Vrolike Vrydag

Iemand het die Donkie in die stal vergeet, Moet die dekselse Ruiter wees!

In elk geval, hier is dit nou weer Vrydag- die mooiste dag van die Week. Veral na Gisteraand.

Ons sit gisteraand so in die Hoërskool se saal, en bewonder die talente van die leerders tydens die Kultuuraand. Ons skool het ‘n jonge dame wat “Wrecking Ball” darem baie mooier as Miley sing, en dit met klere aan!  My oudste seun het sy ou vader ook bewoë gehad, want in die een toneelstukkie dans hy galant met ‘n pragtige blondine, en hy het dit so grasieus gedoen, en met soveel respek.

Maar een van die groot oomblikke in die konsert het die natuur voor gesorg. Dit is oom Paul Kruger se verjaardag gewees gister, en dan mag dit begin reën, volgens die spesiale dekreet van die ou Zuid Afrikaansche Republiek van Transvaal.  Amper soos die ander wet van Transvaal.  Dit MOET reën, anders dooi ons. En gisteraand het dit te heerlik gereën.

Ek kon weer met ‘n lied in my hart vanoggend die klein kameratjie gryp, en in die tuin gaan wandel.  Eers vir my tuiningenieur aan die werk sit met al die werkies in my groentetuin wat ek eerder voor betaal as om dit self te doen- soos onkruid uitspit, omspit en dies meer…

Die natuur is weer vars en nuut vanoggend…

IMG_0803

Hmm- ek sal ‘n meer fotovriendelike stal vir die Donkie moet kry… ek hou net so van hierdie ene se uitleg… Enige raad?

IN elk geval- hierdie naweek vat ons die belydenisklas bietjie Bos toe. Ons gaan kamp. Ons gaan nie tande borsel en skeer nie. Ons het nie meer geld om hulle Drakensberge toe te vat nie, maar ek sien nogal baie uit na hierdie naweek saam met die jong klomp. Ons het ‘n paar oulike monstertjies in ons gemeente.  Daar behoort ook lekker foto geleenthede te wees op die plek waarheen ons gaan, ek sien al so uit om weer in die veld te gaan stap met die Kanon.

Ons gaan ook eet… en ekke het so 4 groot varkboude van die Basaar gevat vir die doel. Saterdagaand maak ek vir die kiddies lekker gerookte varkboude in my Weber. Enige voorstelle om dit nog lekkerder te maak?

So, liewe getroue 3 lesers- Die Donkie Leef…   Dankie vir jou kuier hier. Kom ons skink nog ‘n koppie moerkoffie…

IMG_0805

Op soek na ‘n goeie moer!

Gister was maar ‘n dag wat ek verniet sal weggee as ek kon. Behalwe nou dat dit ook  jongste se verjaarsdag was, ek het die gesin toe maar Spur toe gevat dat ons twee groot pizzas gaan deel.  En KFC draairoomyse, waar Pastoriemoeder haar top behoorlik geblaas het oor die uiters stadige diens…

Gister, so net voor die groot hartseer, het ek en my tuiningenieur amper 2 ton se beesmis op ‘n plaas gaan haal. Ek is nie baie fiks met ‘n graaf nie, so dit was harde werk verby, en die Bosveld son is nou dodelik 12 uur die dag. En my sleepwa se deksel het ook toegeval, op my kop… die deksel het ‘n hele fietsraam op…

Met die oorvloediglike mis tot my beskikking het ek vanoggend maar by die koöperasie gaan kuier, soos enige goeie plattelandse dominee maar gereeld doen. Behalwe om met al die boere te staan en spekuleer oor wanneer die reën eendag gaan kom, en wat die vleispryse nou maak, het ek hulle groente afdeling gaan besoek.

My pastorie het morsdooie springhaassand. Alles wat jy wil hê plante moet groei mee, moet jy self vir hulle gee.  Ek het vroeër in die jaar my eerste tamaties reggekry, deur dit in 80 liter sakke te groei. En vanoggend het ek een van daai groot polistyreen saadbakkies gaan koop. Ek kry net nêrens klein saadkissies nie. Sal hierdie keer maar weer probeer om saad eers in kissies te laat ontkiem, en later uit te plant. Ek het ook ‘n paar eiervrug plantjies in seker so 15 liter sakke geplant, in ‘n mengsel van grond, kompos, mis en so bietjie landboukalk. In die polistyreen het ek tamatiesaad, blaarslaai en kool probeer plant. In die grond self sal ek, behalwe die boontjies wat reeds in is, ook spinasie probeer.

Ek sukkel net regtig met die groente besigheid. Daar is ouer omies wat dit so maklik laat lyk.

Ek sou so graag net organies ook wou probeer boer, maar hier is verskriklik baie peste en plae.

Ek wil ook aartappels probeer, maar sukkel om goeie moere in die hande te kry (is dit nie maar altyd die probleem nie…!)

Die hande in die grond kry vandag is maar my poging om my eie emosies op hok te probeer kry. Gister se selfmoord van my buurman, en more se matriekafskeid, en oormore se besigheid met Pastoriemoeder is maar oorweldigend,  ek val maar redelik gat oor kop rond op die oomblik.

Mag daar tog net hierdie keer bietjie groei wees…

Ek het vir die grap ook my CV Kaap toe gestuur… Net om my spanningsvlakke mooi hoog in die rooi te hou…

Wat ‘n deurmekaar dag en week, en maand… en jaar…

Ek hoop jou dag lyk baie beter, en dat jy iets lekker het om vandag jou lewe mee te geniet!