Loftus o Loftus!

Eendag lank lank gelede, seker so verlede Woensdag, kom die Skoolhoof met ‘n fantastiese gedagte. Die saak staan so: met sy invloed by die provinsie se rugby is daar sekere kaartjies op Loftus aan hom toegeken. Toevallig geld dit ook vir die Toets saterdag. Sou ek dalk belang stel om saam met hulle die Toets by te woon? My vrou en sy vrou is vriendinne, sy kan saamkom dan gaan eet ons uit na die tyd. O ja, en daar is ook drie kaartjies vir die seuns, hulle sit net elders…

Gemengde gevoelens… Daardie laaste All Black wedstryd wat Dean Greyling en Morné Steyn so vuisgeslaan het vir Man of the Match spook nog in my gedagtes… Maar dalk net… Ons sê Ja, Groot Asseblief!

Ons moes nou wel drie dagreise te kameel ver van Loftus af stop, en ver loop. Op soek na Hek 1 kry ons toe ‘n lekker verrassing. Hier stop ‘n mooi bus voor ons, en hier pop die Aussies span uit, twee meter voor ons… Ons wag toe ook maar vir die Bokke. Wat maak die ander Pieter de Villiers (Frankryk stut) in die Bokbus?

Wel ons het ons sitplekke gevind, op die doodlyn aan die noordekant van die veld. My middelste het die kamera gegryp en die opdraf gaan afneem.

Die volkslied was aangrypend, veral die trane in die oë vam die nuwelinge. Wat se ou heks kla so daaroor in die briewekolom van Beeld? Dit was baie mooi!

Habana was duidelik weer sy ou self op Loftus- pragtige driekuns. Dit lyk wel nie of die Bokke meer mag oorskop nie, maar as hulle so drieë druk dan vergewe ek hulle.

Die wedstryd het so ongelooflik vinnig verby gegaan. Die atmosfeer met die ver terugstap kar toe was fantasties!

Na die tyd het ons toe op facebook vriende se aanbeveling by Crawdaddy’s in Brooklyn gaan eet. Die res se kos was fantasties- my hoender was gebrand en droog…

Maar dit was ‘n UITSTEKENDE dag in die eensame Donkie se lewe!

Matriekafskeid

Cobra Starship kreun dit oor die dilapidated kegelspeakers uit:  “You make me feel… la la la la la…”

Oom Kallie se geleende, blinkgepoetsde Mercedes E 55 AMG brul met sy V8 kompressor enjin oor die rugbyveld, en kom tot stilstand voor die rooi tapyt.

Die effens verwarde graad 11 meisietjie met die mikrofoon roep hulle name uit, en vertel hoe hulle die rooi tapyt besit vanaand.

Hy klim uit met die Truworths Man broek, die Brooks Brothers hemp en Armani das. Die hare is netjies gejel, die Oakley Sonbril stewig op die neus vas.  Hy hardloop om die voertuig, om die deur vir Haar oop te maak. Die eerste span Hokkie kaptein. Lang, lenige sportiewe bene skuif eerste tot binne sig van die versamelde skare. Die fynste silwer sandale, tone wat die graad 8′ seuns in verwondering het. Die wynrooi rok, wat soveel maande lank sorgvuldig beplan is, word vir die eerste keer in die openbaar gesien.  Dit komplimenteer die blonde hare, wat vanoggend die hele salon in rep en roer gehad het.  Dis die tweede mooiste wat sy in haar lewe gaan lyk, daar wag eendag, in die toekoms, ‘n wit rok wat haar nog mooier gaan laat lyk…

Hy bied haar sy arm aan, en dan stap hulle op die rooi tapyt verby die pawiljoen, daardie sestig meter stappie wat gesamentlik R200 per meter gekos het…

Oor twee weke begin die matriek eindeksamen.  Die keuring vir Veeartseny is nog nie bekend gemaak nie. Maar met 8 potensiële onderskeidings sal daar waarskynlik weer ‘n briefie van Onderstepoort af kom: Jammer, as gevolg van akademiese redes het u aansoek nie geslaag nie.  Ook sy aansoek by die Vloot lê en wag tevergeefs- die Vloot neem net elke 2e jaar deesdae rekrute in- en dan moet jy reeds in besit wees van jou fisiese matrieksertifikaat, niks gaan dus voor Augustus 2013 besluit word deur die Militêre Hoofkantoor in Thaba Tswane nie…

