Die vreugde in ons lewens

In ons Pastorie is die een vreugde wat die meeste van ons deel:

Elkeen het sy eie plek en sy eie doel, elkeen voel soos ‘n kind in die huis. Gister het iemand ‘n aanbod op Huisbesoek gemaak (middel) maar ek weet nog nie hoe ek dit oor my hart gaan kry nie, eers as geldsake BAIE druk sal dit seker op die tafel kom.  Maar nou ja, seun se scooter voor is altyd onderhandelbaar, hy wil so graag ‘n motorfiets motorfiets hê.

Ek is sover baie gelukkig met my nuwe ou BMW. Ek was Donderdag stad toe vir die legitimasie van die teologiese studente. Dis die geleentheid waar hulle na 6 jaar se studie uiteindelik klaar maak, en die kerk sê hulle mag nou maar dominees word.

Die motorfiets ry soos ‘n droom op die oop pad, maar ek dink ek moet nog die Boxer enjin gewoond raak, met al sy unieke klanke. Wanneer is dit normaal, en wanneer raas die kleppe?  Die ander aspek wat ek baie tevrede mee is, is brandstofverbruik. Ek het plek plek 140 gery, en baie in die stad rondgery. Toe ek brandstof ingooi om terug huis toe te gaan, was die verbruik 11.78 liter vir 240 km.   Daarmee kan ek saamleef!  Die fiets voel stamperig met ‘n passasier op, ek het nog nie na die skokbreker stellings gekyk nie, hoop nie hulle is klaar nie, want dis glo baie duur om te vervang.

Die afgelope twee dae was ongelooflik warm op die motorfiets, en vandag dreig die reën. Ek bly lus vir die oop pad!

Watter land sit sy helde in die tronk en los sy misdadigers op straat?

Baie maklik, maar toe nou nie hierdie keer nie! Nee, dis nie Suid Afrika nie.

Geval 1:  Sersant Danny Nightingale van die SAS.

Hy het ‘n Glock pistool by die Irakse weermag gekry om dankie te sê vir uitstaande diens. Maar handwapens is onwettig in Brittanje. So nou sit hy in die tronk.  Lees die storie hier… http://www.telegraph.co.uk/news/9669051/SAS-war-hero-betrayed-by-the-Army-says-wife.html

Geval 2- Abu Qatada van Al Kaïda- op straat losgelaat- die hele BBC is op die oomblik vol daarvan! Daar is nie twyfel dat hy Al Kaida bande het en bose plannetjies beraam teen die UK nie, hy was glo ook al stout in Amerika, en hulle wil hom graag spreek. Die hof in Engeland het egter besluit Aikona, hy het ook menseregte… hy is net onder huisarres, hy mag nou nie meer aan die VSA uitgelewer word om verhoor te word vir sy planne nie… lees meer daarvan hier: http://www.bbc.co.uk/news/uk-20295754

Wie sit in die tronk, en wie is op straat? Hoe verstaan ‘n mens hierdie wêreld deesdae?

Ek verstaan die Engelse nie meer mooi nie!?  Soos my held Asterix al amper 2000 jaar terug gesê het: “These Britons are Crazy!”

Daar is besondere kreatiewe mense in hierdie wêreld!

Vrydagaand was daar ‘n kompetisie van die distrik se Blommerangskikkings vereniging in ons kerkgebou. Die ooreenkoms met hulle is dat hulle dit dan tot Sondag los dat ons gemeentelede dit ook kan geniet.

Een van die rangskikkings het dadelik my aandag getrek. Iemand het ‘n DONKIE gemaak! Van stukke Bosveldhout. Daar is geen kwas en verf gebruik nie, dis alles die natuurlike vorms en skakerings van die hout. Daar is net so bietjie regte donkiehare bo vasgemaak. Dit was nou vir my, en baie van die gemeentelede wat na kerk van naby gaan kyk het, iets regtig unieks en besonders!  Ekskuus vir die slegte fokus en beligting, dis maar die BB wat so sukkel, ek dra gewoonlik nie een van my Canons saam kerk toe nie!  Net sodat julle die idee kan kry!

