Die grootste stryd is die een in myself…

Dis alweer belydenistyd. Ek sukkel. En daar is niemand anders te blameer nie.

Oor ses weke is dit die Argus 2013. Ek het hierdie droom om 21 Argusse in ‘n ry te doen, dan kry ‘n mens ‘n blou nommer en word sommer soos ‘n eregas oorlaai met hartlikheid- die afsetter groet jou sommer op die naam as jy wegspring. Ek is mooi op pad, hierdie jaar is nommer 19.

Maar die oefenry! Ek sukkel om hierdie jaar aan die gang te kom! Ek het op hierdie oomblik 187 km vir Januarie gery, en my doelwit is ten minste 1000 km vir Januarie en Februarie.  Maar aai. Vrydagoggend was daar ‘n elektriese storm. Saterdag was ek na ‘n troue toe in Gomorrah, en ek moes vroeg ry om van my dogter se goetertjies terug te vat vir nog ‘n jaar op Universiteit. Sondag was ek nie lus nie. Maandag was die pap wiel episode. Gister was dit reënerig. Vanoggend is dit bewolk. .

Daar is mense wat in die hael en sneeu en Suidooster op fietse klim, en gaan oefen. Selfs al sou die wêreld op 21 Desember geëindig het, sou sommiges nog steeds gou ‘n laaste oefensessie wou gaan inwerk! Ek kry dit net nie meer reg nie. Ek is bang vir weerlig op ‘n fiets, iets te doen met die hoeveelheid mense wat doodgeslaan is deur weerlig waar ek in Noord-Natal grootgeword het.  Ek hou nie van natreën op die fiets nie. Dan koel ‘n mens verskriklik vinnig af, en kry krampe, en kry verkoue. Jy sien ook nie die pothole raak as dit baie gereën het nie. En magtag, julle moet sien hoe loop die slange rond in die Bosveld op die oomblik, daar lê juis weer ‘n moerse pofadder doodgery net hier buite die dorp. Hulle is nog vriendelik, die mambas is nie so lekker nie… En so sit ek en praat myself uit vanoggend se oefensessie uit, vanmiddag gaan dit weer erger reën. Ja, daar is so baie goeie verskonings… maar Suikerbossie wag…

Dis waaroor ek vanoggend sit en wonder. Hoekom het party mense daardie dryfkrag om groot suksesse te maak van alles wat hulle aanpak? Is deursettingsvermoë geneties, is dit persoonlikheid, is dit houding in die lewe?

Ander kere dink ek oor daardie stryd wat maar alewig in my gedagtes is. Hoekom kan party mense so gemaklik met hulleself saamleef, en ander, soos ek, voel die hele tyd of iets jou jaag? Ek sien dit ook in my kinders. Twee van hulle het totale rustigheid en vrede, met donderbuie plek-plek, net soos hulle ma. En twee is sommer die hele tyd van die prêm af, en altyd bedonnerd, soos hulle pa.

Wat kan ‘n mens self kies om te verander?  Wat is net ‘n houdingsaanpassing? Ek kan amper net dink wat sou Karen Brynard dit genoem het…  En waarmee moet ‘n mens maar rustig vrede maak, en weet jy gaan nou maar hierdie omie in die ouetehuis wees wat eendag nog steeds wonder: “What happened?”

Miskien is dit so eenvoudig soos hou op nonsens skryf op jou blog, en gaan ry 30 km fiets, reën nat as dit dan moet… sonder om te veel te tob daaroor…

Die Parmantige Samaritaan…

In die lewe het ons ander mense nodig. ‘n Mens kom regtig net nie altyd alleen reg nie.

Dit was alweer my ervaring. Ons is nog so 7 weke weg van die Argus af. My kilometers geoefen vir die wedren is nog skrikwekkend laag. En so beplan ek mos toe om nou vanoggend lekker ver te gaan ry- sê maar my eerste 40 km rit.

En so ongeveer 5.86 km in die rit in gebeur dit.  Die agterwiel begin eers so bietjie sponserig voel. En dan begin hy liggies deurstamp tot op die “rim”. En dan begin die fiets al hoe meer rondhardloop. ‘n Pap wiel. ‘n Alledaagse gebeurtenis as ‘n mens fietsry.

