Die korrekte aanwending van ‘n Kerktoring…

So ‘n paar jaar gelede was die hel mos nou behoorlik los in die Paarl, toe ‘n onbekende kollega se vrou die kerktoring verag het. Sy het dit ‘n “Falliese Simbool” genoem, kort so duskant die ander “falliese simbool” van die Taalmonument. Kerktorings, het die betrokke Mevrou Dominee gesê, is die duiwel, en moet afgebreek word.

My eie gemeente se kerktoring gaan ‘n mens nouliks ‘n “Falliese simbool” kan noem, al is hy hard en regop.  Maar ons self het nog nie altyd mooi verstaan hoekom die argitek hom so beplan het nie…

Hierdie is onse kerkgebou:

IMG_0555Kyk nou net hoe waardig en regop staan onse kerktoring…

Maar toe het ons begin dink. En gedink. En dieper gedink…  Die een ding wat groot deesdae is, is ‘n Zipline. Kyk, ‘n Foefieslaaid is mos nie veilig nie.  Maar ‘n Zipline is glo veiliger as ‘n Ford.  En so het kollega gedink, terwyl dit nou Saterdag basaar is, en terwyl die plaaslike Zipline mense ons nou gedrop het- (soos in verlede week!) ons gaan dit sommer self doen.

So is al die ingenieurs in die gemeente betrek. Twee kabels is in die stad gaan koop, die een kan 8 ton dra, en die 2e ene kan 3ton dra- die veiligheidskabels. En daar is Ordentlike harnasse gaan koop, dieselfde soort as die professionele Zipliners s’n. Duur goete dié.

En so word die Zipline opgerig op die kerkterrein.  Die 8 ton kabel is in plek vandag. Iemand moet hom toets, hulle kyk na my, maar ek…

So word die dapperes nader getrek:

_MG_0141

 

Sien jy doer bo by ons kerkklok? Dis al amper in die engele se wentelbaan daarso!

Toets 1-

IMG_0169

 

Toets 2-

IMG_0181Sien- gelyke geleenthede…

En dan, net omdat sy haar pa mooi gevra het, en ‘n baie dapper meisie is:

IMG_0192En daar het jy dit, Mevrou Dominee van die Paarl, daar is wel heilige aanwendings vir kerktorings ook…

More kom die veiligheidskabel op, en Saterdag wil ons die Basaar van alle basare probeer hou…  Daardie kabel sal selfs vir my daar bo kan hou- die rit is 90 meter lank…

 

 

 

Sea- Weekly Photo Challenge

Weekly Photo Challenge: Sea

by Sara Rosso on August 30, 2013
______________________________________________________________________
Image
Image
Image

Ek hol so rond agter kerkbasare aan op die oomblik dat die DOnkie heel ongeïnspireerd is… sal seker êrens in September weer na “normaal” terugkeer as daar so iets in ‘n Donkie se lewe kan wees…

Opbou na die Kerkbasaar- nie vir sensitiewe kykers nie…

Ernstig- enige vegetariërs en Jode en Moslems gaan aanstoot neem…  Traumatiese beeldmateriaal van vleisverwerking word vertoon…

Jy kyk verder op eie risiko…

Boeddiste sal ook nie hiervan hou nie, dalk is dit gereïnkarneerde familielede…

IS jy nog steeds hier?  Is jy seker? Want selfs ek kry nagmerries van die beeldmateriaal…

Dit raak al hoe moeiliker vir die plattelandse gemeente om te oorleef. Al ons jongmense wat universiteit toe gegaan het, gee een kyk na Julsie Malema se EFF- OFF party, en gaan dadelik Australië en Kanada se ambassades toe op pad na die reisagentskap. Die wat nie universiteit toe gegaan het nie, gaan stede toe, polisie toe. En dié wat nie skool toe gegaan het nie, gaan word karwagte in Pretoria-Wes… Feit van die saak is- ons jongmense bly nie agter op die platteland nie.