Twaalf jaar se skoolopleiding is byna verby. Die pad van die toekoms, met al sy uitdagings en afdraaipaaie, sy hindernisse en slaggate lê voor die deur. Maar dit is nog ver…

Vanaand is wat saak maak! Hierdie 60 meter voor die kameras op die rooi tapyt. LMFAO featuring Natalia Kills trek los met “Champagne Showers…” Tree vir tree, terwyl die kameras flits… More is nog ver, vanaand is ons jonk en mooi. Vanaand gaan ons paartie, en dis al wat nou saak maak…

Ag dalk is dit nie die regte prentjie nie, dit was net vir my baie mooi! Kuns van Norman Engel.

 

 

 

By die Bandeplek het ek geween…

Vanoggend moes ek en Pastoriemoeder Gomorra toe gaan. Nommer 3 het sy pa se aandagafleibaarheid geneties geëef, en moet soms ‘n pilletjie drink om in eksamentyd te onthou hy is nog op planeet aarde. Die dokters wat daardie pilletjies voorskryf, is nie meer op planeet aarde woonagtig nie, want hulle rekeninge is gelykstaande aan die koste om iemand by die Internasionale ruitestasie te kry met Space X se vuurpyl…

Van die Moothospitaal Menlyn toe, om die tweetjies af te laai. Sewe keer is daar bottelnekke in die pad- daardie oranje kegels, dan word twee bane toegemaak om een pyltjie in die pad te verf… Dis ook die tyd wat Gomorra se ouetehuise almal wat nog 10 persent visie het, stuur om in die paaie te gaab speel met hulle 1973 Corollas. Ek dink onpastorale gedagtes…

Ek MOET ook nuwe voorwiele op my Corolla sit- soos ek soms ry moet hy kan sit in die draaie… So hol ek in by die Kietsiekat bandeplek agter Menlyn in- nie lus om nou die middestad te gaan aandurf vir Malas nie…Twee Continental Sport Contacts asb… Toe begin die verkoopsman my meer vrae vra as die Nuwe Testament prof in my eindeksamen. Bandgrootte. Seker van die model- die Michelin kos net 500 meer… Nitrogen in die bande? Balanseer 1, 2, 3 of al 4? Wielsporing? X- Sure… Die paaie is sleg, jy weet…

Met die finale bedrag wat ek moet hoes sou ek in Standerd 8 twee nuwe motorfietse kon koop! Nou sit ek en wag. Hulle het gawe koffie hier by Kietsiekat Bande. Maar die tydskrifte! Waar is die FHM of die GQ, selfs die Car of Bike SA? Nee- Longevity. Home Owner. Sarie. Rooi Rose… My magtag, wat gaan in die Ooste van die stad aan, is almal nou Metrosexuals?

My koets is amper gereed. Nou kom die verkoopsman met so begrafnisondernemer gesiggie na my toe… ” Uhm, meneer- het jy onlangs gesien hoe lyk jou AGTER wiele…”

Ek het dit verloor… Het iemand hier rond nie dalk vir my ‘n pink tissue nie?

Nou, na die Sinode…

Die vergadering van die Noordelike Sinode van die NG Kerk het gekom, en gegaan. Ek het daarheen opgeruk, vas van plan om ‘n verskil te maak. Was ek suksesvol in my ambisie? Ek weet nie.

Ek is so dankbaar oor die trant van Sinodes wat so wyd verander het. Neels Jackson van Beeld het dit baie mooi op Twitter raakgesien- hoe die NG Kerk die afgelope ruk geskuif het. Toe ek in 1994 my eerste Sinode as nat agter die ore domineetjie bygewoon het, het ek nie ervaar dat ek die reg het om iets te sê in die Ooms se geselskap nie. Daardie stywe formele setting van die Sinodale Sentrum was baie intimiderend. Die kerk het mag gehad in die samelewing. Ons het gedink ons weet alles, ons het al die antwoorde. Ons kan vir mense presies vertel hoe hulle hul lewens behoort te lewe. Magtag, ONS was baie slim en sterk destyds!

