‘n Harde week van grondpad ry… Gatvol blog, moenie lees nie…

Hierdie week is hopelik nou amper verby. Ek het lanklaas in my lewe so ‘n uiters moeilike week beleef soos hierdie een.

Dit het begin met die begrafnis van ‘n man in ons gemeente verlede Saterdag oggend. Ek en hierdie man het mekaar verstaan- ons albei het van motorfietse gehou, ons het dieselfde smaak in boeke en musiek gehad.  Dit is nie lekker om mense te begrawe nie.

Nog ‘n man in ons gemeente het die nuus gehoor dat sy kanker nou na sy longe en lewer toe versprei het, en die dokters praat van 6 weke lewe wat oor is.

Ek het gisteroggend ‘n jong moeder op ‘n plaas in die Bosveld begrawe.   En al is dit die mooiste setting waar ‘n mens begrawe kan lê, sou ek haar soveel eerder in haar kinders se arms lewendig tuis wou sien! 2013-06-21 12.28.01

Al bogenoemde dinge was erg om te beleef in dieselfde week. Maar in al daardie gevalle kon ek voel ek help mense, dat ek daar was vir iemand in nood, en net die seer van mense so klein bietjie kon help dra…

Maar waar ek dit verloor het hierdie week, was by die Ringsitting.  Ons het Dinsdag as leraars informeel bymekaar gekom. Dit was lekker. Maar Woensdag saam met die kerkraadslede in die formele vergadering…   Dit het vir my ‘n baie slegte ervaring geword. Ek wil nie baie oor die inhoud van my ongemak uitbrei nie. Ek dink net die kerk se hantering van proponente stink. en ek is jammer dat hulle dit moet beleef in die “meerdere vergaderings”.  Ek is so moeg vir die institusionele kant van die kerk, waar alles so ordelik en netjies volgens vergaderingsprosedure moet geskied. En goeie dinge wat ‘n reuse verskil kan maak, sommer met ‘n ordemosie van die tafel af gevee kan word, of uitgestel word na volgende jaar se ringsitting toe… Ja, die ringskommissie gaan intussen daarna kyk, die betrokkenes gaan saam vergader (en ek is nie een van die betrokkenes hier nie…) Die boodskap wat uitgedra is teenoor die jongste lid van die vergadering is: Ons gee eintlik nie ‘n hel om nie.   Al kan ons dit met sulke mooi woorde probeer sê. Dan wonder ons hoekom  die tradisionele kerk op pad uit is…  Die klokke lui al lankal, die pasiënt is in ICU, maar ons gaan rustig voort, die Kerkorde sal ons mos beskerm teen die Chaos…

En toe ek terugkom van die RIngsitting, kry ek die epos van die verslag van die Emosionele Intelligensietoets wat ek moes aflê voor my prekie in die Kaap. En dié toets het ek duidelik gedop. Ek het vroeër die week dit vir ‘n aand op die blog gehad, maar weer uitgevee. Die toets het net ‘n klomp ou wonde in my hart weer kom oopkrap.  Daar is ‘n hele paar dinge wat ek weet waarmee ek sukkel in die bediening. Ek het oor jare baie werk daarvan gemaak.  Nou kom ‘n EI toets, en vra 104 vragies- watter een is die meeste jy, watter een is die minste jy?  Daar is nog steeds dinge wat ek meer van hou as ander dinge. Daar is sekere vrae wat glad nie ek is nie, maar ek moet kies en een meeste en een minste werk. Die uitslae kom genadeloos- as ek na die resultate kyk, sou ek myself nie eers wou huur nie.  Geen leierskap potensiaal nie. Druk nie deur met projekte nie. Kan nie aanpas nie. Luister wel goed na mense…  My interpretasie: ‘n regte slapgat…   Ek beleef dat daardie toets my finaal sou gesink het in die beroepingsproses.  Maar ek het gebid dat die regte ding sou gebeur- ek weet nou dat hierdie beroep nie vir my beskore was nie. Maar daardie verslaggie sink my hierdie week in die donker dieptes in.  Ek hou nie van leiding neem nie, dit is waar. Maar ek dink ek kan.  Ek voel nie altyd daarna om deur te druk met iets nie. Maar ek dink my track record sê anders…  Ek was nog nooit goed met Emosionele Intelligensie toetse nie…

Die een ding wat ek weer baie oor wonder, is die aanhaling wat Stephan Joubert eendag gemaak het, en ek kan nie onthou wie dit oorspronklik geskryf het nie- ‘n Man het in die verre Ooste die verskillende godsdienste gaan bestudeer. En dié persoon het die opmerking gemaak: “Every time I see a Buddist priest, I see a holy man. But every time I see a Christian pastor, I see a manager…”

Dit, liewe vriende, is die punt van hierdie gerammel wat ek net van my bors af wil kry, en more dalk weer ‘n keer gaan uitvee. Ek is nie ‘n goeie bestuurder nie. Ek hoef ook nie te wees nie. Paulus het gesê die Ouderlinge is immers die bestuurders van die huishouding van God.  Ek doen my werk omdat ek graag vir mense wil omgee, en saam met hulle ‘n pad wil stap.  My verstaan van die kerk is dalk anders as wat al die gemeentes wat beroepe in die Kerkbode adverteer, wil hê.  Ek wil vir die Here lief wees, en vir mense lief wees. Soos die oorspronklike roeping wat die Here my mee geroep het om in sy diens te staan.  Dis wie ek is- ek het jare lank daarteen baklei, maar ek is nou moeg vir die stryd in myself. Ek gaan nou maar aanvaar wie ek is, en myself ten volle uitleef in dit wat die Here wel vir my gegee het om mee te werk.

Ek hoop volgende week lyk beter!

Ek hoop nie jy het toe hierdie gemors gelees nie!

Die Gatvol Donkie…