Die Sport rusbank-aartappel

Dit is darem net so ‘n opwindende  tyd om lief vir sport te wees.

Die Tour de France begin vandag!  Die kommentators sê deur die bank dis Bradley Wiggens se beurt, maar dalk ook Cadel Evans se jaar vir die geel trui. Hier kom weer ‘n klomp laat aande om al die hooftepunte te volg! Ek kyk nou na die hoogtepunte en laagtepunte van verlede jaar se Tour. Hulle wys ook daardie valle, en my keel trek sommer toe- been there, done that, weet hoe voel die roasties!

Dis heerlike Wimbledon, en ek is so dankbaar dis in die vakansietyd. Maar hier in ons huis bring Wimbledon ook sy kwota hartseer. My naamgenoot, wat nou nie eintik in rugby uitblink nie, (nes sy pa) het tennis ontdek. Elke dag kommandeer hy sy broers op, en verdwyn hulle na die Hoërskool se tennisbaan toe. Dit was vir hom uiters, uiters traumaties toe Rafael Nadal uitgeskakel is in die tweede rondte. So van Nadal gepraat, ek moet bieg dat dit die een ou is wat vir my die mooiste in sy loopbaan ontwikkel het.  Toe hy nog 17 was, was hy darem uiters windgat.  Maar die man het wonderlik karakter ontwikkel. Hy was uiters professioneel in sy nederlaag, en het nog tyd gemaak om handtekeninge uit te deel langs die baan toe hy afstap. Maar wat ‘n vertoning deur nommer 100- Rosol!! Dis hoekom sport kyk so opwindend is- om so iemand te sien, wat geen kans gegun is nie, wat diep grawe en sy beste uithaal, en vir die wêreld wys hy kan.Maar Nadal gaan terugkom, lees gerus hierdie mooi artikel daaroor!

Gisteraand se wedstryd  waarin Federer gewen het teen Bennetau, was net so aangrypende episode. Federer het van 2-0 agterstand teruggekom om die volgende drie stelle te wen, met naelbytende “tiebreakers” tussenin.  Wat ‘n wedstryd!  Wat ‘n kampioen!

So val groot helde, ou helde keer terug, nuwe helde word gebore.

Die Springbokke se rugby teen Engeland! Die Junior Bokkie se oorwinning oor New Zealand!  Die Monaco en Valencia Grand Prix! Soveel opwinding, dat ek soos ‘n aartappelmoer begin knoppe groei hier op die rusbank…  Dis seker hoekom ek nie genoeg tyd gemaak het om die Dordtse Leerreëls  mooi met julle te deel nie.

En daar is nog soveel meer op pad. Ek hou asem op vir die Proteas teen Engeland…

Ek kan ook nie meer wag vir die Olimpiese Spele nie! Om weer vir Helena Isinbayeva te sien paalspring!  Die vroue strandvolleyball- die mees aanskoulike Olimpiese gebeurtenis! My vrou gaan nou weer al die atletiekbyeenkomste voorkeur gee, en die “remote control” vir my wegsteek! Ek sien gister ook so insetsel van uitsonderlike oomblikke in die Olimpiese geskiedenis. Sportmanne en vroue wat beseer is tydens hulle item, en moedig aanhou tot by die wenstreep om klaar te maak, al speel tyd en posisie geen rol meer nie.  Atlete wat hammies geskeur het, en aanhou hobbel tot hulle heel laaste oor die wenstreep gaan. Die duiker wat sy kop oopgestamp het teen die duikplank, verwoed bloei, en gaan om steke te kry. Hy kom dan terug en wen goud!  Of daardie Eric the Eel ou van ‘n  Afrikaland wat skaars kon swem, maar sy item klaargemaak het!

Daar is iets onbeskryflik mooi aan goeie, gesonde sportmangees. Om jare te fokus om die goue medalje te probeer verower. Om jouself te dissiplineer deur reg te eet, in wind en weer aan te hou oefen, om daardie ekstra sessie te gaan insit terwyl jou teenstanders nog slaap. Om op te offer vir jou droom, en jou alles te gee om daar uit te kom- dit is sulke wonderlike metafore vir die lewe self!  Paulus het mos baie van sport gehou en gereeld oor hierdie onderwerp van sport belangrike lewensbeginsels deurgegee. “Ek maak my los van wat agter is, ek strek my uit na wat voor is, ek span my in om die wenstreep te bereik… “

Dis ook wat ek verlede jaar op die Camino beleef het. Om jou droom te bereik, moet jy soms losmaak vir wat jou terughou in die lewe. Uitgediende opinies. Negatiewe gedagtes en gewoontes. Soms selfs toksiese verhoudings met vriende en ander- wat jou droom steel. Wat jou verhinder om die potensiaal uit te leef waarvoor jy gebore is.

Om jou droom uit te leef, is dit nodig om darem te begin deur ‘n droom te hê. So baie mense bestaan maar net, maar leef nie voluit vir iets nie. Ek vind dat dit ook in my lewe op die o0mblik ‘n gevaar kan wees- ‘n mens kan so besig wees om te probeer oorleef, dat ek nie altyd LEWE nie. Dit raak weer tyd om te gaan stil word, en weer my lewensdroom mooi te gaan definieer.

Om daardie droom te leef, beteken om daarop te fokus, daaroor op te lees, prentjies te teken daarvan, positiewe inligting in te win daaroor. Om jou gedagtes te voed met gesonde inligting, dalk is my een vriend in die gemeente tog maar reg met sy : “What you believe, you can achieve…”  As ‘n mens nie droom nie, dan mik jy vir niks. En dan bereik jy ook nie veel nie. Die sportmetafore werk so lekker vir groot lewenswaarhede.

