Rooies se Briefie: Ewald Schmidt antwoord.

voorblad

Op Woensdag 19 Oktober is ek wakker geskud met die nuus dat ek op die voorblad van die Beeld is. Die storie- Ek het ‘n bier gekoop op die Wanderers. Wat dit nuuswaardig maak, was die geveg wat ‘n klompie mense wat ek glad nie ken nie, op my facebook profiel verlede week begin het.  Ek het gewonder waar kom hierdie aanval vandaan . Soos die meeste mense wat die berig gesien het, ook maar gewonder het waarom.

Die volgende brief wat wyd op die Internet versprei word, het uiteindelik ook by my uitgekom.

DOMINEE EWALD SCHMIDT – KRY JOU LEWE IN ORDE MET GOD!!

Ek reageer na aanleiding van die Ds wat met bier spog by Krieket en nadat hy aangespreek is – gou die sonde beskerm deur te sê, sy Uroloog het gesê hy moet bier drink. Die koerant berig dat Hansie Swanepoel, Johan Nel en Suzaan Goosen hom daaroor op Facebook geroskam het. Vandag staan ek trots en wil God prys. Dominee die drie Studeer vir leraars by School of fire en ek is tans die Hoof van School of fire. Kom ek gee gou hul agtergrond:

Hansie was ‘n daggaroker, hy het gesuip, sy pa het hom dood gedrink – toe bekeer Hansie en Dominee waar jy nou ‘n voorbeeld as godsman vir hom moet wees, is hy teleurgesteld.

Johan was aan cat verslaaf en het besighede verloor daardeur, sy pa was ook ‘n alkoholis en het homself doodgedrink. Hy het nou bekeer en hy verwag van ander bekeerdes om heilig te lewe.

Suzaane is op 10 jarige ouderdom deur ‘n dronklap verkrag, en het a.g.v drank slagoffer geword van gesinsgeweld. Suzaane het op volwasse ouderdom self haar vergryp aan drank en het nou Jesus gekies,

Dominee en ander christene daar is niks goeds in drank nie, draai na Jesus toe. Spog met Jesus nie met iets wat al baie hartseer vir ander veroorsaak het nie.

Nou gaan baie weer sê: Jesus het water in wyn verander. Vlg skrifte was dit TIROS- alkoholvrye wyn.

Ek self wou my seun van 2 weke doodskiet en my vrou, alles oor drank. Gesels gerus verder by my page daaroor.

Ons het ‘n bediening gestig Christian Front om Drank by Kerke, Aborsie, Human Trafficking en pornografie verspreiders te evangeliseer.

Rooies Strauss

School of fire

Christian Front

0827….

SHARE SOVÊR MOONTLIK

Dis mos net goeie maniere om ‘n brief te beantwoord, is dit nie?

Liewe Rooies Strauss

Ek het jou brief met opgewondenheid ontvang. Ek ken jou glad nie. Om die waarheid te sê, ek het nog nooit voorheen van jou gehoor nie. Tot nou.

Jy sien, ek het skielik op die voorblad van die Beeld beland en in die Burger en in die Volksblad. Selfs op Jacaranda het hulle oor my gesels.  Ek het glad nie geweet waar hierdie belangstelling vandaan kom nie. Tot iemand hierdie briwf van jou uiteindelik aan my ook gestuur het. Toe verstaan ek.

Ek het nou maar soos jy gemaak, en bietjie op jou facebook bladsye gaan kuier. Ek sien jy was by Koevoet. Heel toevallig het ek die afgelope ruk weer Arn Durand se boeke oor Koevoet gelees. Hy sê daar party van die seksies was nogal rof. Daar was van hulle wat nogal heel Bossies geraak het, en berug was vir Friendly Fire insidente. Was dit Zulu Zulu Mike wat so rof was? Was jy dalk in Zuku Zulu Mike gewees?  In elk geval, Koevoet het mos die meeste kills op die Grens gehad. Julle ouens het mos graag met die lyke van julle vyande op die modderskerms van julle Casspirs deur Oshakati se strate gejaag. En dan in die Oshakati International Guest House maar gaan kuier om die spoke te verjaag. Baie van julle ouens het erge Post Traumatiese Stress oorgehou. Julle was in die meeste kontakte van almal, ek sien Frans Conradie het 100 confirmed kills gehad.  Ek het sommer baie respek vir julle ouens. Julle almal het gevolunteer vir Koevoet. Dit was julle keuse. Dit verklaar insidente waarin julle later vanweë Post Traumatieae Stress regtig slegte dinge beleef het, ook in julle gesinne.