Hierdie week was toe baie meer ontspanne. Die jongste dominee wat verlede Sondag bevestig is, het met sy nat swembroek ingehardloop toe die oudste dienende dominee vir hom verwelkom by die sinode…

Die atmosfeer van die sinode het heeltemal verander. Van mag het ons baie ver geskuif terug na waar ons hoort- as dienskneg van die Here en die gemeenskap. Die drie kernwoorde op die verhoog op baniere was: Gebroke, Vrygespreek, Diensbaar…  Daarmee voel ek gemaklik. Want die Here weet- ek voel bitter selde heel, ek worstel ook maar woes met nie net die gebrokenheid van die wêreld nie, maar die gebrokenheid in myself.  Ek hou baie meer van die teologie van voete was deesdae, as die outydse teologie van koppewas.

Ek het die daaglikse wydingsgeleenthede baie geniet. Almal het uit die Knegliedere daar uit Jesaja 40-55 gekom. Kosbare beelde is weer onthou- van die Here wat geknakte riete nie breek nie en rokende lamppitte nie uitdoof nie. Dankie VAder tog daarvoor, anders was daar nie vir my plek nie… Selfs Leonard Cohen se Anthem was een aand deel van die wyding- “There is a crack in everything… that’s where the light shines in…”

Die een ding wat ek opreg beleef het by die Sinode, is die wens om wel ‘n verskil te maak in Afrika, waar ons nou is. Ons wil hier ‘n verskil maak. Nie met woorde wat vir ander verdoem nie, maar met dade wat help en hoop gee.

Ek het ook by die Sinode die begeerte beleef om eenheid te bevorder in die Here se kerk. Maar wanneer die Belhar belydenis ter sprake kom, is daar duidelike vrees teenwoordig. Iemand het dit baie mooi opgesom. Daar is drie geslagte saam in die Sinode. Daar is dié anderkant 60, wat daar was toe die land gebrand het, wat die Belhar belydenis sien as duidelike bevrydingsteologie, en dit beleef as ‘n aanval teen dié wat destyds wel die mag gehad het… Daar is die mense soos ek, wat na 1994 in die kerk begin het- in die nuwe Suid-Afrika. Van die begin af moes ons rekening hou met uiters veranderende omstandighede, en in die chaos die Here se waarheid probeer soek.  Ons geslag het baie gemengde gevoelens oor Belhar. Dan is daar die jongetjies wat nou begin het. Hulle het nie die bagasie van Belhar nie- hulle lees die dokument net op sigwaarde, en sien geen dwalinge daarin nie…  Belhar maak mense bang, en die een saak wat verwoord is, is die saak van ‘n gemeenskap wat treur oor wat hulle alles prysgegee het in die Nuwe Suid-Afrika.  Al die ou argumente wat weer vir en teen Belhar opgehaal is, is nie lekker nie. Mense, veral die ouer ouderlinge, wat dieselfde dinge langdradig vertel asof ons dit nie die afgelope 20 jaar oor en oor en oor gehoor het nie…
Ek het nog steeds nie genoeg op die hart gehad om my nooienstoespraak op hierdie sinode te lewer nie. Dis hoekom ek wonder of ek wel ‘n verskil gemaak het. Ek het wel in die tafelgesprekke gesê wat op my gemoed rus.

