Ken jy die see, Meneer? Uys Krige

Ek stap verlede week in Hartenbos langs die strand. Op die granietblad voor die rusbankie is hierdie pragtige ou gedig van Uys Krige ingebytel. Ek onthou die gedig van skooldae af. Maar eers noudat ek kinders het, verstaan ek hom bietjie beter…

Ken jy die see, Meneer? 

Ken jy die see, Meneer, ken jy die see?
Hy lyk nou soos jou voorstoep, blinkgeskuur
en kalm soos min dinge hier benee,
maar hy is gevaarliker as vlam of vuur.

Dan sê jy nog, Meneer, die vis is duur.

Dié vrede, kalmer as ‘n stil, soet kind
lyk of dit dae, dae lank sal duur,
maar word dié bries ‘n bulderende wind,
dan veg jy vir jou lewe, uur na uur.

En jy sê nog, Meneer, die vis is duur.

Ja sleep die swart, swart wind die nag nog mee,
waar kry ons dan rus, waar is ons naaste buur?
Die Dood staan voor die deur. Gee hy nog net één tree,
dan kelder hy ons almal in sy koue skuur.

En jy sê nog, Meneer, die vis is duur.

Wat van die storms wat nooit ophou raas?
Jy sit pal in jou kliphuis, klam en guur,
en hoor die wind al woester, wreder blaas,
En daar is geen sprokkel hout meer vir jou vuur.

Dan sê jy nog, Meneer, die vis is duur.

Was jy al van jou bootjie soos ‘n veer gevee
deur ‘n grys golf so hoog soos ‘n tronk se muur?
Wat help dit om te spartel en te skree: “Nee! Nee!”
sluk jy eers daardie waters sout en suur.

Dan sê jy nog, Meneer, die vis is duur.

Ken jy die doodsangs as die rukwind klap?
Dié waansin ken geen redmiddel of kuur.
Hy vreet mos aan jou ingewande nes ‘n krap,
Hy’s koud soos vuur, heet soos die hellevuur!

Dan sê jy nog, Meneer, die vis is duur.

Ken jy die see, Meneer, ken jy die see?
Hy wat met groen jaloerse oë na ons gluur,
en ons net één ou misstappie moet gee
en hy kom trompop op ons afgestuur?

Dan sê jy nog, Meneer, die vis is duur.

Sien jy die krom ou vroutjie daar, Mevrou Matthee?
Wat telkens ver, vér oor die golwe tuur?
Sy dink die briesie bring haar seuns betyds vir tee.
Hul slaap aldrie agter die kerkhofmuur.

Dan sê jy nog, Meneer, die vis is duur…

Uys Krige

Dankie vir die gedig op die granietblok by Hartenbos. Dankie Uys Krige vir die pragtige woorde. Ek sal nie weer oor die prys van vis murmureer nie…

 

 

DSC_0094.JPG

4 thoughts on “Ken jy die see, Meneer? Uys Krige

Lewer kommentaar