Die prys van die liefde…

1+1= 2 het ek in Graad 1 geleer in Monumentpark Laerskool lank, lank gelede. En dit is ‘n universele waarheid. Ek kan egter vir Jeremy Clarkson hoor vra op Top Gear: “Or is it? ”

1+1=?  Die antwoord kan eintlik baie relatief wees. Wat is die 1? Wat is die ander 1?

Neem nou maar 1 man, en 1 vrou, wat saamgeplus word op die huweliksdag.  My ervaring is dat 1+1= 6. Daar is ses van ons in hierdie gesin, wat nou lewe. Gebore uit die liefde tussen 1 man en 1 vrou.  Daar is amper 23 jaar se ervaring in hierdie huwelik. Baie, baie goeie tye. Soms baie hartseer tye. Baie groot hoogtepunte, soms baie diep donker tye wat ons saam deurgemaak het. My ervaring is: ek wat 1 mens is, is meer as 1 omdat my Ander in my lewe is. Ek is ‘n baie meer gebalanseerde mens as wat ek ooit op my eie sou wees, omdat ek en my vrou een is. Sy vul my aan. Ek voel eensaam sonder haar. Alles voel net nie reg as sy nie tuis is nie.  Soms spot ek en my vriende en sê dat om gelukkig getroud te wees, al erg genoeg is.   Maar ek sou my lewenspad nie anders wou hê as die jong, pas 23 geworde jong mannetjie wat voortvarend voor die kansel die res van sy lewe aan sy bruid belowe nie.

Maar vanoggend het iets in my bediening gebeur wat my tot in my diepste wese ruk.

Hoe lyk 1+1 as jy 60 jaar by die som sit?

In my gemeente is die wonderlikste, mees saggeaarde omie, wat nou goed in die tagtigs is. En hy het ‘n vrou vir wie hy baie, baie lief is, hy is al 60 jaar met haar getroud. Dit is altyd so mooi as hulle saam in die kerk inskuifel, die manier wat hulle na al die jare nog na mekaar kyk.

Hulle lewe saam was nie maklik nie.  Al hulle seuns is vroeg dood. Die seuns het elkeen ‘n genetiese hartdefek gehad, wat voor hulle 40 ste verjaardag tot fatale hartaanvalle gelei het. Al was hulle fiks, en al het hulle so mooi na hulle gesondheid probeer kyk.

Maar ten spyte van al hulle seer, was hierdie bejaarde egpaartjie nog steeds altyd diep gelowige mense, wat die mooi in die lewe geniet, en dankbaar is vir alles wat hulle beleef.

Vanoggend is die oom dringend op soek na my. Hy stop hier by my huis, maar toe ek nie vinnig genoeg die deur oopmaak nie, jaag hy na kollega se huis toe. Kollega is weg vir sy afdag. Die oom jaag terug huis toe, en skakel my. Binne twee minute is ek by hom by hulle woonstelletjie by ons ouetehuis.

Die oom se hart is baie seer. Sy geliefde vrou se niere het opgehou werk. Hulle was verlede week by die dokter, maar daar is nie veel wat hy daaraan kan doen nie.  Sy weier nou botweg om weer dokter toe te gaan. Intussen is die vog besig om op te bou in haar liggaam.  Die oom se oë swem in die trane- dis sy maatjie van 60 jaar!  En sy is nou besig om te sterf. Hy is magteloos, hy kan vir haar niks doen nie.

Ek gaan sit en gesels met die tannie. Sy is verbasend helder van verstand, en lyk eintlik maar soos ek haar altyd ken.

Nee, sê sy, hulle het nie ‘n mediese fonds nie.  Hulle was nou die dag by die plaaslike hospitaal vir hulp. Hulle het gesien hoe pasiënte op kaal matrasse op die grond lê, en daarvoor sien sy glad nie kans nie.  Die privaat dokter wat hulle uit die sak betaal het, het mos gesê daar is nie meer behandeling nie.  Sy kies om eerder in haar huis, by haar man te bly tot die einde toe.  Sy is diep dankbaar vir hulle wonderlike lewe saam, maar haar liggaam is duidelik besig om af te skakel. Sy het volle vrede in haar hart, en is gereed om te gaan.  Sy weier volstrek dat ons weer ‘n dokter laat kom, dit gaan net geld mors wees.

Met soveel liefde kyk sy na haar man, wat haar besluit so aanvaar. As sy gereed is om te gaan, gaan hy haar nie terughou nie. Dis net so ongelooflik moeilik om tot siens te sê. Hoe ver is die einde? Ek as leek weet glad nie, dis die dokter se terrein daardie. Die vog is besig om op te bou in haar liggaam, en sover ek weet, neem dit later die longe oor, en dis gewoonlik baie traumaties om te sien.

Dit lyk na die einde van die pad, binne die volgende dag of twee.  Die oom se hart is besig om stukkie vir stukkie te breek. Hy is self nie gesond nie, ek weet nie of hy baie lank na haar dood gaan aanhou leef nie.

Maar dis daardie totsiens sê in hierdie lewe wat my so “rattle” vandag. Die oom se manier van kyk na sy vrou. Daardie jare en jare se liefde, die seer van afskeid na ‘n leeftyd saam.

