Sonde met die wiele…

Die een ding wat ek al lankal sien aankom het, het nou gebeur. Met ons dogter se studies het ons maar ma se Corolla so op semi- permanente basis vir haar geleen.

Pastoriemoeder ry nou die bakkie, want sy ry min, en diesel is duur. Maar ek kan nie oral op die motorfiets uitkom nie, veral nie in hierdie reënmaand nie.

So- ek moes nou maar vir myself ‘n ander voertuig koop om mee te werk. Vir maande lank doen ek al huiswerk. Tweedehandse waarde, brandstofverbruik, betroubaarheid, sexygeit. Ek is maar in my hart ‘n Toyotaman. Nog nooit met een van hulle langs die pad gaan staan nie. Alles loop reg, altyd reg…

Maar watter model? Land Cruiser, (daardie) nuwe Hummerige wa, die FJ Cruiser, Fortuner- alles hartsbegeertes, maar te duur. Hilux dubbelkajuit- die ideaal, steeds te ver bo my vuurmaakplek. Aygo kan ek nuut bekostig. Maar dis nie ‘n kar nie, dis ‘n duikpak! Yaris, sexy, maar ook klein!

Ek besluit om ‘n kar te koop wat ek van hou. Terwyl ek nou in elk geval in my motoriese vaardighede in is, doen dit reg.

Ek kyk op Automark se webwerf vir my 3e Corolla. En ek kry een, wat ek dadelik baie van hou. ‘N 1.4 Advanced, met net 28000 km op. Maar hy staan in Tzaneen, 250 km weg! Ek bel, en hoor hoe werk so afstandkopery… (Sallie werie!) Die kar is Mooi! Ek teken die kontrak, en hy word verlede Woensdag by my afgelewer. Maar dadelik sien ek- HKGK! Die flikkerligte werk nie. Die sentrale sluit werk nie. Die elektriese spieëls werk nie. Die CD speler werk nie… Ek kontak die handelaar- hulle sê ek moet hom plaaslik laat regmaak en vir hulle die rekening stuur.

Die plaaslike auto elektrisiën maak oop, inderdaad GK! Die hele elektriese stelsel is deur rotte opgevreet! Die kar word gehaal, diie verkoopsman los vir my sy Yaris T1 as “courtesy vehicle”. My hart is seer, ek het daardie swaar gevoel op die maag as iets verkeerd loop…

Die middag skakel ek ‘n paar kundige vriende. Mense soos Son wat weet van. Hulle almal sê- raak ontslae. My vriend die vliegtuig mekaniek dominee sê elektriese skade hou aan en aan en aan.

So begin ek maar weer op Automark rondkyk. En sien dieselfde handelaar het ‘n 1.6 Professional vir dieselfde prys. Ek skakel hom. Aangesien ek nog in die 7 dae tydperk is, kan ek hom mos omruil? Die handelaar sê dis reg.

Vanoggend na die 7-8 biduur val ek in die pad, Tzaneen toe. Die Yaris het nie êrkon nie, maar ry verder baie lekker! Kom in pieterskwane, en nou moet ek verby Moria ry, Haenertsburg toe. Maar daar is WOESTE padverleggings! En as ons uiteindelik mag ry, beland ek elke keer agter giggelgeel 2e Wêreldoorlog model ou Fatap lorries wat nie meer as 20 km per uur kan ry nie.

Die 250 km het my amper 4 ure geneem. Maar die 1.6 is aanvaarbaar, en het toe net 74000 km op (in plaas van) die 94000 op die advertensie. Volle diensrekord, waarborg nog in plek. Dit lyk tog na goeie nuus.

Maar- die ding het lelike mags op. Maar sê die DP, ek kan maar die wiele omruil met die een wat ek amper gehad het. Baie mooier Toyota Mags…

Die kar het vanoggend sy 75000 diens gekry. Nou moet hy deur die toets. En ek sit en wag. En wag. En wag… En vanaand lê daardie pad weer voor- sou dit so groot draai wees om Maputo, Nelspruit, Pretoria, Thabazimbi om te ry (in plaas van) die stuk oor Haenertsburg?

Hierdie mense moet gou maak, ek het more oggend ‘n aksie saammet my gemeente se bejaardes om 10h00, en hier sit ek nog steeds…

7 thoughts on “Sonde met die wiele…

  1. My pa het hierdie speletjie nie verniet tranesport genoem nie. Wat ‘n teleurstelling!

    Mag die vervangingsmodel dan maar vir jou al daai kommervrye kilometers besorg. (en mag hy opgroei om ‘n landcruiser te wees!)

  2. Ek moet net sê- NTT Toyota op Tzaneen het my toe darem baie billik behandel na die katastrofe van die eerste kar. Die ander ene ry baie lekker, hy is nie so luuks soos die Advanced model nie, maar het alles wat ek nodig het. En die 1.6 enjin ry lekker! Die aanboord rekenaar sê my gemiddelde brandstofverbruik gisteraand was 6.9 l / 100 km, nie sleg vir plek plek 140 ry nie…

Lewer kommentaar op demoerin Kanselleer antwoord