Ek skryf hierdie stukkie nou maar as ‘n stukkie terapie… dit moet êrens uit…
Ek het vanmiddag ‘n troue op my dagboek gehad. ‘n Jong man wat in ons gemeente grootgeword het, het vanmiddag met sy pragtige bruid getrou by ‘n Lodge buite ons dorp. Aangesien die jong man lank terug teologie begin studeer het vir ‘n rukkie, het hy ‘n paar pelle wat nou al proponente is. Sy een vriend gaan die preek waarneem. Maar dan het hulle iemand met die nodige papierwerk nodig om net die wetlike aspekte te hanteer- die vragies te vra en die huwelik by Binnelandse Sake te registreer na die tyd. Dis nou waar ek in die prentjie kom…
Na die afgelope twee weke se vleiswerkery het ek êrens die griep opgetel. Van gisteroggend af is my keel en hele lyf seer, ek voel half duiselig en digter in die kop as gewoonlik. So onthou ek van vanmiddag se troue. Maar ek lê maar in die bed tot die laaste moontlike oomblik, om so veel gesondheid as moontlik te probeer bymekaarskraap vir hierdie grootse geleentheid.
Op my Blackberry kalender staan: Trou Stefan 16h00. En dit maak sin. ALMAL trou 16h00. In my dagboek staan: Trou Stefan 15h00. Seker maar ‘n drukfout… Ek hou in elk geval daarvan om vroeg by ‘n troue te wees, en die korrekte lokaal te kry, myself deeglik geestelik voor te berei, my huweliksregister en -sertifikaatboek mooi met my spesiale silwer Parker neer te sit dat die fotograaf ook sy werk kan doen. Ek is gewoonlik ten minste ‘n driekwartier voor die tyd daar.
Vanmiddag 15h07 lui my selfoon. DIs die bruidegom se moeder. Hulle wag net vir my… ek sê hulle moet begin, ek is nou daar.
Nou spring ek in my kerkpakkie in. Die belt wil eenvoudig nie in die haas deur die lussies gaan nie. Die enigste das wat nou skielik lyk of hy gaan pas, is die Bloedskenkdas…
Gelukkig is die skoene vanoggend al gepoleer, en al die dokumentasie in die aktetas gesit. Ek gryp die tas, spring in die Corolla en jaag na die Lodge toe. Die troue het al begin… ek kom by die hek van die Lodge aan, en hy is toe, met geen hekwag nie. Net ‘n nommer om te bel om die kode te kry. My Blackberry het juis hierdie nuwe truuk- een oomblik wys die battery nog vol, die volgende oomblik is hy in die rooi en sit af… gelukkig nie vanmiddag nie! Maar die Lodge is in ‘n valleitjie, selfoonopvangs is nie altyd so goed nie. En die netwerk wys eers: “Congested…” ‘n Corolla kan nie ‘n ysterhek oopry nie. Met my bakkie kon ek dalk probeer het…
Uiteindelik antwoord iemand die foon, en gee my die kode. Ek was twee jaar gelede laas by hierdie betrokke Lodge- ek weet mos waar is die enigste moontlike lokaal vir ‘n troue. Ek jaag in na die hoofgebou toe. Ek probeer my hemp indruk, my das regtrek, nie totaal verdwaald lyk nie. Maar daar is niemand in die hoofgebou nie, veral nie in die lokale nie- net gedek vir die onthaal, maar geen bruid, geen bruidegom nie… niemand nie… daar by die kroeg is ‘n beweging- storm soontoe- nee, die jong dame daar weet nie waar hou hulle troues nie… Sy dink daar is ‘n kapelletjie êrens op die plaas. Waar? Weet nie.
Ek storm terug na my kar toe, dis vandag 31 grade in die Bosveld, en ek het ‘n langmouhemp en kerkpak aan… ek begin sweet van siekwees, spanning en die hitte… buite jaag ‘n seuntjie op ‘n Quadbike rond- weet hy waar is die kapel waar hulle trou? Ja, daar onder naby die hek… Ek het reg voor hom verby gejaag op pad na die hoofgebou toe…
Ek jaag terug, stop in die middel van die pad, hardloop na die grasdak kapelletjie toe, waar ek tot my verligting ‘n bruid, ‘n bekende bruidegom en ‘n proponentjie wat amper net so baie soos ek sweet sien. En juis toe sê die jonge kollega AMEN! Gelukkig het die bruidspaar so seremonie waar hulle ‘n glas Cabernet met ‘n glas Sauvignon Blanc meng- die versnit wat die nuwe eenheid simboliseer. Ek gryp my registers uit my tas uit, slaan haastig my Kerkboek oop by die huweliksformulier… ek hyg soos wanneer ek op ‘n warm dag op die Argus oor Suikerbossie gaan…
Is dit julle albei se opregte voorneme om met die seën van die Here in die huwelik bevestig te word? M.A.W- is jy uit vrye wil uit hier? Ja.
Stefan, verklaar jy dat sover jy weet daar geen wettige beswaar is teen jou voorgenome huwelik met die bruid, B nie? Aanvaar jy almal hier teenwoordig as die getuies dat jy haar nou tot jou wettige vrou neem? Ja… Kyk dan nou in haar oë en belowe dit vir haar: Voor God en ons familie beloof ek liefde en trou, vir altyd en in alle omstandighede, aan my bruid, B…
Presies dieselfde vraag aan B, wie se ogies te pragtig blink as sy na Stefan kyk…

Gee mekaar dan nou die regterhand. Hiermee verklaar ek dat S en B nou wettig getroud is. S, jy mag jou vrou soen…
‘n Pragtige stuk musiek speel terwyl hulle diep in mekaar se oë kyk… erens in hierdie tyd daal my hartklop vir die eerste keer onder 180 sedert 15h07…
Dis nou ‘n uur later- dit het my langer gevat om hierdie te tik as die hele heen en weer ry en trouseremonie…
Jammer Stefan en Stefan se ma, gelukkig het die tydsberekening perfek uitgewerk vir die seremonie self. Ek haat dit as ek so voel, en weet ek het aangejaag! Mag julle twee baie gelukkig vorentoe wees op die lewenspad!
En nou voel ek weer hondsleg, ek gaan nou dadelik weer in die bed klim…