiksheid net so weggooi? Hou aan oefen, al is dit net 20 km per dag so 3 keer ‘n week. Skryf in vir die 94.7. Maar nee- elke jaar pik die luislang my net na die Argus.  Dis nie lekker om onfiks te wees nie… ek verstaan dit glad nie. En dan kry ek weer daardie Deja Vu gevoel van hoe Suikerbossie ‘n mens kan seermaak as die temperatuur anderkant 40 grade is, en ‘n mens nie asem kry nie. Daardie aanhoudende pyn van elke trap. Die hertverskeurende bordjie met die koffiebeker op wat  se dat jy nou eers halfpad is.

Ja, hier lê ‘n lang, lang 103 dae voor! Intussen is daar ook nog ‘n Poison Rally en ‘n week by die see om na uit te sien- nog verlore tyd vir die fiets…

Maar daar is niks, maar niks (behalwe nou een ding) wat daardie biertjie by  Ferrymans op die Waterfront wen as ek hier rondom 5 ure in die saal daar aankom nie!