Elke jaar raak die plattelandse gemeente se gemiddelde ouderdom ‘n bietjie ouer. Elke jaar raak die kerkgebou ‘n bietjie meer leeg…

Elke jaar raak die druk op die leraars egter ‘n bietjie groter: Dominee- jy moet meer huisbesoek doen, dat die mense meer kan gee. Dominee, jy moet mooier preek. Dominee- die basaar beter goed doen…  anders is die wolf voor die deur…

Dominee voel die druk maar alte goed. Dominee probeer elke jaar ‘n bietjie harder.  Maar dit gebeur in ‘n tyd wat die tradisionele kerke al hoe meer onbelangrik word vir mense.  As die ANC klaar is met hulle belasting, is daar in elk geval ook maar min geldjies oor vir die kerk.

Maar daar is darem vreugdes ook. Daar is steeds ‘n klomp mense wat regtig wil help, en ‘n verskil wil maak.

Ons is so dankbaar vir elke boer in ons gemeente wat ietsie gee vir die Basaar.  En so is daar vanjaar 23 varke en 10 beeste aangebied vir die Basaar.  Daardie beeste stap nie net in netjiese verpakte pakkies skoon, higiëniese vleis in nie. Iemand moet hulle daar kry.

Gelukkig is daar ‘n getroue span staatmakers wat my vanjaar weer kom help het.  Ons het die taak aangepak, en in ses dae in die sweet van ons aangesig die werk gedoen.

IMG_0512

Vleisverwerking is baie afhanklik van ‘n goeie blokman. Dit is iemand wat die diere se anatomie baie goed ken, en weet hoe om bemarkbare, netjiese snitte vleis te maak. Verkieslik het die blokman nog al tien vingers wat aan hom ge-issue is oor…  Ons het so ‘n deeglike ou-skool blokman, wat elke snit baie netjies doen. Dis nie so vanselfsprekend nie, ‘n paar jaar gelede het ons buite op ‘n plaas gewerk, en die manne toe het ‘n hele paar moutsappies per dag geneem, en die snitte het al hoe dikker en skewer geword soos die Boeings oorgevlieg het…

Deesdae werk ons in ‘n goed toegeruste industriële slaghuis soos op die fotos gesien kan word. Ons dra haarnette, want ek hou nie van iemand se hare in my vleis nie.

Soos die blokman die snitte sny, moet die vleis mooi skoongekrap en dan verpak word.

Daarvoor het jy gewillige hande nodig.

IMG_0516

IMG_0519

So langs die tafel word baie gesels oor die lewe, die herinneringe. en al derglike dinge. Maar teen die middag se kant begin die mense ook maar moeg word…

IMG_0515

Soms wil-wil die humeure ook maar opvlam. Soms moet ‘n mens maar baie geduldig wees soos Moses, wanneer die volk in die woestyn gemurmureer het. Party  mense hou van murmureer…

En dan kom die einde nader- nou moet van al die minder aangename stukke ontslae geraak word. Daar is ‘n geweldige groot mark vir die benevleis. en varkkoppe… (Nou moet sensitiewe kykers regtig aanbeweeg na Rolbos of Maankind toe…)

Ek het mos drie keer gewaarsku... selfs ek kry nagmerries deesdae....

Ek het mos drie keer gewaarsku… selfs ek kry nagmerries deesdae….

Al ons vleis is nou gereed in die groot vrieskamer vir 7 September.

Waar gaan jy nog supergraad maalvleis vir R40 per kilo kry?

Boerewors wat regtig net vleis en speserye in het, geen soja of broodkrummels of meel of donkietestikels nie… vir R45 per kilo?

(Dis hoekom ek dit so verloor het toe iemand op die vloer gesê het sy gaan koop eerder by die buurgemeente vleis, ons buit die mense uit wanneer ons osstert teen R75 per kilo verkoop- daar is net 5)

Diep in die Donkie se hart is daar tog maar groot liefde vir die mense in die plattelandse gemeente- soos by Rolbos is daar baie liefde en omgee, en soms vashaak en baklei.

Maar met sulke mense kan ‘n mens nog probeer om die Koninkryk vir nog ‘n jaar sigbaar te probeer maak op die platteland.