En sy ou gesiggie van naderby:

Ek weet nie wie die kunstenaar was nie.

Maar ek wil net sê: die Donkie is ‘n wonderlike ding!

 

Drome en Nagmerries…

Kom ons begin eers met die positiewe- een van my groot drome in die lewe het hierdie week waar geword. Baie gaan lag daarvoor, en op litnet sou ‘n sekere “dame” nou weer baie te sê gehad het daaroor. Dominees wat die gemeente se geld so mors en al derglike dinge…

Ek het uiteindelik vir my ‘n BMW motorfiets aangeskaf. Ek droom al jare en jare en jare daaroor. Myne is nou wel ‘n ou een- 2000 model, maar dis al wat ek wou gehad het- ‘n BMW met ‘n Boxer enjin waarmee ek lang pad kan ry.

So lyk die nuwe Duitse Madchen in my lewe: ‘n R 850 R

Ek sien baie uit na vanjaar se Poison Rally, dat ek en sy die pad kan vat!

Maar saam met elke droom kry ek ongelukkig ‘n nagmerrie by. Hoekom moet die lewe altyd so uitwerk? Maandag koop ek die Motorfiets. Woensdag probeer skelms my dogter se kar in Brooklyn steel. Gelukkig het hulle dit nie reggekry nie. Maar hulle het die deurslot gebreek. En die hele ignition gebreek. En die paneelkassie. In elke nagmerrie is daar seker ook hoop- ek is so dankbaar vir Plaasjapie wat al die pad soontoe gery het om my te help terwyl ek nie kon stad toe ry nie- ek moes ‘n kerkraadsvergadering lei.

Die bevinding is: daar is meer as net ‘n “universal ignition” nodig- en die betrokke Toyota part is R2800…  Ek het die kar vanoggend hier gekry, nou sal ek in die week moet kyk hoe op aarde maak ‘n mens hom reg…

Vrydag is ek en Pastoriemoeder deur stad toe om die motorfiets te gaan haal. Vir die eerste keer in jare kry ons kans om te gaan fliek sonder die kinders. En ons het die fliek baie geniet- Hope Springs of so iets- van Meryl Streep en Tommy Lee Jones as ou getroudes met ‘n vervelige huwelik. Die twee is darem net uitstekende akteurs, en ons het die fliek baie geniet.

Maar in die fliek kry ons ‘n BBM van ons oudste seun (16) af. Hy was by ‘n vriend se 16e verjaardagpartytjie by ‘n skool se lapa.  Een van die 19 jariges het ook daar aangekom. Hy het in die swembad ingeduik, in die vlak kant. Hy het sy nek gebreek op die swembad se bodem, en verdrink voor hulle oë.  Hulle het eers gedink hy maak ‘n grap, en toe ingeduik om hom uit te haal.  Hulle het noodhulp probeer, en die ambulans was redelik vinnig op die toneel.  Maar die nuus het later deurgekom dat die jong man oorlede is.  Wat ‘n aaklige ervaring vir die seun se ouers, en vir ons gemeenskap!  Dis so sleg as jongmense so skielik doodgaan!

Die lewe is tans so baie op en af, dat ek sukkel om al die varkies op hok te kry.  Ek sal maar more die nuwe motorfiets gaan ry, en kyk of ek hom deur die toets kan kry sonder te veel trane. Daarna gaan ek net ry en ry en ry tot die son sak in die weste…

die Jollie Jik en Vingers in vishoeke verander…

My naasteliefde het gister rock bottom geslaan… Die mooi goeters wat ek Sondag vir Sondag van die kansel af probeer sè is nou ernstig in vertwyfeling. Want ek is die bliksem in. En ek wil so graag twee gepigmenteerde here in ‘n silwer karretjie èrens in Brooklyn raakloop en hulle gesigte herrangskik sodat hulle ook beter kan sien, my kind.

