Yster slyp yster…

… en vriende vorm mekaar- so sê Spreuke 27:17.

Dit het my net aan die dink vanaand.

Spreuke het mos 31 hoofstukke, My oom, wat so ‘n groot rol in my lewe gespeel het, het vir my gesê dis ‘n hoofstuk vir elke dag van die maand. Hy het gereeld deur Spreuke gelees, en so dit oor jare in sy kop bewaar as wysheid wat die lewe help vorm.

Ek skryf op ons gemeente se facebookgroepie so enkele gedagte elke oggend, sommer net om ons kerk se mense weer te inspireer om ‘n stukkie Bybel saam te dra elke dag op hulle lewenspad.

Vanoggend, net voordat ek die lang pad moes vat vir ‘n baie moeilike dag in ons gesin se lewe, het ek my oom se raad van Spreuke op die groepie gesit. Ek het die lesers uitgedaag om dalk net een spreuk te kies, en vandag daaroor te dink.

Spreuke 27 (ooreenstemmend met die datum) het vandag so baie wat met my gepraat het.

Maar hierdie vers 17 het die hardste gepraat. Daar is vriende wat jou lewe help vorm. Soos wat ‘n hamer ‘n stuk staal kan vorm, soos wat ‘n slypsteen ‘n mens se lem skerp kan maak, so is vriende ‘n faktor in ‘n mens se lewe.

My vrou het so ‘n skinkbord in die kombuis waarop daar staan: “Vriende is die familie wat jy self gekies het…”

Ek het vandag, deur hierdie lang, lang dag, nogal baie aan vriende gedink.

EK het so baie kontakte- meer as 500 “Vriende” op facebook, waarvan ‘n hele klomp ook nogal regtig omgee.

Ek het heelwat pelle. Daar is baie mense saam met wie ek lekker sal gaan koffie drink, en soms gesels oor gedeelde belangstellings.

Maar ek het vandag gedink aan daardie vriende wat my al op my heel slegste gesien het.  Daar was al tye wat ek dit heeltemal verloor het, en woedeuitbarstings van epiese proporsies gehad het, met woorde wat ek op nagskof by Yskor geleer het, wat nie in die Goeie Boek staan nie.

Daar was vriende wat my op my slegste gesien het. En nog steeds gekies het om my nie weg te gooi nie, maar ‘n pad met my te bly stap. Daar was al vriende wat enduit geluister het as ek baie negatief raak. Wat my storms getrotseer het, tot dit uitgewoed was. Dan met ‘n sagte woord van wysheid my weer terug te lei na ‘n plek waar daar hoop is.

Daar is sulke vriende in my lewe. Mense wat my liefhet vir wie ek is. Mense wat my aanvaar soos ek is.  Dis die ware vriende wat ek in die middel van die nag kan bel, en kan sê my lewe het nou gat oor kop neergedonder, en hulle sal verstaan.

Sulke vriende is nie baie in ‘n mens se lewe nie. Miskien het ‘n mens maar net die kapasiteit vir drie tot vyf sulke vriende in die lewe. Maar daardie vriende is die yster wat jou slyp, jou vorm, en jou beter anderkant uitbring.

Miskien is die ou grappie tog waar- ‘n pel is iemand wat vir jou in die tronk kom kuier, ‘n ware vriend sê die volgende oggend: “Wanneer kom bail hulle ons hier uit?”

Vandag se versie van Spreuke in my lewe was 27:17, en vandag is ek baie diep dankbaar vir sulke vriende in my lewe.

Ongelukkig bly twee van die heel bestes van die beste in die Kaap, ek wens so hulle was soms nader, want daar moet deesdae weer rooiwyn gedrink word, en antwoorde gesoek word. Maar dankie vir dié wat naby is. Dankie vir dié wat geweet het ek is siek, en kom kuier het.

Paragraaf self gesensor…

Dankie vir die vriende wat weet, en omgee, en bid…

En soos Forrest Gump gesê het: “That’s all I want to say about that…”

 

Advertisements