Maar daarvoor is daar mos raad. Draai die fiets om op sy saal en handvatsels.

In die saalsakkie het ek ‘n ekstra binneband, twee “tyre-levers”, en ‘n gasbommetjie vol CO2 om die band weer vol te maak. Onthou om die waterbottels af te haal anders drup al die water uit. Die agterwiel word afgehaal, nou nie met die bekwame spoed van die Ferrari span nie. Buiteband afgerem met die tyrelevers. Ja, daar sit die probleem- ‘n reuse duwweltjie. Maak seker daar steek nie nog dorings in die buiteband nie. Voeg splinternuwe binneband in, sit versigtig die buiteband weer op, maak seker hy knyp nie die binneband stukkend nie.

Draai die CO2 apparaatjie vas aan die kleppie van die binneband. Draai met groot verwagting die rooi kraantjie…

Dadelik word die hele apparaat yskoud, en niks gas gaan in die binneband in nie! Maak toe, maak los, maak weer vas. Presies dieselfde resultaat. En so ‘n CO2 bommetjie hou net enkele sekondes.  Daar staan ek. Hoekom ry ek nie maar een van daardie baievloek handpompies saam nie?  Hier is ek nou 5.86 km van die huis af, met ‘n fiets wat nie op die voorwiel kan ry nie. Met fietsryskoene stap ‘n mens dit ook nie so lekker nie. Nou begin die pret.

  • Bel my dogter om my met my kar te kom oplaai. Geen antwoord.
  •  Bel ons proponent wat baie ernstig fietsry, en permanent ‘n fietshaak op sy karretjie het. Geen antwoord.
  • Bel my vrou by die skool. Nee, sê sy, daar is nou ‘n nuwe Departementsbeleid- as onderwysers die skoolterrein gedurende werksure verlaat, word dit van hulle verlof afgetrek.  Sy kan, maar wil ek dit regtig hê? Nee, later in die jaar kan ons iets baie lekkerder met ‘n dag verlof doen.
  •  Kry onse peppermintjie met die fietshaak karretjie in die hande- hy kom dadelik om my te help…
  •  Intussen ry baie, baie boere verby my met hulle bakkies in dorp toe. So 1 uit 3 probeer vasstel of ek reg is.  Een besigheidsman het gestop, toe ek nog gedink het ek kan die band self omruil, en so 10 minute later weer uitgery om te kyk of ek regkom- baie dankie daarvoor!!
  • PArty mense het netanderkant gekyk, dis mos nie hulle probleem nie.
  • Gelukkig woon ons nie in Gauteng waar ek beroof sou wees van my selfoon en fiets nie!
  •  Na so rukkie het onse peppermentjie my baie mooi kom oplaai, die fiets behendig vasgemaak, en my by die huis kom aflewer.

Dit is so lekker dat daar mense is wat bereid is om ander te help. Soms het ‘n mens ander se hulp so nodig. Maar dit vra dan dat ons ook soms bereid moet wees om uit ons pad te gaan om iemand anders te help.  Dankie vir al ons dorp se Parmantige Samaritane wat my vanoggend wou help!  En die res- hoop julle het in elk geval ook ‘n lekker dag!

Maar o gedoriewaar, ek het moeilikheid met die min kilometers wat ek oefen!  Hier kom groot moeilikgeit!

Burry Stander… aai!

Fietsry het so min helde deesdae. Veral na my groot held Lance geval het.  En byna elke Tour de France wenner wat onder verdenking is vir “doping”.

Ek het soveel respek gekry vir Burry Stander- wat ons land in London se Olimpiese Spele verteenwoordig het en baie, baie goed gery het in die Bergfietsitem. Burry wat al wêreldkampioen was in sy dissipline, Burry wat al die Cape Epic gewen het…

En gister die nuus, eers op twitter, toe begin dit op faceboek. En nou in die Beeld…

Burry is doodgery…  deur ‘n taxi…

Foto: Beeld vanoggend

‘n Mens mag nie mense haat nie. Daarom wil ek net dit van my hart afkry- ek HAAT minibus taxis in Suid-Afrika!  Ek haat die manier waarop hulle bestuur word. Ek HAAt die totaal kannieworry houding waarmee my lewe al soveel keer deur hulle bedreig is.  En die glimlag wanneer hulle reg voor jou inry van die verkeerde kant af.