My droom was nog altyd om in alles wat ek doen, dit voluit vir die Here te doen. Om in my roeping die beste toegerus te wees wat ek kan wees, en soveel as moontlik van myself te gee in diens van die Here in my gemeente. Om ‘n goeie man vir my vrou, en pa vir my kinders te wees, in die sin dat elkeen van hulle ook hulle potensiaal in die lewe voluit kan uitleef. Dat ek ‘n hulp in plaas van ‘n hindernis sal wees.  My droom in my sport is nog steeds ‘n sub 4 Argus, maar ek kry nooit dit reg om vir beter as sub 5 te oefen nie. Dalk moet ek ernstiger raak oor hierdie een. Ek probeer ‘n lojale vriend wees . Ek probeer, waar dit moontlik is, om ‘n positewe verskil in mense se lewens te maak.

Maar in dit alles voel dit vir my: Erens mis ek nog iets. Dit voel nooit meer of ek op die podium staan, en die beste gedoen het wat ek kon nie. Ek wen nie goue medaljes in die lewe nie, maar ek maak die wedrenne klaar… Is dit genoeg?

Die pennie drop erens dat dit ‘n klassieke midlife crisis se simptome is. Ek is meer as halfpad deur die lewenswedloop: doen ek regtig waarvoor ek gemaak is, goed genoeg? Wat kan ek beter doen? Wat kan ek anders doen?

Dit lyk my sport laat my te veel dink…  ‘n Goeie begin sou wees om weer aan die oefen te kom, ek het my fiets se voorwiel op die Argus afgehaal, en nog nooit weer teruggesit nie…

In die weermag…

Om een of ander onverklaarbare rede bly hierdie gediggie vandag in my kop maal. Ek het die laaste twee verse die afgelope week in drie verskillende boeke raakgelees… Miskien moet ek hom maar uit die gestel uit kry.

The Young British Soldier

 When the ‘arf-made recruity goes out to the East

 ‘E acts like a babe an’ ‘e drinks like a beast,

 An’ ‘e wonders because ‘e is frequent deceased

 Ere ‘e’s fit for to serve as a soldier.

       Serve, serve, serve as a soldier,

       Serve, serve, serve as a soldier,

       Serve, serve, serve as a soldier,

          So-oldier _of_ the Queen!

 Now all you recruities what’s drafted to-day,

 You shut up your rag-box an’ ‘ark to my lay,

 An’ I’ll sing you a soldier as far as I may:

 A soldier what’s fit for a soldier.

       Fit, fit, fit for a soldier . . .

 First mind you steer clear o’ the grog-sellers’ huts,

 For they sell you Fixed Bay’nets that rots out your guts —

 Ay, drink that ‘ud eat the live steel from your butts —

 An’ it’s bad for the young British soldier.

       Bad, bad, bad for the soldier . . .

 When the cholera comes — as it will past a doubt —

 Keep out of the wet and don’t go on the shout,

 For the sickness gets in as the liquor dies out,

 A’ it crumples the young British soldier.

       Crum-, crum-, crumples the soldier . . .

 But the worst o’ your foes is the sun over’ead:

 You must wear your ‘elmet for all that is said:

 If ‘e finds you uncovered ‘e’ll knock you down dead,

 An’ you’ll die like a fool of a soldier.

       Fool, fool, fool of a soldier . . .

 If you’re cast for fatigue by a sergeant unkind,

 Don’t grouse like a woman nor crack on nor blind;

 Be handy and civil, and then you will find

 That it’s beer for the young British soldier.

       Beer, beer, beer for the soldier . . .

 Now, if you must marry, take care she is old —

 A troop-sergeant’s widow’s the nicest I’m told,

 For beauty won’t help if your rations is cold,

 Nor love ain’t enough for a soldier.

       ‘Nough, ‘nough, ‘nough for a soldier . . .

 If the wife should go wrong with a comrade, be loath

 To shoot when you catch ’em — you’ll swing, on my oath! —

 Make ‘im take ‘er and keep ‘er:  that’s Hell for them both,

 An’ you’re shut o’ the curse of a soldier.

       Curse, curse, curse of a soldier . . .

 When first under fire an’ you’re wishful to duck,

 Don’t look nor take ‘eed at the man that is struck,

 Be thankful you’re livin’, and trust to your luck

 And march to your front like a soldier.

       Front, front, front like a soldier . . .

 When ‘arf of your bullets fly wide in the ditch,

 Don’t call your Martini a cross-eyed old bitch;

 She’s human as you are — you treat her as sich,

 An’ she’ll fight for the young British soldier.

       Fight, fight, fight for the soldier . . .

 When shakin’ their bustles like ladies so fine,

 The guns o’ the enemy wheel into line,

 Shoot low at the limbers an’ don’t mind the shine,

 For noise never startles the soldier.

       Start-, start-, startles the soldier . . .

 If your officer’s dead and the sergeants look white,

 Remember it’s ruin to run from a fight:

 So take open order, lie down, and sit tight,

 And wait for supports like a soldier.

       Wait, wait, wait like a soldier . . .

 When you’re wounded and left on Afghanistan’s plains,

 And the women come out to cut up what remains,

 Jest roll to your rifle and blow out your brains

 An’ go to your Gawd like a soldier.

       Go, go, go like a soldier,

       Go, go, go like a soldier,

       Go, go, go like a soldier,

          So-oldier _of_ the Queen!

Rudyard Kipling

Asblik toe…

In my gemeente is ek altyd beskikbaar vir mense in nood. Maar op ‘n Vrydagaand moet jy regtig ‘n baie, baie groot krisis hê om my in die hande te kry. Want Vrydag is my afdag. Dan nooi ek van my goeie vriende om saam met my om my vuur te kom sit. Ons gesinne braai saam ‘n vleisie, en ons drink dalk saam ‘n glasie goeie rooiwyn- soos Slanghoek se Camerca.