Ek wou julle almal nie heeltemal depressief maak nie, liewe lesers! Ek dink net vandag daaraan hoe kosbaar is liefde, en hoe kosbaar is elke dag saam, want die ure wat ons het op hierdie aarde, tik stadig maar seker verby.  Ek dink nou skuldig daaraan hoeveel tyd ek self in die huwelik mors deur onnodig kwaad te wees oor nonsens. Hoeveel mooi dae deur slegte buie opgeneuk word.  Hoe ‘n mens so maklik in ‘n dag tot dag oorlewingstryd verval, sonder om elke dag voluit te leef en die klein dingetjies van elke dag te koester.  Maar die ure, dae, maande jare gaan soos skadus stil verby, soos die ou Psalm sê…

Ja, liefde is vir altyd, maar totsiens sê in hierdie lewe is nooit maklik nie.

Ek sal maar weer vanmiddag daar ‘n draai gaan maak, en kyk wat ek kan doen om hulle seer te help dra.

Eretoekenning: Cameron van den Burgh

Hiermee ken die Donkieskrywersgilde van Suid Afrika, Afrika, Aarde en Sterrestelsel graag ‘n eretoekenning aan:

Cameron van der Burgh toe.

Wêreldrekord en Olimpiese Goue medalje in die 100 meter Borsslag in ‘n tyd van 58. 46 sekondes!

Niemand het vir Suid-Afrika ‘n goue medalje voorspel in die pers nie. Dankie dat jy jou nie aan hulle gesteur het nie!

South Africa's Cameron Van Der Burgh swims to place first in the men's 100m breaststroke semi-final 1 at the London 2012 Olympic Games at the Aquatics Centre

Foto en Artikel: http://www.timeslive.co.za/sport/article5904080.ece

Selfs sy Semi- finaal was al hoogs prysenswaardig, en ons haal ons Times korrespondent aan: “Van der Burgh had qualified for the final in emphatic style on Saturday when he won his semi-final by breaking the previous South African, African and Olympic records with a time of 58.95.”

So ‘n prestasie verdien sy eie inskrywing! Baie, baie geluk Cameron!

 

Fietsry Glorie en ander sportstories…

Ek lê nou in aanddiens tyd hier voor my televisie, met die laptop oop op die koffietafel. Ek het vir ‘n slag weer ‘n Migraine. Dit voel asof sewe mynwerkers met jackhammers in my skedel inboor. Die Myprodol wat my geliefde vir my gevoer het, laat alles so dof en ver voel.

Son sê so wreed op facebook dis van al die Olimpiese spele kyk…  Dalk is sy reg- wyse vrou daardie!

So ek wil nie baie hmm en haaa vandag nie. Ek wou net sê:

Padfietsry is my sport, al lyk ek soos die heel laaste ou in die wêreld wat dit moet waag. Dis die Argus se skuld, sien?! Daar is net niks lekkerder as dit nie! Die fietsry, en die kuier by wonderlike Kaapse pelle (wat ongelukkig almal vir die Stormers skree… maar wie het nou nie foute in die lewe nie?)

Ek wil net graag vir Alexander Vinikourov van Kazhakstan geluk wens met sy goue medalje gister. Ek het eerlik gedink Mark CAvendish gaan dit doen, op papier was hy die gunsteling. Vinikourov is afgskryf as te oud, en aan die einde van sy loopbaan.  Boonop was sy Tour de France nou nie opspraakwekkend nie. Maar op die dag wat dit saakmaak, het Alexander gewys wat nog in hom steek. Daar is net niks soos ‘n groot droom, gemeng met talent, fiksheid en vasberadenheid om jou heel beste te lewer nie. Baie, baie respek Alexander! En Fabian Cancelara. daardie val in die draai, waaroor jy so gehuil het op die eindstreep- dis nou waarlik ‘n hartebreker! Een sekonde se konsentrasie verloor en siedaar! Jammer ouboet!  Die skuif wat Vinokourov gemaak het om verby Uran Rigoberto van Columbië te kom toe hy anderkant toe gekyk het in die pylvlak, was briljant! Baie netjiese taktiese wen. Rigoberto het silwer gekry, en Kristof Alexander van Noorweë die brons. Die wentyd was 5 h 45 min 57 sekondes – baie goed gedoen!

Vanmiddag se vroue padwedren was net so skouspelagtig, indien nie beter as die mans s’n nie. Die vrou kry mos maar altyd die “raw deal” in die lewe- vandag het dit honne en katte en tannie Bets met knopkieries gereën- uiterste moeilike omstandighede om warm te bly, en om regop te bly in die draaie.

Die Nederlander Marianne Vos was die gunsteling, en sy het ook gewen. Baie goed gedoen op die nat pad!

Silwer medalje is die eerste vir Brittanje vir hierdie spele-  Lizzie Armitstead, en brons gewen deur Rusland se Olga Zabelinskaya.

Ek het ook nou gelê en hokkie kyk. Die Argentiniërs is darem besig om onse Protea alies lelik te skop- 5-1 ten tye van publikasie…

Ek wou net sê: Ek dink Suid Afrika se vroue atlete kry nie naastenby die erkenning van die manssportsoorte nie. Kyk watter staatmaker is Pietie Coetzee vir ons land se hokkie, al van 1995 af op die toneel om ons land te verteenwoordig. En ek was nie eers presies seker hoe sy lyk nie. As hierdie hokkiedames byvoorbeeld dieselfde salarispakkette sou kry as die Blou Bulle, of dalk die Springbokke- hoe sou die span dan daar uitsien?  Hierdie is Pietie se 3e Olimpiese spele, sy was ook in 2000 en 2004 in die span. 200 doele in meer as 200 internasionale wedstryde- dit wil gedoen wees!