My dogter studeer by een van die duurste moontlike plekke in die land. Nie oor ons grend probeer wees nie, maar oor dit die enigste plek was wat haar ‘n geleentheid wou gee. Met vier onderskeidings en twee Bks was sy mos nie goed genoeg vir die PUK nie. Soos elke Kovsie weet is die Puk in elk geval… Kom ons laat dit maar daar…

Die plek waar my kind bly, is 8 km van haar kampus af. Hulle is so klein hulle het nie koshuise nie. Soms moet die donkiemerrie met groot kunswerke klas toe gaan- ek kon nie vir haar net ‘n scooter gee nie. Ek wou betroubare wiele vir haar gee- haar ma se Corolla 1997 model. Ou lesers ken die trauma van sy wat daardie kar om ‘n splinternuwe Jetta gevou het op my verjaarsdag. Die kar was afgeskryf. Dit was ‘n helse stryd om die wrak by die versekering te koop, by scrapyards rond te hang, en die kar met groot moeite weer rybaar te maak.

Al hierdie dinge het veroorsaak dat ons op ‘n krans se afgrond loop wat ons geldsake aanbetref_ om vir ons kind ‘n toekoms te probeer gee.

Gistermiddag was my dogter by ‘n vriendin se huis reg agter Waterkloof N.G Kerk- hulle moet ‘n klomp praktiese werk inhandig vir eksamen.

Sipho en Vusi ry in hulle silwer karretjie daar in Brooklyn rond. Vandag gaan hulle weer die Whiteys ‘n ding wys. Hoekom mag ander so ryk wees en hulle so arm? Hulle het dan ook ‘n GG vir houtwerk gekry, nes Comrade Joelijas. Hulle wil ook in smart huise bly… Nes hy en die vader van die nasie…

Jojojo- kyk daardie wit Corolla! Kom ons vat hom, Whitey is mos ryk, hy sal mos maklik ‘n ander een kan koop. Hulle stop agter die corolla. En binne sekondes het hulle die deur oopgemaak met ‘n slimjim. Hulle probeer hom hotwire, maar daar is ‘n skelm skakelaar wat hulle nie van weet nie, uit frustrasie donder hulle die hele ignition housing op. Met hierdie geraas sien die bure se tuinwerker hullle- en hulle jaag weg.

Nou bel my kind my. Maar ek kan nie deurjaag stad toe nie, ek moet oor drie ure ‘n kerkraadsvergadering lei. Ek sit die nood op facebook. En Plasie ry al die pad van Pta Noord af om te haan help- ek waardeer dit BAIE, vriend! Intussen het die Polisie my dogter gehelp om die kar te hotwire sodat sy huis toe kan ry. Sy is geskok en die woorde vlieg tussen pa en dogter. Plasie vind haar blyplek, en kyk na die skade. Ons het gehoop vir ‘n tjiep universal ignition maar nee- alles is so opgef…oeter dat daar nou Toyota parte nodig gaan wees om alles in die stuurkolom bymekaar te hou. Duisende rande skade.

Ek kan nie voor Maandag stad toe gaan om te kyk of ek dalk tweedehandse parte teen 2/3 van die reuse prys kan kry nie. Ek is woes gefrustreerd daarmee, maar vanaand het ek alweer ‘n belangrike kursus wat ek deeglik voor moet voorberei.

Liewe Vusi en Sipho- my dogter dink ek is ‘n poepol omdat ek ‘n oplossing probeer soek van ver af. Die kar kan nou met ‘n skroewedraaier gestaart word deur enife iemand wat net die venster breek. Daar is nie geld vir ‘n ander kar nie. Julle het ook nou my bietjie geld vir ‘n moontlike vakansie gesteel. Ek is diep omgekrap, em dan raak my vrou moeilik met my oor die dominee nie net kan glo alles sal reg uitwerk nie.

So liewe Vusi en Sipho- in die gees van christelike naasteliefde- mag julle in interessante tye lewe. Mag die vlooie van ‘n duisend kamele in julle armholtes nes maak, mag julle skrotums vir ewig begin jeuk en julle vingers in vishoeke verander. Sela.

