Poıson Rally 2012 dag 1

Ek en my De Graaff vrıend was gısteroggend alreeds om 06h00 by sy wınkel. Ons moes nog dıe Topbox brackets versterk. Ek het so net na 8 ın dıe pad geval, en eers my skoonma gaan skrıkmaak waar sy vır haar gemeente pannekoek gebak het. Daarna op dıe Vıljoenskroon pad na Kroonstad gery.

Met dıe ınry het ek al dadelık gesıen: Kroonstad se burgemeester kan lekker lıeg. Dıe dude het vır ons verlede jaar verseker ons gaan hıerdıe jaar dıe paaıe nıe herken nıe, so mooı gaan hulle reggemaak wees. Hoe weet ‘n mens ‘n polıtıkus praat str*nt? Sy lıppe beweeg. Gıster het hulle so drıe pıenk sandgrafıes vol teer probeer ın een pothool gooı voor dıe ıngang van Kroonpark. Net om seker weer vanaand vır ons te vertel hulle het darem IETS probeer doen… Dıe pothole ın Kroonstad ıs lewensgevaarlık vır motorfıetse…

Ek was half 11 reeds op dıe terreın. En al klaar ıs staanplek ‘n probleem. Ek staan tussen dıe duwelltjıes drıe dagreıse van dıe naaste poepketel af. Toe ek daar aankom: nog ‘n lıgte rampıe. Ek ıs nog nıe gewoond aan dıe Boxer enjın nıe. En soos al dıe vorıge jare trek ek dadelık dıe veılıgheıdsbaadjıe uıt en hang dıt oor dıe “handlebar”. Soos met ou Huısbesoek. Reg bo-op dıe warm uıtlaatpyp! Nou ıs my baadjıe se zıp fubar. En dıe ou wat ons badges opwerk het net voor ek daar aangekom het sy laaste lang zıp op ıemand anders se baadjıe vasgewerk…

Daar ıs weer baıe mooı motorfıetse, ek sal fotos oplaaı as ek by dıe huıs kom. Daar ıs weer jong meısıes met mın kleertjıes wat shooters ın ınspuıtıngs verkoop (Jâgermeıster). Ek raak oud- dıe kınders lyk so mınderjarıg!

Lıttle Annıe het weer gısteraand gedans. Haar routıne het ın 2 jaar nıks verander nıe… Daar was ‘n ou wat net met sy mond ‘n hele dısko namaak dat jy nıe dıe verskıl kan hoor nıe- Boomboxıng ıs dıe verskynsel se naam glo. Daar was ‘n man enm ‘n vrou wat met vuur gespeel het op dıe verhoog, hulle was ınteressant maar het 20 mınute te lank met dıeselfde truuks aangehou.

Na 2 vroeë oggende en laat aande was ek ernstıg moeg. Ek het net na 10 gaan stort en ‘n slaappıl gedrınk. Dıe slaappıl was nıe genoeg om dıe ıdıote wat hulle motorfıetse vır ure aaneen ın dıe rooı Rev heeltemal uıt te sny nıe, veral nıe dıe een 10 meter van my tent af nıe. Hoe hou dıe enjıns dıt? En wanneer mag ‘n valveslap leı tot ‘n faceslap?

Dıe moeê en grumpy Donkıe uıt Kroonstad Spur- Vıva Unreal breakfast!

Aan die brand!

Ek is vanoggend sesuur by die huis weg, en het nou in Klerksdorp aangekom. Maar nie heeltemal veilig nie…

Ek het sulke tjiep tjiep panniersakke wat my al jare irriteer. Met groot gesukkel is hulle op die fiets vasgemaak.

Vanoggend op die bult net voor Petroport vrek die motorfiets se enjin net. Geen petrolliggie het aangekom nie… ‘N BMW kar vol swartmense stop by my. Oh-oh groot probleme, dink ek… Die een kom dringend na my toe aangestorm- vandag speel ek seker harp, dink ek. “Weet jy dat jy aan die brand is?” Vra hy benoud en wys my. Die linkerkantste paniersak het in die ry afgewikkel tot hy aan die uiaatpyp raak. Hy smeul nie net nie, hy BRAND! Vlamme! Ek maak so vinnig as wat ek kan los, en kyk… Al my netjiese nuwe golfhemde en kortbroeke is aan die brand! Alles in daardie panniersak is deur die jordaan. Ek het niks om dit mee te blus nie, los dit net daar langs die pad. Maak die res so op “n manier vas.

