Die voertuig uit die hel uit om hemelse werk te doen…

Die opdrag van die Admin kommissie was eenvoudig: ons soek ‘n goedkoop bakkie.  Daar moet kos aangery word vir ons hulpverlenings aksie. Sondag moet sendelinge rondgery word op die plase. En soms wil ons tafels vervoer vir die gemeente se funksies, daar waar ons heerlik vreetsaam is.

Dadelik het ek in my geestesoog gesien hoe ons nou ‘n pragtige tweedehandse Hilux bakkie gaan koop. ‘n 3 liter Diesel, wat sal hou tot by die Oordeelsdag, en wat tonne en tonne kos gaan aanry vir honger mense, en ‘n miljoen kilometer gaan doen om vir mense Goeie Nuus te vertel. Maar nee, ek het alweer verkeerd verstaan.

Die begroting is toe nie in Hilux klas nie. Ook nie Amarok, of Isuzu nie. Nee, selfs nie eers Mahindra of Tata nie.

En so word ek toe die gelukkige wenner om ons gemeente se nuwe voertuig in Pretoria te gaan haal, terwyl ek en Kollega mos nou juis daar is om kreatief oud te word…

Die wenner van die Soek ‘n Bakkie kompetisie is… (drumroll…)

‘n 2007 Chana bakkie!

Nogal by die agente in Voortrekkersweg gekoop!

Kyk, ‘n Chana bakkie is veronderstel om baie goed te wees. Toe die goed op die mark gekom het, was daar ‘n konvooi van Beijing af Kaapstad toe deur Afrika se bose sandpaaie heen. Nie een het uitgebrand langs die pad nie. Nie een is gehijack langs Soweto nie. Niemand het een gesteel, en die kajuit met ‘n grinder afgesny, ‘n jong boompie met gesteelde doringdraad vasgemaak en twee donkies ingespan nie.  Almal het hier uitgekom! (Na gisteraand het ek GROOT RESPEK vir die bestuurders op daardie ekspidisie!)

Maar in elk geval.

ONs spesifieke Chana bakkie het 77000 km op. Sy enjin het al een keer geseize by die vorige eienaar. Maar dis mos nie ‘n probleem nie, hy is oorgedoen, en ons kry ‘n 10 000 km meganiese waarborg.

Die Chana lyk amper groot met sy hoë kajuit. Tot jy in daardie kajuit inklim. Jy sit bo-op die stuurwiel. En as jy die sitplek wil terugskuif, kan jy nie regtig nie, die agterruit is reg agter jou kop. Die omies met die groter biermagies in die gemeente gaan verseker nie hierdie wa kan bestuur nie, al wil hulle en ons dit dalk hê.

Onse Chana het ‘n nuwe radio in, op aandrang van kollega. Maar die “aerial” is steeds afgebreek. In Voortrekkersweg vang hy Jacaranda mooi op. Tot by die steengroewe daar by Montana, dan maak hy net gssjhghsshhsshhsshhhshkksshhsskksggshssshhsshshshshshshshssh.

Die voertuig is ook gisteroggend deur die Toets. Maar sy linker voorste flikkerlig het intussen gedros. En die voorste skokbrekers (indien enige) is nie baie lekker nie.

Ek het vir Kollega opdrag gegee om vir my Geliefde mooi te vertel hoekom ek so vroeg deur die Jordaan is, indien dit nou my lot sou wees. Met ‘n vinnige gebed het ek die kajuit bestyg, en met ‘n swaar gemoed die deur vir die laaste keer (soos ek  gevrees het op daardie oomblik) agter my toegemaak.

Ons het net na skemer in die pad Noorde toe geval.  Nog voordat ons by die eerste tolhek gekom het, het ek agtergekom hoekom Chana nie te veel moeite doen met die radio nie.  Jy sit bo-op die 1300 enjintjie.  Tussen jou en daardie klein enjintjie, wat ek gevrees het enige oomblik soos Chernobyl gaan ontplof en al my vreugde vir die volgende 40 jaar van getroude lewe gaan ontneem, is ‘n baie dun sitplekkie.  Die Chinese wou nie graag hê die bestuurders van hulle voertuie moet terugsak in die sitplek, en die rit geniet nie. O nee, hulle moet regop sit, sodat hulle elke stampie in die pad op die 3e en 4e rugwerkwel kan beleef.  ‘n Rit moet so vinnig as moontlik klaargemaak word, produktiwiteit is immers uiters belangrik vir die Chinese, om die bose Amerika te onttroon as die wêreld se ekonomiese reus…  Die Chana as afleweringsvoertuig het baie met China se produktiwiteit te doen.