‘n Mooi feesseisoen word alle kriminele toegewens, soos in hier onder…

Spieëltjie spieëltjie aan die wand, wie is die hêppieste diertjie in die land?

Die BBC se berig het dadelik my aandag getrek: Donkey’s stage and screen life story told in new book…

Ek het dadelik gewonder of my lewensverhaal uiteindelik iemand geïnspireer het…  Maar nee, nog nie… dit was toe die verhaal van ‘n verlangse familielid- Polyanna. So lyk die niggie…

Ek is altyd dankbaar as ‘n donkie iewers ‘n beter lewe

Polyanna net buite die Royal Opera Theatre vir haar optrede in CArmen- http://news.bbcimg.co.uk/media/images/63887000/jpg/_63887860_roh.jpg

gevind het, en toe uiteindelik die Salamifabriek ontsnap het!  Haar lewe was eers gekenmerk deur mishandeling, dit was amper so erg soos om ‘n Bosvelddonkie voor ‘n gehawende donkiekarretjie te wees wanneer sy baas pay gekry het, en sy tswala in die dorp gaan koop het. Dis nie so lekker om die hele dag lank gedon… slaan te word omdat die baas sjukkel om reguit te ry nie…

Om in die Royal Opera Theatre in Carmen te speel, is natuurlik ‘n fantastiese prestasie vir ‘n nederige donkie- sy verdien haar boek! Ek hoop dit word ‘n topverkoper. Hulle kyk amper so mooi na haar deesdae soos daardie wonderlike mense by Eseltjiesrus by MacGregor na die res van my familie kyk…

‘n Donkie het maar ‘n hondelewe… Seker nie die hêppieste dier nie. Hulle het dan altyd lang gesigte! Maar ek dink ek het vanoggend met my eie oge gesien hoe die gelukkigste dier op aarde lyk. My jongste se vriend se ouers het vanoggend ‘n fantastiese produksieveiling op hulle Brahmaankudde gehad net buite Warmbad. Dit was nou weer iets lekkers en anders om by te woon as Bulletjierugby.  Hierdie lyne van Brahmane is regtig groot, en baie mooi beeste. Ek het as dorpsjapie nie geweet dat daar mense gaan wees wat sommer R90 000 uithaal vir ‘n dragtige koei, wat deur die regte stoetbul gedek is nie.  Daar was ie mooiste kalfies saam met hulle koeimoeders  verkoop, die jongste een is vanoggend in die vendusiekrale gebore. Nee, nie een van hierdie diere is nou al op pad biltongrakke toe nie.

Die hoogtepunt van die dag was vir my die opveil van die kampioenbul- Ou Petrus. En Petrus het my woes verbaas. Ek dog Brahmane is altyd demonies besete van woedendgeit vir alles wat kan beweeg. Toe nou nie. Jongste se vriend ry sommer op Petrus se rug die vendusiering binne…

Uiteindelik is Petrus toe vir R 400  000 van die hand gesit…  En sy “strooitjies” vir R2000 elk verkoop…

Dis dalk die lekkerste lewe vir ‘n dier- om ‘n R 400 000 Brahmaan stoetbul te kan wees (Nee, ek was nie self by daardie veiling waar ‘n Buffelbul sonder TB vir R42 miljoen verkoop is nie…) Maar ek verstaan nie mooi nie, die bul kom nie by die koeie nie, klink dit vir my… daar is ‘n veearts en ‘n strooitjie betrokke… dit leer hulle glo by Onderstebopoort…

Wie is ek? Is ek nou net ‘n verwaarloosde donkiereun, is ek dalk ‘n gewaardeerde Stoetbul? Of dalk net ‘n mens wat more moet waag om te preek oor die Seun van God wat na ‘n skare gekyk en hulle innig jammer gekry het oor hulle soos skape sonder ‘n herder was (Matt 9:35)  Een wat Saterdagmiddag half vyf nog nie ‘n preek gereed het nie?

