Thomas Voeckler- What a ride… !

Ek het nou maar my dagboek so bietjie herrangskik vanmiddag. Vandag is die hoogtepunt van die Tour de France vir my. Dis altyd baie kosbaar as die manne daar by die skof oor die Perenië kom. Met bekende name soos die Col de Tourmalet, waar die klimme net so deksels menslik onmoontlik is.

Vandag, op die skof van Pau na Bagneres de Luchon, het Thomas Voeckler net absoluut uitgestaan!

Soos Phil Liggett sê, Bagneres de Luchon is een van die mees beroemde dorpe op die Tour de France. Maak nie saak watter kant jy die Tour om ry nie, die vlakke van pyn gaan altyd hier rond baie styg. Vra maar vir Cadel Evans, verlede jaar se wenner, vandag was maar net vir hom een te veel. Bradley Wiggens het mooi gehou. Maar vandag is die Fransman Thomas Voeckler se dag- hy het die afstand van 197 in 5 ure 35 minute voltooi. Oor vandag se roete! Hy het my uiterste respek!

Daar kom die geeltrui nou net in, 7 minute 10 sekonders agter Voeckler!

Ja nee, om 4 van die groot “Cols” te wen, die man verdien verseker die “King of the mountain” trui!

Ek wil net een ding van my hart af kry. Die toeskouers op die bokante van die verskillende Col’s is elke jaar vir my erger. Ek weet nie of hulle die hele dag daar sit en suip nie, maar hulle maak die pad heeltemal toe voor die ryers, en dan swaai hulle vlae in hulle gesigte, en staan tot op die laaste sekonde voor hulle hul karkasse uit die pad uit verwyder. Hulle gaan nog iemand se Tour lelik opfoeter, en ek kan net dink hoe irriterend dit moet wees as ‘n beskonke persoon hier langs jou hardloop, jou die hele tyd op die rug klap en onverstaanbare woorde met spoegspatsels in jou rigting stuur… Dis die een klip in my skoen met die Tour de France- in die Perenië pla die skare my baie.

Cadel Evans is amper 12 minute agter Thomas Voeckler klaar vandag! Hy het nou terruggesak van 4e na 8e plek toe.

Maar watter pragtige wêreld is dit nie daar nie! As jy die hele Franse roete van die Camino de Santiago stap, gaan jy êrens in hierdie omgewing jou rugsak oor die Perenië moet dra. Pragtig, maar uiters, uiters swaar op die lyf! Respek vir dié wat dit al gedoen het.

Nou ja, geniet jou aand, ek gaan nou kyk hoe die mooi Franse meisies die manne so mis soen op elke wang. En dan moet ek more se begrafnispreek gaan klaarmaak. Maar wat ‘n middag! Dankie Thomas- dit was mooi om te sien!

Om duimspykers op jou naaste se pad te gooi…

Ek hou baie van fietsry.  Na 18 Argusse mag ek seker ook iets te sê hê daaroor.

Hierdie tyd van die jaar kyk ek en my geliefde graag na die Tour de France- mos maar die toppunt van die fietsrysport.

Vandag, op die skof van Limoux na Foix het ‘n mens net weer die beste en slegste van menslike optrede gesien.

Een of ander aashool het duimspykers op die pad gegooi op die bokant van die een groot klim. Die eerste een wat ‘n pap wiel gekry het, was Cadel Evans. Omdat die bokant van ‘n klim so afgesper word, is dit ook moeilik vir die ondersteuningsvoertuie, span of neutraal, om vinnig by ‘n ryer in nood uit te kom. Cadel het meer as ‘n minuut verloor, en kort daarna weer ‘n pap wiel gehad. Iemand het die sport probeer saboteer, en baie van die manne het pap wiele gekry. Dit is die laagtepunt.

Cadel Evans het darem verlede jaar die Tour gewen, en is baie kort op die geeltrui- Bradley Wiggens se hakke wat tyd vir algehele voorloper van die hele Toer. (3″17’)  Bradley Wiggens het die duimspykers ontwyk. Hy kon BAIE vandag gebaat het by Cadel se hartseer. Maar hy het met die ander fietsryers gepraat, en hulle het dadelik besluit om vir vandag nie verder te kompeteer nie, maar vir Cadel te wag.  Dit kan hom dalk die wedren kos in die lang duur. Maar ek het respek vir so ‘n sportman, wat nie wil wen uit die slegte wat met sy hoofopponent gebeur het nie.

Foto van Bradley Wiggins gekry by http://www.bbc.co.uk/sport/0/cycling/18755896

Dit het my nou weer diep aan die dink oor die lewe!  Daar is mense wat graag duimspykers in hulle naaste se pad gooi, om hulle te verhinder om hulle lewenswedloop na die beste van hulle vermoë te kompeteer.

En daar is ander wat eerder sal verloor as om onregverdig te wen in die spel van die lewe.

Ons het ‘n keuse wat ons wil wees in die lewe- saboteurs, of sportmanne en -vroue.