In die week het ek ook sulke oomblikke nodig, waar ek net uit my alledaagse lewe uit ontsnap vir ‘n paar minute.  Ek werk baie dae van agtuur die oggend tot na nege saans.   Daarom is dit vir my noodsaaklik om in my week sulke oomblikke te hê waar ek in my verbeelding langs my kampvuurtjie sit, en wegkom van die seer van die wêreld rondom my.

In daardie konteks is Bileam se Donkie gebore. My virtuele kampvuurtjie, waar ek my stories kan vertel met mense wat graag saam met my kuier. En daar is so baie goeie vriende wat gereeld saam met my om die vuur kom sit. Nie almal van hulle is Christene nie. Nie almal deel presies die waarhede wat ek in my lewe onderskryf nie. En tog gesels ons lekker hier, vanuit verskillende hoeke, oor dinge wat vir ons saak maak. Soms verskil ons oor waarhede.  Maar almal is welkom, wat in vrede om my vuurtjie wil sit.

As iemand op ‘n Vrydag homself op my kom afforseer, langs my vuur kom sit, en my die hele tyd beledig, gaan ek vir hom die hek wys. Dit is doodgewoon nie goeie maniere om langs ‘n ander man se vuur te gaan sit, en hom die hele tyd te beledig nie.

Hierdie is my persoonlike blog. Dis niks meer as dit nie- ek verteenwoordig nie die ganse NG Kerk hier nie. Ek gaan nie hier swaarde kruis oor of Ben du Toit nou die Here ken of nie. Dis nie my blog se funksie nie. Ek ken Ben glad nie, ek weet net hy het iets te sê oor die duiwel. Maar ek vermoed hy sê baie mooier dinge oor die Here Jesus.

Langs my vuurtjie kan ek besluit: ek sien raak sekere mense sê Annari du Plessis kan nie ‘n Christen wees nie. Sy is ‘n jong kollega van my wat ek nog nooit ontmoet het nie. Langs my vuur sê ek vir my vriende: die manier waarop daar oor haar gepraat word, is glad nie vir my aanvaarbaar nie. En die volgende oomblik word ek betrek by ‘n helse teologiese aanval, waarin ek ook sommer ‘n dwaalleraar genoem word deur mense wat my nie ken nie.  Hulle is nou van my vuur belet.  Hulle kan elders gaan baklei oor wie ek nou eintlik sou wees of nie sou wees nie.

Ek word aangeval oor Eelt op my blog iets gesê het. En ek hom geantwoord het. Eelt het my nog altyd baie vriendelik behandel. Maar die aanvallers het na sy blog gaan kyk- hulle het niks daar te sê gehad nie! Maar hulle kom maak broek los op my stoep oor wat ek nou oor Eelt moes gedoen het.

Almal is welkom om my vuur, behalwe as hulle hulle soos aashole begin gedra teenoor ander vriende wat by my kom kuier het. As jy ‘n probleem met eelt het, gaan praat met hom daaroor, nie met my nie! As jy wonder oor Ben du Toit of Nelus Niemandt se geloofslewe, wees ‘n man, gaan kuier by hulle en vra hulle self. Ek is nie Ben du Toit of Nelus Niemandt nie, ek staan op geen manier vir hulle pa nie. En daardie bog oor Ben du Toit se dogter wat vir die Antwoord sou sing… hoekom word ek daaroor aangeval? Weet julle hoekom is so baie predikantskinders ateïste? Oor die heilige Fariseërs wat so liefdeloos in die kerk optree.

Wanneer hierdie Fariseërs op ‘n mens spring, is daar geen verskil tussen hulle en die ateïste in die manier van karaktermoord pleeg nie!

Ek is nie meer lus vir baklei nie. Ek gaan net name op daardie swartlys byvoeg soos mense hulle nie hier gedra nie.

Hierdie is my persoonlike blog. Dankie vir al my vriende wat waarde toevoeg tot my lewe.  En die res? Gaan speel elders met iemand wat belang stel…

 

 

 

In die wêreld maar nie van die wêreld nie…

O, vandag gaan ek dit weer van alle kante af kry…  Maar ek het ‘n ding op die hart…

Daar is sekere gelowiges wat sê ons moet niks met hierdie wêreld te doen hê nie. Die wat ten minste eerlik is daaroor, gaan woon in ‘n klooster in ‘n afgeleë woestyn, sewentig dagreise met ‘n ou donkie (nie ek nie, ek is nog ‘n jong donkie!) van die naaste rol toiletpapier af. “There’s a friendly Spar wherever you are… ” behalwe naby hierdie kloosters.  Die mense praat gewoonlik nie met mekaar daar nie- daar is “a vow of silence” in plek.  Hulle slaap in grotte, op matrasse wat hulle geweef het van hulle eie baardhare.  Hulle eet net groente wat hulle self geplant en bemes het. Hulle drink net fonteinwater.  Hierdie mense weet nie iets van die huidige Euro krisis nie. Hulle weet niks van die PIGS se gulsigheid wat alles veroorsaak het nie (Portugal, Italy, Greece, Spain!)  Hulle weet nie dat Sirië een van Turkye se vliegtuie afgeskiet het nie.  Hulle weet nie van die spanning tussen Noord en Suid Sudan nie, dalk het hulle onlangs verneem van die Spanning tussen Noord en Suid Korea. Miskien dalk ook ietsie gehoor van die Ongelukkige Voorval in Viëtnam…  Hulle is gelukkig in hulle eie grot, en die enigste vermaak wat hulle het, is om Klaagliedere op perkamentrolle oor te skryf met die hand. Nou- as dit hulle gelukkig maak, wie is ek om dit van hulle af weg te neem?

Ek is nie so nie. Ek is te nuuskierig. Ek wil baie, baie leesstof elke dag hê. Ek wil my koerant lees op die Internet. Ek wil kyk op BBC se webwerf wat in die wêreld aangaan.