Raai wat? Toe alles weer veilig vas is, staart die BMW met die eerste druk van die knoppie. Ek stop by Petroport- daar is nog 3 liter petrol in gewees.

As ek aanhou ry het, het alles en dalk selfs ek aan die brand geraak. Hoe, vra ek, verklaar jy dit? Maar ekke weet…

Die Donkie ontmoet ‘n legende, en maak reg vir Poison Rally 2012

Lodie de Jager se nuutste foto op sy blog van hom en sy buurman Klaas.

Vandag was nou meer soos die lewe veronderstel was om te wees. Eers het ek by Binnelandse Sake twee huwelike geregistreer gekry in minder tyd as wat die Wimpy vat om ‘n mega koffie aanmekaar te slaan. Dit, liewe vriende, is ‘n wonderwerk!  Daarna het die Staatsaanklaer my pleidooi aanvaar vir die R500 verkeersboete en dit afgeskryf! (dit was regtig ‘n noodgeval om vinnig in Pretoria uit te kom!)

Maar dis nie die dinge wat vandag baie spesiaal gemaak het nie. Vandat ek Lodie de Jager se boek gelees het van sy epiese motorfietstog van Naboomspruit af tot in Duitsland, wou ek hom graag ontmoet. Hy bly immers net in die buurdorp, 42 km van ons af. (Sommige mal mense hardloop gereeld daardie afstand- iets van 42.2 km gemeng met Spreuke 28:1)

In elk geval, Lodie het in 2008 van Naboomspruit tot in Duitsland met ‘n Kawasaki KLR 650 gery, sonder enige borge van Kawasaki SA. Vanjaar het hy die Kawa tot in Berlyn gevlieg, en toe van daar af deur ‘n groot deel van Rusland en die Skandinawiese lande gery. Enkel en alleen. Sy blog is ook so lekker om te volg, omdat hy so intens lief is vir Afrika, en om interessante mense te ontmoet.

Vanoggend het 5 dae se verlof begin. Ek het na Naboom toe gery, en lekker by Lodie gaan Duitse koffie drink.  Daar was ook van Lodie se vriende, een van Naboom en een van Kairo af daar. Dit was nou die lekkerste kuier, met vier manne wat vir die Here en vir motorfietse lief is!  Ek kon ook aan die legendariese KLR wat al in Siberië was, vat!

Lodie is besig met ‘n ander “reis” op die oomblik. Daar is ‘n gewas uit sy hart verwyder twee weke gelede, en volgende week moet hy vir ‘n PET scan gaan om te kyk of die kanker versprei het.  Hy hanteer dit so positief, en het soveel goeie vriende wat hom ondersteun. Ons sal ook saam bid vir goeie nuus volgende week, en vir die pad van genesing wat voorlê! Dit was vanoggend vir my baie, baie lekker om so ‘n opbouende en positiewe kuier te beleef daar in Lodie se stukkie paradys!

Vanmiddag is ek besig om te pak. More oggend vroeg wil ek vertrek Klerksdorp toe, waar ‘n goeie vriend ‘n De Graaff uitlaatplek oopgemaak het. Hy gaan my help om my BMW se uitlaatpyp so effentjies aan te pas- klein bietjie meer geraas en klein bietjie meer spoed en krag… net so bietjie meer, oom Spietkop! Vrydagoggend gaan ek en die BMW na Kroonstad, waar ek my enigste jaarlikse rally weer bywoon- die derde Poison Rally in ‘n ry. Dis al wat ek by uitkom in ‘n jaar!  Ek het weer dringend my jaarlikse dosis van gewone mense nodig om al my varkies op hok te hou. Hou maar hierdie spasie dop…

Hospitale is nie lekker plekke nie!

Van kleins af ken ek hospitale. Ek is selfs in een gebore! Ek onthou dit nog soos gister… Donkerte, en toe lig. ‘N gemaskerde persoon wat my alie aan die brand slaam sonder dat ek iets verkeerd gedoen het…

My eie moeder was ‘n teatersuster, my ouma was ‘n suster. En ek kom baie gereeld in hospitale- ek doen siekebesoek as daar van my gemeentemense daar in nood is.

