Hiep Hiep Hoera, die Bikerskerk is nou hier…

‘n Klompie van my goeie vriende is baie  opgewonde.  Dit gons al die hele week op facebook daaroor: Uiteindelik word daar vir ons dorp ‘n Bikerskerk geplant.  Sondagoggend tienuur by die vakansie-oord. Daar kom sommer ‘n pastoor, seker van die stad af. En ‘n “band” kom ook vir die “launch”… Nou gaan ons kerk wees- dit staan mos elke maand in die Bike SA tydskrif: “Jesus died for Bikers too…”

foto: http://www.signsfunny.com/tag/biker-humor/  Onseker of die broer op pad Bikers Church toe is…

Ek is ook sommer uitgenooi op facebook- ek moes net reply of ek kom of nie. Ag, ek wou so graag, broers! Dink net aan al die moontlikhede- ek hoef nooit weer huisbesoek te gaan doen nie! Ek chat sommer met die gemeente op die “breakfast run” net voordat ons ons “bikes” gaan “bless”. “Boetas”- dit gaan sommer “kief” wees, net ons en ons “boneys” vir Jesus! Niks meer bekommernis oor oumense wat versorg wil word nie. Niks meer bekommernis oor die kinderhuis wat so baie geld nodig het om aan die gang te bly nie. Niks meer van daardie nonsens van kos vir die “bikeloses” nie… Nee, dis net ek en my bike en Jesus…Fantasties!

Maar… daar is ‘n ou probleempie. My vrou is nie regtig in murg en been ‘n “Biker” nie. Sy sou baie meer tuis wees vir die kerk van mense wat van boeke lees hou. Ek sou ook met daardie crowd kon meng. “Jesus died for readers too…:” So nou moet ek Sondag biker kerk toe gaan, sy moet boekekringkerk toe gaan. Maar dis ook nie so eenvoudig nie. Ek het ‘n dubbelkajuit bakkie… En die bakkieryers in ons gemeenskap is ook nice ouens… “Jesus died for Hilux owners too…” Ek sou graag soms by hulle kerk wou wees.  Maar dan is ek eintlik verskriklik baie lief vir my wit Corolla. Ek het twee, Varsity Vixen ry die ou een…  ‘n Kerk vir Corolla eienaars sou ook baie nice wees… “Jesus died for Jap car owners too…” Dalk elke derde Sondag eerder by hulle kerk inval.

Maar daar is nog  ‘n probleem. Ek ken ‘n paar ouens wat vlieg. Hulle hou daarvan om met ligte vliegtuie rond te speel. EK ken een ou met ‘n microlight. Baie nice ou.  Ek het al ‘n helikopter pilot ontmoet. Hoe? Hy het my sommer self gesê. Ek het darem ‘n paar Raybans soos syne. Ek glo “Jesus died for pilots too…”  Maar ek het nie geld om te vlieg nie.  Maar ek sou darem baie daarvan hou om soms saam met die pilote te aanbid… Nou kan ek nie. Dis ‘n eksklusiewe kerk daardie… Ek voel nie welkom daar nie…

En dit, liewe vriende, is my punt. ‘n Bikers kerk maak nie vir my sin nie. Jesus het een kerk, een liggaam met baie lede. Ek sou baie, baie meer daarvan gehou het as my goeie vriende in hulle leathers kerk toe gekom het, en na kerk hulle eie ding gaan doen het. Hulle kon selfs ‘n bike verwante omgeegroep in die gemeente gestig het. Ek sou graag deel daarvan wou wees. Maar ek het Sondae behoefte om saam met my biker vriende, en my leeskring vriende, en my bakkievriende, en my Corollacvriende, en my vlieëniervriende, almal saam as een liggaam ons Here Jesus te aanbid. En by mekaar te leer. En saam te vier dat ons so verskillend mag wees en dink, en nog steeds aan mekaar behoort.

Want, liewe biker vriende- baie van my vriende het nie bikes nie. ‘n Biker kerk is eksklusief.

En ‘n ware kerk bestaan juis nie net vir homself nie, maar ter wille van die ander. Die oumense wat versorg moet word. Die kinders wat bygestaan moet word om veilig groot te word. Die versorging van die armes, die weduwees en die wese…  Al daardie minder lekker dinge wat die Biker kerk se mense nie wil by uitkom nie- “We burn rubber, not souls…”

Daar is al klaar te veel kerke in die wêreld. Daar moes net een gewees het. Almal in verhouding met mekaar.Met verskillende kerkplantings as ons byeenkoms te groot raak vir die lokaal waar ons Sondag bymekaar kom om die Here te dien.

So askies dat ek nie so opgewonde soos julle oor die stigting van die Bikers kerk  is nie. Ek kan  net nie aan ‘n Biker kerk behoort, ten koste van al die ander verhoudings waarin ek staan met nie-bikers nie. Ek het ook ander mense as Bikers in my lewe nodig om gebalanseerd te wees.

12 thoughts on “Hiep Hiep Hoera, die Bikerskerk is nou hier…

  1. Ek stem tot ‘n mate saam met jou, maar vermoed dat die bikers’ kerk juis ontstaan het omdat hulle geoordeel word op hulle uiterlike in die ander kerke en nie tuis voel daar nie. In Kaapstad gaan ons dikwels saam met vriende bikers kerk toe en hulle is nie bikers nie. Enige iemand is welkom daar. Enige iemand voel nie noodwendig so welkom in die tradisionele kerke nie. Die ene in Kaapstad is baie betrokke in die gemeenskap, so daar veralgemeen jy bietjie kras..

    • Nee Vega, eintlik net ‘n klip in die bos! ‘N baie goeie vriend het die bikers kerk help stig hier, en hy bly in die gemeente. Hy verstaan die saak soos ek. Hoe weet ek? Want ek sit nou hier by hom en pizza eet…

        • Nee Vega, hierdie Bikers Church is nie bedoel om ‘n nuwe kerk te wees met al die bikers wat afstig nie. Hulle gaan steeds na hulle eie kerke toe ook, en na kerk vind daar allerhande biker verwante pret plaas. Daarmee het ek geen probleem nie, sal self dikwels daar betrokke wil wees, Maar daar is eksklusiewe Bikers Churches, waar die ouens nie regtig ‘n verskil wil maak in die res van die kerklike wêreld nie- en daarmee het ek ‘n probleem. Bikers as deel van die groter kerk is fine, bikers eksklusief is nie lekker nie…

  2. My aanstaande skoonseun ry ‘n harley en ek het klaar gesien hoe vra ek hom om my Sondae bikers kerk toe te neem…. nou sê die dominee “a nee a.” 😆

Lewer kommentaar