Pietie Coetzee, ek salueer jou! .

Maar die mooiste Olimpiese sport bly maar:

Ek wonder hoekom?

Olimpiese Inspirasie- Vrydagmense langs die pad…

Vanaand begin die Openingseremonie van die Londen Olimpiese Spele van 2012.  Baie belangrik om te onderskei van die London Olimpiese Spele van 1908- ek onthou nie veel van daardie ene nie…  Ook nie so baie van 1948 s’n nie…

As die Openingseremonie begin, het daar alreeds wêreldrekords in die Pyl en Boog geval. Die Noord Koreaanse vroue sokkerspan het alreeds hulle moere gestrip omdat hulle met die Suid- Koreaanse vlag verwelkom is- die jongste Kiem gaan glo nie hêppie wees daarmee nie.

Die afgelope paar dae gesels hulle gereeld met Suid-Afrikaanse medaljewenners van die verlede. Josiah Tughwane (Marathon goud- 2h 14min) .  Terrence Parkin. Mariaanne Kriel. En Penny Heyns. Veral Penny Heyns! (Nee, sy het niks verkeerd gedoen nie, ek hou net so baie van haar!)  As hulle so met al die helde en legendes gesels, dan begin ek so skuldig voel. Na die Argus het ek nog nooit weer geoefen nie. Tot verlede week, toe het ek die eerste keer weer gaan stap. Vroeër hierdie week die tweede keer. En na ‘n lang, lui afdag het ek besluit om netnou maar weer te gaan stap. 4.2 km in 48 minute.  Ek wil so graag weer atleties lyk, op die oomblik is die enigste sportbeeld wat vir my gebruik kan word, boks se slaansak.

So saal ek my ou muurbaltekkies, my een stapbroek van die Camino, en hierdie jaar se Argus T hemp met die lang moue op- ek moet darem lyk of ek wel al fiks was, sien…

Eintlik wou ek hierdie inskrywing wy aan alles wat ek langs die pad gesien het.  Toe dwaal my gedagtes alweer af- die ADHD slaan alweer toe… Net voor ek daarby kom- en van ADHD gepraat- gisteraand was ek totaal moedeloos met die lewe. Eerstens het ek nie baie braait gevoel na die bloedskenk nie.  Toe het ek ‘n leiersvergadering bygewoon, wat net deur sowat 33% van die leiers bygewoon is- dit maak nogal moedeloos… En daarna het ek my twee hoërskoolseuns se rapporte gekry. Ek het hulle toe nie vermoor nie, maar dit was amper. Maar ek sal solank moet begin uitvind waar word ‘n mens as motorwag voor Absa opgelei, dat ek hulle kan help met loopbaanbeplanning. Hulle wil my mos nie glo dat ‘n mens soms nader aan jou boeke moet wees as ander tye nie.

In elk geval- al hierdie dinge het  my gemoed maar weer ontstuimig. Ek skryf sommer weer iets oor die ketters van die NG Kerk om met iemand te kan baklei!

Ek gaan stap toe maar hierdie flink stappie- om van die opgekropte emosies ontslae te probeer raak.

Onse dorpie is op die hoofpad Botswana Noord toe van Gauteng af. Die vinnig groeiende Lepellê, voorheen bekend as Ellisras, lê anderkant onse dorpie, op ‘n baie slegte enkelbaan teerpad, wat van die Boereoorlog tot die Oordeelsdag neem om oorgebou te word. Maar op ‘n Vrydag is dit chaos in onse dorpie. Dan gaan haal al die Botswana en Ellislê mense hulle kinders by Affies. Die Gautengers pak hulle karavane, sleepwaens en dies meer, en gaan soek skoon lug en bokke om te vermoor (terwyl daar nou niks op Loftus aan die gang is die naweek nie…)  Op ‘n Vrydagmiddag is dit spitsverkeer deur ons dorp. Die drankwinkels en biltongwinkels floreer.

Net so 2oo meter van my huis af stap ek verby die konsentrasiekamp kerkhof. As ek al die kindergraffies so sien, dan wonder ek darem weer oor daardie oorlog…  Op hierdie pad ry al die taxis deur wat nie tolgeld wil betaal nie. Hulle is op pad Noorde toe, na Pieterskwane en Lebowagomo en Louis Trichardt toe, party selfs Zim toe. Die Zim taxi’s kan jy maklik herken- dis dié met die reuse sleepwaens op, waaraan daar baie plastiese waterbottels en sinkplate en ander derglike regstellende boumateriaal hang.  Ek het dit betroubaar by ‘n kolonel in die polisie gehoor: hulle mag nie daardie sleepwaens laat afpak by padblokkades nie, dit vertroebel die verhoudinge met Zim. Maar daar diep binne al die gemors is my vriende in Gauteng se platskerm televisie, blue ray, laptop… die polisie weet dit, hulle mag net niks daaraan doen nie.