Self was ek na geboorte nog redelik geseënd om hospitale te vermy. Ek het nog alles waarmee ek ge-issue is- die enigste keer wat ek nog daar beland het, was toe my verstand in die vorm van tande uitgehaal is daar by die nonne in Groenkloof. Behalwe nou vir die ongelukkige voorval waar ek ‘n polisiewa met my 50 cc gekamikazi het in my 1e jaar op universiteit. Maar dis ‘n ander dag se storie…

Soos gesê- ek ken hospitale. Ek besoek dikwels mense daar. Ek kan dit baie goed doen, dink ek.

Behalwe as dit ‘n mens se eie kind is. My dogter het gisteraand in die Wilgers hospitaal geslaap. Haar bloeddruk hardloop skielik weg met haar. Dan word die rooikop BAIE bedonnerd! Ons weet nog nie wat fout is nie- ons sal netnou weer gaan hoor.

Dis nie lekker om nie te weet nie…

Jeremia vat die pad…

Vanoggend was ‘n heel historiese dag in my motorgeskiedenis.  Jeremia het vir die eerste keer in 18 jaar verder as 12 km gery!

Nie almal is ewe lief vir Jeremia nie. My een goeie vriend, wat ‘n uitstekende werktuigkundige is, sê sommer reguit vir my om daardie stuk kilo alfa kilo van sy perseel te verwyder, hy raak nie met ‘n tang aan een nie… Top Gear haat Jeremia en al sy broers ook baie. Hier is die grootste nagmerrie vir enige een wat vir Beetles lief is: The Beetle Drop… episode van Top Gear…

Jeremia het egter ‘n besondere plek in my hart. Want ek ken Jeremia al my hele bewuste lewe lank.

Toe ek 1 jaar oud was, het my Ouma Jeremia splinternuut, uit die boks uit gekoop. Jeremia is ‘n Volkswagen Beetle, 1968 model 1500. Daardie tyd was die prys R1/ cc. DWS nuwe prys was R1500 gewees!

VAndat ek my verstand het, ken ek al hierdie karretjie. Toe ek klein was, het ek agter in die dogbox gesit… kan dit nie meer dink dat EK daar sou inpas nie…  Ouma het vir Jeremia al een keer gerol ook soos alle goeie Beetles glo maar moet doen. Sy het met hom geleer bestuur en het een keer ‘n 90 grade draai volspoed probeer vat…  Die tegniese skool het hom glo as ‘n projek probeer regmaak. Vandaar die DIK lae body putty op hom.

Ouma het al ouer geword, en het in elk geval net een werkende oog gehad. Sy het die ander een verloor in ‘n ongelukkige voorval as ‘n suster tydens ‘n operasie. Sy het diabetes gehad en later het die werkende oog ook begin ingee. Daarom, toe ek in matriek kom, het sy besluit om nie meer Carletonville se onskuldige publiek te terroriseer nie, en het sy die Beetletjie vir my gegee.  Op daardie stadium het die Beetle net 34000 myl opgehad. My pa het ‘n km/u spoedmeter gekry, en die myle na km omgewerk en die odometer dienooreenkomstig aangepas. My pa was ‘n wyse man om dit te doen, anders het ek seker teen 60 myl/u oor elke spoedlokval in die dorp gery.

In my eerste jaar het ek Kovsies toe gery met hierdie Beetle. Dis waar sy naam Jeremia geword het- hy was ‘n Klaaglied om te  ry!

In my 2e jaar het moeder bekommerd geraak oor Beetles wat maklik rol en windgat studente (wie, ekke?? Ek studeer dan vir dominee…) Sy het vir my haar Passat Stasiewa gegee, en self net tussen die huis en die hospitaal gependel met Jeremia.

Toe my pa in 1993 oorlede is, het my ma weer die Beetle vir my teruggegee. Ek het k0rt daarna my eerste beroep gekry. Vir jare het Jeremia gestaan. Hpoekom? Daar was vir jare net nie geld om ‘n nuwe battery te koop nie. Vir baie jare het Jeremia buite in son en wind en weer gestaan, van sy eerste dag af. Vyf jaar gelede het ons na die ander pastorie van die kerk toe getrek. Vir die eerste keer was daar ‘n afdak vir Jeremia.

NA my dogter se kar amper gesteel is, het ek begin bekommerd raak oor die veiligheid van ‘n Corolla- niks fout met die kar nie, maar elke (paar vieslike vloekwoorde…) dief wil hom ook hê. En vir wat die versekering aanbied vir die Corolla kan ‘n mens niks koop nie. Maar daar is nog ou Jeremia.