Ag, kom ek sluit maar af met ‘n stukkie hoop- daar gaan biltong wees teen R150 per kilo- en dis MOOI biltonge…

7 September in Nylstoom- dan is dit die Fees van feeste…  En nou gaan ek rus…

IMG_0510

Dis eenuur in die more…

en netnou moet ek gaan preek… “Rig julle gedagtes op die dinge daarbo…”

Daar is ‘n wit kat uit die hel wat my deesdae elke aand eenuur kom wakker skree met ‘n demoniese geknetter.  En as ek eers wakker is, is dit baie moeilik om weer aan die slaap te raak.

Die kat is doof, ek het vanaand tot 3 meter van hom af gekom met ‘n skerp visstok staander, toe ruik hy seker die heerlike knoffelslakke in my asem. Ongelukkig het hy nie daarvan gevrek nie.

Ek sit nou met ‘n reuse morele dilemma. Ek is regtig baie lief vir katte. Maar ek het ook my slaap nodig.

Nou wonder ek alweer oor ‘n paar goeters:

  •  Afvuur van vuurwapens in die dorpsgebied is glo verkeerd, behalwe vir kriminele soos rowers en moordenaars.  As ek myself tot moordenaar laat verklaar, mag ek die kat skiet?
  •  Die bure sal dalk moan, behalwe hierdie kat pla hulle seker ook- moet ek eers almal se toestemming vra om die kat te skiet?
  •  Toe ek nog ‘n student was, het hulle gewaarsku- baie drank lei tot katte skiet. Hoeveel is genoeg drank?
  •  Ek ken heelwat smouse van landbougif, maar ek hoor Temic is onwettig om op diere te gebruik, glo net vir aalwurms. Is hierdie kat nie dalk ‘n aalwurm nie?
  •  Kan ek die kat met ‘n petrolbom gooi, en wat vra die brandweer om die vuur te kom blus?
  •  Kan ek nie die muur tussen ons huis en die kerk boobie trap dat hy op die kat omval as hy weer oorspring nie? My slaap is meer werd as die herstelkoste aan die muur… het een van die outobank opblasers nie dalk vir my ook so bietjie van daardie boomboom van die myne af nie?
  • Hoe ver kan een mens ‘n kat gooi?
  • Is daar nie dalk kindertjies wat gaan huil oor hulle vermiste demoon nie? Waar kan ek ‘n Tamagotchi vir hulle koop, dié goed het nooit rondgeloop na die bure se erf toe nie.
  •  Kan ek die kat saggies met my bakkie bekruip en oor hom jaag?
  •  Kan dit nie as selfverdediging beskou word om die kat te skiet nie, hy hou ‘n wesentlike gevaar vir my geestesgesondheid in.
  •  Weet Julius Malema en sy maatjies dat hier ‘n WIT kat is wat hom baie sleg sê- die kat het iets te sê oor sy IK en sy ouers… elke nag!
  •  Kan ek die kat met my ou weermagbajonet kastreer, net hier onder sy nek?

Daar is nog baie ander gedagtes ook in my jong onskuldige gemoed, maar daar is van my gemeentelede wat volhard in die bose deur my blog te lees…

Laat ek dus eindig deur Robert Burns aan te haal en  dan te gaan probeer slaap tot die helsinwoner weer opdaag:

How do I hate thee- let me count the ways…

Ek is nou vaak en moeg, lekker slaap.

Enige sinvolle voorstelle tot kateliminasie sal baie waardeer word.

Teiken A- eie tyd, eie teiken…

PS- Ek lees nou maar deur netnou se preek uit Kolossense 3 om darem iets te probeer onthou so deur die vaak. En vers 5 is so van toepassing- “Daarom moet julle die aardse dinge doodmaak wat nog deel van julle lewe is,  onsedelikheid, onreinheid, wellus, slegte begeertes, en gierigheid, wat afgodery is.”  En die wit kat, Paulus?

Baie geluk met jou verjaardag… moenie slaan nie…

Kom ek nou die dag weer in die moeilikheid by een van die hiper vromes van die Here se kindertjies.  