Nou: die enjin. Ons spesifieke enjin is pas oorgedoen. ‘n Mens kan dit ruik. Daar is verseker olie teenwoordig in die enjin hier kort duskant my suidpool.  En daardie enjin: ‘n mens kan liedere daaroor skryf wat tot in ewigheid om die kampvure gesing sal word. ‘n Mens gaan verskriklik vinnig deur die ratte. Reeds op 40 sit ‘n mens oor in die hoogste rat. En dan moet jy hom trap, soos jy mos die buurman se kat se stert vastrap as jy hom vang waar hy jou steak onder die tafel by die braaivleisvuur sit en eet as jy ‘n biertjie gaan haal het. Die klank is dieselfde. Die oomblik as jy in 5e rat kom, moet jy hom trap. Pappie, jy moet hom TRAP! Stadig, soos die ekonomiese groei van Suid-Afrika, klim daardie naaldjie op na 50 toe.  Dan, soos die omgekeerde van gewigsverlies na Kersfees, stadig, o so stadig na 60 toe. Uiteindelik bereik ‘n mens die fenominale spoed van 80. Jy moet daardie enjin hoor. Dit klink soos die geskreeu van drie duisend demone wat uit die vark by Gadara uitgedryf is. Dit is ‘n onaardse geluid, en dit resoneer deur die hele kajuit. ‘n Mens se oordromme sukkel om dit te hou! En op hierdie oomblik val die Chinese radio se gesiggie af, maarjy kom dit nie agter nie.  Nog 100 km huis toe!

By die tolhekke soek ‘n mens verwoed na die remme. Ok, mens kan seker nie F1 Ferrari remstelsels verwag nie, met Carbon remskoene en hitte dissipasie eienskappe nie. Maar dit sou help as daar darem IETS was om mee te rem! Ons sal seker nog die rekening van Sanral kry vir die “boom” daar by die Carousel.

Toe ek, dit voel asof die rit ‘n volle dagreis was, uiteindelik in onse tuisdorp inry, maak daardie Chana die vreemdste geluide. Die spoedmeter werk wel, maar hy hop so rond dat ‘n mens enige iets tussen 15 en 55 in die hoofstraat afgery het. En iets rumoer daar agter die spoedmeter, hy maak die vreemdste geluid, asof daar sewe rotte besig is om die spoedkabel en mekaar se sterte af te vreet.

Ek het met ‘n groot verligting uiteindelik by my huis aangekom met die Chana. Nadat die enjin uiteindelik opgedraai het, het daar ‘n hemelse stilte in die kajuit neergedaal. Ek het ‘n lang dankgebed gesê, dankbaar dat ek darem ‘n kans sal hê om eendag my kleinkinders te groet voor ek die laaste reis deur die Jordaan meemaak. Toe ek uitklim, het my bene gebewe. Ek het soos Pous Johannes Paulus II eers op my knieë gegaan en die grond gesoen, so dankbaar dat dit nie met my bloed deurdrenk is nie.

En nou is die bakkie in ons dorp, waar hy maar so 50 km per week gaan ry agter kos en sending aan. Hopelik kry ons so drie jaar se diens uit hom uit. Hopelik hoef ek nie te gereeld agter die stuurwiel in te klim nie.

Nadat ek genoemde voertuig 120 km bestuur het, wil ek net op aandag staan en die bestuurders van die Chana Beijing Ekspidisie salueer- julle ouens kan!  Ek sou dit nie maak tot by Beitbrug nie!

15 thoughts on “Die voertuig uit die hel uit om hemelse werk te doen…

  1. Ek het altyd gewonder wat presies Chinese torture nou eintlik is, jy het daardie wonder so pas geantwoord. My kneukels is spierwit geklou aan daai stuurwielletjie, en dit is net van die lees!

    Ek kry skoon benoud met hierdie karretjies wat ‘n mens moet aantrek eerder as daar in klim. As jy boonop die sitplekgordel aan vergeet as jy wil uitklim staan jy met die chana op jou rug, maar die voordeel is jy kan sommer die deur oopgooi en met jou skoensool op die voorwiel die ding briek as hy nie wil stop nie

  2. O genade, ek het nou geskater van die lag! En toe nog Plasie se kommentaar ook. My een sussie het so 4 maande terug vir haar ‘n nuwe Chana karretjie gekoop – so ‘n geletjie wat lyk soos Postman Pat se kar. Ek het gedink die dingetjie is nogal oulik, maar nou sal ek weer moet dink😆

    • Het jy dan nie ‘n goeie invloed op jou sussie nie, Son?? Jy praat dan altyd met soveel wysheid oor die wiele! My bevinding is: die beste 4e handse kar om te koop is ‘n nuwe Chana…

  3. Ek het nou heerlik saam met jou in daardie bakkie gery… wat ‘n ondervinding😆 Dankie vir die lewendige beskrywing.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s