Vandag is die dag…

My facebook  status op die oomblik is:

mense, vandag kom net een keer in die hele ganse ewigheid. moet hom nou nie gaan staan en opfoeter nie!

En vandag is die eerste dag van die res van my lewe. En die stinkende hanswors sê ek moet prektis wat ek priets.  So this is it.

Ek gaan nie vandag my lessenaar skoonmaak nie. Ek het netnou my kerkkantoor gesms en gesê dat ek een van my baie opgehoopte dae verlof gaan neem. Ek het my selfoon gestel dat hy geen boodskappe neem nie.

Huisbesoek se tank is vol. Nou sit ek net en wonder: wat maak ek nou om ‘n heerlike dag te beleef, waar my gees weer by my liggaam kan uitkom. Nou net vir die drie mense wat daardie storie nog nie ken nie (die karwagte by die Blou Windpomp?) Toe David Livingstone so deur Afrika getrek het, het hy soos ‘n tipiese Engelse ontdekkingsreisiger die hele huis saamgeneem. En daarvoor het hy mos baie drakrag nodig gehad, en so het hy baie van die swart stamme se mense gehuur om sy porseleinborde en kristalglase en bottels luukse wyn, en sy drie trommels onderbroeke en vier trommels kouse… ens ens… te dra oral waar hy gaan. So nou en dan het oom Dawie bietjie haastig geraak, en die mense gedryf om dae aaneen baie ver te loop. En eendag toe gaan sit al sy portiere. En toe hy die tolk vra wat hulle so brom, toe sê hy hulle sit en wag vir hulle gees om weer hulle liggaam in te haal. Die tempo was so bietjie haastig na hulle Afrika sin.

Nou ja, ek sit ook en brom so bietjie, die tempo was so bietjie haastig vir my die afgelope ruk. Behalwe nou, grapjas Didi, dat ek mos eintlik net Sondae werk, en dan net vir ‘n uur, die helfte van die tyd nog met toe oë ook, het ek mos eintlik baie, baie tyd om op die blogs rond te lê. Behalwe nou dat die bloggery partykeer net ‘n manier is om vinnig weer perspektief te kry in die rondhardloop, en dat die afgelope drie weke elke dag meer as 10 ure se werk ingehou het, verlede naweek ingesluit.  So as grapjas Didi nie omgee nie, of as hy/sy/dit wel omgee, ek gee nie ‘n hel om nie, vat ek vandag by die OFF.

Ek is lus vir ‘n ent op Huisbesoek, dalk sal dit beter gaan as die laaste keer. Ek is lus vir Bose stad nommer 2- Gomorra. Ek vorder dalk net tot by die Kolonade, en is lus vir ‘n fliek. Dan is ek lus vir iets wat nie in ‘n franchise gemaak is om te eet nie. Spur burgers of Wacky Wednesday sal dit nou nie helemal doen vandag nie. Die enigste uitsondering is die Fruit & Veg in Zambesiweg- dis nou as ek nie na Woodlands Boulevard s’n toe verdwaal nie- The Food Connection- of wat noem hulle die goed?

Ek is lus om na nuwe motorfietse te gaan kyk. BMW.  Dalk selfs die Harley vir die oudag. Ek is lus om tweedehandse karre te kyk, dalk sien ek ‘n mooi Yaris tjieptjiep.

En ek is lus vir ‘n heerlike koffieshop.

So, geliefdes, ek sluit die preek af deur kortliks op te som:

1. Watter goeie movies wys op die oomblik?

2. Waar kan ek lekker eet in Gomorratswane?

3. Watter koffieshop beveel jy aan?

4. Kom jy saam koffie drink?

5. Enige ander voorstelle vir ‘n dag op my motorfiets wat ek mis op die oomblik?

 

Sterkte vir jou dag op kantoor!

AMEN

20 thoughts on “Vandag is die dag…

  1. Hierdie een is op litnet geskryf, waar grapjas Didi een van die trolle is wat alewig ietsie te sê het oor my “luukse lewe” of oor hoe min ek werk, … die arme mens kom in ‘n paar gedaantes voor en pop so nou en dan uit as die lewe te vervelig raak daar voor die Blou Windpomp.

    • Sê die tannie by die see met ‘n kwaai stem… 🙂
      Eintlik soek ek net so bietjie inligting- ek weet regtig nie wat wys op die oomblik nie, en dalk kry ek ‘n verwysing na ‘n koffieshop wat ek glad nie van weet nie. En dalk wil een van my blogmaatjies saam afvat en saam kom koffie drink…

  2. Volg maar net jou bike se voorwiel, ek glo jy gaan op die regte spot uitkom. Ek kom nie baie in Pretoorsland nie, maar hou nogal van daai Safari Garden Centre in Lynwoodweg. So regte rustige Oase met al die plante en watervalle ens. En daai restaurant se kos is nogal lekker ook!

  3. As ek nie gewerk het nie, het ek jou gejoin vir koffie. Links van die N1 met Zambezi afrit (na die ooste toe) is ‘n nuwe mall met stil flieks. En ‘n Rhapsody’s en ‘n Cubana. Daar is ook ‘n koffieshop: Koffieboon of iets.

Lewer kommentaar