Ek het dit gewaag om daardie persoon “Geluk met jou verjaardag” toe te wens. 

Christene praat mos nie so nie! Weet julle hoe gevaarlik is die geluksgod?  Hoe kan ‘n mens iemand se toekoms op “geluk” toevertrou, so asof die toeval sal voorsien in al die seëninge wat die persoon nodig het om sinvol te lewe?  Om geluk met iemand se verjaardag toe te wens, is om die Here uit die pad uit te skuif, en die noodlot die laaste sê te gee… 

Isit? 

Wel, daar is ook ‘n ander manier om na die saak te kyk.  Ons een ou probleempie in Afrikaans is dat ons as ‘n jong taal baie minder woorde het as die ou gevestigde wêreldtale soos Engels en Spaans. 

“Geluk”- as jy nou regtig wil, kan jy dit bedoel met wat die Engelse “Luck” voor sê.  Toevalligheid. Noodlot. ‘n Kans. Gelukkig in daardie sin is “lucky”- iets buiten die gewone het toevallig oor jou pad gekom. 

Maar- “Geluk” is ook die stam van die Afrikaanse woord “Gelukkig”, dit wat die Engelse met “Happiness” sou vertaal.  In die Bergrede het Jesus telkens gesê: “Gelukkig is hy… “

Geluk in hierdie konteks is ‘n diepe tevredenheid met jou lewe. ‘n Stuk dankbaarheid teenoor die Here  vir al die mooi seëninge wat jy in jou lewe beleef.  ‘n Stuk vrede in jou gemoed oor die verhouding met God/ jou naaste/ jouself in harmonie is.  Geluk in hierdie konteks is ‘n sinvolle lewe, ‘n lewe vol betekenis. 

So ek gaan nie anders praat nie. Geluk met jou verjaardag! VAt dit soos jy wil! 

Image

Oom Barrie se Bybel

Ons dominees se werk is nou nie altyd maanskyn en rose nie. Partymaal kan ons ook maar murmereer soos die Israeliete van ouds in die woestyn.

Maar soms het ons ook met wonderlike oomblikke te doen.

Een van die mense wat my baie diep aangeraak het met sy menswees, was oom Barrie Barnard gewees. Oom Barrie het baie gekrimp met die jare, hier teen die einde was hy baie kort gewees. Maar ‘n man van groot statuur in die gemeenskap. Oom Barrie was baie lief vir die Here gewees. En hy het vir lank gesit en skrywe in die aande. Sommer baie van daardie eksamenblokke vol geskryf met sy vulpen.

Elke keer as ek hom gaan besoek het, het die besoek nog meer vir my beteken as vir hom Hy was een van daardie mense wat altyd vriendelik was, en nooit gekla het nie, selfs as die gesondheid baie pla. Oom Barrie kon ook later nie meer hoor nie. Maar sy oë het altyd geblink as mense met hom praat, hy was baie lief vir mense. Oom Barrie is so twee jaar gelede oorlede, toe hy al goed in die negentigs gevorder het.

Sy weduwee, tannie Rachie, is net so ‘n kosbare mens. Sy is vol liefde teenoor almal, en sy is altyd vrolik. So sê sy ek moet bietjie vir haar kom kuier, sy wil graag vir my iets wys. Vanoggend na die Bybelstudie maak ek toe ook so.

Hulle seun Gerhard, ‘n leraar van die Kaap, het al die geskrewe eksamenblokke geneem, en dit baie professioneel laat bind.  Die geskryf was toe al die tyd die hele Bybel, wat oom Barrie woord vir woord oorgeskryf het met sy vulpen. Alles so netjies, soos oud-onderwysers soms maar maak…  Ek het toestemming gevra, en oom Barrie se Bybel met my selfoon afgeneem. Gerhard leen vir sy ma die Nuwe Testament, die ou Testament is glo in nog drie sulke volumes gebind.