Maar dit lyk of jy met die genade van die Here weer jou lewe bymekaar gekry het. Jy het die spoke oorwin, en jy beteken baie vir ander wat ook deur slegte tye gegaan het. Ek respekteer dit baie. En ek is dankbaar dat die Here deur jou bediening vir mense soos Suzanne en Hansie en Johan en die res van jou span nuwe lewe gegee het. ‘n Kans om heel te word. Die genade van die Heee is darem net wondeelik, is dit nie?

Nou my vraag. Waarom stel jy hulle dan so bloot deur na die koerante toe te hardloop?  Ek sien van jou volgelinge sê ek het dit daar aangegee. Waarom sou ek dit doen? Wat het ek om te baat deue sulke negatiewe publisiteit?  Moet sê, jou aanval het my onberekenbare skade gedoen. Dit het my gesin baie seer gemaak. Dis nogal regtig nie lekker dat ‘n mens se ma op haar verjaardag haar seun op ‘n paal voor die ouetehuis sien nie. Daar op die Beeld se plakkate in Pretoria se strate. Tot in Kaapstad in die Burger! Rooies, dis nie nregverdig nie. Net soos wat jou Friendly Fire briefie op al jou baie faceboek profiele laag en gemeen is.

JY is tog baie beter as dit? Jy het dan so ‘n groot getal volgelinge, waarom kies jy om so vuil te speel?

Om jou te antwoord op jou brief: Baie dankie dat jy en jou volgelinge bid dat ek my saak met die Here regmaak. Ek aanvaar julle gebede met liefde. Ek wil graag so naby as moontlik aan die Here lewe.

Oor die volgelinge by name: jammer Hansie en Suzanne en Johan- julle het seergekry deur julle leier se slegte raad. Dis nie my styl om mense seer te maak nie. Julle het op my facebook profiel kom inmeng en my voor my gesin kom aanval.  Het julle die reaksie gesien van die mense wat my wel persoonlik ken? Het jule gesien hoe die publiek reageer nadat julle hierdie saak pers toe gevat het? Ek wil julle aanmoedig: dien die Here voluit. Moenie dat hierdie julle afsit nie- julle het al so ver met die Here se genade gekom. Volhard op die goeie pad. Ek is regtig jammer oor die seer wat julle beleef het.

Maar Rooies- jy aanvaar verantwoordelikheid in hierdie brief. Jy vorm mense met jou leierskap. Jy het ‘n groot invloed. Doen dan ten minste die moeite om erns met die Woord van die Here te maak. Jy mag nie die Here se Woord so buig soos dit jou pas nie. Daai storie van Tinos vir wyn: waar kom jy daaraan? Watter geskrifte lees jy? Die erkende Griekse teks waarmee omtrent  al die kerke van die wêreld werk met die Nuwe Testament, is die Nestle Alland teks. Ek ken hom goed. EK het dan vier jaar gevat om Grieks 1 deur te kom.. net bv Johannes 2: 9 en 10- die woord wat daar gebruik word is “oinos”. Wyn.

Kyk net hier Rooies ὡς δὲ ἐγεύσατο ὁ ἀρχιτρίκλινος τὸ ὕδωρ οἶνον γεγενημένον, καὶ οὐκ ᾔδει πόθεν ἐστίν, οἱ δὲ διάκονοι ᾔδεισαν οἱ ἠντληκότες τὸ ὕδωρ, φωνεῖ τὸν νυμφίον ὁ ἀρχιτρίκλινος καὶ λέγει αὐτῷ Πᾶς ἄνθρωπος πρῶτον τὸν καλὸν οἶνον τίθησιν, καὶ ὅταν μεθυσθῶσιν τὸν ἐλάσσω· σὺ τετήρηκας τὸν καλὸν οἶνον ἕως ἄρτι.

Dis wat daar staan. Sien: οἶνον. Gaan kyk gerus vir ‘n vertaling by http://biblehub.com/text/john/2-9.htm  En die Oinos (wyn) se Strongs nommer is 3631, as jy weet wat dit beteken. http://biblehub.com/greek/3631.htm
My ou vragie aan jou: dis antieke Israel in die Midde Ooste. Die druiwe word terselfdertyd ryp. Dit word in die parskuip  getrap tot druiwesap. Daar is nie stainless steel houers en moderne verkoelingsgeriewe nie. Dit word in klipkanne of kleipotte gestoor. Na 3 dae begin dit vanself gis. Wat woed van gegiste druiwesap? Oinos, broer. Wyn.