Die ontvanger van Inkomste was ook vir ‘n slag so effens vriendeliker met sy terugbetaling van my reistoelaag belasting.

Nou wil ek graag by jou weet- watter ander kar wat vir jare staan, sit jy ‘n nuwe battery in, gooi ‘n koppie petrol in sy carborettor (sorry Riaan Cruywagen!) en staart hom?

Ek moes die seëls op die enjin laat vervang, hulle was klaar van die staan. Die voorste wielbearings was klaar, en kingpins en linkpins wat nooit olie gekry het nie, was ook nie lekker nie…

Ek het die talle roeskolle met daardie Rustop produk geverf wat so verbind met die roes om ‘n swart onderlaag te maak. Ek het op die internet iets opgelees oor glasvesel werk om die gat in die bestuurdersdeur reg te maak.

VAnoggend was die groot oggend. Ek het kerk gebank, want ek het ‘n GROOT bekommernis in my gesin, wat ek dalk eendag iets oor sal sê… Ek het toe besluit om ‘n roadtrip te vat om my kop skoon te kry.

Soos gesê: VAnoggend was die eerste keer wat Jeremia in 18 jaar verder as 18 km gery het- ek het 90 km gery sonder voorval.

Hier is Jeremia in al sy glorie vanoggend:

https://lh4.googleusercontent.com/-Rx7k3nYhKao/ULsfbp5KayI/AAAAAAAABmM/IyXVsT_TNok/s640/IMG_0264.JPG

Peet se PAdstal is net so 10 km buite Warmbad op die Thabazimbi pad…

https://lh6.googleusercontent.com/-449ygIm4fZ8/ULsfh-37s6I/AAAAAAAABmU/iNCz8cj7XR0/s640/IMG_0265.JPG

Die bande is nog ‘n probleempie- ‘n mens kry nie meer 155/15 bande nie…  Ek het vroeër in die jaar 4 14duim Rostyle rims gekoop, maar het nie nou al geld vir die buitebande wat nodig is nie.

Ek wil nie die kar te mooi maak nie, vir ingeval my dogter met hom sal moet in Pretoria rondry. Ek wil hom net meganies 100% hê, maar buite kan hy maar so lelik bly lyk, solank die roes gestop is…

Om mee af te sluit: Ek het darem vanoggend ‘n baie interessante “special” op ‘n taxi raakgesien! Ek het ongelukkig nie ‘n nommer as een van julle dalk graag wil gebruik maak van die aanbod nie!

https://lh4.googleusercontent.com/-WBzvCmFyf50/ULsfmh4yGCI/AAAAAAAABmc/vndGls3slig/s640/IMG_0263.JPG

Skoollied vir Hoërskool Warmwater

Ek sien vanoggend op Volksblad se Twitter dat Steve Hofmeyr ‘n skoollied vir ‘n nuwe Hoërskool, Vereeniging-Gimnasium, geskryf het. Hierdie skool is ‘n nuwe samestelling van Hoërskool Vereeniging en die Hoër Tegniese Skool Vereeniging , wat in 2013 begin met nuwe skooldrag, -wapen en -lied.  Die inhoud van die nuwe skoollied het my skoon verstom!

Nuwe skoollied

1. Ken ons aan die vrugte van
Bravade in ons tyd van nood
Waar in U arms aan U boesem
Elke sterfling steeds behoort
Ken ons aan die breek van brood
Ken ons aan ons taal ons woord
Gee dat as ons opkyk Heer
Hierdie dak ons doel verwoord
Ons strewe na sukses gehoor!

2. Plant in my O God die saad wat
Wortel skiet in U Genade
U Lelieblom wat skadu gooi
Oor harde werk en goeie daad
Ken ons aan ons erfenis
Twee spore vêr wat loop tot hier
Ken ons aan dié kentenis
Ons toekoms steeds deur U bestier
Ons strewe na Sukses gevier – S. Hofmeyr

Respek, Steve! Die man het darem net ‘n wonderlike talent met woorde en note!

_____________________________________

Nou kyk, ek is geen Steve Hofmeyr nie, nie naastenby nie. Ek het maar gedink wat sou gebeur as twee buurdorpe se skole sou saamsmelt. En sê nou maar hulle vra my as die onpartydige donkie om hulle nuwe skoollied te skryf? Sou ek dit kon doen?