Ek wil graag met my vriende in gesprek wees- dit was die wonderlikste ding toe ek faceboek gekry het. Die Internet is vir my ‘n stukkie hemel op aarde- ek is verslaaf aan Interkonnektiwiteit!  Soveel groter was my vreugde toe ek verlede jaar ‘n Blackberry Torch kry. Dadelik kon ek sien as iemand iets vir my epos- of op my blog kommentaar lewer. Dadelik kon ek sien as enige van my 369 vriende iets interessant op facebook publiseer. Ek kon met soveel vriende BBM, of Whatsapp. Dit was so baie, baie lekker om te weet wat in my mense se lewens , en die groter wêreld waarin ons lewe, aangaan.

En toe pak die Toorts op. as jy hom oopskuif, gaan hy dood.  Net die “touchscreen” het die afgelope ruk gewerk. En met my dik vingertjies kry ek nie mooi netjies foutloos getik nie, soos my vriende op facebook sou opmerk.  Maandagoggend het ek my foon in Menlyn gaan ingee om herstel te word. Vodacom het mos so pragtige advertensie, waar Josh Strauss sy foon invat om herstel te word, en dan is dit in die bobbejaanmannetjie se pens…  Selfs dit is vir Vodacom glo geen probleem nie…

Tot ek daar opdaag. En wil hoor van die “loanphone”, want ek betaal ‘n helse klomp geld vir my BBM Talk 24o per maand. Die dametjie gaan haal die leenfoontjie vir my- ‘n simpel, simpel, simpel Vodaphone uit die ark uit. Raai wat doen hy alles? Hy kan bel.  En? Niks en nie. Hy kan bel.

Skielik kan ek nie meer my eposse dadelik lees nie. Ek kan nie facebook nie. Ek kan nie BBM of Whatsapp nie. Ek weet nou niks van niemand af nie. Ek kan niemand uit die moeilikheid uit help nie, behalwe as hulle my direk bel…

Na die klooster in die woestyn, waar jy jou eie groente bemes, is hierdie die tweede manier om totaal van die wêreld vervreemd te word! Kry ‘n Vodaphone leenfoon by Vodacom…  Hierdie foon het nog vir Paulus op Speeddial in Efese!

Ek is woes gefrustreerd! En buite bereik! Dit gaan vir 40 jaar so aanhou- so lank soos wat die parmantige Israeliete gevat het om deur die woestyn te kom. Dalk oordryf ek soms so bietjie, maar dit voel so! 7-14 werksdae- julle gaan vir my kom peanuts voer by Weskoppies teen volgende Vrydag!

So ja, ek is nog in hierdie wêreld. Maar ek voel weggeraap…

Eervolle vermelding- namens die Donkiegilde…

Peet se Padstal buite Warmbelabelabad…

Daar is min dinge so lekker soos ‘n aftrek langs die pad, by ‘n oordentlike oordenkte padstal, soos Peet se Padstal buite Warmbad op die pad na Thabazimbi toe. ‘n Donkievriendelike plek!   Hier is heerlike ontbyte, Sondagmiddagetes, en al daardie kaggelgoetertjies wat Gautengers en buitelanders so soek. Dis waar ek en Pastoriemoeder gister weggekruip het vir die Bikers Church en derglike kerklike ervarings…  Soms wil ons ook net wegbreek…

En nou moet ek weer Tswanetoria toe om motorfietsparte te koop, my stukkende Blackberry Torch vir iemand by die Vodashop anaal te gaan inserteer dat net ‘n goeie  proktoloog dit weer kan uithaal. Daarna moet ek weer vir my dogter op universiteit my maand se salaris gaan besorg…  Dalk, net dalk, kan ek Battleship gaan kyk…

Hiep Hiep Hoera, die Bikerskerk is nou hier…

‘n Klompie van my goeie vriende is baie  opgewonde.  Dit gons al die hele week op facebook daaroor: Uiteindelik word daar vir ons dorp ‘n Bikerskerk geplant.  Sondagoggend tienuur by die vakansie-oord. Daar kom sommer ‘n pastoor, seker van die stad af. En ‘n “band” kom ook vir die “launch”… Nou gaan ons kerk wees- dit staan mos elke maand in die Bike SA tydskrif: “Jesus died for Bikers too…”

foto: http://www.signsfunny.com/tag/biker-humor/  Onseker of die broer op pad Bikers Church toe is…

Ek is ook sommer uitgenooi op facebook- ek moes net reply of ek kom of nie. Ag, ek wou so graag, broers! Dink net aan al die moontlikhede- ek hoef nooit weer huisbesoek te gaan doen nie! Ek chat sommer met die gemeente op die “breakfast run” net voordat ons ons “bikes” gaan “bless”. “Boetas”- dit gaan sommer “kief” wees, net ons en ons “boneys” vir Jesus! Niks meer bekommernis oor oumense wat versorg wil word nie. Niks meer bekommernis oor die kinderhuis wat so baie geld nodig het om aan die gang te bly nie. Niks meer van daardie nonsens van kos vir die “bikeloses” nie… Nee, dis net ek en my bike en Jesus…Fantasties!

Maar… daar is ‘n ou probleempie. My vrou is nie regtig in murg en been ‘n “Biker” nie. Sy sou baie meer tuis wees vir die kerk van mense wat van boeke lees hou. Ek sou ook met daardie crowd kon meng. “Jesus died for readers too…:” So nou moet ek Sondag biker kerk toe gaan, sy moet boekekringkerk toe gaan. Maar dis ook nie so eenvoudig nie. Ek het ‘n dubbelkajuit bakkie… En die bakkieryers in ons gemeenskap is ook nice ouens… “Jesus died for Hilux owners too…” Ek sou graag soms by hulle kerk wou wees.  Maar dan is ek eintlik verskriklik baie lief vir my wit Corolla. Ek het twee, Varsity Vixen ry die ou een…  ‘n Kerk vir Corolla eienaars sou ook baie nice wees… “Jesus died for Jap car owners too…” Dalk elke derde Sondag eerder by hulle kerk inval.

