Die Sport rusbank-aartappel

Dit is darem net so ‘n opwindende  tyd om lief vir sport te wees.

Die Tour de France begin vandag!  Die kommentators sê deur die bank dis Bradley Wiggens se beurt, maar dalk ook Cadel Evans se jaar vir die geel trui. Hier kom weer ‘n klomp laat aande om al die hooftepunte te volg! Ek kyk nou na die hoogtepunte en laagtepunte van verlede jaar se Tour. Hulle wys ook daardie valle, en my keel trek sommer toe- been there, done that, weet hoe voel die roasties!

Dis heerlike Wimbledon, en ek is so dankbaar dis in die vakansietyd. Maar hier in ons huis bring Wimbledon ook sy kwota hartseer. My naamgenoot, wat nou nie eintik in rugby uitblink nie, (nes sy pa) het tennis ontdek. Elke dag kommandeer hy sy broers op, en verdwyn hulle na die Hoërskool se tennisbaan toe. Dit was vir hom uiters, uiters traumaties toe Rafael Nadal uitgeskakel is in die tweede rondte. So van Nadal gepraat, ek moet bieg dat dit die een ou is wat vir my die mooiste in sy loopbaan ontwikkel het.  Toe hy nog 17 was, was hy darem uiters windgat.  Maar die man het wonderlik karakter ontwikkel. Hy was uiters professioneel in sy nederlaag, en het nog tyd gemaak om handtekeninge uit te deel langs die baan toe hy afstap. Maar wat ‘n vertoning deur nommer 100- Rosol!! Dis hoekom sport kyk so opwindend is- om so iemand te sien, wat geen kans gegun is nie, wat diep grawe en sy beste uithaal, en vir die wêreld wys hy kan.Maar Nadal gaan terugkom, lees gerus hierdie mooi artikel daaroor!

Gisteraand se wedstryd  waarin Federer gewen het teen Bennetau, was net so aangrypende episode. Federer het van 2-0 agterstand teruggekom om die volgende drie stelle te wen, met naelbytende “tiebreakers” tussenin.  Wat ‘n wedstryd!  Wat ‘n kampioen!

So val groot helde, ou helde keer terug, nuwe helde word gebore.

Die Springbokke se rugby teen Engeland! Die Junior Bokkie se oorwinning oor New Zealand!  Die Monaco en Valencia Grand Prix! Soveel opwinding, dat ek soos ‘n aartappelmoer begin knoppe groei hier op die rusbank…  Dis seker hoekom ek nie genoeg tyd gemaak het om die Dordtse Leerreëls  mooi met julle te deel nie.

En daar is nog soveel meer op pad. Ek hou asem op vir die Proteas teen Engeland…

Ek kan ook nie meer wag vir die Olimpiese Spele nie! Om weer vir Helena Isinbayeva te sien paalspring!  Die vroue strandvolleyball- die mees aanskoulike Olimpiese gebeurtenis! My vrou gaan nou weer al die atletiekbyeenkomste voorkeur gee, en die “remote control” vir my wegsteek! Ek sien gister ook so insetsel van uitsonderlike oomblikke in die Olimpiese geskiedenis. Sportmanne en vroue wat beseer is tydens hulle item, en moedig aanhou tot by die wenstreep om klaar te maak, al speel tyd en posisie geen rol meer nie.  Atlete wat hammies geskeur het, en aanhou hobbel tot hulle heel laaste oor die wenstreep gaan. Die duiker wat sy kop oopgestamp het teen die duikplank, verwoed bloei, en gaan om steke te kry. Hy kom dan terug en wen goud!  Of daardie Eric the Eel ou van ‘n  Afrikaland wat skaars kon swem, maar sy item klaargemaak het!

Daar is iets onbeskryflik mooi aan goeie, gesonde sportmangees. Om jare te fokus om die goue medalje te probeer verower. Om jouself te dissiplineer deur reg te eet, in wind en weer aan te hou oefen, om daardie ekstra sessie te gaan insit terwyl jou teenstanders nog slaap. Om op te offer vir jou droom, en jou alles te gee om daar uit te kom- dit is sulke wonderlike metafore vir die lewe self!  Paulus het mos baie van sport gehou en gereeld oor hierdie onderwerp van sport belangrike lewensbeginsels deurgegee. “Ek maak my los van wat agter is, ek strek my uit na wat voor is, ek span my in om die wenstreep te bereik… “

Dis ook wat ek verlede jaar op die Camino beleef het. Om jou droom te bereik, moet jy soms losmaak vir wat jou terughou in die lewe. Uitgediende opinies. Negatiewe gedagtes en gewoontes. Soms selfs toksiese verhoudings met vriende en ander- wat jou droom steel. Wat jou verhinder om die potensiaal uit te leef waarvoor jy gebore is.

Om jou droom uit te leef, is dit nodig om darem te begin deur ‘n droom te hê. So baie mense bestaan maar net, maar leef nie voluit vir iets nie. Ek vind dat dit ook in my lewe op die o0mblik ‘n gevaar kan wees- ‘n mens kan so besig wees om te probeer oorleef, dat ek nie altyd LEWE nie. Dit raak weer tyd om te gaan stil word, en weer my lewensdroom mooi te gaan definieer.

