Groete aan Mannetjies Roux…

So ry ek en my oudste seun toe mos op ons Ultimate Pa- Seun Road trip af Kaap toe verlede week. Die een doel was om Argus #20 te gaan klaar maak. Maar nog veel belangriker was die gesinstyd in hierdie reis. My seun is klaar met skool, en as alles goed gaan bestuur hy oor ‘n maand stropers in Amerika.

En so gesels ons op die lange pad af Kaap toe oor al die mooi dinge langs die pad. Ek deel maar vaderlik vir hom die geskiedenis van die plekke langs die roete, soos die Groot Gat, en Magersfontein o Magersfontein.

En soos die dorpe een na die ander op die N12 verby skuif, begin ons gesels oor die een groot passie in sy lewe- Rugby. Ek hou die horlosie so dop, en dit lyk so: ons gaan Victoria Wes betyds haal. Ek vertel hom van Mannetjies Roux. En daardie drie… en hoe my pa na bewering op laerskool ook ‘n wedstryd teen Mannetjies ROux gespeel het. Ek vertel hom van die museum in Victoria Wes, en al die Springbok klere en fotos uit vergange se dae wat daar teen die muur hang. Ons trotseer ook maar die dapper krygers in blou agter die kameras om betyds in Vic-Wes uit te kom…

En toe, so uit vergange se dae… het die museum ook…

20150302_155743

… deur die Jordaan gegaan…

Ek hoop dit gaan nog goed met Mannetjies Roux! Ek sien hy is net ‘n jaar jonger as my pa gewees. Sou so graag hom in die museum wou raakloop, soos amper vyftien jaar gelede toe ek sy hand daar kon skud… Ek sou graag my seun aan hierdie nederige legende wou voorstel.

Maar niemand sê dit so mooi soos Laurika nie…

Advertisements

Jammer, Victor!

Ek het vandag twee meter van jou af gestaan in The Grove. Ek het jou in jou oë gekyk, en jy in myne. En ek het gemaak of ek jou glad nie herken nie. Jammer daaroor!

Jy sien, jy was saam met jou vrou en dogters in die mall. Julle is ‘n pragtige gesin, en jy wou so graag tyd saam met hulle spandeer. Ek kan dink na Saterdag se fiasko daar op Nuweland het ‘n man nodig om bietjie te ontspan saam met jou geliefdes. Daardie 0 moes maar seer gewees het, né! Dit was vir my. Ek sou nogal graag by jou wou hoor wat daar fout gegaan het. En wat jy so driftig vir Kryk Joebêr by geleentheid gesê het, dit het gelyk of jy hom gaan doodkyk op ‘n stadium.

Daar by die Grove het ‘n jong man daar by Wakaberry jou gestop vir ‘n foto saam met hom. Jou vrou en dogters het aangestap, en jy het vir hom gesê: “Net vinnig, hoor!”  Beleefd, maar haastig om by jou gesin te kom. Ek het dit gesien, en het gewens die ander kon ook net die trek in jou oë sien.

So dis hoekom ek jou geignoreer het. Ek wou jou so graag tyd saam met daardie pragtige dogters gun, om soos ‘n gewone pa net al jou aandag aan hulle te gee.

My vriendin Son sou dalk wou gehad het ek moet jou vra wanneer jy aftree. Maar goeie mens soos wat sy is, sy bly maar ‘n Stormer.  Ek dink sy hou ook baie van jou, maar daar neffens Skelmbos mag ‘n mens dit nooit erken nie.  Ek dink sy is bang jy hou te lank aan, en kry beserings wat jou gaan pla as jy eendag oud is.

Maar ouderdom maak nie vir ons Bulle saak as iemand goed genoeg is nie. Miskien het Son ‘n punt beet, hoor. ek het ‘n oom in die gemeente gehad wat vir WP en Suid Wes as slot uitgedraf het. Hy het in sy oudag groot kniemoeilikheid opgetel, en later ‘n been verloor nadat ‘n knievervanging skeef geloop het. Moenie so lank aanhou dat jy ook eendag so sukkel nie.  Jy wil ook eendag met jou kleinkinders op die strand rondbaljaar, gesond en gelukkig.

So Victor, regtig jammer dat ek jou geïgnoreer het. Jy het dit nodig gehad vandag. Eendag, onder ander omstandighede, sou ek daarvan hou om jou vir ‘n moutsappie of koffie te nooi. 

Pas daardie pragtige vrou en kinders mooi op met jou tyd, aandag en liefde- hulle is meer werd as rugby, en al ons fêns. Maar dankie dat jy so mooi met mense werk. My Stormer pelle sal seker nie saamstem nie, maar wat weet hulle tog nou van rugby op ‘n goeie dag?

Groete van jou fên:
Die Donkie

Ps. Om verstaanbare redes is daar nou nie ‘n foto van my en my drie seuns saam met jou nie. Ons wou, maar ons het nie…