Die kuier in die aande om die kampvuur was die groter waarde van die sinode vir my. Daar kon ‘n mens ander kollegas beter leer ken, en regtig oop en eerlik gesels oor die stormagtige tye wat ons almal in die bediening beleef, en hoe ons hier deur kan kom…

Ek is baie moeg na die Sinode. Maar ek dink tog daar het iets gebeur, al is dit net die kollekte van R15000 wat opgeneem is om in Marikana te help waar sekere gesinne baie honger lei met al die politici se genadelose puntemakery vir Mangaung…

Net so ten slotte- wat ‘n vreemde wêreld leef ons nie in nie? Die Arabiese wêreld brand oor ‘n swak gemaakte fliek wat glo Mohammed sou negatief uitbeeld. Die VSA ambassadeur in Libië is vermoor.  JApan en China raak lus om mekaar te blik…slaan oor onbenullige eilandjies…  Die ekonomie sukkel om aan die gang te kom wêreldwyd… en dan is dit steeds hoofnuus dat iemand vir William en Kate afgeloer het by ‘n privaat chateau se swembad, waar Kate dit gewaag het om haar boobies vir haar man te wys…  Wat ‘n vreemde, vreemde wêreld Master Jack!

 

By die Sinode praat ons baie…

Op hierdie oomblik sit ek en my Swartbessie in die Noordelike Sinode se sitting by Weesgerus, Nylstroom.

Ek hou van die gesindheid van die Sinode. Toe ek destyds, 18 jaar gelede, my eerste Sinode bygewoon het, was dit nog in die Sinodale Sentrum in Visagiestraat, Pretoria. Ons moes nog in kerkpakke daar gaan sit in ‘n uiters formele omgewing, soos ‘n Parlementsgebou. Jare voor my tyd sou die manne (dames was nog nie toegelaat nie) in manelpakke bymekaar wees vir twee weke om Sinode te hou. As baie jong onervare domineetjie moes ons ook nog ‘n baadjie aanhê as ons sou waag om iets te sê. Die Sinode was deur die Ooms bestuur- die waardige OU here van die ou gemeentes in Pretoria. En die Profs. Hulle en waardige ouderlinge soos Generaals het gepraat, ons jonges het geluister en gesjarrap.

Dit het so baie verander! Die wit olifant, die Sinodesentrum, is verkoop. Dis baie goedkoper om die Sinode op die platteland te hou, as daardie duur sittings van destyds. Maar ek mis die Manhatten hotel se ontbyte!

Al is my huis baie naby, bly ek en kollega in ons karavane op die terrein, om deel te wees van wat gebeur.

Hierdie Sinode se karakter het verander. Weg is die pakke en die magsvertoon. Die tema van hierdie sinode is Gebrokenheid, Vrygespreek, Diensbaar. Ons wil nie meer heers nie. Ons is self gebroke. Maar ons wil so graag ‘n verskil in Afrika maak. Want ons is nou hier.

Ons sit nie meer in stywe rye nie. Ons sit om ronde tafels en luister saam na die Here in Jesajatekste, en na mekaar. Ons het gister begin met ‘n kerse aansteek seremonie as simboliek van ons voorbidding- vir die slagoffers van Marikana, maar ook die slagoffers van die jongste plaasmoorde in ons gebied in Brits… Vir die Paralimpiese atlete van Suid-Afrika, vir ons Jeug…

Gister was ‘n lang dag in sitting. Maar na die tyd was dit nog beter! My vrou se ou Speedqueen se stainless steel drom maak baie lekker vuur. En rondom die vuur kon ons by die karavane sit, saam met ‘n kollega van Zimbabwe en Ellisras, Tuynplaas en Levubu. Sommiges het koffie gedrink, sommiges Coke, en sommiges van die stoutes het die Hugenote Kollege se verslag deeglik bestudeer. Nee, dit was eintlik ‘n 3 jaar oue Kommissie van Waarheid en Versoening verslag…

Die wasmasjien balie het sulke oranje discoliggies geflits, die voggies het ons tonge los gemaak en groot waarhede is gepraat. Die netwerke wat so gebou word, maak so ‘n groot verskil in ons lewens. Daar is begrip vir ons situasie, empatie vir ons seer, nuwe gedagtes, nuwe drome wat ontstaan.

So, al is dit baie moeilik om so lank in ‘n vergadering te sit, gebeur daar nogal inspirerende dinge- dalk kan ons tog ‘n verskil in Afrika maak!

Lekker in die Bos

 

Hierdie week, na die fees, het my dokter my afgeboek om ‘n tydjie af te vat sodat ek die griep kan oorwin en my gestel kan opbou.