Ou Brêg- gat!

My eie foto vir ‘n slag!

Ons het die naweek bietjie gemeentekamp gehou by Klein Paradys net buite Nylstroom.  Hierdie Pou het ons gegroet toe ons Sondagoggend ons aanbiddingsdiens gehou het.

Baie lekker gekamp, maar dit het BAIE gereën. Dit was ‘n goeie ding, want toe het die gemeentemense nodig gehad om by mekaar in die karavane en tente te kuier. Nuwe vriendskappe is gebou, in enkele gevalle het buurmanne mekaar vir die eerste keer leer ken.

Ek het net tot my skok agtergekom dat my ou Jurgens Manjefiek B karavaan deesdae ‘n binneshuise stort het. Net langs die bed.

In die baie reën het my laptop se kragkabel ook in diep water beland. Die rook het uit die transformertjie gekom. In ons dorp is ‘n nuwe een onverkrygbaar. Gelukkig het Ellies ‘n baie oulike Universal Laptop Power Adaptor. Ongelukkig maak hulle hom nie meer nie. Gelukkig leen gemeentelede toe vir my een, en nou werk my laptoppie weer. Ongelukkig moet ek hierdie adaptor weer teruggee…

Die kamp was baie lekker. Nou is dit weer voluit aan die gang om die jaar se werk klaar te maak. Baie, baie besige tye soos julle kan sien aan die frekwensie van my blog…

 

So baie mense, so baie stories…

Ek is op die oomblik weer besig met ‘n woeste vlaag van huisbesoek.  Nee, ongelukkig nie Huisbesoek nie (my motorfiets se naam- vir nuwe lesers… dan kan my vrou eerlik sê “Hy is uit op Huisbesoek…”)

Ek is seker nie ‘n goeie huisbesoekende dominee nie. Ek kom nie met elke besoek uit by daardie diep gesprekke oor die gereddenheid van mense se siele nie. Ek kry dit nie goed reg om die broer en suster aan te spreek oor gebrekkige kerkbywoning nie. Om die waarheid te sê, ek kry dit nie eers reg om meestal diep dinge te sê wat mense se lewens radikaal verander nie.

Dis nie vir my lekker om huisbesoek te doen om huisbesoek te doen nie. Kom ek verduidelik daardie ene- ek stel regtig nie belang in hoeveel huise ek besoek het wat op die lidmaatregister van die gemeente is nie. Dit gaan nie oor regmerkies op ‘n prestasie rapport nie.

Maar ek is baie lief daarvoor om by mense te gaan kuier. Ek is seker maar baie introvert van geaardheid- ek wil nie met mense gaan praat nie. Ek wil hulle aan die praat kry. Ek wil luister. Want ek hoor die wonderlikste stories oor mense se lewens. Ek kry dinge wat my diep laat dink. Ek kry verhale wat my diep skok. Mense se verhale van seer, en die hartseer is dat die kerk, en medegelowiges, dikwels aandeel aan daardie seer het.

In onse plattelandse dorpie skinder die mense mos graag, nie almal kan DSTV bekostig nie en dit lyk vir my asof skinder dan beter vermaak  as Peasant TV (1, 2, 3 en e) is. Daardie lekker wat mense het om iets te weet van iemand anders, wat jou darem beter laat lyk as hulle. En loop die stories nie rond nie! Die veeartse is besig om renosters te poach. Ander gesiene sakemanne is nie te vertrou op ‘n Vrydagaand op die plaaspaaie in hulle Land-Cruiser bakkies nie. Het jy gehoor- daardie enetjie wat in matriek was verlede jaar is op die paal!  Daardie dame se naam het uitgeglip as deel van ‘n groot Swingers-netwerk, baie hush-hush. Daardie makelaar is vasgetrap vir bedrog, daardie onderwyser syp te veel…  Haai oe, ons moet vir hulle bid!

Intussen is die vertellers van die stories nie aldag self so heeltemal onskuldig nie. Wie van ons is regtig? Wie van ons kan regtig ‘n vinger na ander wys?