Om daardie droom te leef, beteken om daarop te fokus, daaroor op te lees, prentjies te teken daarvan, positiewe inligting in te win daaroor. Om jou gedagtes te voed met gesonde inligting, dalk is my een vriend in die gemeente tog maar reg met sy : “What you believe, you can achieve…”  As ‘n mens nie droom nie, dan mik jy vir niks. En dan bereik jy ook nie veel nie. Die sportmetafore werk so lekker vir groot lewenswaarhede.

My droom was nog altyd om in alles wat ek doen, dit voluit vir die Here te doen. Om in my roeping die beste toegerus te wees wat ek kan wees, en soveel as moontlik van myself te gee in diens van die Here in my gemeente. Om ‘n goeie man vir my vrou, en pa vir my kinders te wees, in die sin dat elkeen van hulle ook hulle potensiaal in die lewe voluit kan uitleef. Dat ek ‘n hulp in plaas van ‘n hindernis sal wees.  My droom in my sport is nog steeds ‘n sub 4 Argus, maar ek kry nooit dit reg om vir beter as sub 5 te oefen nie. Dalk moet ek ernstiger raak oor hierdie een. Ek probeer ‘n lojale vriend wees . Ek probeer, waar dit moontlik is, om ‘n positewe verskil in mense se lewens te maak.

Maar in dit alles voel dit vir my: Erens mis ek nog iets. Dit voel nooit meer of ek op die podium staan, en die beste gedoen het wat ek kon nie. Ek wen nie goue medaljes in die lewe nie, maar ek maak die wedrenne klaar… Is dit genoeg?

Die pennie drop erens dat dit ‘n klassieke midlife crisis se simptome is. Ek is meer as halfpad deur die lewenswedloop: doen ek regtig waarvoor ek gemaak is, goed genoeg? Wat kan ek beter doen? Wat kan ek anders doen?

Dit lyk my sport laat my te veel dink…  ‘n Goeie begin sou wees om weer aan die oefen te kom, ek het my fiets se voorwiel op die Argus afgehaal, en nog nooit weer teruggesit nie…

5 thoughts on “Die Sport rusbank-aartappel

  1. Wow Ewaldt dit was nou so lekker om hierdie blog van jou te lees. Dis asof dit ek is wat dit geskryf het. Ek wil graag met jou deel. So baie dinge het in my lewe verander nadat ek terug gekom het van die Camino. Ek wonder party dae of ek nie eerder moes gebly het nie,maar dan skuif ek dit onmiddelik uit my gedagtes,want dit was die beste tyd van my lewe. Dit het my bewus gemaak van die lewe! My ingestel op die klein dingetjies in die lewe. My geleer om met alle mense oor die weg te kom,nie oordeel voor jy nie die persoon ken nie! In die oomblik te leef en nie my te bekommer oor net nou of môre nie. En bo dit alles om my drome uit te leef. Ek het nooit gedink ek het die guts om alleen,vir die eerste keer in my lewe,die vreemde aan te pak nie. Wow,en daar doen ek dit!! Ek het altyd toegelaat dat ander vir my dink en doen en hier doen ek dit self! Dit was awesome en nou weet ek,ek is tot enige iets in staat, solank jy werk daarvoor! Dis ‘n saadjie wat jy nurse met positiewe inligting en deur dit oor te vertel. Dit gaan met alles so in die lewe. Ek het ook geleer om nie te hard en krities teenoor myself te wEes nie. Ek vertrou nie meer op mense nie,maar op God alleen. Hy is die een wat my dra deur elke storm wat oor my pad kom. Ek hoef my nie meer te bewys aan ..MENSE nie! Dis gewoonlik hulle wat die eerste klip gooi wat eintlik die klip nodig het! Ek is lief vir mense en vertrou maklik en dit stel my so dikwels teleur! Maar dis hoe die lewe gaan. Ek is verskriklik sensitief waar dit oor my gesin gaan. My familie is vir my alles. Ek wil ook hÊ dat hulle dieselfde as ek daaroor moet voel,maar daar is leemtes! Dis asof ek op ‘n ander golflengte verkeer en ek hulle nou moet bytrek! Jy sal miskien verstaan hoe ek voel. Hier stop ek eers…..ek werk nog aan hierdie ene! Dis nie elke dag maklik nie,maar ek het vertroue dat alles sal regkom! Sterkte met jou bediening en ja…..keep on dreaming bru and live life to the fullest! Dankie vir die gamakike manier waarop jy jou gedagtes met ons deel! Love it!

    • Dankie Erna, ja, medepelgrims verstaan net soveel beter wat ons in Spanje ervaar het, en hoe dit ons lewens geraak het. Emilene stap vandag waar ek begin het, en ek self wens so ek kon gou weer gaan, want ek hou alweer nie van al my medegelowiges op die oomblik nie- seker weer ‘n paar dae in die son en wind en reën nodig om opnuut weer verwonderd oor elke dag se klein dingetjies te staan, en nie toe te laat dat ander my lewe se draaiboek skryf nie.

      Dankie vir jou kommentaar, dis so lekker opbouend!

  2. Pingback: Dis Arc de Triomphe tyd op die Tour de France! « Bileam se Donkie

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s