Ek is diep dankbaar! Ek was van Dinsdag af op ‘n plek waar daar geen selfone en internetopvangs is nie. Dit het my baie goed gedoen…

Nou moet ons geestelik voorberei vir die  Noordelike Sinode se vergadering van Maandag tot Donderdag volgende week.  Ek gaan die Bos mis…

Die Fees is nou op ons…

Nee, nou nie so indrukwekkend soos Aardklop of Oppikoppi nie. Dis sommer pleinweg gestel ons kerkbasaar. Maar kerkbasaar se naam klink nie mooi nie, dit klink of dit net om geld insamel gaan.

Nee, dis ‘n Fees. Ons probeer die hele gemeenskap lok om by ons op die kerkterrein te kom kuier, te sien hoe lekker almal saamwerk, en die atmosfeer te kom geniet saam met ons.

Ek dink ook nogal dat mense waarde vir hulle geld kry. Vanaand is die Feesete om 18h00. Sorry- jy moes al Maandag kaartjies gehad het om te kom!  Die jong opkomende sanger Enrico (vergewe spelling indien nodig- dis nié Enrique Igliasis nie, maar klink glo nes Josh Groban) sing na ete vir ons. Die ete self- ‘n heerlike klein hoenderpastytjie vir voorgereg. ‘n Potjie vir hoofgereg- en ek het daardie vleis hanteer- dis Supergraad rumpsteaks, topside en silverside wat met die grootste sif gemaal is.  Daar is so mouse vir nagereg, ons het dit maandagaand in die laaste Feesvergadering geproe, en dit is baie lekker, maar ek sal die goeie bottel Rooi nie mag vergeet nie…

Vir atmosfeer en die Bosveldson is daar van 80% skadunet ‘n tent gemaak wat die paar 100 viermante meter tussen ons kerk en saal toemaak. Dit verskaf koelte en ‘n baie lekker atmosfeer. Ons het ‘n professionele klankman en -sisteem. Die verhoog is ‘n reuse sleepwa, versier met baie plante…

Vanaand na die groot ete werk ons eers hard- dan gaan al die tafels na al die verskillende stalletjies toe, wat vir more opgemaak word.

En moreoggend om 05h30 gaan haal ek die lorrie met die vrug van my span se 2 weke se harde werk- die 22 varke en 8 beeste wat saam kom feeshou. EK dink net hulle geniet dit nie so baie soos ons nie.  So dankbaar, niemand se vinger is hierdie jaar afgesny nie, niemand behoort ‘n trouring in die wors raak te byt nie.  Die pryse is fantasties- veral ons jong varkboere in die gemeente dring aan dat dit bekostigbaar moet wees- R28 per kilo vark deur die bank- en dis die mooiste kwaliteit wat jy kan kry.  Wel, die eisbeins en spareribs wat gerook en gepekel is, is natuurlik so effens duurder…

Die vleis bly die een groot trekpleister na ons fees toe. En ek is so bitterlik dankbaar as ek die lorrie met al die leë kratte kan gaan aflewer so moremiddag 13h00.  Dit is altyd ‘n gevoel van ‘n reuse taak wat suksesvol afgehandel is. Maar dit kom nie sonder stampe of stote nie.  As jy twyfel aan die sondige natuur van die mens, probeer vleis baie goedkoop aan die Here se kindertjies verkoop… so het ‘n wyse donkie verlede jaar êrens op ‘n blog gesê. Dis steeds waar.  Met die vleiswerk span het dit baie rustig gegaan, tot die laaste dag. Toe het die een broer sy moer gestrip oor almal vir hom bevele gee, en hy kom uit die weermag uit, net een ou is in beheer. Hy gryp sy mes en dril daar uit… my mond hang nou nog oop- ons het dan ons doel bereik- al die vleis is suksesvol in die gegewe tyd baie netjies verwerk. Ek is in beheer, maar ek werk met ‘n span wat baie meer van vleiswerk weet as ek. Daarom lewer elkeen insette oor wat hulle dink die beste manier is om hierdie betrokke stukkie vleis met respek aan te spreek en aan te bied.

