‘n Wilde Wildsveiling by Nylstroom!

Ek en twee van my seuns het vanoggend die Eksotiese Wildsveiling by Castle de Wildt daar doer net buite Nylstroom gaan bywoon.

Dit is ‘n pragtige plek, in die vorm van ‘n Middeleeuse kasteel…

IMG_0055 IMG_0005

Die ouens wat so swaar gebuk gaan onder die resessie was ook daar gewees: ek het 11 helikopters getel toe ek uitstap…

IMG_0049

Daar was 80 lotte op die veiling vanoggend gewees. Die bieëry het begin op ‘n Swart Rooibokram: Wat dink jy is ‘n billike prys vir ‘n Swart Rooibokram? Ons wil nie gaan jag as ‘n rooibokram anderkant R800 kos nie…

IMG_0024Wel, hierdie outjie het gegaan vir R365 000 (nie te veel nulle nie… Drie honderd vyf en sestig duisend rand…)

Daar was troppe eksotiese Njalas op die veiling:  So van R20 000- R30 000 per bul, van so R14000- R17000 per ooi. IMG_0031

Daar was ook pragtige Swartwitpense op die veiling, wat so rondom R250 000 tot R300 000 gegaan het. Elk.

IMG_0018

Maar die ster van vandag se veiling was ‘n Goue Wildebees, genaamd Rommel.  Hier is die MENEER:

IMG_0059Op die jagplase betaal jy dalk so R2500- R3000 vir ‘n Blou wildebees. Wat skat jy het Rommel voor verkoop?

R1.85 miljoen! Een miljoen agt honderd en vyftig duisend rand…  Dis meer as dubbeld wat my pensioen op die oomblik na 20 jaar diens in die kerk is… vir een bok… !!!  Vir dieé wat hierdie goeters verstaan- hier is meneer Rommel se pedigree…: Kyk net die mooi tande!  

IMG_0058

Daar is verseker een of twee ouens met dikker beursies as ekke… Dit het ek vanoggend agtergekom by die Eksotiese Wildsveiling…

IMG_0060

En toe ons uitstap, is hierdie die tipe speelgoed wat hulle by so ‘n funksie adverteer:

IMG_0054Ek het maar in my ou Mazda bakkie geklim, en so deur die trane heen my pad huis toe gevind…

Wanneer die grootste vyand jyself is…

Ek het so baie uitgesien na hierdie jaar se Wimbledon vroue eindstryd. Ek het ‘n nuwe heldin gekry. Sabine Lisicki het my so baie beïndruk gedurende die toernooi. Sy het dan immers vir Serena Williams uitgeskakel- ek het gedink dit gaan nog ‘n dekade neem voor iemand Serena sou wen!  Sy het so ‘n pragtige afslaan, en kan sulke uitstekende balle plaas in die hoekies van die baan.

Teenoor haar het Marion Bertoli te staan gekom. En Bertoli het al ‘n eindstryd beleef en verloor. Al was sy 15e gekeur en Lisicki 23e in die wêreld, het Bertoli ‘n relatief maklike pad na die eindstryd toe gehad.Lisicki het ‘n paar reuse wedstryde gespeel. In die vergelyking van hulle vorige wedstryde het Lisicki 3 wedstryde gewen, en Bertoli 1.

Daarom was ek so gereed vir die eindstryd vanmiddag! Die biltong was gekerf, die tjippies was reg. Hier kom nou ‘n tenniswedstryd wat Djokovic en Del Potro se wedstryd van gisteraand gaan ore aansit… toe nou nie.

Die oomblik was te groot vir Lisicki. Ek was nog so opgewonde toe sy sommer in die heel eerste spel Bertoli se afslaan breek: hier kom ‘n ding. En toe word dit 6-1 vir Bertoli.  Daar was ‘n lang badkamerpouse. Toe Lisicki uitkom, het dit aanvanklik nie beter gegaan nie- gou gou was dit 4-1. Eers toe dit by Kampioenskap punt kom, het my nuwe heldin bietjie wakker geskrik en begin speel soos wat sy kan. En teruggeveg tot by 5-4. Maar die momentum vandag was die hele wedstryd lank aan Bertoli se kant gewees. Sy het verdien om te wen.

Vir Lisicki was die oomblik vandag te groot, in haar heel eerste Grand Slam finaal. Maar ek dink sy gaan leer uit die proses uit. Ek vermoed ons gaan haar weer sien in die toekoms.

Sport leer ons mos net ‘n paar van die lewe se groot lesse.

http://www.facebook.com

Vandag het ek net weer gedink:

