Hoekom is die wêreld so deurmekaar vandag?

Vanoggend het baie goed begin. Op Faceboek sien ek ‘n nuwe baba wat vanoggend gebore is in ons gemeente- ‘n pragtige klein dogtertjie.  Sy word met soveel liefde in hierdie wêreld ingebring.

Oor middagete sit ek vinnig en kyk die nuus op die BBC webwerf. En dadelik, heel eerste, vang my oog die verhaal van Spanje, die Kerk en Babas. Nou al drie is dinge wat my baie na aan die hart lê.  Maar ek is stil geskok oor wat ek gelees het.  Die BBC berig dat daar in die Franco era in Spanje se geskiedenis tot 300 000 babas gesteel is in die kraamsaal, en as dood vir die ouers aangemeld is.  Baba’s is weggeneem by “undesirable parents” en geplaas by “approved families”.   En die hartseerste van alles is dat kerkmense daaraan deelgeneem het! Mense wat gekies het om selibaat te lewe, en nooit self kinders in die wêreld gebring het nie, pleeg een van die mees grusame misdade teen jong ouerpare… ek is diep geskok daaroor. Waar mense sê hulle is Christene en kerkmense, en nie uitleef wat hulle sê hulle glo nie, is die gevolge altyd baie, baie erger as wat die ergste ateïstiese bewegings kon uitdink.  Dit maak die kerk se getuienis van God se liefde in hierdie wêreld ‘n onhoorbare geraas.

In die BBC word ook vertel dat vier lede van UB40 nou bankrot is. Van ‘n band wat oor 33 jaar 70 miljoen plate verkoop het, se fortuine het daar niks oorgebly nadat die klomp onder mekaar stry begin kry het oor juis geldsake nie. Wanneer het ‘n mens genoeg? Wanneer begin jou wens om alles te besit, jou in die gat byt?

In New Mexico in Amerika is daar ‘n nuwe Spaceport deur Richard Branson ingewy. Virgin beplan om in 2013 ‘n lisensie te kry om van hier af mense op 2 1/2 uur ruimtevlugte te neem, wat 5 minute se gewigloosheid sal insluit. Die koste aan so ‘n trippie is $200 000.  By die opening was daar alreeds 150 mense wat hulle kaartjies gekoop het!

EK lees hierdie nou terwyl ek my sommetjies probeer maak om my matriekmerrie volgende jaar te laat studeer. Een so ruimtetrippie kon waarskynlik al 4 die Donkievullens klaar laat studeer het?  Ek gaan onmiddelik begin beplan aan die Bileam se Ruimtestasie, waar ons vanaf Pietersburg se lughawe mense ook in die ruimte kan laat invlieg vir $100 000 ‘n kaartjie. Ons sal giggelsappies bedien met die opstyg, en iemand sal daggawalms inblaas by die vliegtuig se aircon. Dan gaan mense die sensasie kry van 20 minute se gewigloosheid, hulle sal waarskynlik net hulle eie pienk olifantjies moet voorsien.

Ekskuus Herriemerrie, ek wou nou nie die daaglikse nuus by jou oorneem nie, net ook ietsie sê oor ‘n baie deurmekaar dag. Ja, ‘n pragtige klein dogtertjie is gebore vanoggend. En ek kuier vanoggend by ‘n tannie wat pas gehoor het sy het asbeskanker, en sal waarskynlik ‘n baie moeilike laaste jaar op aarde hê.  Ek dink oor lewe en dood, oor rykdom en armoede, oor geleenthede en verspeelde kanse…

Ja, so soek ons elkeen seker maar net ‘n plekkie in die son, iemand om lief te hê, en ander mense om ons kiddies uit te los!

14 thoughts on “Hoekom is die wêreld so deurmekaar vandag?