Dan gaan daar weer die bakleiery by die verkope wees- daar is net soveel fillets (Supergraad) teen R80 per kilo. Ons rumpsteaks teen R60 is ook net soveel… Ons het die keursnitte nou maar in “hampers” verpak, as jy ‘n fillet wil hê, koop jy ‘n pakket wat wors en maalvleis en varktjops insluit… hoekom? Sodat die enkele miljoeners nie daar instorm en al die fillets in ‘n mandjie gooi voor al die verdwaasde armes nie. Elkeen kry ‘n kans- hoop ons. Ek weet ons het die beste vleispryse in die dorp. Net ons maalvleis word op die oomblik geklop deur een van die groothandelaars.  R40 per kilo baie mooi maalvleis, waarin daar geen kliere, senings of bene, of beesharte en ander duistere dinge in is nie, is die beste wat ek kan aanbied.  Party van die Here se kindertjies gaan weer in die rye indruk, party gaan weer woes probeer pryse afstry, maar ek is nie die Orientale mark nie!  En party gaan weer vergeet om hulle eie koelhouers te bring en pleit om die kratte te leen van die groothandelaars wat ons gehelp het met die fasiliteite om die vleis op te sny. Ek staan verantwoordelik vir elke krat wat die perseel verlaat, teen R75 ‘n krat kan dit vinnig ‘n lelike klomp geld word. Ek sê nee, en tog verdwyn daar steeds elke jaar ‘n krat of twee, en staan ek verleë as ek die vragmotor en kratte gaan terugboek…  Leen is ‘n baie lelike woord, se (wat is daardie ding wat nou weer aan ‘n bout vasskroef?) man!

Die res van die fees lyk soos dit moet. Daar gaan weer lekker basaarpoeding wees teen net R5 ‘n bakkie.  Daar is kerrie en rys, vetkoeke, Plaasontbyt. Gebak- maar ons sukkel steeds met die groot- en kleinkoeke op die basaar.  Die kinders se gesiggies gaan geverf word, hulle gaan spring op die springkastele. In die hoek gaan die manne skyfskiet vir groot pryse. In die Bosveld is dit belangrik om gereken te word as ‘n goeie skut.  Al vermoed ons ‘n paar van die meer duistere karakter broers neem gereeld deel aan die nie-Olimpiese sport Poaching…

Ons gaan BAIE hard werk van vanmiddag af, ons gaan BAIE eet en koeldrank drink. Ons gaan in die sweet van ons aangesig vir die gemeenskap iets lekkers probeer aanbied.  En elkeen wat kom, behoort ‘n “bargain” of twee raak te loop.  Ai maar dit is lekker op die Platteland!

Gelukkig is daar nie hierdie jaar Donkieritte nie, die Donkie is steeds siek…

 

 

 

60 Minute voor opdraftyd…

Ek weet ek is maar baie stil deesdae hier rond. Sorry.  Ek het net baie lanklaas so ‘n tyd in my bediening beleef.  Daar het seker 8 maande verby gegaan wat almal in die gemeente mooi aan die lewe gebly het. En toe kom Augustus!

Elfuur het ek my sesde begrafnis in vier weke.  Donderdag oggend die sewende een.

Augustus is al klaar die moeilikste maand van die jaar, want op die eerste Saterdag van September hou ons Fees, beter bekend as kerkbasaar. Ek is verantwoordelik vir die vleis op die basaar. En ek moet sorg dat daar nie minder as R120 000 van die vleis af inkom nie. Daarom was die vorige twee weke, tussen die begrafnisse deur, gevul met vleis werkery.

Vanoggend se begrafnis ruk my weer baie. Behalwe dat ek nog glad nie die griep afgeskud het nie, sukkel ek met vanoggend se diens. Ek begrawe ‘n jong man van 39. Hier in ons gemeenskap was hy stil en rustig. Maar ses jaar gelede het hy nog bomme onskadelik gestel in Irak.  Met al daardie spanning in sy lyf het hy maar gesukkel met maagsere.  Een het gebars, en na binne die buik moeilikheid veroorsaak. Hy het septisemia opgedoen, wat sy organe lelik aangeval het- die jong man is in 40 dae in die ICU in Polokwane se staatshospitaal deur 7 hartaanvalle.  Hy het verlede week nie die operasie oorleef om die voedingsbuis te skuif nie.