Ek bid vir Burry se familie…  Suid Afrika het ‘n groot held verloor!

Death by Koeksister… sorry Riaan Cruywagen…

As daar nou een “professional hazard” (sorry Riaan Cruywagen) in my lewe is, is dit melktert. En koeksisters.  En kondensmelkhorintjies. En klein vleispastytjies.

Toe ek by Yskor gewerk het, was dit gesmelte staal wat in die hoogoond kan rondvlieg. Toe ek bus bestuur het, was dit minibus-taxis (noudat ek daaraan dink, dis nog steeds onder die top 3 euwels van alle tye, naby Hitler en Malema rond…) Golfspelers kry golfelmboog. Fietsryers breek sleutelbene. Rugbyspelers kry blomkoolore. Sokkerspelers kry “grassburns” (sorry Riaan Cruywagen…) op hulle onderlip.  Elke beroep het maar sy beserings.

Ek het nog net 101 dae voor die Argus van 2013. Soos my ex-held, die ex-legende (sorry Riaan Cruywagen…) Spuitnaald Armstrong gesê het by soveel onderhoude en oefensessies, en in sy fiksie- “It’ s not about the Bike’- as jy vinniger wil ry, spuit EPO. Of nee, hy het iets gesê soos: verloor gewig. My wetenskap onderwyser het iets gesê soos: Momentum= massa X snelheid. Dit maak dat ek BAIE vinnig op afdraandes is, maar nie so vinnig op opdraandes nie, dan is die momentum agtertoe. Ek wil so graag 20 kg verloor en kyk watter verskil dit maak aan my tyd op die Argus.

Maar nee, die gemeentetannies het besluit ek moet soos die vetgemaakte kalf lyk hier voor Kersfees. Ek kry net nie vrede in my jong onskuldige gemoed nie. Ek droom al daarvan dat daar ‘n reuse koeksister is wat my in ‘n koeksistergreep vasvang, en die lewe uit my uitwurg.

Kom ons neem net die afgelope 24 uur as voorbeeld. Gister het ek en my geliefde Bybelstudiegroep ons weeklikse Bybelstudiesessie vir die jaar afgesluit. Ons werk lekker saam, vers vir vers, deur die Johannes evangelie. Nadat ons saam vir Lasarus opgewek het in hoofstuk 11, het die dames die kombuis se luike oopgegooi. Almal wat in die 2e helfte van die jaar verjaar, het ‘n bordjie eetgoed saamgebring. Melkterte. Tjoklitkoeke (sorry Riaan Cruywagen…!) Kondensmelk horingkies. Koeksisters. Aspersieterte. En verskillende vleispastytjies. Al daardie goed wat Tannie Marie Rooihol van Weighless so woes teen waarsku…  Hoe kan die dominee nou die tannies se hart breek en nee sê? Hulle het dan met soveel moeite en liefde die heerlike eetgoedjies gemaak.

Gistermiddag bring die een baasbakster vir my ‘n fantastiese tjoklitkoek (sorry Riaan Cruywagen…!) om met my kinders te deel. Pragtige kleur, regte voggehalte. En karamel kondensmelk vir versiering bo-op… hoe sê dominee nou nee vir so ‘n wonderlike geskenk?

Vanoggend bid ek en Kollega en jongkollega saam, soos elke Woensdagoggend. VAnoggend is dit by my huis. Ongelukkig is daar net Ricoffy om aan te bied. Gelukkig is daar ‘n stukkie tjoklitkoek (ag deal with it, Riaan Cruywagen, ek het in ‘n industriele dorp grootgeword waar ons gedonder is as ons ons taal suiwer hou, en ek is aandagafleibaar.) Waar was ons nou weer? O ja, vanoggend se koek en tee. Om agt.

