Ons dominees se werk is nou nie altyd maanskyn en rose nie. Partymaal kan ons ook maar murmereer soos die Israeliete van ouds in die woestyn.
Maar soms het ons ook met wonderlike oomblikke te doen.
Een van die mense wat my baie diep aangeraak het met sy menswees, was oom Barrie Barnard gewees. Oom Barrie het baie gekrimp met die jare, hier teen die einde was hy baie kort gewees. Maar ‘n man van groot statuur in die gemeenskap. Oom Barrie was baie lief vir die Here gewees. En hy het vir lank gesit en skrywe in die aande. Sommer baie van daardie eksamenblokke vol geskryf met sy vulpen.
Elke keer as ek hom gaan besoek het, het die besoek nog meer vir my beteken as vir hom Hy was een van daardie mense wat altyd vriendelik was, en nooit gekla het nie, selfs as die gesondheid baie pla. Oom Barrie kon ook later nie meer hoor nie. Maar sy oë het altyd geblink as mense met hom praat, hy was baie lief vir mense. Oom Barrie is so twee jaar gelede oorlede, toe hy al goed in die negentigs gevorder het.
Sy weduwee, tannie Rachie, is net so ‘n kosbare mens. Sy is vol liefde teenoor almal, en sy is altyd vrolik. So sê sy ek moet bietjie vir haar kom kuier, sy wil graag vir my iets wys. Vanoggend na die Bybelstudie maak ek toe ook so.
Hulle seun Gerhard, ‘n leraar van die Kaap, het al die geskrewe eksamenblokke geneem, en dit baie professioneel laat bind. Die geskryf was toe al die tyd die hele Bybel, wat oom Barrie woord vir woord oorgeskryf het met sy vulpen. Alles so netjies, soos oud-onderwysers soms maar maak… Ek het toestemming gevra, en oom Barrie se Bybel met my selfoon afgeneem. Gerhard leen vir sy ma die Nuwe Testament, die ou Testament is glo in nog drie sulke volumes gebind.
So lyk oom Barrie se Bybel:
Die woorde van Matteus 1:1, en so gaan die hele nuwe Testament handgeskrewe voort tot aan die einde van Openbaring 21. En daarna die wonderlike kort gebed:
” Dankie Here vir die genade aan my om die skryfwerk en studie te kon voltooi” en geteken L. G. Barnard
Dit is ‘n kosbare nalatenskap vir sy familie, en ek is so bly Gerhard het hierdie potensiaal raakgesien in die hope ou eksamenblokke. Dit was vir my aangrypend mooi, en dit is vir tannie Rachie net so kosbaar om dit met my te kon deel.
Oom Barrie se getuienis was soos Psalm 119:103 sê: “Hoe aangenaam is u woord, soeter as heuning in die mond.”