Maar daar is nog  ‘n probleem. Ek ken ‘n paar ouens wat vlieg. Hulle hou daarvan om met ligte vliegtuie rond te speel. EK ken een ou met ‘n microlight. Baie nice ou.  Ek het al ‘n helikopter pilot ontmoet. Hoe? Hy het my sommer self gesê. Ek het darem ‘n paar Raybans soos syne. Ek glo “Jesus died for pilots too…”  Maar ek het nie geld om te vlieg nie.  Maar ek sou darem baie daarvan hou om soms saam met die pilote te aanbid… Nou kan ek nie. Dis ‘n eksklusiewe kerk daardie… Ek voel nie welkom daar nie…

En dit, liewe vriende, is my punt. ‘n Bikers kerk maak nie vir my sin nie. Jesus het een kerk, een liggaam met baie lede. Ek sou baie, baie meer daarvan gehou het as my goeie vriende in hulle leathers kerk toe gekom het, en na kerk hulle eie ding gaan doen het. Hulle kon selfs ‘n bike verwante omgeegroep in die gemeente gestig het. Ek sou graag deel daarvan wou wees. Maar ek het Sondae behoefte om saam met my biker vriende, en my leeskring vriende, en my bakkievriende, en my Corollacvriende, en my vlieëniervriende, almal saam as een liggaam ons Here Jesus te aanbid. En by mekaar te leer. En saam te vier dat ons so verskillend mag wees en dink, en nog steeds aan mekaar behoort.

Want, liewe biker vriende- baie van my vriende het nie bikes nie. ‘n Biker kerk is eksklusief.

En ‘n ware kerk bestaan juis nie net vir homself nie, maar ter wille van die ander. Die oumense wat versorg moet word. Die kinders wat bygestaan moet word om veilig groot te word. Die versorging van die armes, die weduwees en die wese…  Al daardie minder lekker dinge wat die Biker kerk se mense nie wil by uitkom nie- “We burn rubber, not souls…”

Daar is al klaar te veel kerke in die wêreld. Daar moes net een gewees het. Almal in verhouding met mekaar.Met verskillende kerkplantings as ons byeenkoms te groot raak vir die lokaal waar ons Sondag bymekaar kom om die Here te dien.

So askies dat ek nie so opgewonde soos julle oor die stigting van die Bikers kerk  is nie. Ek kan  net nie aan ‘n Biker kerk behoort, ten koste van al die ander verhoudings waarin ek staan met nie-bikers nie. Ek het ook ander mense as Bikers in my lewe nodig om gebalanseerd te wees.

Die Langste Nag

Soos almal nou alreeds bewus is, is vandag die kortste dag in die Suidelike Halfrond.  Maar terwyl ons daarmee worstel, geniet die ouens in Skotland se noordelike dele vanaand ‘n sonsonder hier net voor elf… Ek weet, want vandag 5 jaar gelede was ek en my geliefde daar, om vir ons susters in Engeland en Ierland te gaan hallo sê. Toe verdwaal ons sommer maar Skotland toe ook om ‘n droom waar te maak- ‘n Bucket List item kan jy maar sê… Vanaand 5 jaar gelede was ons by ‘n Backpackers Lodge in Invermorton of so iets, halfpad langs Loch Ness op, op die pad na Inverness toe. Daardie aand het ons in ‘n dakkamer met ‘n skuins venster geslaap, op ‘n wankelrige dubbelbed. Maar slaap was moeilik. Want onder ons het ‘n groep Kanadese fees gevier langs ‘n bonfire- dit was mos “Summer Solstice” en die moeite werd om te vier.

Hierdie foto van Loch Ness is tienuur die aand geneem! Die geraas onder in die werf het tot tweeuur aangehou, ek het nooit geweet Kanadese kan soos Aussies drink nie!  En net na drieuur het die son weer begin opkom. Die hele aand was dit nooit donker nie…

Vanaand dink ek daaraan terug terwyl dit die langste dag hier is. Ek sien op e-nuus die koue wolke wat so oor die binneland saampak vanaand. Ons voel dit hier by ons. Die ysbere raak nou erg parmantig.  Selfs in die Bosveld lê die gesin nou onder ons -5 grade slaapsakke voor die televisie.

Vandag was nou regtig die kortste dag in die jaar. Maar ons het seker ‘n keuse- dit kan of ‘n baie kort dag wees met minder geleenthede as gewoonlik. Of ons het ‘n heerlike lang nag voor, om lekker te kan rus en ander nokturniese vermaaklikhede aan te pak. Ons het seker elke dag darem ‘n keuse oor wat ons gesindheid gaan wees vandag.

Vandag was interessant. Vanoggend het ons gemeente se Bejaarde- Aksie hulle maandelikse byeenkoms gehad. Ek het vir hulle geopen met Psalm 118, wat baie mooi vertel dat ons lewens vir die Here kosbaar is, en dat Hy hoor in elke nood. Kort daarna sou hierdie waarhede ook getoets word in my bediening.

By die Aksie se byeenkoms was ‘n egpaar wat vir ons gesing het. Die man het ‘n fantastiese stem, sy vroutjie dalk so effentjies skril vir my ore… en tog, as hulle saam sing, was dit baie mooi. Ek het die ouer mense dopgehou. Hulle is so dankbaar as iemand vir hulle iets doen, hulle gee glad nie om vir ‘n vals nootjie hier en daar nie. Ek het by myself gedink: Dit is darem baie beter om ‘n Duet saam met iemand op die lewenspad te sing, as om dit Solo aan te pak. Dit is my belewenis- ek is so dankbaar vir die een wat langs my op die koue wintersaand in die bed gaan lê- soos selfs die Spreukedigter gesê het: een alleen kry koud in die bed… Twee bly warm. Ek dink ek gaan vanaand vroeg in die bed klim, met groot waardering dat ek dit nie alleen hoef te doen nie.