Hier is nog maar ‘n eerste, vinnige draft van die voorstel- voorstelle vir verbetering is altyd werkom!

Skoollied vir Hoërskool Warmwater:

Hier op onse skool se heilige grond,
loop daar van die mooiste girlkies rond,
behandel hulle altyd met respek
anders gaan aasvoëls aan jou bene lek…

Op die sportvelde is ons baie gedug.
behalwe as ons nou en dan vir Nylstroom vlug,
In ons rugbykouse is daar die spanner van ‘n lorry,
in die kleedkamers later sê ons net- sorry…

Ons het wel gehoor van akademie en boeke.
onse opinie is: dis vir papbroeke,
wiskunde en wetenskap maak ons nervous
veral as Blackberry sê: no service…

Playstation en X-Box ken ons goed, en Wii,
Pythagoras en Homeros en Shakespeare nie.
facebook en twitter en whatsapp het ons bemeester,
Skyfall se temalied het ons begeester

So wanneer word ek eendag 18 pa,
ek wil gaan kar oppas saam met ma,
terwyl ek droom van my eerste gaar ou Ford,
en sal wonder wat het van my lewe geword…

Ons sal lewe, ons sal sterwe, ons vir jou, Suid Afrika…

http://googlefizz.com/wallpaper/funny-beggar-cartoon-jokes-funny-jokes/

Death by Koeksister… sorry Riaan Cruywagen…

As daar nou een “professional hazard” (sorry Riaan Cruywagen) in my lewe is, is dit melktert. En koeksisters.  En kondensmelkhorintjies. En klein vleispastytjies.

Toe ek by Yskor gewerk het, was dit gesmelte staal wat in die hoogoond kan rondvlieg. Toe ek bus bestuur het, was dit minibus-taxis (noudat ek daaraan dink, dis nog steeds onder die top 3 euwels van alle tye, naby Hitler en Malema rond…) Golfspelers kry golfelmboog. Fietsryers breek sleutelbene. Rugbyspelers kry blomkoolore. Sokkerspelers kry “grassburns” (sorry Riaan Cruywagen…) op hulle onderlip.  Elke beroep het maar sy beserings.

Ek het nog net 101 dae voor die Argus van 2013. Soos my ex-held, die ex-legende (sorry Riaan Cruywagen…) Spuitnaald Armstrong gesê het by soveel onderhoude en oefensessies, en in sy fiksie- “It’ s not about the Bike’- as jy vinniger wil ry, spuit EPO. Of nee, hy het iets gesê soos: verloor gewig. My wetenskap onderwyser het iets gesê soos: Momentum= massa X snelheid. Dit maak dat ek BAIE vinnig op afdraandes is, maar nie so vinnig op opdraandes nie, dan is die momentum agtertoe. Ek wil so graag 20 kg verloor en kyk watter verskil dit maak aan my tyd op die Argus.

Maar nee, die gemeentetannies het besluit ek moet soos die vetgemaakte kalf lyk hier voor Kersfees. Ek kry net nie vrede in my jong onskuldige gemoed nie. Ek droom al daarvan dat daar ‘n reuse koeksister is wat my in ‘n koeksistergreep vasvang, en die lewe uit my uitwurg.

Kom ons neem net die afgelope 24 uur as voorbeeld. Gister het ek en my geliefde Bybelstudiegroep ons weeklikse Bybelstudiesessie vir die jaar afgesluit. Ons werk lekker saam, vers vir vers, deur die Johannes evangelie. Nadat ons saam vir Lasarus opgewek het in hoofstuk 11, het die dames die kombuis se luike oopgegooi. Almal wat in die 2e helfte van die jaar verjaar, het ‘n bordjie eetgoed saamgebring. Melkterte. Tjoklitkoeke (sorry Riaan Cruywagen…!) Kondensmelk horingkies. Koeksisters. Aspersieterte. En verskillende vleispastytjies. Al daardie goed wat Tannie Marie Rooihol van Weighless so woes teen waarsku…  Hoe kan die dominee nou die tannies se hart breek en nee sê? Hulle het dan met soveel moeite en liefde die heerlike eetgoedjies gemaak.

Gistermiddag bring die een baasbakster vir my ‘n fantastiese tjoklitkoek (sorry Riaan Cruywagen…!) om met my kinders te deel. Pragtige kleur, regte voggehalte. En karamel kondensmelk vir versiering bo-op… hoe sê dominee nou nee vir so ‘n wonderlike geskenk?