Nog ‘n hartseer ding van die polisie in ons dorp- daar is ‘n groot erf met ‘n betonheining om. En julle sal huil as julle sien wat daar binne gebeur vandag. Die groot lorries van die stad het weer opgedaag hierdie week. En al die gesteelde voertuie wat teruggevind is, en nie opgeeis is deur die versekering nie, word daar platgedruk in sulke vierkantige boksies. Niks mag op ‘n veiling verkoop word nie. En partykeer is dit byna splinternuwe goeters…   Julle moet sien hoe lyk dit as ‘n drie jaar oue Prado gecrush word…

So op my stappie sien ek die rykes deur ons dorp ry. Splinternuwe Land-Cruisers, met splinternuwe Offroad karavane, op pad na een van die duisende bosveldlodges. Ander het weer sleepwaens, met splinternuwe Scramblers of Quads op, hulle gaan speel in die bos, en die ortopeet by Pretoria-Oos weer rykmaak.  Daar kom Landrover Defenders verby met daktente, jerrykanne en gasbottels op die roofrack. Hulle gaan Maun en Chobe en Kasane en Okavango toe… Deur die Caprivi strook om in Angola te gaan visvang…

Daar kom baie oues van dae verby- hulle woon op die aftreeoord op die bult, wat so op die gholfbaan en die res van ons uitkyk. Party kom verby met groot splinternuwe Mercedesse, en ander met ou, baie moee kapoenkleurige Mazda 323’s. Maar almal met die aftreeoord stieker ry mooi 40 kmu daardie pad uit- die lorries se spoed.

Langs die pad stap die boemelaars: hulle het so pas by elke pastorie in die dorp die sêd sêd storie van hulle lewe gaan vertel, om geld te kry vir die taxi, vir DAARDIE werk by Medupi.  En via die Liquer Inn sal hulle eerder duimgooi met al die dominees en pastore se Vrydagmiddag skuldgevoelens.

Daar kom Gauteng se Nissan Patrols en Land Cruiser bakkies verby, met bankies van kakiemateriaal op die reëlings vasgebout. Binne in sit prokureurs en dokters en rekenmeesters met camo klere en rooi gesiggies, Kaptein Morgan word weer bevorder na Majoor voor Vaalwater se Spar Tops winkel weer voorrade kan aanvul. Daar gaan weer ‘n  paar vlakvarke en koedoes en elande sneuwel hierdie naweek, en die armgatte gaan dalk ‘n rooibok skiet vir bietjie biltong. Maar dit gaan oor Roland Ward trofees om teen die spreekkamer en in die lapa te hang om die ander te impress…

Langs die pad kom werkers teen die bult afgestap. Die huishulpe van die aftreeoord, en die werkers van die vakansieoord. Hulle kan dalk nie die taxigeld bekostig nie, so stap hulle maar saam die 5 km na hulle sinkkaaias toe. Maar weet julle wat? Hulle lyk baie gelukkiger as daardie plastiese blond in netnou se groot BMW X 5!  Drie bar gepomp, en sy lyk nog steeds nie gelukkig onder haar Raybans nie…

Daar kom plaasboere se bakkies verby, werkbakkies soos die Isuzu 250 D en die ou vorm Hilux, met so 500 000 km op die klok en drie skokbrekers wat ernstig protesteer. Hulle kiddies dra nog hulle skooldrag, die tasse van die week in die koshuis ry saam met Filemon en die Staffie, die sakke varkkos en die spilpuntkaber agterop. Al hierdie bakkies is rooibruin, hulle oorspronklike kleur is nog net op die registrasie papiere sigbaar.

Op pad uit en terug stap ek verby die gevangenis. Daar agter die tralies, in die vierkantige geboutjie, sit 3000 stoute jongens in die “Centre of Youth Excellence…”  (Ek belowe!!!)  Hulle gaan nie binnekort erens heen met hulle oranje pakkies nie, behalwe as oom Jacob weer trou voor Mangaung in November.  En tog sing hulle die Vrydagmiddag daar in hulle selle…

Die Moskee se Vrydagmiddag aanbidding trek in die rigting van die Gholflandgoed, waar al die heel rykes van onse dorpie bly. Die heel rykes is op die Gholfbaan, waar die fairway nog mooi groen is, ten spyte van die koue winter. Gholfkarretjies ry enkele meters, agter hoë mure, van waar die sluipslaper se kartonne onder die brug by die stroompie lê en wag vir sy tuiskoms vanaand. Zimbabweers verkoop hope sekelbos op pad na die vakansieoord toe, en dit word gretig opgeraap teen R8 ‘n sakkie deur die ouens met die mooi meisies wat netnou in die warm swembad gaan lê, met die Coolbox vol Castle en Skaaptjops. Die houtverkopers slaap vanaand onder ‘n seil op die Mazda bakkie wat lyk of hy al 2 miljoen kilometer gedoen het.  En twee keer onder oom Bob se tank deurgery het in die grenskruising…

Ja, die yuppies en die boemelaars, die afgetredenes en die werkersklas, die dominees langs die pad en die ryk sakemanne met hulle skelmpies op pad na ‘n “Jagnaweek”  R25oo special,  die jagters en die boomkykers, die sluipslapers en die miljoeners- almal saam sê net: Dank Vader dis VRYDAG!!!  Dankie tog nog ‘n werkweek is verby… (behalwe vir ons Dominees, my werksweek is eers Sondagaand 8 uur verby, as daar nie ernstige krisisse opduik nie…)

Dis Vrydagaand. My hele gesin slaap elkeen op ‘n ander plek. Dis seker hoekom ek so lank en onsamehangend skryf hier- ek haat dit om alleen tuis te wees! My vrou is met skolenetbal in Rustenburg. Ousus in haar woonstel in Pretoria, Ouboet en Kleinboet by verskillende plase in die distrik, en middelboet het ook netnou my kom meedeel dat hy ook maar by ‘n vriend wil gaan oorbly. En daar ry hy ook nou. 1/6 is tuis vanaand… dit gaan nie so lekker wees nie. Ek dink ek gaan maar netnou ‘n plekkie in die Spur soek, ‘n Castle Draught en ‘n hammie geniet, en dan voor die televisie kom tuismaak vir die Olimpiese Inspirasie om my al meer te tref.