Ek was vanaand ook by ‘n huis, waar die man pas gehoor het die toetse was positief. Hy het kanker. Maandag moet ‘n deel van sy derms uitgesny word, maar daar is ook reeds uitsaaiings na die lewer toe. Ek weet: hier lê ‘n geweldige stryd voor…   Die man het niks vreemd gevoel nie, tot hy een oggend bloed begin passeer het. Dit is baie, baie moeilik in sulke tye om my werk te doen. Ja ek weet. ons het mos die vaste sekerheid van die ewige lewe, Jesus het die dood reeds oorwin, om te sterwe is vir ons wins en die lewe Christus… Al hierdie dinge is waar. En moeilik wanneer jy die nuus van die groot K kry.  Ons sterflikheid kom onderstreep hoe kosbaar die lewe eintlik is. Dat ons nie ‘n dag op onnodige nonsens moet mors nie.  Dat die lewe te kort is om tyd te mors met beuselagtighede, en derglike ekskreta…

So vandag is die kortste dag, met die minste sonskyn. Die langste nag lê voor. Maar van more af draai die dae, is elke dag weer ‘n hele paar sekondes langer.  Al kom die belofte van die groot koue, sê die daglengte dat hierdie ook verby gaan. dat daar aan die anderkant van hierdie koue weer vars bloeisels in ‘n nuwe seisoen voorlê.

Vanaand is ek dankbaar vir mooi herinneringe in my lewe. Ek is dankbaar vir die regte persoon wat saam met my op die lewenspad wals. Ek is dankbaar dat almal in my gesin op die oomblik gesond is. Ek is dankbaar dat die langste nag verby gaan. en dat die koudste winter ook weer die knie buig voor nuwe lewe.

Vadersdag…

Ek het gister een van die mees interessante Vadersdae in my lewe gehad…

Na ‘n nagmaalsdiens in die gemeente het ek die wonderlike voorreg gehad om twee dogtertjies, die pragtigste niggies, te gaan doop op hulle oupa se plaas. Voor die Inkwisisie op my neerdaal- op die plaas is ‘n kapel, en my kerkraad het dit ‘n amptelike erediens van die gemeente verklaar…  Die setting is baie mooi, die plaas kyk uit op ons dorpsdam, is onder andere ‘n vierster gastehuis, en die kapel is onlangs gebou in ‘n baie outydse styl, met ‘n venster agter die kansel wat oor die dam uitkyk. Die geleentheid was so spesiaal, met familie en vriende uit soveel verskillende kerklike tradisies daar saam verenig deur die liefde vir hierdie twee kosbare klein mensies.  Soms geniet ek my werk baie!

Daarna moes ek huis toe haas. Want ek is nou amptelik besig om oud te word. Die saak staan so: behalwe nou vir jongste wat verlede jaar in Standerd 2 vier meisies gehad het, het die res van die kinders nog nie ernstige verhoudings met die teenoorgestelde geslag aangeknoop nie. Nou ja, jongste is nie so erg soos wat dit dalk klink nie, ek vermoed ‘n verhouding in Standerd 2 is om jou toebroodjies vir iemand tydens pouse te gee, en ‘n tjoklit op Valentynsdag.

Nou ja, die saak staan so: ‘n rukkie gelede wys Ouboet vir my wat gaan op Ousus se BBM Status aan. ‘n Jonge heer soen haar op die neus, en dit lyk asof sy daarvan hou!  Nou ja, vir enige dogter se pa is dit mos erg. ‘n Mens wil dadelik gaan haelgeweerpatrone koop en ‘n stomp mes gaan soek.  Maar dan skop ‘n gedagte in: lank lank gelede, many moons ago, was ek en Mamma ook jonk…  Erens moet die jonge dame seker maar iemand raakloop wat my as die nommer 1 man in haar lewe gaan vervang, dit is die verloop van die lewe…  En so vra Ousus versigtig of ek tuis is Sondag, sy wil vir die dag deurkom.  Aanvanklik was my vermoede: seker maar vir Vadersdag! Ek is sommer aangedaan dat sy vir haar bejaarde vader wil kom kuier…  Nog later skemer dit deur, sy bring ‘n vriend saam. Nou kyk- dis waar ‘n mens een van daardie groot tektoniese plaatverskuiwings in jou lewe beleef. Sy het nog nooit voorheen “‘n Vriend” saamgebring huis toe nie.  Liewe ouers, die lewe gaan nooit weer dieselfde wees nie!  Ek wil nog meer haelpatrone gaan koop, maar Mammie sê sag dog ferm: “Be nice…”

Nou, terwyl ek gister oggend die twee babas so natgooi weet ek- ek moet nou huis toe ry, en “Die Vriend” gaan ontmoet… Wat op aarde sal my dogter nou huis toe sleep?  Ek wil sommer daardie drie bladsye toestemmingsvorm om by my dogter te kuier aansoekvorm by y kollega gaan haal- daardie een wat oa vra “Wat verstaan jy, in jou eie woorde, onder die begrip “kastrasie”?