Ek het twee weke gelede sy vrou se pa ook begrawe, na ‘n stryd teen kanker verloor is.  Hulle het die pragtigste 5 jarige dogtertjie.

Party mense loop darem net sulke baie seer paaie in die lewe.  In sulke tye in my lewe lees ek maar Philip Yancey se boeke. “Where is God when it hurts” het al vir my so baie beteken. En soms, as ‘n mens lekker opstandig raak oor die wêreld so reuse gemors kan wees by tye, “Dissapointment with God”…

Dit bly seker maar die grootste worstelstryd in my gemoed- die vraag hoekom lyding in hierdie lewe so erg kan wees.  Ek het baie mooi preke daaroor gemaak- Psalm 23 waar die Here saam met ons in die donker dieptes is.  Die vierde man saam met Daniël se vriende in die vuuroond, wat soos ‘n hemelse wese lyk.  Vanoggend se preek- Romeine 8: 37-39- Meer as oorwinnaars, selfs in lyding…

Ek weet ook Khalil Gibran het so mooi geskryf dat pyn die instrument is wat ons uithol sodat ons meer vreugde kan bevat…

Al hierdie dinge is sekerlik waar. Ek is nie ‘n goeie pastor nie. Mense se seer kom klim in my lyf in.  Ek kan nie net vergeet as ek van hulle af wegstap nie.  Ek lê in die aande en dink aan hierdie dinge, en bid…

Maar net soms wil ek ook maar net langs die waters waar daar vrede is, onder die wilgerboom op die groen gras gaan lê, en kyk hoe die swane stadig verby swem…

Beautiful photo by: dailyphotostream.blogspot.com

Wanneer Dominee soos ‘n groot aap voel…

Ek skryf hierdie stukkie nou maar as ‘n stukkie terapie… dit moet êrens uit…

Ek het vanmiddag ‘n troue op my dagboek gehad. ‘n Jong man wat in ons gemeente grootgeword het, het vanmiddag met sy pragtige bruid getrou by ‘n Lodge buite ons dorp. Aangesien die jong man lank terug teologie begin studeer het vir ‘n rukkie, het hy ‘n paar pelle wat nou al proponente is. Sy een vriend gaan die preek waarneem. Maar dan het hulle iemand met die nodige papierwerk nodig om net die wetlike aspekte te hanteer- die vragies te vra en die huwelik by Binnelandse Sake te registreer na die tyd. Dis nou waar ek in die prentjie kom…

Na die afgelope twee weke se vleiswerkery het ek êrens die griep opgetel. Van gisteroggend af is my keel en hele lyf seer, ek voel half duiselig en digter in die kop as gewoonlik.  So onthou ek van vanmiddag se troue. Maar ek lê maar in die bed tot die laaste moontlike oomblik, om so veel gesondheid as moontlik te probeer bymekaarskraap vir hierdie grootse geleentheid.

Op my Blackberry kalender staan: Trou Stefan 16h00. En dit maak sin. ALMAL trou 16h00. In my dagboek staan: Trou Stefan 15h00. Seker maar ‘n drukfout… Ek hou in elk geval daarvan om  vroeg by ‘n troue te wees, en die korrekte lokaal te kry, myself deeglik geestelik voor te berei, my huweliksregister en -sertifikaatboek mooi met my spesiale silwer Parker neer te sit dat die fotograaf ook sy werk kan doen. Ek is gewoonlik ten minste ‘n driekwartier voor die tyd daar.

Vanmiddag 15h07 lui my selfoon. DIs die bruidegom se moeder. Hulle wag net vir my… ek sê hulle moet begin, ek is nou daar.