Mag die Olimpiese Spele vir jou wonderlik wees, en mag jy vanaand warm slaap!

 

 

 

Amelia Earhart- nog ‘n bietjie meer…

Amelia Earhart en haar Lockheed Electra
Foto: National Geographic

NAtional Geographic het ook  gisteraand so bietjie meer oor Amelia Earhart te sê gehad, met videoclips. Ek moes net hierdie pragtige foto met julle deel…

Amelia Earheart se Lockheed Vega op permanente uitstalling in die VSA se National Air & Space Museum
Foto: http://www.aerospaceweb.org/question/conspiracy/q0299.shtml

Nog ‘n lekker leesplek- waar hierdie foto gekry is- by die Smithsonian…
http://blog.nasm.si.edu/tag/amelia-earhart/

Hierdie Rooi Lockheed Vega wat in die Air & Space Museum staan, het Amelia gehelp met verskeie rekords- eerste vrou alleen oor die Atlantiese oseaan, eerste vlieënier van Hawaii na vasteland VSA oor die Stille Oseaan, eerste vrou van Ooskus na Weskus van die VSA…

Haar roete tydens haar verdwyning…

Amelia Earhart

Amelia Earhart's 115th birthday

Google verras vandag met sy embleem wat herinner dat Amelia Earhart vandag verjaar. Sy sou vandag 115 jaar oud gewees het.  Gebore op 24 Julie 1897, en verdwyn in 1937, baie kort voor haar 40e verjaarsdag…

Sy is vir my een van my groot heldinne in die geskiedenis- die sterk vrou wat die mans aangevat het op ‘n terrein wat hulle gedink het net hulle s’n was. Sy was ‘n pionier vlieënier, Sy was die eerste vrou wat alleen oor die Atlantiese oseaan gevlieg het  (17 Junie 1928 in ‘n Fokker F- VII b vliegtuig) Hiervoor het sy die Distinguished Flying Cross ontvang in 1932, die eerste vrou wat dit ooit ontvang het.. Sy het ook die eerste persoon geword om van Honolulu, Hawaii, na Oakland, Californiê solo te vlieg op 11 Januarie 1935.

Foto gekry op ‘n opwindende blog! – http://flywithamelia.wordpress.com/

In 1937 het sy beplan om rondom die wêreld te vlieg in ‘n Lockheed Model 10 Electra, saam met haar navigator- Fred Noonan. Hulle het ‘n eerste mislukte poging aangewend, daar was meganiese probleme by Hawaii. ‘n Tweede ekspidisie het op 1 Junie 1937 van Miami af vertrek, via Suid- Amerika, Afrika, Indië en Suid-Oos Asië. Hulle het vanaf Lae in Nieu Guinea vertrek op 27 Junie 1937, om te probeer vir Howland eiland. Oor die 35 000 km van die ekspedisie was reeds voltooi, die volgende skof sou 4115 km wees oor die Stille Oseaan. Maar Howland eiland is net 2000 meter lank en 500 meter breed- ‘n bitter klein teiken met destyds se navigasie. En die vliegtuig was glo oorlaai gewees. Dit kan wees dat ‘n baie belangrike radioantenna met die opstyg in Lau afgebreek het. Op een of ander manier het Amelia die radioseine gemis wat haar na die eiland toe sou begelei, waar die Amerikaanse vloot sou brandstof voorsien.

Hulle het die eiland gemis. Die Amerikaanse vloot het oor die $4 miljoen spandeer om haar te soek, die duurste soektog in die geskiedenis tot op daardie stadium.

Daar is baie teorië wat van Amelia Earhart en Fred Noonan geword het- van “Crash & Sink” tot redelike oortuigde navorsers wat besittings op die Gardner eiland, deel van die Phoenix eilandegroep opgespoor het soos Fred Noonan se kompas. Daar is ook verskeie gereedskapstukke gevind wat glo uit so ‘n Lockheed se wrakstukke gevorm sou wees.

So kort voor die 2e Wêreldoorlog, het haar verdwyning baie sameswerings teorië en wilde spekulasie opgelewer. Sy sou in die geheim op Japan spioeneer.  Sy wou van haar man wegkom. Sy sou onder ‘n ander identiteit voortleef.

Wat het van haar geword? Niemand is 100% seker nie. Sy vlieg voort in ons drome…

‘n Pragtige fliek met Hillary Swank in die titelrol- Amelia, het verskyn in 2009.  Daar het op 3 Julie vanjaar weer ‘n ekspedisie vertrek om te gaan soek na Amelia en haar vliegtuig…

Die vliegtuig waarmee sy verdwyn het- Foto: Wikipedia

Daar is ruimskoots van Wikipedea vir die feite gebruik gemaak, net om die storie te vertel. Hierdie is nie ‘n geskiedkundige werk nie, net ‘n bewonderaar se lof!