Maar nee, so mag ek mos nie wees nie. Ek deel met die oupa van die twee doopbabas my groot dilemma, terwyl hy nou al drie dogters aan ander ouens afgestaan het. En hy vermaan my net ernstig- ‘n pa weet nooit wanneer dit “Die Een” is nie. Daarom is die eerste ontmoeting en openingswoorde van groot strategiese belang vir die res van die nageslag se bestaan. Dis maak of breek in die verhouding tussen jou en potensieële skoonseuns…  Dit maak my sommer nog meer onstabiel- maar ek het darem die pad huis toe om myself naais te kry…

Toe ek by die huis aankom, sien ek die meneertjie op die stoep, besig om saam met my seuns vuur te maak om vir my vleis te braai. En my seuns lyk of hulle nog nie saamgestaan het en hom gebl… slaan het nie.  Dis al ‘n goeie teken. My liewe vrou lyk ook nie te moerig nie.  Met ‘n glimlag wat ek nog nooit voorheen gesien het nie, kom Ousus vir my hallo sê. Sy het vir my ‘n Vadersdag geskenk. ‘n Pragtige foto van my en haar, toe sy nog ‘n klein dogtertjie was, Sy lyk pragtig op die foto, ek lyk Derik…

Daarna kom Die Vriend, en ek kan sien die jong man is baie gespanne om Haar Pa te ontmoet. My hart word sagter- ek onthou toe ek in 1987 vir die eerste keer na Orkney toe gery het om vir Haar te gaan kuier by haar ouerhuis, en daardie vrees en bewing om Haar Pa te ontmoet. Nou is ek Haar Pa!!!  Maar die jong man het ‘n goeie bottel rooiwyn vir Die Oom saamgebring… Ek kan sommer sien hy kom uit ‘n goeie gesin uit, met sulke bedagsaamheid.   Ons gaan sit in die lapa, en hy en die seuns braai vleis, terwyl Ousus iets babbel oor projekte wat sy more moet inhandig. Ek vra maar vir die besoeker my normale vrae: Waarmee vang jy babers? Wie is jou gunsteling in die Moto GP?  Julle weet- daardie vrae om die dieptes van ‘n man se hart te meet…

Hulle kon net tot so drie uur kuier, en daarna terugjaag Gomorrah toe met die projekte en sy laaste vraestel.

Gisteraand bel ek my ma vir die weeklikse gesprek. Sy vra: het jy Ousus se facebook onlangs gesien?  Ek gaan kyk, sien die link na die jong man se facebook toe, en gaan spioeneer soos ‘n waardige pa betaam.  En daar is dit toe. Die jong man het vir MY Dogter met rosette of iets ‘n uitstalling gemaak wat vra: A, sal jy met my uitgaan?  Die jong man se hart jubel as hy aan die wêreld verkondig- Sy het JA gesê…

So daar is dit nou, liewe vriende. Die lewe sal nooit weer dieselfde wees nie.  Ek is nie meer die Main Man in my dogter se lewe nie. Maar weet julle: Dis orraait. Dit hoort so. Ek lê gisteraand in die bed en dink: Ek hou van die jong man. Sal hom ook graag beter wil leer ken, maar ek hou van wat ek sien.  Ek hoop nie dié tweetjies breek mekaar se harte nie. Maar ek is tevrede…

 

Op hierdie oomblik moet ek nou gaan inpak. Ons het weer ons jaarlikse Ringsitting. More sit ons saam met Ouderlinge en waardige Dominees agter groot kerkmaskers, praat in vreemde woorde en ander stemtone oor die stand van die Koninkryk in die Bosveld. Maar vandag kom die leraars alleen bymekaar. Ons gaan mos preke uitruil soos elke jaar, sien? En ek gaan weer die swakkes kry… 🙂 Ou grappie. Wat doen dominees saam voor ‘n Ringsitting? Ons sit mos daar in ‘n kring in ons swart pakke en wit dasse. Ons lees saam uit Calvyn se Institusie, Volume 3. Dan bid ons lank en aanhoudend saam. En dan drink ons tee, met koeksisters, net twee draaie anders lyk dit uitspattig…

Nee, vanmiddag is ons op ‘n Wildsplaas in die Bosveld. Ons vat kleinkaliber vuurwapens saam. Baie klein, soos in windbukse en .22’s. Dominees kan nie ammo vir iets groter bekostig nie, wat nog te sê bokke!  En ons neem geweerolie saam. BAIE geweerolie, want dit is baie stowwerig in die Bosveld vanjaar. En vanaand gaan ons om die groot kampvuur saam sit, en dit gaan die hoogtepunt van die hele RIngsitting wees, want daar, oor ‘n glasie hoesmedisyne, hoor jy ‘n kollega se seer, of sy vreugde.  Net jammer more kan nie ook so eg wees nie. Of kan dit?

Daar’s ‘n hele spul ketters in die NG Kerk…

Op die wysie van “Brakke van Turffontein”-  

‘n Lied

Daar in die ou NG Kerk van my

Moet jy baie versigtig wees wat jy bely…

Ons kry soms so swaar met al die dwalendes daar

Ja wees tog net versigtig met  wat jy bely…

Daar’s ‘n hele spul ketters in die NG Kerk

‘n helse klomp dooms wat nie meer hier moet werk

Party sê Jesus het nie opgestaan

anner oor die duiwel ernstig vermaan

Ja so baie ketters vandag in die NG Kerk…

Het Jesus toe opgestaan soos Ferdie dit wil hê,

lyk die duiwel presies soos wat Wynand sê?

Smaak my sommiges se posisie,

verdien die Spaanse Inkwisisie

Steek aan die vure onder die ketters van die NG Kerk…

O wee, die kerk legitimeer ‘n Goth,

dis seker baie beter as ‘n duiwelse mof

So min is nog reg,

so baie is nou sleg,

wat op aarde is nou fout met die NG Kerk?

(met apologie aan Al Debbo)

Met ‘n tong in die kies is hierdie oor ‘n baie ernstige onderwerp geskrywe. Dit is vir my verskriklik hoe maklik sommiges in die kerk ander in boksies kan indruk as hulle nie presies glo soos  die ander dit wil hê nie. ‘n Leerdwalingklag  oor die bestaan van die die duiwel aldan nie? Dit klink vir my soos die heksejag van Salem!

Ek het nou die aand ‘n program op Discovery gesien oor die martelinstrumente wat die Spaanse Inkwisisie gebruik het om belydenisse uit vermoede ketters uit te pers. Daar was die ysterstoel, waaronder daar vuur gemaak is, nie genoeg om dood te maak nie, maar uiterste pyn op die naakte ketter te veroorsaak. Daar was die balie met spykers, waarop iemand naak neergelê is dat dit al sy ingewande uitryg. Daar was die piramidestoel van yster waarop iemand se alie laat val is om so seer as moontlik te maak. Die garrotte, waar iemand se nek toegedruk is tot hy versmoor is. Die Y-vormige bank waarop iemand gerek is tot sy liggaam uitmekaar geskeur het.