Vanoggend bid ek en Kollega en jongkollega saam, soos elke Woensdagoggend. VAnoggend is dit by my huis. Ongelukkig is daar net Ricoffy om aan te bied. Gelukkig is daar ‘n stukkie tjoklitkoek (ag deal with it, Riaan Cruywagen, ek het in ‘n industriele dorp grootgeword waar ons gedonder is as ons ons taal suiwer hou, en ek is aandagafleibaar.) Waar was ons nou weer? O ja, vanoggend se koek en tee. Om agt.

Nege uur het ons ons voedingskema afgesluit vir die jaar. Die dames nooi al die dominees om ook daar te wees. Gevleuelde woorde van dank word uitgespreek. Daarna word die kombuis se luike oopgegooi: Melktert en tjoklitkoek… Met soveel liefde gebak vir die Dominees- hoe sê ‘n man dan nee?

Daarna ry ek en kollega op ons motorfietse na die buurdorp toe om ‘n mikrofoon vir ons gemeente te gaan haal wat herstel is. Ons val by ‘n kollega se huis in vir koffie. Hy het so pas sy Bybelstudie afsluiting gehad. Die koffie kom. Met ‘n bordjie van: een skon met room en konfyt, een stuk melktert, een stuk tjoklitkoek, en een kolwyntjie. Hoe sê ‘n mens nee as kollega dit saam met sulke wonderlike moerkoffie opdis?

Dis net die afgelope 24 uur se werksverwante beserings…

Dink nou aan ‘n normale week se huisbesoek op die platteland, waar die dames kompeteer om te kyk wie kan die mooiste koeksisters bak vir Dominee se koms…

Hoe op aarde gaan ek 20 kilogram ooit verloor voor die Argus?  En ons het nog nie eers begin met die Kersseisoen nie…

Foto: thecoocoocook.blogspot.com

Die lang, lang pad na Suikerbossie toe…

Oor 103 dae spring ons weg op my 19e Argus. 10 Maart 2013. Waarskynlik rondom 08h25.   103 Dae om van totaal onfiks (alweer!) tot by oorleef-fiks te wees vir daardie oomblik wanneer ‘n mens bo-oor Suikerbossie gaan- dan het jy dit darem gewoonlik gemaak, behalwe as die Suidooster wreed is, of iemand in jou voorwiel vasry en jy lê en bloei voor al die Supermodelle in Kampsbaai se koffieshops… (gelukkig nog nie met my gebeur nie, halleluja- ek het met groot genade al 18 klaargemaak- nog net 1 val, 1 puncture, 1 gebarsde wiel – alles drie jaar gelede met die 120 km/h Suidooster…)

So saal ek vanoggend weer my ou Trek 800 Trail Bergfiets op. Ek het eenkeer die fout gemaak om hom te weeg- 19 kg. Dit is gelykstaande aan ‘n Centurion Tank by Pantserskool- vra maar my neef die Sammajoor daar, hy sal vir jou kan sê dis waar!

My Argus fiets, ‘n Schwinn Fastback, waarop ek bergfiets stuurstang en sagte bergfietssaal gesit het, se voorwiel is nog steeds net so uit die raam uit soos daardie dag by die Waterfront toe ek Argus 2012 klaargemaak het- hy staan nog onder die stof in die spaarkamer.

En ekke? Tim Noakes het altyd gesê die rus is net so belangrik soos die oefen in ‘n mens se program. So ek het van 12 Maart af gerus. Ek vermoed dit was alweer bietjie lank. Die bier was te lekker, veral in my nuwe bierbeker. Die winterkossies was te lekker. Ek lyk nou soos die vetgemaakte kalf vir die kersfeesete.  So my suidpool en die fiets se saal geniet mekaar glad nie. Opdraandes is nag. Afdraandes is hemels. Ek hyg en syg soos ‘n ou stoomlokomotief. Ek sien visioene van geopende hemelpoorte, ek hoor harpmusiek en sien engele langs die pad… Ek het nou hoofpyn en hoes al te lekker na vanoggend se 20 km.