So het ek die afgelope paar weke by ‘n hele paar van die gemeenskap se verdagte karakters gaan kuier. En ek het dit baie geniet. Ek het eerlike verhale gehoor van seerkry. Ek het al ‘n paar keer gewonder, as ek in daardie omstandighede was, of ek regtig anders sou gekies het as die beskinderde ene…

Skinder is karaktermoord.  Tog is dit so eie soos boeresport in ons gemeenskap.

Ek sê mos nou nie ons hoef misdaad goed te praat of mense se selfsug en slegte maniere net te aanvaar as dit teen ons gerig is nie. Maar waaragtag, soms gun mense mekaar nie ‘n plekkie in die son nie. Ek voel nie altyd tuis by die baie heiliges nie… en soms verras die uitgeworpenes se verstaan van genade  my baie. Genade vind ‘n mens soms op die vreemdste plekke…

Ek het dit baie geniet om Sondag weer die wonderlike verhaal van Johannes 8:1-11 met my gemeente te deel:

Oktober, die mooiste mooiste maand…

Ja, ek is maar nog steeds stil.  Steeds besig om die rasende koppie te probeer uitsorteer.

Ek was ook stomgeslaan deur:

  •  Felix BAumgartner se Valskermsprong- WoW!
  •  Lance Armstrong se grootste val
  • Die verlaging van Suid Afrika se kredietgradering met ons wêreldwye vryval in gewildheid as beleggingsbestemming
  • Die eerste lentereën in Nylstroom wat alles van baie stowwerig na baie groen toe geneem het…
  •  Die wonderlike musiek van Arvo Pärt- soos https://www.youtube.com/watch?v=B8qg_0P9L6c
  • Die kultuuraand van ons Hoërskool, met die kinders se gewoonte om dié wat sukkel maar probeer het, die hardste te “cheer”… dit was aangrypend mooi!
  • Gisteraand se prysuitdeling, met soveel talent. Nie net die twee jonge dames in Graad 9 en 10 wat byna al die pryse gewen het nie, ook die outjies wat daar was vir ‘n brons sertifikaat vir rugbypogings… Daar is ‘n wonderlike potensiaal in ons land se jongmense. En dit was so lekker om swart leerlinge net so te sien presteer- ons sportman van die jaar is swart, hy was 3e in die SA’s in die 800 m. Daar was baie swart leerlinge onder die top 10 van elke graad- op meriete! Vir sulke mense moet die regstellende aksiebeleid ‘n belediging wees- hulle het dit deur harde werk self verdien. Mag sulke leiers eendag hierdie land oorvat van die regstelendes…
  • Die boek “Kite Runner” van Khaled Hosseini het my absoluut weggeblaas. Wat ‘n ongelooflike boek van skuld en skaamte, verhoudings en restitusie…  Om te dink hoe wonderlike plek Afghanistan kon gewees het,  en watse aashole die Taliban eintik in werklikheid is! ‘n 18 jarige met wattewolletjiesbaardjie en ‘n stok wat enige dame op straat slaan as sy nie na sy sin reg optree of toe genoeg aangetrek is nie… watter tipe wêreld is dit???!!!
  •  Van die Taliban aashole gepraat (nou gaan Ahmed seker die Midde-Ooste afbrand!) wat ‘n verskriklike skande vir Pakistan dat die Taliban vir Malala Yousafzai kon skiet. ‘n 14 Jarige meisie wat die guts gehad het om op te staan vir die regte van dogters om ook skool toe te gaan.  Sy is ‘n ware heldin, en ek bid sy word mooi gesond daar in Engeland. Maar mag die vlooie van ‘n duisend kamele die Taliban besoek…
  • Die wonder van Stationripper om lekker musiek af te laai!
  • Die wonder dat iemand ‘n trein kan afbrand omdat hy wil staak, en dan die volgende dag moan dat daar nie vervoer vir hom werk toe is nie- so iemand verdien die Nobelprys vir briljantheid…
  • Ek hoor Renosterpoacher horing fyn gemaal is glo baie goed vir allerlei onnoselhede se kuur…
  • My moedertjie word vandag 72 en werk nog steeds as matrone van ‘n aftreeoord siekeboeg in Gomorrah, sal na skool maar deurry en gaan koek eet…
  • Ek het vanoggend my fietsryklere vir die eerste keer van die Argus af aangetrek. Net om te ontdek albei my fietse se wiele “buckle”.
  • Tullian Tchividjian is Billy Graham se kleinseun. Hy het vanoggend so ‘n mooi ding vir my getwitter:
    “Living faith involves two confessions: “I can’t” and “God can.”
    Ek het dalk vir ‘n ruk te diep vasgeval geraak in die “I can’t…” Dit geniet tans aandag…

