Liewe Koeksister, R.I.P

Dit is die grootste uitvindsel van die duiwel ooit.  En die manier hoe dit in ons volksbesit ingewurm het, is skandalig. Kyk, van kleins af hoor ek die leuen:  Koeksisters en Melktert is ons land se eie persoonlike uitvindsel…  Nou oor Melktert wil ek liewer niks vandag sê nie, ons hou haar uit hierdie fight uit…

Ek weet dat daar al kerke afgestig het as gevolg van die koeksister. Dit het gebeur in plekke soos Winburg, en ek is byna seker dit was die hoofrede vir die ontstaan van die Afrikaanse Protestantse Kerk (APK) ook. Dit is mos op die platteland die grootste nagmerrie van enige basaarvoorsitter. As ‘n mens die basaar nou wil begin reël, moet jy eers uitklaar: gaan die koeksisters vanjaar twee, of drie draaie hê? Mag daar amandelessens in die stroop kom, of nie? Son sê ‘n mens moet eers ‘n suurlemoen eet, dan waardeer jy n koeksister meer… of so iets…

Ons hoor in die Voortrekkers van kleins af dat die koeksister van ons mense af kom.  Dat Piet Retief se vrou besig was om koeksisters te bak daar agter die ossewa toe haar man met Dingaan gaan gesels het oor grondhervorming…

Maar dit gaan ook verder terug in die geskiedenis as goeie Tannie Retief.  Wolraad Woltemade se vrou het glo slegte koeksisters gebak, en hy het in die see ingejaag met sy perd om van die stroop ontslae te raak, toe hy toevallig op ‘n sinkende skip afgekom het. Hy het soveel as moontlik mense gered, en toe maar eerder in die see agtergebly as om nog een van sy vrou se berugte koeksisters deur die sisteem te moet laat gaan.  As ‘n man dan nou deur die Jordaan moet gaan, moet dit vinnig wees, nie met soveel lyding soos wat daardie voedselvergiftiging en diabetes sou aangerig het nie.

Selfs nog verder terug in die geskiedenis, so wil gerugte dit hê, kon Maria van Riebeeck nie wag vir oom Jan om haar oond van die skepe af te haal nie. Nadat hulle in die Reijger, Tijger en Titanic (sorry Tolla, ons mis jou !) se vragruime gesoek het, het hulle haar ou Dover gekry, en ‘n vaatjie vol meel.  Die suiker het teen hierdie tyd bolwurms in gehad, maar dit is uitgeskep en vir aas gebruik om forelle daar by Milnerton se vleie te gaan vang.  En voor die Kaap Hollands was, is die eerste koeksister glo gebak.

Alhoewel Herrie die Strandloper se vrou nie geweet het wat dit is nie, word die koeksister ook onthou as ‘n magtige wapen van die struggle. Dit het vele boere doodgemaak.  As die PAC die eerste verkiesing gewen het, was ons nou in die see gejaag, en Darwinia sou so in die swem gesê het: Julle wou mos!  En dan was daar ‘n koeksister op die nuwe landsvlag van die nuwe Azania, soos die AK so mooi op Mosambiek se vlaggie pryk.

Maar eintlik het ek die waarheid agtergekom toe ek in 1999 in Turkye was. In Istanboel het ek dit in baie straatbakkerye gesien. Onse liewe koeksister, net soos wat ons hom maak. Saam met nog baie ander verskillende vorme ook, wat ons nie plaaslik ken nie. Selfs anderkant die grens in Griekeland is daar verskillende poedings wat ook op ‘n soet, stroopdeurdrenkte degie gebaseer is.