Nege uur het ons ons voedingskema afgesluit vir die jaar. Die dames nooi al die dominees om ook daar te wees. Gevleuelde woorde van dank word uitgespreek. Daarna word die kombuis se luike oopgegooi: Melktert en tjoklitkoek… Met soveel liefde gebak vir die Dominees- hoe sê ‘n man dan nee?

Daarna ry ek en kollega op ons motorfietse na die buurdorp toe om ‘n mikrofoon vir ons gemeente te gaan haal wat herstel is. Ons val by ‘n kollega se huis in vir koffie. Hy het so pas sy Bybelstudie afsluiting gehad. Die koffie kom. Met ‘n bordjie van: een skon met room en konfyt, een stuk melktert, een stuk tjoklitkoek, en een kolwyntjie. Hoe sê ‘n mens nee as kollega dit saam met sulke wonderlike moerkoffie opdis?

Dis net die afgelope 24 uur se werksverwante beserings…

Dink nou aan ‘n normale week se huisbesoek op die platteland, waar die dames kompeteer om te kyk wie kan die mooiste koeksisters bak vir Dominee se koms…

Hoe op aarde gaan ek 20 kilogram ooit verloor voor die Argus?  En ons het nog nie eers begin met die Kersseisoen nie…

Foto: thecoocoocook.blogspot.com

Die lang, lang pad na Suikerbossie toe…

Oor 103 dae spring ons weg op my 19e Argus. 10 Maart 2013. Waarskynlik rondom 08h25.   103 Dae om van totaal onfiks (alweer!) tot by oorleef-fiks te wees vir daardie oomblik wanneer ‘n mens bo-oor Suikerbossie gaan- dan het jy dit darem gewoonlik gemaak, behalwe as die Suidooster wreed is, of iemand in jou voorwiel vasry en jy lê en bloei voor al die Supermodelle in Kampsbaai se koffieshops… (gelukkig nog nie met my gebeur nie, halleluja- ek het met groot genade al 18 klaargemaak- nog net 1 val, 1 puncture, 1 gebarsde wiel – alles drie jaar gelede met die 120 km/h Suidooster…)

So saal ek vanoggend weer my ou Trek 800 Trail Bergfiets op. Ek het eenkeer die fout gemaak om hom te weeg- 19 kg. Dit is gelykstaande aan ‘n Centurion Tank by Pantserskool- vra maar my neef die Sammajoor daar, hy sal vir jou kan sê dis waar!

My Argus fiets, ‘n Schwinn Fastback, waarop ek bergfiets stuurstang en sagte bergfietssaal gesit het, se voorwiel is nog steeds net so uit die raam uit soos daardie dag by die Waterfront toe ek Argus 2012 klaargemaak het- hy staan nog onder die stof in die spaarkamer.

En ekke? Tim Noakes het altyd gesê die rus is net so belangrik soos die oefen in ‘n mens se program. So ek het van 12 Maart af gerus. Ek vermoed dit was alweer bietjie lank. Die bier was te lekker, veral in my nuwe bierbeker. Die winterkossies was te lekker. Ek lyk nou soos die vetgemaakte kalf vir die kersfeesete.  So my suidpool en die fiets se saal geniet mekaar glad nie. Opdraandes is nag. Afdraandes is hemels. Ek hyg en syg soos ‘n ou stoomlokomotief. Ek sien visioene van geopende hemelpoorte, ek hoor harpmusiek en sien engele langs die pad… Ek het nou hoofpyn en hoes al te lekker na vanoggend se 20 km.

Elke jaar dreig ek myself. Hoe kan ‘n mens ‘n Argus se fiksheid net so weggooi? Hou aan oefen, al is dit net 20 km per dag so 3 keer ‘n week. Skryf in vir die 94.7. Maar nee- elke jaar pik die luislang my net na die Argus.  Dis nie lekker om onfiks te wees nie… ek verstaan dit glad nie. En dan kry ek weer daardie Deja Vu gevoel van hoe Suikerbossie ‘n mens kan seermaak as die temperatuur anderkant 40 grade is, en ‘n mens nie asem kry nie. Daardie aanhoudende pyn van elke trap. Die hertverskeurende bordjie met die koffiebeker op wat  se dat jy nou eers halfpad is.