Elke jaar dreig ek myself. Hoe kan ‘n mens ‘n Argus se fiksheid net so weggooi? Hou aan oefen, al is dit net 20 km per dag so 3 keer ‘n week. Skryf in vir die 94.7. Maar nee- elke jaar pik die luislang my net na die Argus.  Dis nie lekker om onfiks te wees nie… ek verstaan dit glad nie. En dan kry ek weer daardie Deja Vu gevoel van hoe Suikerbossie ‘n mens kan seermaak as die temperatuur anderkant 40 grade is, en ‘n mens nie asem kry nie. Daardie aanhoudende pyn van elke trap. Die hertverskeurende bordjie met die koffiebeker op wat  se dat jy nou eers halfpad is.

Ja, hier lê ‘n lang, lang 103 dae voor! Intussen is daar ook nog ‘n Poison Rally en ‘n week by die see om na uit te sien- nog verlore tyd vir die fiets…

Maar daar is niks, maar niks (behalwe nou een ding) wat daardie biertjie by  Ferrymans op die Waterfront wen as ek hier rondom 5 ure in die saal daar aankom nie!

Die Storie van my bierbeker…

Die een program wat ek en my seuns baie geniet, is “How it’s made” op Discovery.

So ‘n twee maande gelede sit ons en kyk. Die volgende oomblik wys hulle hoe hierdie maatskappy in Engeland glasbodem pewter bierbekers maak. Ek onthou hierdie tipe bekers uit my weermagdae. In die Geniekorps (dalk in baie ander eenhede ook?) het elke offisier so ‘n  beker in die Offisiersmenasie gehad. Die tradisie was dat wanneer ‘n offisier gesneuwel het, dan het die ander na sy militere begrafnis uit sy beker ‘n ronde gedrink. Daarna is die glasbodem stukkend geslaan, en onderstebo in die offisiersmenasie se dak opgehang om hom te onthou.  As dienspligkapelaan het ek nie so ‘n beker gehad en deel gewees van die tradisie nie.

Dit was baie interessant om te sien hoe hulle die bekers maak. En dit het my so lus gemaak om spesifiek hierdie bierbeker te besit. “The King’s Shilling” beker…

Die ontstaansgeskiedenis daarvan is baie interessant. Tot seker nie te baie lank gelede nie, het die Engelse koning maar gereeld manne gesoek om in sy weermagte en vloot te dien. Maar die manne wou nie altyd vrywillig dit doen nie. Veral nie in die Vloot nie, waar manne vir maande en selfs jare aanmekaar van die huis af kon weg wees.  Toe het die koning, of sy skylie maatjies hierdie plan ontwerp. Die manne sit mos maar graag en drink in die Pubs van Engeland. Hulle het toe die gemene manier ontwikkel om ‘n Shilling in ‘n man se bierbeker te gooi. Wanneer hy dan sy bier in ontvangs neem, en lekker drink, dan kom hy skielik op die Shilling af in sy bier. Sonder dat hy dit dan weet, het hy die koning se shilling aanvaar- hy het mos daarmee JA gesê vir diens aan die koning se vloot. Iemand was naby om dit raak te sien, en hom te betrap waar hy die koning se muntstuk aanvaar het.  So is duisende manne ge”press-gang” in die vloot in- heeltemal teen hulle sin.

Dis waar die glasbodem bierbekers onstaan het. Iemand wat ‘n biertjie drink, moes dadelik kon sien of daar meer as bier op pad na hom toe is. ‘n Baie belangrike veiligheidsmaatreël om jou teen die koning te beskerm!

Om hierdie tradisie te onthou, het die vervaardigers van hierdie beker  ‘n dubbel glasbodem ingesit, met ‘n regte Britse Shilling in die middel. My Shilling is een van Tannie Bets se pappie s’n, wat uit 1947 uit kom.

My sussie het uit Engeland vir ons kom kuier verlede week. Ons het gesien aflewering is gratis in die UK, en daarom mooi by haar gepleit om vir ons te bestel. Ons is nou ek en my goeie vriend Thomas. Ons het nou albei so ‘n beker, wat seker vir die res van ons lewens vir ons moutsappies op ‘n stylvolle manier gaan voorsien. Gelukkig is my kinders nou (hopelik!!!) verby die fase wat hulle die bodem met ‘n hamer stukkend wil slaan om die muntstuk van naderby te sien!

My beker hou ‘n bier verbasend koud. Dit het nie lood in nie, en is dus heeltemal veilig vir menslike gebruik…

Sover my storie in halftyd in die wedstryd tussen die Bokke en Engeland. Nigel Owens irriteer my baie, maar die Windhoek Light is lekker koud…

[En ja, ek het verseker my lewe aan die Koning weggeteken… 🙂 ]