As ek aan die Spaanse Inkwisisie dink, of die heksejagte van Salem, dan wil ek huil dat mense dit in die Naam van Jesus gedoen het…

Oor die heksejagte van Salem- gaan Google dit gerus- daar was sekere swamme wat in klam huise in die Boston omgewing van Amerika ontstaan het, wat tot hallusinasies en vreemde gedrag gelei het, juis waar sommige ouer dames die wasgoed gewas het. En as gevolg van hulle optrede is hulle as hekse veroordeel en verbrand!

Hierdie optrede in die kerkgeskiedenis walg my! En ek sien dieselfde gees meer en meer in blogs, in boeke, in die Kerkbode se facebook groep, hoe elkeen wat bietjie anders is of dink as ‘n ketter uitgemaakl word, en uit die kerk uitgejaag wil word.

Soos in die gesprek oor die Goth Proponent wil ek weer vra: Waar is die liefdesgebod van Romeine 14?

Wat sê julle heksejagters van Efesiërs 1:10- dat Jesus se doel is om alles en almal onder een Hoof te verenig?   Wat het geword van die kerk wat gebou is op die belydenis dat Jesus die Here is, en almal wat dit onderskryf, is deel van die een Liggaam van die Here?  Wie is Drikus om te besluit dat Annari nie ‘n kind van die Here kan wees as sy ‘n Goth is nie?  Of Wynand wat so graag vir Ben wil uithaal oor sy duiwel anders lyk as Wynand s’n?

Die kerk baklei oor nonsens, en die wêreld glo die getuienis al minder. Ons lidmate lees hierdie goeters in die Kerkbode en Beeld, en wonder wat het van die liefde geword.

Nou gaan julle my ook in ‘n boksie wil plaas. Nee, ek is nie ‘n Nuwe Hervormer nie.  Ek glo dat Jesus werklik opgestaan het en die lewende Here is. En nee, ek wil verseker ook nie saam met die Inkwisisie gereken word wat opsweep dat die kerk ‘n nes vol ketters is, wat deur Carletonville se ou skoolhoof, die Baptiste Doom, aangespreek word oor ons reddende geloof versaak nie… Ek pas nie in een van julle boksies in nie.  Ek glo dat Jesus die Here is, en dat ons mekaar moet liefhê.

So liewe ketterjagters- hier is die vuurhoutjie vir my vuur:

Ek glo soos die kleurlinggemeente dit bely het:

Die Here Jesus is goed, loof Hom!

Die duiwel is boos, fok hom…

Amen.

(nog ‘n vloekende Dominee- bel die Son!)

‘n Heerlike Bosveldmiddag

Ek het dit net weer baie intens vandag beleef- hoe lekker dit is om in die Bosveld te woon en werk. Ek moes vanmiddag op ‘n plaas gaan huisbesoek doen. Dit is so 40 km uit die dorp uit, op ‘n grondpad wat wissel van glad geskraap tot dongas wat oor die pad strek. Maar die omgewing- kronkelpaaie deur die berge heen, honderde verskillende soorte bosveldbome, koedoes en vlakvarke langs die pad, en na die besoek: die mooiste sonsondergang so deur die stof van hierdie droe seisoen…

Ek het baie lekker gekuier op die groenteplaas, en soos die stadsjapies vermoed het, ‘n pampoen en sak botterskorsies geskenk gekry! (Eerste in jare!). Terwyl ek nou nader aan my kollega in die buurdorp is, besluit ek om te gaan kuier… Ek ry die bosveld agterpaadjies, van Heuningspruit af oor die pas by Tarentaalstraat op die 24 rivierepad na Melkrivier toe… Die pad is soms uitdagend vir die Mazda bakkie… Net na sononder klok ek bydie pastorie in, en geniet ‘n brandewyntjie saam met my vriend. Maar ons moet vinnig kuier, hy moet halfsewe by gemeentelede gaan eet. Hulle het ‘n beroep gekry en neem afskeid.

Nou le daar ‘n 2 ure pad huis toe voor, net 60 km maar 6 padverleggings. Ek stop maar gou by die ou Big5 restaurant- deesdae die “sportsbar on Main” vir ‘n biertjie en hammie. Buite staan net dubbelkajuit bakkies, ons is in die middel van jagwereld. Vir ‘n Donderdag is dir plek baie vol, sulke kuierplekke is lewensbelangrik op die baie klein plattelandse dorpies, soos Rolbos.

Hier is ongelukkig nie Draught bier nie, behalwe ‘n bottel Windhoek. Die burger is duurder as die Spur, maar BAIE beter. Met sy Monkeygland sous is dit ‘n wenner. Die gesprekke rondom my gaan oor Lodges en wildvang tegnieke. Almal is in Camo klere, mans en dames. En tog- die Big 5 is nou ‘n moderne sportkroeg- op die televisieskerms (flatscreen) wys ‘n Moto GP. Die ou by die tafel langsaan vra die kroegman hoe vinnig ry ‘n formule 1 kar. Terwyl nie een van daardie karre of bikes binne 60km hiervandaan kan kom op ons paaie nie!

Ek verlang soms so om in die Kaap te gaan bly. Maar ek besef ook vanaand: hierdie Bosveld en sy mense is in my bloed! Ek verlang soms na snoek en patats en rooiwyn. Maar elandsteak en rooibokpotjie is ook baie lekker!

Ek besef net weer: ek is nou hier… En dis ook lekker! Behalwe vir daardie 60 km huis toe wat nou voorle. Ja Roosdoring, ek sit nou in jou ou blyplek!