Nou spring ek in my kerkpakkie in. Die belt wil eenvoudig nie in die haas deur die lussies gaan nie. Die enigste das wat nou skielik lyk of hy gaan pas, is die Bloedskenkdas…

Gelukkig is die skoene vanoggend al gepoleer, en al die dokumentasie in die aktetas gesit. Ek gryp die tas, spring in die Corolla en jaag na die Lodge toe.  Die troue het al begin… ek kom by die hek van die Lodge aan, en hy is toe, met geen hekwag nie. Net ‘n nommer om te bel om die kode te kry. My Blackberry het juis hierdie nuwe truuk- een oomblik wys die battery nog vol, die volgende oomblik is hy in die rooi en sit af… gelukkig nie vanmiddag nie! Maar die Lodge is in ‘n valleitjie, selfoonopvangs is nie altyd so goed nie. En die netwerk wys eers: “Congested…”  ‘n Corolla kan nie ‘n ysterhek oopry nie. Met my bakkie kon ek dalk probeer het…

Uiteindelik antwoord iemand die foon, en gee my die kode. Ek was twee jaar gelede laas by hierdie betrokke Lodge- ek weet mos waar is die enigste moontlike lokaal vir ‘n troue. Ek jaag in na die hoofgebou toe. Ek probeer my hemp indruk, my das regtrek, nie totaal verdwaald lyk nie. Maar daar is niemand in die hoofgebou nie, veral nie in die lokale nie- net gedek vir die onthaal, maar geen bruid, geen bruidegom nie… niemand nie… daar by die kroeg is ‘n beweging- storm soontoe- nee, die jong dame daar weet nie waar hou hulle troues nie…  Sy dink daar is ‘n kapelletjie êrens op die plaas. Waar? Weet nie.

Ek storm terug na my kar toe, dis vandag 31 grade in die Bosveld, en ek het ‘n langmouhemp en kerkpak aan… ek begin sweet van siekwees, spanning en die hitte… buite jaag ‘n seuntjie op ‘n Quadbike rond- weet hy waar is die kapel waar hulle trou? Ja, daar onder naby die hek…  Ek het reg voor hom verby gejaag op pad na die hoofgebou toe…

Ek jaag terug, stop in die middel van die pad, hardloop na die grasdak kapelletjie toe, waar ek tot my verligting ‘n bruid, ‘n bekende bruidegom en ‘n proponentjie wat amper net so baie soos ek sweet sien. En juis toe sê die jonge kollega AMEN!  Gelukkig het die bruidspaar so seremonie waar hulle ‘n glas Cabernet met ‘n glas Sauvignon Blanc meng- die versnit wat die nuwe eenheid simboliseer. Ek gryp my registers uit my tas uit, slaan haastig my Kerkboek oop by die huweliksformulier… ek hyg soos wanneer ek op ‘n warm dag op die Argus oor Suikerbossie gaan…

Is dit julle albei se opregte voorneme om met die seën van die Here in die huwelik bevestig te word? M.A.W- is jy uit vrye wil uit hier?  Ja.

Stefan, verklaar jy dat sover jy weet daar geen wettige beswaar is teen jou voorgenome huwelik met die bruid, B nie? Aanvaar jy almal hier teenwoordig as die getuies dat jy haar nou tot jou wettige vrou neem? Ja…  Kyk dan nou in haar oë en belowe dit vir haar: Voor God en ons familie beloof ek liefde en trou, vir altyd en in alle omstandighede, aan my bruid, B…

Presies dieselfde vraag aan B, wie se ogies te pragtig blink as sy na Stefan kyk…

Gee mekaar dan nou die regterhand. Hiermee verklaar ek dat S en B nou wettig getroud is. S, jy mag jou vrou soen…

‘n Pragtige stuk musiek speel terwyl hulle diep in mekaar se oë kyk… erens in hierdie tyd daal my hartklop vir die eerste keer onder 180 sedert 15h07…

Dis nou ‘n uur later- dit het my langer gevat om hierdie te tik as die hele heen en weer ry en trouseremonie…

Jammer Stefan en Stefan se ma, gelukkig het die tydsberekening perfek uitgewerk vir die seremonie self. Ek haat dit as ek so voel, en weet ek het aangejaag!  Mag julle twee baie gelukkig vorentoe wees op die lewenspad!

En nou voel ek weer hondsleg, ek gaan nou dadelik weer in die bed klim…