  1. Jy klink bietjie af vandag🙂 Soms is die lewe maar ‘n moelike ding. Ek het een dag vir my liewe niggie gevra hoekom kry ons al die strooi in die lewe om uit te sorteer, toe antwoord sy my dat die Here weet vir wie hy met watter probleme kan vertrou. Soms wens ek die Here het my baie minder vertrou *SUG*

    • Dis so waar, maar dan is daar gelukkig sulke mooi oomblikke ook. Soos ek so graag daardie nuwe dogtertjie persoonlik wil ontmoet, wat so pragtig lyk op haar eerste dag in die wêreld… ek hou maar aan sulke dinge vas…

  2. Die wêreld is deurmekaar want ONS (mense) het dit so gemaak. Ek dink saam met jou, maar al wat ek regkry is om myself ‘n kopseer te gee

      • Daai roete maak my baie bang. Dit is soos om ‘n groot lorrie aspris teen ‘n afdraand te laat afhol sonder ratte en hoop daar is genoeg brieke om die ding te stop.

        Pyn genees pyn, daarom gaan ek netnou as die werksdag verby is die pik en graaf opneem en handgemeen raak met ‘n sloot wat gegrawe moet raak. Wanneer die ergste frustrasie dan afgebrand is, en net liefde en positiewe gedagtes oor is, sal ek my wend tot die spesiale projekkie waarmee ek tans besig is.

  3. Daar is nog mooi, dis net jammer dat dit die meeste van die tyd nie as nuuswaardig geag word vir die nuus en koerante nie. Daarom moet ons maar ons oë en ore oophou, en dit self raaksien en hoor.
    Dit is ‘n hartseer waarheid dat daar deur die eeu afskuwelike dade in die naam van die kerk gepleeg was, en ek sê kerk, want dit kon definitief nie in die naam van God gewees het nie. Lyk my die Spanjaarde veral….dink maar aan die Inquisition.

    • Dis so waar! Dis hoekom ek nie meer die Beeld by my huis laat aflewer nie. Ek is so moeg vir al die slegte nuus. En dit terwyl daar sulke wonderlike nuus ook is- daardie dogtertjie wat gister gebore is, en pragtig en gesond is. Jong mense wat nuwe liefde in hulle lewe ontdek. Paartjies wat ek mag trou. Mense wat iets van hulleself opoffer vir ander, soos een sussie in ons gemeente wat haar een nier vir haar jongste sussie geskenk het, dat sy ook kan lewe… Daar is soveel mooi dinge, wat ons net nooit meer in die openbare media hoor nie- genoeg om ‘n mens goed Demoerin te maak!

  4. Daardie BBC berig is natuurlik nou weer een van daardie berigte wat my dadelik interesseer.

    Partykeer as ‘n mens sien hoe mense teel vir ‘n plek en ‘n wen, terwyl hulle kinders klaar verhonger, mishandel of gemolesteer word, het die gedagte wragtig al by my ook opgekom.

    Aan die ander kant, moet iemand seker eers ‘n kans gegee word om te sien wat hulle kan doen. Ek lees dat die babas verkoop was, dus was geld waarskynlik die enigste motief. Wat basies niks met selibaat het te doen nie, maar met gierigheid. 😉 Ten spyte van ‘n onderneming om in armoede te lewe.

    • Xena, hoekom ek die selibaat ding noem- dis mense wat nie self kinders het nie. Hulle ken nie daardie intense liefde van ‘n ma vir haar baba nie. En daarom sal hulle ook seker nooit begryp hoeveel seer en onreg hulle werklik aan mense gedoen het vir geld nie.

      Ek is lief vir die kerk. Ek dink net sulke skandale soos hierdie, en die molesteringsklagtes wat so instroom teen priesters, is nie goed vir die kerk nie. Dit maak dat die aggressiewe ateïste net soveel meer skietgoed het, en hierdie keer is hulle dan nie verkeerd nie.

      Wat ook al die motief- daardie nonne en priesters het die wonderlike evangelieboodskap ‘n enorme stuk skade aangedoen in Europa.
      Ek hoop hulle word krimineel vervolg en toegesluit, en ek hoop julle pous spreek hom baie sterk daarteen uit!

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s