Vieruur in die more

Is die wêreld maar ‘n donker plek!

In Lynnwoodweg skree die alarms. Motors waar daar ingebreek word. Polisie wat die kapers jaag. Ambulanse wat die beseerdes na die Wilgers hospitaal toe jaag…

Ek is in Pretoria vir die kerk se Lentekonferensie. Die tema is iets in die lyn van “Hoop in tye  van Wanhoop…”

Gister middag se laaste sessie het ons in ‘n werkswinkel gekyk na Nelson Mandela se toespraak voor die Algemene Sinode van 1994, kort na hy President geword het. Hy het verskoning gemaak vir sy Afrikaanse uitspraak, en tog die moeite gedoen om sy hele toespraak in Afrikaans te doen. Hy het gesé ons almal is welkom in hierdie land. Hy het die kerk gevra om te help om die nuwe Suid Afrika op te bou. Het ons? 

Johan v.d. Merwe het Tim du Plessis aangehaal wat gesê het party menwe het geëmigreer. Party het gewens hulle het geëmigreer. En party het na binne geëmigreer. En nie een van die groepe is deel van die oplossing hier nie… Ek het nie ‘n enkele woord gesê in die werkswinkel nie. Dis nie jy nie Johan, ek was skaam…

Ek het ook ingeskryf vir Elize Morkel se werkswinkel oor die geregtigheid vir vroue in ons land.  Dit is skrikwekkend hoe paternalisties ons samelewing in die breë is, en hoe moeilik dit die lewe vir vroue maak omhulle volle potensiaal uit te leef. Ons het so grootgeword, en soma is ek ook skuldig daaraan. Dis waar Elize mens so uitdaag om vars en nuut te dink. Hoekom is daar so min by hierdie werkswinkel? Waarvoor is ons bang?  Soos altyd wil die Donkie so graag deel van die oplossing wees vir die seer van vroue, en nie deel van die probleem nie. Ek kry dit nie altyd reg nie- jammer!

Ons het ‘n verantwoordelikheid en ‘n rol om te speel, hier en nou…

Dis half vyf in Lynnwoodweg. Die voëltjies sing en die horison word rooi…

Gemengde gevoelens op die Saadrag aand…

Ek probeer darem nou een keer ‘n week by die Donkie uitkom, om vir hom kos te gee. Maar hierdie week is die gedagtes so bietjie moeilik en deurmekaar geklits…

Daar is wonderlike dinge aan die gebeur:

  •  Ons hele gemeenskap is so trots op Arno Botha se debuut in die Springbokspan vanaand teen Italië- ons ken hom goed en hy is darem net een van die ouens wat die hardste gewerk het daarvoor. Hy bly nederig, en toeganklik vir almal van ons!

  • My oudste seun speel heel netjiese rugby- op die bank vir die Hoërskool se eerste span. (In Arno se ou posisie…) Hy is baie beter in die spel met die ovaal bal as wat sy pappie ooit gehoop het om te wees.
  •  My jongste seun het vandag sy rugbyloopbaan by die Laerskool afgesluit- volgende jaar moet hy by die Hoërskool gaan inskakel as ‘n onder 14. Hulle het lelik pak slae gekry by Laerskool Phalaborwa, maar hy het, behalwe vir die 2 knocks en 1 gemiste tekkel, darem baie mooi vir sy pa gespeel!
  •  My skoonma is vandag 82 jaar oud. En anders as die meeste van my pelle het ek nog nooit moeilikheid met haar gehad nie- ek hoop sy word nog lank vir die familie gespaar.

Daar is ook spannende dinge aan die gebeur:

  •  Madiba is alweer in die hospitaal, en die oubaas lyk nie goed nie.
  •  Ek het die lelikste maagkrampe, en begin vermoed ek het ‘n koring weerstandigheid- ons het juis weer so lekker weggelê aan ons plaaslike bakkery se croisants en vetkoeke vandag. Dit raak al meer gereeld dat ek so voel na broderige kos… die gemene deler begin na koring lyk…
  •  Ek beleef een van die heel spannendste tye in my lewe hierdie week- erens in die nabye toekoms kan ‘n enkele telefoonoproep alles verander… ek kan eers heelwat later daaroor gesels… bid maar vir my/ons…
  • My Corolla se agterbande is klaar en ek moet self binne die volgende 1500 km die 105000 km diens betaal…

Daar is lewensveranderende besluite nodig:

  •  Ek het alweer onfiks geraak, en is nou behoorlik gatvol vir my eie slapgatgeit… (skies sensitiewe lesers- effe donker Afrikaans…)
  •  Ek kyk na gesinsfotos, en lyk glad nie sportief en fiks nie. Dit moet nou begin verander want ek wil waaragtag nie so op AL die gesinsfotos lyk nie.
  •  Ek kort dringend bietjie orde in my studeerkamer- die kat sal nie haar kleintjies hier kry nie…
  •  Ek moet dringend weer ‘n goeie boek kry om te lees!
  • Ek wil weer dringend aandag gee aan my tydsbestuur-  ek kan beter doen as wat ek nou doen.
  •  Daar is ‘n paar groot veranderinge nodig in my kop- die manier waarop ek dink is nie lekker op die oomblik nie.

So liewe vriende, die Donkie is ok maar nie so lekker nie…  dalk, as DAARDIE stukkie onsekerheid uit die weg uit geruim word, kan ek weer voluit aangaan met my lewe!  Intussen hoop ek die lewe behandel jou nog mooi, dat jy goeie gedagtes dink en soms iets lekkers aanvang ook.