Die een groot fout wat onse voorouers gemaak het, was om Moslem slawe Suid Afrika toe in te voer.  Die voorouers het gesê medegelowiges mag nie slawe wees nie, hulle het Paulus se briefie aan Filemon ernstig opgeneem.  Paulus sê mos: Wees nice met die broer!  Toe voer onse voorouers maar mense van Maleisië en ander plekke in teen hulle sin om hier te kom werk op die plase. Dit was ‘n moerse fout, soos baie ander ook…  Dié mense moes goeie Moslems gehou word, anders word hulle dalk net Christene, en dan moet hulle vrygelaat word. Toe voer ons voorouers Moslem geestelike leiers van Turkye af in. Net so ‘n moerse fout! Maar gelukkig het hierdie mense vir ons sosaties, en koeksisters saamgebring- nie een van hierdie Boere skatte is ons uitvindsel nie. Bobotie ook nie, die Maleiers het ons dit geleer…   Nou voordat julle my woes uitkryt as ‘n rassis- baie van ons voorouers was later maar eensaam in die Kaap sonder Hollandse of Duitse of Franse dames. En party van hulle het met die slavinne getrou… En daar was so min van ons voorouers, dat almal maar op ‘n manier êrens familie is…  Ons is baie meer wêreldburgers as wat almal sou wou erken. En die kontak met Maleisië en Turkye het ons plaaslike kultuur baie verryk… Dis in ons bloed…

So- die koeksister is ‘n simbool van onderdrukking. Van Slawekettings.  En daarom moet dit ook verban word in die Nuwe Suid-Afrika.

Maar daar is ook ‘n ander kant van die saak. Elke saak het mos altyd ten minste twee kante, meestal meer as drie…

Die Waarheids en Versoeningskommissie het ongelukkig lankal opgehou werk. Ek voel nou so skuldig dat ek in ons land gebore is as ‘n whitey, dat ek ook wou gaan bieg het. Ja, ek het al koeksisters gesteel. Baie. As my ma sê LOS, dan wag ek tot Sondagmiddag se slapie, en dan gaan neem ek enetjie wat ek nie moes neem nie. Ja, ongelukkig is ek ook baie lief vir daardie simbool van onderdrukking. Ek gaan weer van 16h00 tot 21h00 vanaand huisbesoek doen, so ek sal weer so 10 koeksisters moet deurwerk…  Maar ek gaan vanaand sê ek moet versigtig wees, ek het ‘n insulien sensitiwiteit wat daardeur aangewakker word (dankie Ewas vir daardie ene!)

Ek sal, om by gister aan te sluit, moet begin nee sê vir die koeksisters.

Want, liewe vriende, as ‘n mens te swaar is, dan raak die lewe moeilik. Kom ek bieg. Ons gesin het gister baie slegte nuus gekry. Ek het gisteraand bitter min geslaap. Ek beskou die vieruur wakker word as ‘n oproep tot gebed. En ek het toe sesuur saam met my vriende weer gaan fietsry- ses weke, sê hulle, dan is ons weer fiks. En vanoggend kon ek net glad nie my voet uit die pedaal uit losklik by my eie hek, in my eie agterplaas nie. En toe donder ek neer…  En hoe swaarder ‘n mens is, hoe harder val jy…  Ek het tog die 20 km saam met my vriende gery. Maar nou is my knie, die een wat met die motorfiets herstel beseer is, weer baie seer. En dis ook alles koeksisters se skuld.

Ek gaan nie weer vanjaar ‘n koeksister eet nie. Koeksisters is dood vir my. Maar ek gaan baie verlang…

Vir dié wat nie weet wat se ding dit is nie,  gaan kyk gerus hoe om jou eie slawekettings te bou- hier.

6 thoughts on “Liewe Koeksister, R.I.P

  1. Dit is nou – soos reeds gesê – een versekerde manier om my in ‘n wip te vang.

    Ek het iewers al gehoor dat die hollanders nie juis kos kon maak nie. Die meeste kosse wat vandag as trots Suid-Afrikaans beskou word, het ons by die Maleiers geleer. Dit sluit nou natuurlik koeksisters en vetkoek in.

  2. 😆 Skuus Bileam maar ek kan nie anders as om te lag vir die “episode” by jou eie hek nie maar ek hoop regtig jou knie voel gou beter en dat jy dit gaan regkry om die “euwel” te weerstaan.

    Daar’s net een vrou hier in ons omgewing wie se koeksisters ek eet en ek kom nie baie by haar nie want ons gesels te lekker en dan kom ek nie daar weg nie (sy bak vir ‘n tuisnywerheid)! Maar nou verkoop die Spar hier naby ons sulke lekker Chinese bow ties! 😳

Lewer kommentaar