Ek gaan nie met jou in twisgesprekke gaan oor al hierdie teksverse wat jy en jou volgelinge na my kant toe gegooi het nie. Ek verstaan waar julle vandaan kom, en ek kry dit dat julle nooit weer iets met drank te doen wil hê nie. Die Here lei julle anders, en ek respekteer dit. Ek gaan nie verder oor hierdie punt iets sê nie, net vra hoekom julle ander se hantering van die Bybel so bevraagteken, as julle self vat en los en bysit en weglaat soos dit julle storie pas?

Maar om my op grond van ‘n bier so uit te haal, is nie regverdig nie. Julle het hierdie ‘n openbare twis gemaak. En ek haat dit. Lees bietjie mooi al die reaksies op die facebook groepe van bv Beeld en Jacaranda Mense kan nie glo dat julle so optree nie. Julle byt en verskeur. My gesin het baie seer gekry hierdeur.

Gaan lees gerus weer Romeine 14. Daar is baie ruimte om oor eties- morele kwessies te verskil. Maar moenie die liefdesgebod oortree nie. Jesus het gesê deur ons liefde vir mekaar as medegelowiges sal die wêreld weet dat Hy die Here is. Niemand word in die hemel in geoordeel nie. Rooies, jou manier van doen in hierdie geval was leifdeloos en agterbaks. En die mense het dit raakgesien.

Ten slotte: ek gaan nie eers begin redeneer oor bier en nierstene nie. Jy het geen mediese opleiding nie, behalwe as jy dalk ‘n opsmedic was. Weet jy hoe voel ‘n niersteen? Ek was ‘n maand terug in die Wilgers hospitaal met ene. Rooies, dis seerder as kraam. So: as my urine weer donker word, en dit begin bloederig raak, raai vir wie gaan ek luister as ek moet kies tussen jou en my uroloog se raad?

So ten slotte: ek het sover ek weet almal op my facebook delete wat jou as vriend het. Dit maak seer, ek moes selfs ‘n klasmaat delete. Maar jou mense het kom spioeneer en aanval, en my gesin seergemaak. My gesin pleit eintlik dat ek facebook heeltemal delete.

Ek het nie kwade gevoelens nie- gaan julle in vrede julle gang. Maar los my uit asseblief. Ek het my plek in die Koninkryk van  die Here, en julle het die reaksies gesien van die mense wat my ken. As julle wil aanhou bid vir my, doen dit gerus. Ek wil baie graag nader aan die Here lewe.  As julle wil aanhou oordeel, kla my voor die Here aan in julle gebede. Maar weet dat ek ook daagliks vir die Here vra om my in al my besluite te lei. Onthou Romeine 14 se vraag: Wie is jy om oor ‘n ander se dienskneg te oordeel?

Ek wil baie dankie sê vir die honderde mense wat my en my gesin hierdie week ondersteun en gedra het. Ek het ernstig vir die Here die afgelope ruk voor hierdie insident gevra of ek ooit iets regkry in  sy Koninkryk. Op ‘n baie vreemde manier het die Here geantwoord.

Ek is net spyt dat ek die voorblad van die koerant gehaal het oor ‘n bier, en nie oor ‘n wonderlike getuienis van hoe Jesus stukkende mense heel maak nie. Dalk kry Rooies dit beter reg as ek, en ek gun hom dit van harte. .

O ja, en die mense wat sulke goed soos Rooies se brief sommer net aanstuur en veroordeel… onthou die 9e gebod.

EN daarmee het ek hierdie gesprek afgehandel. Ek beweeg aan. Ek gaan nie met die koerante of radio of Huisgenoot daaroor praat nie. Ek gaan aan met my lewe en my bediening. Terwyl ek vashou aan wat die Here vir my gegee het in Prediker 9:7 :

“7Eet dus jou brood met vreugde, drink jou wyn met ‘n bly gemoed; God het lankal reeds goedgekeur wat jy doen.” Met die Vrug van die Heilige Gees van Selfbeheersing toegepas, soos dit hoort…

 

Vergewe al die spelfoute, hierdie is op my tablet in die donker getik, terwyl dit uiteindelik reën in die Bosveld. God is goed!

Advertisements