So lyk oom Barrie se Bybel:

20130723_10405320130723_104101

 

20130723_104036Die woorde van Matteus 1:1, en so gaan die hele nuwe Testament handgeskrewe voort tot aan die einde van Openbaring 21. En daarna die wonderlike kort gebed:

20130723_104146” Dankie Here vir die genade aan my om die skryfwerk en studie te kon voltooi” en geteken L. G. Barnard

Dit is ‘n kosbare nalatenskap vir sy familie, en ek is so bly Gerhard het hierdie potensiaal raakgesien in die hope ou eksamenblokke.  Dit was vir my aangrypend mooi, en dit is vir tannie Rachie net so kosbaar om dit met my te kon deel.

20130723_104158

 

Oom Barrie se getuienis was soos Psalm 119:103 sê: “Hoe aangenaam is u woord, soeter as heuning in die mond.”

 

 

Kinders wat drink, moenie met die oumense mors nie…

Mia Cilliers deel hierdie ene op die facebook bladsy van Rolbos, en terwyl ‘n muil nou familie van die Donkie is, deel ek dit graag hier…

An old prospector shuffled into the town of El Indio, Texas leading a
tired old mule. The old man headed straight for the only saloon in town,
to clear his parched throat.

He walked up to the saloon and tied his old mule to the hitch rail.

As he stood there, brushing some of the dust from his face and clothes,
a young gunslinger stepped out of the saloon with a gun in one hand and
a bottle of whiskey in the other.

The young gunslinger looked at the old man and laughed, saying, “Hey
old man, can you dance?”

The old man looked up at the gunslinger and said, “No son, I don’t
dance… never really wanted to”

A crowd had gathered as the gunslinger grinned and said, “Well, you old
fool, you’re gonna dance now!” and started shooting at the old man’s
feet.

The old prospector, not wanting to get a toe blown off, started hopping
around like a flea on a hot skillet.

Everybody standing around was laughing.

When his last bullet had been fired, the young gunslinger, still
laughing, holstered his gun and turned around to go back into the
saloon.

The old man turned to his pack mule, pulled out a double-barreled 12
gauge shotgun and cocked both hammers.

The loud clicks carried clearly through the desert air. The crowd
stopped laughing immediately.

The young gunslinger heard the sounds too, and he turned around very
slowly.

The silence was deafening. The crowd watched as the young gunman stared
at the old timer and the large gaping holes of those twin 12 gauge
barrels.

The barrels of the shotgun never wavered in the old man’s hands, as he
quietly said;

“Son, have you ever kissed a mule’s ass?”

The gunslinger swallowed hard and said, “No sir… but… I’ve always
wanted to.”

+++++++++++
There are a few lessons for all of us here:

* Don’t be arrogant.
* Don’t waste ammunition.
* Whiskey makes you think you’re smarter than you are.
* Always make sure you know who is in control.
* And finally, Don’t screw around with old people, they didn’t get old
by being stupid

Kyk, as jy nou nog nie Rolbos ontdek het nie, dan mis jy iets baie groot in jou lewe!  En Mia se grappe op die facebookbladsy: Priceless…

Die Boemelaar

Vanaand wil ek nou eers weer ietsie van my hart afkry, in Afrikaans, onder ons mense wat verstaan… 

Dit is skemer. By my palisade hek voor in die tuin het ek ‘n koeiklok opgehang. Gewoonlik as daardie klok lui, is daar… moeilikheid in Kanaän. Daardie klok lui gewoonlik Vrydagaande, maar dan hoor ek hom nie by my braaiplek nie. Njannies Koepêla. 

Vandag het ek so ‘n klompie besoeke afgelê. Ietsie is besig om te broei in my liggaam. Ek voel pap en moeg. Sal maar nie al die simptome beskryf nie, daar mag dalk net sensitiewe kykers wees onder ons… 

In elk geval, die klok word meteens woes heen en weer gepluk. Dit klink soos wanneer ‘n hondsdol hyena ‘n kalf aan die agterpoot beet het, en die kalf woes spartel en spook… 

Ek slaan my oë op na die voorhekkie toe, terwyl die son se laaste strale saggies speel oor die winterblare, en die koue nader sluip.  My moed sak in my skoene… dit is weer… ‘n boemelaar… 

Foto geleen by toquoteamockingbird.wordpress.com

Daar is iets geheimsinnigs aan die N1 roete, van Messina tot by Kaapstad. Ek hoor dit by al my predikant en pastoor maatjies langs die pad.  Die manne is weer aan die trêwwel.  Dis koud in die aande. 