Dis Arc de Triomphe tyd op die Tour de France!

Dis weer tyd vir my jaarlikse geloofsworsteling. Gaan ek soos ‘n goeie gelowige vanaand se aanddiens bywoon in die gemeente? Of gaan ek aan die versoeking toegee, en enduit die Tour de France geniet, tot die laaste televisieonderhoud met die helde uitgesaai is? Soms is dit net voor die kerkdiens, net-net klaar, meestal nog nie…

Vanjaar se Tour was wel effens voorspelbaar- ek het aan die begin gesê ek stem saam met die kommentators dat dit Bradley Wiggins se jaar vir die geel trui is. Ek het wel gedink Cadel Evans gaan tweede wees, maar dit was nou nie bedoel om te wees nie. Maar wat ‘n verrassing was Christopher Froome van die Sky span nie gewees nie! Gebore in Kenya, grootgeword in Suid-Afrika, nou ‘n Britse burger. Hou hom dop vir ‘n toekomstige wenner!

Die gentlemen’s agreement van die Tour de France is: die Tour is gisteraand reeds gewen.  Bradley Wiggins moet net half nugter en regop oor die wenstreep op sy fiets bly.  Op hierdie oomblik is hulle 69 km van die eindstreep af. Daar word nie vandag teen mekaar gejaag nie. Tot by die laaste 8 laps van die Tour de France op die Champs Ellysee.  Dan is dit volspoed al die pad- dit is ‘n saak van eer om die laaste stuk so in die openbaar te wen. Ek raai: Hou vir Mark Cavendish vanmiddag daar dop!  Bradley Wiggins sal waarskynlik bietjie veiliger speel en nie te hard druk nie. Niemand wil egter vandag daar val nie- die Olimpiese spele is binne ‘n week vir hulle- en dit bly die enkele eer wat dalk net groter as ‘n Tour Wen kan wees… Nah… ek dink die Tour is die toppunt- dis darem net soveel meer werk as een glorieryke daggie in Londen!

Wat die Tour so goed maak, is ook die televisiedekking. Het jy al mooi geluister na die kommentaar van Phil Liggitt en Paul Sherwen? Om so interessant te bly praat vir ure aanmekaar! Die twee manne doen ‘n uitstekende werk om die Tour te verduidelik en ons op hoogte te hou. Ek geniet dit so dat hulle hul huiswerk so goed doen, en vir ons al die besienswaardighede langs die pad so mooi beskryf, met geskiedkundige detail en interessante koeitjies en kalfies oor elkeen…

Wie is dié manne? Paul Sherwen het sewe keer die Tour  gery. Nooit gewen nie. Hy woon in Kampala, Uganda, waar hy ‘n aandeel in ‘n goudmyn het.

Paul Sherwen
Foto- Wikipidea

Phil Liggitt  is nou al 69 jaar oud!  Hy was ‘n amateur fietsryer, maar het eerder gekies om professioneel in die uitsaaiwese in te gaan.  Dis so lekker dat sy stem elke jaar ook op die Argus se kommentaar gehoor kan word.  Hoekom praat hy elke keer van die Suid Afrikaanse vlag? Want hy is die meeste van die tyd hier! Hy het ‘n huis in die Suid-Kaap en ‘n wildsplaas op die grens van die Kruger Wildtuin. Dankie Wikipidea, ek het dit ook nie geweet nie!

Phil Liggitt-
Foto- Wikipidea

Hierdie twee kommentators maak die Tour soveel interessanter- baie dankie vir hulle!

Om die liefde vir die Tour de France te verstaan- gaan lees gerus Lance Armstrong se boeke: It’s not about the bike, en Every Second count.

Daar is agter die skerms sulke wonderlike tradisies  en gentlemen’s agreements. Ja, dis ‘n harde wedren. Spanwerk is uiters belangrik.  Maar waar dit jou nie benadeel nie, help jy ander in nood. “Give an inch, gain a friend…”

Daar is gewoonlik baie respek tussen die ryers, en as iemand selfsugtig is, is daar maniere om hom weer terug te bring aarde toe.

Die manne kom nou in Parys al hoe nader aan die 8 Champs rondtes- en dan gaan ek nie hier sit en tik nie, dit gaan al my aandag trek!

Daar is die bordjie- D1- Paris Centre…  Daar is die Eiffel Toring nou!

So van my kant af: baie geluk Bradley Wiggins- uitstekende wedren!
Baie geluk Chris Froome- dit was ‘n wonderlike ry, en ek het respek oor hoe jy Bradley ondersteun het in die berge, selfs die skofoorwinning  wat jy opgeoffer het om ‘n goeie spanmaat te wees.

Dalk die laaste woordjie- hierdie ene was nie so opwindende Tour soos voriges nie- dalk net te voorspelbaar? Ek mis die vuurwerke van Andy Schleck en Alberto Contador- soos daardie roemryke dag teen die Col de Tourmalet uit!

Ek wens die manne wil nou ophou met die “doping”- niemand wen op die lang termyn daarmee nie.

Dankie vir elke Sportman en -vrou wat deur harde werk en toewyding my inspireer met hulle deelname in hulle dissipline van sport!