Ja, hier lê ‘n lang, lang 103 dae voor! Intussen is daar ook nog ‘n Poison Rally en ‘n week by die see om na uit te sien- nog verlore tyd vir die fiets…

Maar daar is niks, maar niks (behalwe nou een ding) wat daardie biertjie by  Ferrymans op die Waterfront wen as ek hier rondom 5 ure in die saal daar aankom nie!

Fietsry Glorie en ander sportstories…

Ek lê nou in aanddiens tyd hier voor my televisie, met die laptop oop op die koffietafel. Ek het vir ‘n slag weer ‘n Migraine. Dit voel asof sewe mynwerkers met jackhammers in my skedel inboor. Die Myprodol wat my geliefde vir my gevoer het, laat alles so dof en ver voel.

Son sê so wreed op facebook dis van al die Olimpiese spele kyk…  Dalk is sy reg- wyse vrou daardie!

So ek wil nie baie hmm en haaa vandag nie. Ek wou net sê:

Padfietsry is my sport, al lyk ek soos die heel laaste ou in die wêreld wat dit moet waag. Dis die Argus se skuld, sien?! Daar is net niks lekkerder as dit nie! Die fietsry, en die kuier by wonderlike Kaapse pelle (wat ongelukkig almal vir die Stormers skree… maar wie het nou nie foute in die lewe nie?)

Ek wil net graag vir Alexander Vinikourov van Kazhakstan geluk wens met sy goue medalje gister. Ek het eerlik gedink Mark CAvendish gaan dit doen, op papier was hy die gunsteling. Vinikourov is afgskryf as te oud, en aan die einde van sy loopbaan.  Boonop was sy Tour de France nou nie opspraakwekkend nie. Maar op die dag wat dit saakmaak, het Alexander gewys wat nog in hom steek. Daar is net niks soos ‘n groot droom, gemeng met talent, fiksheid en vasberadenheid om jou heel beste te lewer nie. Baie, baie respek Alexander! En Fabian Cancelara. daardie val in die draai, waaroor jy so gehuil het op die eindstreep- dis nou waarlik ‘n hartebreker! Een sekonde se konsentrasie verloor en siedaar! Jammer ouboet!  Die skuif wat Vinokourov gemaak het om verby Uran Rigoberto van Columbië te kom toe hy anderkant toe gekyk het in die pylvlak, was briljant! Baie netjiese taktiese wen. Rigoberto het silwer gekry, en Kristof Alexander van Noorweë die brons. Die wentyd was 5 h 45 min 57 sekondes – baie goed gedoen!

Vanmiddag se vroue padwedren was net so skouspelagtig, indien nie beter as die mans s’n nie. Die vrou kry mos maar altyd die “raw deal” in die lewe- vandag het dit honne en katte en tannie Bets met knopkieries gereën- uiterste moeilike omstandighede om warm te bly, en om regop te bly in die draaie.

Die Nederlander Marianne Vos was die gunsteling, en sy het ook gewen. Baie goed gedoen op die nat pad!

Silwer medalje is die eerste vir Brittanje vir hierdie spele-  Lizzie Armitstead, en brons gewen deur Rusland se Olga Zabelinskaya.

Ek het ook nou gelê en hokkie kyk. Die Argentiniërs is darem besig om onse Protea alies lelik te skop- 5-1 ten tye van publikasie…

Ek wou net sê: Ek dink Suid Afrika se vroue atlete kry nie naastenby die erkenning van die manssportsoorte nie. Kyk watter staatmaker is Pietie Coetzee vir ons land se hokkie, al van 1995 af op die toneel om ons land te verteenwoordig. En ek was nie eers presies seker hoe sy lyk nie. As hierdie hokkiedames byvoorbeeld dieselfde salarispakkette sou kry as die Blou Bulle, of dalk die Springbokke- hoe sou die span dan daar uitsien?  Hierdie is Pietie se 3e Olimpiese spele, sy was ook in 2000 en 2004 in die span. 200 doele in meer as 200 internasionale wedstryde- dit wil gedoen wees!

Pietie Coetzee, ek salueer jou! .

Maar die mooiste Olimpiese sport bly maar:

Ek wonder hoekom?