Vanaand s’n stel hom plegtig voor, met ‘n handdruk. Soos al die ander sê hy dadelik: Dominee, ek is nie ‘n boemelaar nie… Hoe het hy geweet ek is ‘n dominee… o ja- rocket science, ek bly op die kerkterrein…

Dan volg Die Storie.  En Die Storie het ek al hoeveel keer in al sy gedaantes gehoor… 

Hierdie hartseer individu was êrens naby Messina in ‘n motorongeluk gewees. Sy kar is afgeskryf, en sy dogtertjie is dood in die ongeluk. Toe los sy meisie hom. Toe haaik hy maar Suidwaarts. In Pietersburg is hy aangeval deur Zimbabwiers, hulle het hom met ‘n baksteen oor die kop geslaan en met ‘n mes in sy arm gesteek.  Dit het hom vyf dae in die hospitaal besorg.  En nou het hy sy werk in Upington verloor, want hy is al ‘n week laat om aan te meld daar… 

Maar Dominee, het jy nie vir my iets om te eet nie… Weet jy broer, vanaand is daar op my spyskaart bruinbrood en weense worsies. Dis wat ons ook gehad het. Payday is nog ver, en ons was self die slagoffers van misdaad (my dogter se kar wat gesmash en grab is)… Ek kan net vir jou gee wat ons ook het. Brood en weense worsies. 

Dominee, maar dit is baie koud, het jy nie vir my ‘n kombers nie… Nee, almal is uitgedeel wat ek hier gehad het, daar is net dié oor wat op my kinders se bed is. As ek vir jou gee, slaap my kind koud vanaand. 

Dominee, het jy nie dalk vir my ‘n baadjie nie… 

En so word die eise al hoe groter en groter… 

Dominee, kan jy nie dalk help met geld tot in Upington nie…  

Ek het vir die broer van die langpad kos gegee vanaand. Dieselfde as wat ek geëet het.  Ek het vanaand niks meer om vir hom te gee nie. 

Maar ek sit nou en wonder oor ‘n paar dinge soos altyd. Jesus het in Matteus 25 gesê dit wat ons vir die minstes gedoen het, het ons vir Hom gedoen.  Hy was honger, en ons het Hom nie kos gegee nie, Hy was naak en ons het Hom nie klere gegee nie…   Sommiges het al engele gehuisves deurdat hulle gasvry was teenoor die vreemdeling in hulle poorte… 

Maar die broers van die langpad weet dit ook… Ons kerk is van die hoofpad af.  Hy is nie opsigtelik van die paaie deur ons dorp nie.  Hy stap langs drie kerke langs die pad verby na my huis toe. 

Ek het regtig nie meer geld oor tot betaaldag nie.  Dis nie eers einde van die maand Salticrax hier in ons huis nie.  Ek het regtig nie meer ou klere oor om weg te gee nie. Ek het niks meer ekstra komberse oor nie.   En daar kom letterlik tientalle van hierdie soort van my naaste na my huis toe… 

Die broer is baie ontevrede by my huis weg. Hy sê smalend mag die Here my en my gemeente seën…  Hy dink hy moet homself nou maar gaan ophang, want hy het nie meer ‘n mammie en ‘n pappie nie, sy kindjie is dood, sy beursie is weg, sy ID is weg, hy het sy werk verloor, alles wat hy besit is in die geel Shoprite sakkie by hom, en niemand gee meer om nie… 

Ek kan ook vir julle vertel van die florerende besigheid by die taxi rank in komberse en tweedehandse baadjies. en die ridders van die langpad wat baie graag by Tamsen se Bottelstoor opdaag… 

Maar… Koos Kombuis was ook ‘n boemelaar…