  • Standbeeld in die ruines van die katedraal by die Hill of Slane in Ierland. Geleen by die Roomse gevaar, saam met hierdie pragtige gebed:
    We beseech Thee, O Lord
    that our fragility may be upheld
    by the remedies of Thy mercy,
    so that what of itself is falling into ruin
    may, by Thy clemency, be restored.”
    Soos opgesit deur Father Mark Kirby

So ek leef nog, en die gedagtes vlieg teen die spoed van wit lig deur my jong onskuldige gemoed.

Hê ‘n fantastiese naweek!

Maandag se inspirerende woorde…

Nee, dis te moeilik…

Ek is al weer in ‘n maalkolk in my kop die afgelope ruk.  Daar kom nie op die oomblik enige iets op om oor te skryf nie. Ek voel weer so “blank”- (lees in Engels… ) soos daardie ongelukkige gebeurtenis tydens die Ou Testament mondeling by Prof Fanie Snyman toe ek uitgejaag is om weer te gaan leer…

Daar is wel enkele dinge waaroor ek dankbaar is vandag:

  • My dogter is vir die week tuis- hulle vakansies is so week na gewone universiteite s’n. Ek en sy het vanoggend 6 km gaan stap en lekker gesels…
  • My swembad is amper weer blou, dit lyk nie meer soos ‘n baberdam nie…
  • Ek het Saterdag ‘n pragtige paartjie op ‘n Lodge getrou met die mooiste uitsig…
  •  Ek het gister ‘n doopdiens gehad, waar ek oor die seën van die Here uit 2 Korintiers 13:13 kon preek… Genade bly die mooiste woord in die Bybel vir my.
  • Ek was verlede week by Skoonma. Gelukkig is myne nie ‘n heks nie…
  • Dit is verskriklik warm in die Bosveld, en ons het nou dringend reën nodig. Die weervoorspelling sê dit lyk belowend vir die naweek…
  •  Vanoggend by die Ouetehuis gaan kuier, by ‘n dame van amper 97 en ‘n oom van 95.  Ek is dankbaar ek is nog nie daar nie!  Maar hulle twee hanteer dit met baie grasie, en dankbaarheid- ek voel altyd beter as ek daarvandaan wegstap. Wens alle ouer mense was so gewees!
  • More se Bybelstudie oor Johannes 7 se 2e helfte is klaar- dis eintlik baie fassinerend as ‘n mens die Loofhuttefees ken, en dan hierdie stuk in daardie konteks lees… Water wat lewe gee…

Dankie vir al die ander wat sulke inspirernde blogs op die oomblik skryf…

 

O ja- die GROOTSTE rede tot dankbaarheid: Ek is so bly ek hoef nie in ‘n Roomyskarretjie te werk nie… Dit is my naaste idee van wat die hel moet wees:

Toedeloetoedoe toeloetetoe tetoeloetoetetoe…

Toedeloetoedoe toeloetetoe tetoeloetoetetoe…

Toedeloetoedoe toeloetetoe tetoeloetoetetoe…

Toedeloetoedoe toeloetetoe tetoeloetoetetoe…

Toedeloetoedoe toeloetetoe tetoeloetoetetoe…

 

Die hele. hele dag lank…