Thomas Voeckler- What a ride… !

Ek het nou maar my dagboek so bietjie herrangskik vanmiddag. Vandag is die hoogtepunt van die Tour de France vir my. Dis altyd baie kosbaar as die manne daar by die skof oor die Perenië kom. Met bekende name soos die Col de Tourmalet, waar die klimme net so deksels menslik onmoontlik is.

Vandag, op die skof van Pau na Bagneres de Luchon, het Thomas Voeckler net absoluut uitgestaan!

Soos Phil Liggett sê, Bagneres de Luchon is een van die mees beroemde dorpe op die Tour de France. Maak nie saak watter kant jy die Tour om ry nie, die vlakke van pyn gaan altyd hier rond baie styg. Vra maar vir Cadel Evans, verlede jaar se wenner, vandag was maar net vir hom een te veel. Bradley Wiggens het mooi gehou. Maar vandag is die Fransman Thomas Voeckler se dag- hy het die afstand van 197 in 5 ure 35 minute voltooi. Oor vandag se roete! Hy het my uiterste respek!

Daar kom die geeltrui nou net in, 7 minute 10 sekonders agter Voeckler!

Ja nee, om 4 van die groot “Cols” te wen, die man verdien verseker die “King of the mountain” trui!

Ek wil net een ding van my hart af kry. Die toeskouers op die bokante van die verskillende Col’s is elke jaar vir my erger. Ek weet nie of hulle die hele dag daar sit en suip nie, maar hulle maak die pad heeltemal toe voor die ryers, en dan swaai hulle vlae in hulle gesigte, en staan tot op die laaste sekonde voor hulle hul karkasse uit die pad uit verwyder. Hulle gaan nog iemand se Tour lelik opfoeter, en ek kan net dink hoe irriterend dit moet wees as ‘n beskonke persoon hier langs jou hardloop, jou die hele tyd op die rug klap en onverstaanbare woorde met spoegspatsels in jou rigting stuur… Dis die een klip in my skoen met die Tour de France- in die Perenië pla die skare my baie.

Cadel Evans is amper 12 minute agter Thomas Voeckler klaar vandag! Hy het nou terruggesak van 4e na 8e plek toe.

Maar watter pragtige wêreld is dit nie daar nie! As jy die hele Franse roete van die Camino de Santiago stap, gaan jy êrens in hierdie omgewing jou rugsak oor die Perenië moet dra. Pragtig, maar uiters, uiters swaar op die lyf! Respek vir dié wat dit al gedoen het.

Nou ja, geniet jou aand, ek gaan nou kyk hoe die mooi Franse meisies die manne so mis soen op elke wang. En dan moet ek more se begrafnispreek gaan klaarmaak. Maar wat ‘n middag! Dankie Thomas- dit was mooi om te sien!

Om duimspykers op jou naaste se pad te gooi…

Ek hou baie van fietsry.  Na 18 Argusse mag ek seker ook iets te sê hê daaroor.

Hierdie tyd van die jaar kyk ek en my geliefde graag na die Tour de France- mos maar die toppunt van die fietsrysport.

Vandag, op die skof van Limoux na Foix het ‘n mens net weer die beste en slegste van menslike optrede gesien.

Een of ander aashool het duimspykers op die pad gegooi op die bokant van die een groot klim. Die eerste een wat ‘n pap wiel gekry het, was Cadel Evans. Omdat die bokant van ‘n klim so afgesper word, is dit ook moeilik vir die ondersteuningsvoertuie, span of neutraal, om vinnig by ‘n ryer in nood uit te kom. Cadel het meer as ‘n minuut verloor, en kort daarna weer ‘n pap wiel gehad. Iemand het die sport probeer saboteer, en baie van die manne het pap wiele gekry. Dit is die laagtepunt.

Cadel Evans het darem verlede jaar die Tour gewen, en is baie kort op die geeltrui- Bradley Wiggens se hakke wat tyd vir algehele voorloper van die hele Toer. (3″17’)  Bradley Wiggens het die duimspykers ontwyk. Hy kon BAIE vandag gebaat het by Cadel se hartseer. Maar hy het met die ander fietsryers gepraat, en hulle het dadelik besluit om vir vandag nie verder te kompeteer nie, maar vir Cadel te wag.  Dit kan hom dalk die wedren kos in die lang duur. Maar ek het respek vir so ‘n sportman, wat nie wil wen uit die slegte wat met sy hoofopponent gebeur het nie.

