Asblik toe…

In my gemeente is ek altyd beskikbaar vir mense in nood. Maar op ‘n Vrydagaand moet jy regtig ‘n baie, baie groot krisis hê om my in die hande te kry. Want Vrydag is my afdag. Dan nooi ek van my goeie vriende om saam met my om my vuur te kom sit. Ons gesinne braai saam ‘n vleisie, en ons drink dalk saam ‘n glasie goeie rooiwyn- soos Slanghoek se Camerca.

In die week het ek ook sulke oomblikke nodig, waar ek net uit my alledaagse lewe uit ontsnap vir ‘n paar minute.  Ek werk baie dae van agtuur die oggend tot na nege saans.   Daarom is dit vir my noodsaaklik om in my week sulke oomblikke te hê waar ek in my verbeelding langs my kampvuurtjie sit, en wegkom van die seer van die wêreld rondom my.

In daardie konteks is Bileam se Donkie gebore. My virtuele kampvuurtjie, waar ek my stories kan vertel met mense wat graag saam met my kuier. En daar is so baie goeie vriende wat gereeld saam met my om die vuur kom sit. Nie almal van hulle is Christene nie. Nie almal deel presies die waarhede wat ek in my lewe onderskryf nie. En tog gesels ons lekker hier, vanuit verskillende hoeke, oor dinge wat vir ons saak maak. Soms verskil ons oor waarhede.  Maar almal is welkom, wat in vrede om my vuurtjie wil sit.

As iemand op ‘n Vrydag homself op my kom afforseer, langs my vuur kom sit, en my die hele tyd beledig, gaan ek vir hom die hek wys. Dit is doodgewoon nie goeie maniere om langs ‘n ander man se vuur te gaan sit, en hom die hele tyd te beledig nie.

Hierdie is my persoonlike blog. Dis niks meer as dit nie- ek verteenwoordig nie die ganse NG Kerk hier nie. Ek gaan nie hier swaarde kruis oor of Ben du Toit nou die Here ken of nie. Dis nie my blog se funksie nie. Ek ken Ben glad nie, ek weet net hy het iets te sê oor die duiwel. Maar ek vermoed hy sê baie mooier dinge oor die Here Jesus.

Langs my vuurtjie kan ek besluit: ek sien raak sekere mense sê Annari du Plessis kan nie ‘n Christen wees nie. Sy is ‘n jong kollega van my wat ek nog nooit ontmoet het nie. Langs my vuur sê ek vir my vriende: die manier waarop daar oor haar gepraat word, is glad nie vir my aanvaarbaar nie. En die volgende oomblik word ek betrek by ‘n helse teologiese aanval, waarin ek ook sommer ‘n dwaalleraar genoem word deur mense wat my nie ken nie.  Hulle is nou van my vuur belet.  Hulle kan elders gaan baklei oor wie ek nou eintlik sou wees of nie sou wees nie.

Ek word aangeval oor Eelt op my blog iets gesê het. En ek hom geantwoord het. Eelt het my nog altyd baie vriendelik behandel. Maar die aanvallers het na sy blog gaan kyk- hulle het niks daar te sê gehad nie! Maar hulle kom maak broek los op my stoep oor wat ek nou oor Eelt moes gedoen het.

Almal is welkom om my vuur, behalwe as hulle hulle soos aashole begin gedra teenoor ander vriende wat by my kom kuier het. As jy ‘n probleem met eelt het, gaan praat met hom daaroor, nie met my nie! As jy wonder oor Ben du Toit of Nelus Niemandt se geloofslewe, wees ‘n man, gaan kuier by hulle en vra hulle self. Ek is nie Ben du Toit of Nelus Niemandt nie, ek staan op geen manier vir hulle pa nie. En daardie bog oor Ben du Toit se dogter wat vir die Antwoord sou sing… hoekom word ek daaroor aangeval? Weet julle hoekom is so baie predikantskinders ateïste? Oor die heilige Fariseërs wat so liefdeloos in die kerk optree.

Wanneer hierdie Fariseërs op ‘n mens spring, is daar geen verskil tussen hulle en die ateïste in die manier van karaktermoord pleeg nie!

Ek is nie meer lus vir baklei nie. Ek gaan net name op daardie swartlys byvoeg soos mense hulle nie hier gedra nie.

Hierdie is my persoonlike blog. Dankie vir al my vriende wat waarde toevoeg tot my lewe.  En die res? Gaan speel elders met iemand wat belang stel…