49.7 km oor- daar gaan hulle verby die goue standbeeld van Jeanne de Arc- hier kom dit nou!  Champs Ellysee! Team Sky neem die voortou, en gee vir George Hincapie die voorpunt- dit is sy laaste Tour van 16!  Hier kom die vuurwerke nou!

Vive la Tour!

‘n Dag van drome…

Ja Nee, vandag is sover ‘n dag van drome:

Eers het ek en my seuns die Bloubulle teen die Crusaders gekyk. Dit was ‘n nagmerrie.

Toe kyk ons die Sharks teen die Reds- dit was ‘n lekker droom.

Daar is ‘n “Fly Inn” by ons vliegveld vandag. Die Harvard klub is hier. Om vliegtuie te gaan kyk, is altyd vir my baie lekker- die droom wat ek nie genoeg nagejaag het in die lewe nie.

Die wonderlike nuus is: ‘n mens kan vir ‘n draai in die Harvard gaan. Een van die vlieëniers saam met wie jy kon vlieg, is die kaptein van die Boeing 747 wat in 1995 so laag oor Ellispark met die wêreldbeker gevlieg het! Dit moet ‘n droom wees! Toe die nagmerrie- Dit kos R1700 vir so kwartier se draaitjie… As ek nou R1700 gehad het, het ek dit ingesit vir ‘n nuwe kamera se deposito! Maar dit moet baie, baie lekker wees…

‘n Ander vliegtuig waarmee ek so verskriklik graag vir ‘n draaitjie sou wou gaan:

Die vliegveld was ‘n droom, behalwe dat ek nou nie kon bekostig om in enige vliegtuig te spring nie!

Om halfses vanmiddag gaan ons in die kerkgebou ‘n wonderlike stukkie bediening bywoon- “Van binnekamer tot Troonkamer” wat oor aanbidding deur koordanse gaan. Ek sien baie daarna uit, dis vir my altyd een van die mooiste vorms van aanbidding!

En dan gaan ek by ‘n goeie vriend wors braai terwyl ons die Hugenote kollege ondersteun…

Dan gaan ek weer alleen in my bed klim vanaand… ‘n nagmerrie…

Waarom is my kop so groot?

So maak ek toe vanoggend die tweede troosdiens in twee dae klaar. Toe is ek ook sommer klaar. Miskien was ek dalk nie so eerlik gister toe ek gesê het sulke dienste is so maklik nie… die een ding wat ons in enige hulpverlenings beroep leer, is om empatie te hê met mense. Maar nie om hulle las op ons eie skouers te pak en vanaand daarmee te gaan slaap nie… Ek kry dit nie altyd reg nie. Mense se seer raak my maar altyd, diep.

Van Standerd 8 af was daar een manier wat my koppie weer laat ophou raas het. Adrenalien. Soos in Motorfiets gaan ry. Vrydag is mos eintlik my afdag, behalwe wannneer dit nie my afdag kan wees nie- soos in ‘n troosdiens, sien? Soms sê ons ons wens mense wil net ‘n maand voor die tyd aansoek by die kerkkantoor doen om hemel toe te gaan, dan kan ons dit beter skeduleer op ons dagboeke…

My een goeie vriend, ook my Diensverhoudingsbestuurder, is op verlof. En hy ry ‘n baie mooi nuwe Truimph 8oocc dueler. Dis sy laaste werksdag af- en hy sê vroeër in die week ons moet gaan ry. Kollega het onlangs ook ‘n 8oo cc gekoop- ‘n antieke Suzuki, ek dink ‘n SV. Hy wil ook saamgaan.

Die troosdiens begin 11 uur, ek hou nooit sommer langer as 1/2 uur aan nie, mense kan mos maar net soveel hanteer op so ‘n hartseer dag. Ek gaan drink ook tee saam met die familie, en is net voor 12 tuis. Wat ‘n kontras! Een oomblik by ‘n troosdiens in ‘n baadjie en das. Die volgende oomblik in my denim, veiligheidskoene, Poison Rally T-Hemp, Motorfietsbaadjie… Van Dominee na Biker in 10 minute…

Nou is daar ‘n probleem. Ek het my motorfietshelm nodig om te gaan ry. En daardie dekselse 16 jarige seun van my het MY heml gevat om skool toe te ry. In my huis is daar omtrent 7 verskillende helms. Myne is die enigste een wat nog ‘n “visor” ophet. En boetman kry koud in die oggend op pad skool toe. Toe vat hy maar myne.

Dis waar die groot kop inkom. Nee, ek dink regtig nie ek is beter as ander mense nie. Nee, ek het niks om oor snobisties te wees nie, behalwe dalk my pragtige nuwe amper 5 jaar oue Corolla. Maar Steve Hofmeyr het lank gelede al gesê manne wat wit Corolla’s ry is vervelig … ek sal my vrou nog eendag daaroor moet vra as sy in ‘n goeie bui is…

Nee, ek het fisies ‘n groot kop. En lekker bak ore soos radarskottels op Mariepskop. En dit maak dat ek ‘n XXL helm nodig het om al daardie verstand, of Torcelli se lugleegte, veilig op ‘n motorfiets wettig te mag vervoer. Byna niemand wat ek ken, besit XXL helms nie. My liewe seuns kan almal in ‘n Medium inpas. Die Hoërskool is ‘n totale afstand van 720 meter ver. Oopgesig helms sal jou nie in die Bosveld hipotermie gee in 720 meter nie.