Foto van Bradley Wiggins gekry by http://www.bbc.co.uk/sport/0/cycling/18755896

Dit het my nou weer diep aan die dink oor die lewe!  Daar is mense wat graag duimspykers in hulle naaste se pad gooi, om hulle te verhinder om hulle lewenswedloop na die beste van hulle vermoë te kompeteer.

En daar is ander wat eerder sal verloor as om onregverdig te wen in die spel van die lewe.

Ons het ‘n keuse wat ons wil wees in die lewe- saboteurs, of sportmanne en -vroue.

Argus < 24 uur…

More oggend om 07h51 spring ek weg in groep EE van die Argus. Die weervoorspelling word angstig dopgehou, want die Suidooster maak of breek my hierdie jaar, ek is nie fiks genoeg vir ‘n storm nie.  Die slim omies met die dik brille sê dit gaan warm wees more, so 32 grade, en die Suidooster gaan redelik laag lê. Wel, vir die hitte is ek nie bang nie, ek het in 37 grade oor middagete gaan oefen tuis, om gekondisioneerd hiervoor te wees.

Die een ding wat my elke jaar vang, is die pre-resies se stress… Ek voel net nooit fiks genoeg nie. Ek wonder altyd hoekom het ek nie meer gedoen nie. Vroeër as November my fiets uit sy winterslapie laat ontwaak nie. Vroeër in die oggend opgestaan nie. Meer kere gaan oefen nie. Verder gery, meer bulte gaan uitklim…  as ek maar…

En al hierdie emosies help net mooi niks. Dit gaan niks aan die weer verander nie. Dit gaan niks aan die padtoestand of die lengte van die resies verander nie. Maar dit is elke jaar so- die dag voor die Argus worry ek. En slaap sleg. En elke jaar, die afgelope 17 jaar al, gaan dit goed genoeg as ‘n mens net eers aan die gang kom op die Argus. Ek het nog altyd klaargemaak, al was dit soms “battered & bruised”, vol oliekolle, soms bloedstrepe.  Ek weet nou al, as die fiets nie breek nie, en die wind hom gedra, behoort ek met vanjaar se oefening so rondom 5h21 te ry more.  So waarom worry ek so?

Die groot geheim van more is ‘n rustige begin. Ry op my tyd oor Hospitaalheuwel, en veral Edinburgh Drive. Gebruik die AAKLIGE Boyles Drive (onthou om die nuwe remblokkies in te sit!!!) om die uitsig te bewonder, hopelik is daar more weer ‘n groot skool dolfyne wat agter die brandertjies baljaar.

Gister was ook ‘n lekker dag in die Kaap, soos elke liewe een. Weer gaan fietsry saam met Kaapse vriende, en opgeeindig in Moyos by Eden on the Bay, waar ons op ‘n koue oggend teen die kus met ons voete in koue water gesit en eet het, en toe om warm te word dubbel rum en coke gedrink het… die terugrit Melkbos toe was vrolik met die wind van agter en die uitnemende vorm van Carbo Loading…

Gisteraand is ek saamgenooi na Laerskool Riebeekstrand se Miljoenersaand, waarmee hulle geld ingesamel het vir ‘n nuwe rekenaarklas vir die skool. Ivan Zimmerman was die seremoniemeester, Corné Krige het die mense uit hulle geld uitgepraat, en daarna het daar verskeie wyn en kunsprodukte met ‘n veiling van hande verwissel. Soveel mooi en ryk mense het ek nog nie voorheen saam gesien nie. Ek het Corné ook persoonlik ontmoet.

Die skool het gisteraand R200 000 ingesamel, en dit is wonderlik om te sien dat daar jong manne is wat sommer net so vinnig vinnig R20 000 kan drop op ‘n kunswerk…

Wel, nou moet ek my fiets gaaan diens en verder panic. Mooi dag daar!