Dis toe die probleem vanoggend in die pastorie. Pa wil dringend saam met sy vriende gaan bike ry. Boeta het die helm. Pa is die duiwel in, en dreig met gesinsgeweld. Uiteindelik het die groen monster op die erf opgedaag, Pa sy helm gegryp met ‘n beduiwelde gesinsuitdrukking…

Maar weet julle, selfs as die ou 650 cc’tjie opstaart, dan begin die lewe baie beter voel! Daardie gevoel van die wegtrek, die eerste draai. Die wonderlike gevoel om uit die dorp se grense uit te ry. Daar is sulke pragtige bome in ons gebied. Die mooiste maroelabome. Wilde olyfbome. En soveel ander wat jare gaan vat om te leer. Langs die pad speel rooibokke. Die pad kronkel so lekker deur die rante na die buurdorp toe. In my truspieëltjie die ligte van die twee 800 cc’s- my vriend op die Truimph is maar baie versigtig! En kollega se Suzi kan seker nie… 🙂

Ons het die wonderlikste ritjie gehad tot by die Dokter in die buurdorp. Daar het ons van oom Charles se lang glase koeldrank geneem, en ‘n bordjie tjips. Daarna die pad terug huis toe. By die huis het ek aangekom, verfris, vervars, en gereed vir my middagslapie…

Nou hoekom het ek tyd om sulke nonsens te skryf? Want my vrou het my alweer verlaat… Ousus is terug in Gomorra, ouboet werk by die restaurant, en die jongste twee lê en slaap hier voor die televisie… Ek kyk ‘n fliek wat opgeneem is, Vince Vaugh is irriterend maar Jennifer Connely is altyd pragtig…
Ek voel eensaam sonder my vrou, die bed is koud, en die ysbere is baie…

Gelukkig het sy net saam met haar suster na haar ma se huis toe gegaan, om weer totsiens te sê vir haar Ierse sussie… Sy is Sondag weer terug…
So… eensaam en verveeld… jy seker ook as jy so ver gelees het!

Nommer Drie…

en Nommer 4…

Geloof en hoop…

Ek is op hierdie oomblik tussen twee begrafnisse (eintlik troosdienste…) Ek het vanoggend ‘n dame van 87 se troosdiens gelei, en more oggend is ‘n ander dame van 93 se troosdiens. Beide hierdie dienste word maar deur bitter min mense bygewoon, anderkant 80 oorleef ‘n mens gewoonlik al jou eie geslag familie en vriende, lyk dit my. En dit is hartseer- as iemand so lank voluit gelewe het, maar vir drie jaar in die bed was vanweë beroertes en ander siektes, en so min mense is daar om totsiens te kom sê.

Ek het Vrydag, ‘n uur voor die een dame saggies heen is, by haar sterfbed gesit. Sy is so saggies heen, sonder enige pyn of vrees, dat dit eintlik baie mooi was. Die afsluiting van ‘n aardse lewe.

Vir albei hierdie dienste het Paulus maar baie met my gepraat- vanoggend se diens was oor Romeine 8:37-39, waar ons die troos kry dat elkeen van die Here se kinders meer as oorwinnaars is, en dat selfs die dood ons nie weer sal skei van sy liefde nie. En more sal dit gaan oor Romeine 5:1- die vrede wat daar nou reeds tussen God en sy kinders is, wat selfs vir ons nuwe perspektiewe op lyding bring.

Baie mense wonder hoe ons dominees ‘n begrafnisdiens emosioneel oorleef. Veral more s’n gaan moeilik wees, want ek het die dame al 18 jaar lank geken, kinders van haar getrou, ek probeer onthou of ek kleinkinders gedoop het. Daar was baie kere se kuier om die kombuistafel rondom koffie en beskuit en die Woord.

Maar nee, begrafnisse is nie so erg nie. In ‘n sekere sin is daar ‘n stuk egtheid en eerlikheid daarin vir my. Nee, ek kan nie van almal vertel watter wonderlike mense hulle was, as dit nie waar is nie. Maar op so ‘n diens is mense se maskers af. Jy sien wie hulle werklik is, waarop hulle hulle lewens bou, wat die hoop in hulle lewe is. By ‘n begrafnis word ‘n mens gekonfronteer met jou eie sterflikheid. Elkeen van ons het maar ‘n afsprakie met die doodsengel êrens eendag. Dit laat ons vra of die stuk van ons eie pad wat ons al afgelê het, die moeite werd was. Prioriteite word geweeg. Was dit so belangrik om ryk te word, die regte adres en motor te besit? Of het ek vandag die vreugde in my lewe van verhoudings wat regtig ‘n verskil maak- met my lewensmaat/ kinders/ vriende?

Ek dink mos maar dis die vraag van die oordeelsdag: Het jy liefgehad?

Maar ek wou eintlik net hierdie enetjie met julle deel, want dit het so baie beteken vir my en die mense van vanoggend se diens.
Gister het Leonard Sweet op Twitter ‘n aangrypende ding gesê:

“Hoop is om die musiek van more nou alreeds te hoor. Geloof is om vandag daarop te dans… ”

Mag jou lewe ‘n vrolike dans vandag wees!

Die Donkie

http://pjsroom.com/paintings__sketches
Kyk na PJ se fantastiese skilderye!