  • Talent alleen is nie genoeg nie- ek dink nie daar is enige iets met Lisicki se talent fout nie.
  •  Selfvertroue kan ‘n reuse verskil maak- ek het al soveel keer gesien dat minder talentvolle mense, wat in hulleself glo, baie meer bereik as mense wat op papier veronderstel is om beter te wees.
  • Dit lyk of daar sommige dae in ‘n mens se lewe is wat niks wil reg loop nie, al het jy hoe goed voorberei. Dis maar die lewe- hoe spel ‘n mens C’est la Vie?
  • Elke mens het seker maar daardie dae wat jy jou alie in die openbaar sien, en werklik verneder voel. Lyk my dit gebeur met alle mense- Bertoli was ook daar ‘n paar jaar gelede…
  •  Sommige mense lyk darem nog steeds baie mooi al huil hulle snot en trane…
  •  Dis nie die verloor wat jou gaan breek nie, dis jou gesindheid wanneer jy verloor, wat gaan bepaal hoe die toekoms uitdraai. Ek hoop my nuwe heldin sit vanaand met ‘n notaboeke en maak aantekeninge, en vat die lesse saam vorentoe. Want sy kan wen!  Sy moet dit self begin glo.
  •  Soms gaan jy bo uitkom en wen ook, en jou drome waar maak. Bertoli sê sy droom al vandat sy 6 jaar oud is oor die oomblik om daardie trofee oor haar kop te kan oplig. Sy sê sy het vir jare haar afslane geoefen, en vandag het alles bymekaar gekom.  Harde werk vergroot die kans van sukses vir enige droom.

Ek voel baie teleurgesteld dat ek nie goeie tennis gesien het vanmiddag nie.  Maar ek hoop ek leer ook so paar lessies hieruit vir die toekoms. Ek dink daar is so baie waarheid daarin dat ‘n mens dikwels jou eie grootste hindernis in die pad van sukses kan wees. Ek gaan nog so bietjie oor hierdie sake dink en reflekteer. En dalk nog so stukkie biltong probeer voor die Bulle en die Sharks mekaar aandurf- hoop nie ek gaan weer huil nie!

Ek wonder maar net: hoe kry ‘n mens daardie selfvertroue om jou heel beste te lewer? Enige idees?

Dit smaak my Donkies hoort in die Bosveld…

‘n Goeie gevaarlike rooikopvriendin van my kuier saam met haar gesin by Thabazimbi op die oomblik. Terwyl hulle nou so wild kyk, kom hulle toe af op die pragtigste van alle diere… sy het dit dadelik afgeneem om met my te deel. Met haar toestemming deel ek ook hierdie fantastiese wildbesigtigingsfotografiesetoerresultate met jou.

Adriani 1.

Dit is natuurlik ‘n rare verskynsel in die Bos, die Rooibok en die Koedoe en die Vlakvark en die Renosterstroper is baie meer algemeen, tot jy oor die Botswana grens gaan. Dan, daar in Botswana, is jy in die Donkiehemel. Daar is meer donkies as stemgeregtigdes in Botswana, so hou hierdie spasie dop, ons gaan binnekort ‘n staatsgreep uitvoer. Wie het in elk geval daardie nonsens van een mens een stem uitgedink? Dit diskrimineer teen donkies en bobbejane, en ander diere wat julle homo sapiens so op neersien!  Ek dink die bobbejane en die donkies sal die land in elk geval beter kan regeer…

In elk geval, die moeder en die vul het glo belangstellend nader gestaan, en toe nog ‘n beter foto veroorsaak:

Adriani 2

 

Uit hierdie fotos, wat die afgelope dag of twee geneem is, kan jy duidelik aflei:

  •  Die Winter het gekaap geraak in die Kaap- hier in die Bosveld is g’n niks stuk winter hierdie jaar nie. Die dae word dan 30 grade!
  •  Die hitte  en die droogte van hierdie jaar maak die Bosveld ‘n reuse brandgevaar.  Tweebeen ape wat sigarette rondgooi, kan weer reuse skade veroorsaak wat donkies en bobbejane lelik gaan verontrief.
  • As die donkies so teen die draad staan, dan word daar seker op die koedoes en rooibokke en vlakvarke geskiet in die middel van die kamp. Soms is dit goed om nie glamerous te wees nie- niemand hou van donkiebiltong nie…
  • As die donkies lank genoeg so staan, en die Hilux is reg gepak, kan ‘n mens lank hier sit en kuier. Maar wie gaan die meeste soos ‘n esel optree na die tyd?
  •  Ons lug is selfs in die winter blou. Engeland mis nou al hulle tweede somer se week van sonskyn…
  •  Dis baie lekker om Wimbledon en Tour de France te kyk op die oomblik. Maar die Donkie sal dit alles graag verruil vir die kans op agter op ‘n Land Cruiser te sit, en die diere met die Canon te gaan skiet…
  •  Ek kom die afgelope paar weke maar net agter hoe lief ek ook vir die Bosveld is. Ons het darem bome en voëlsoorte by die duisende… dalk het die Liewe Vader dit tog maar so in die Boek geskrywe dat ‘n mens in die Bosveld moet WOON, en in die Kaap gaan KUIER…
  •  Die gemoed is heelwat beter na ‘n trippie op huisbesoek, baie dankie, ek is nou weer so vroom soos Jan de Wet. “Langs die Viaaaaaa Dolorooooooosa…”
  •  Die petrolprys van oormore gaan Donkiekyk baie duurder maak in die Bosveld…
  • Daar is dalk baie ander dinge wat die wyses ook uit hierdie twee abstrakte fotos van die mens se alterego kan aflei… maar nou moet julle dit maar in die kommentaar publiseer, want ekke- ek gaan nou met ‘n ouerpaartjie gesels oor ‘n pragtige babatjie wat ek Sondag moet natgooi…

So, geliefde broer en suster- enige voorstelle of opmerkings oor die rol van die Donkie in die bevolkingsafname van Botswana?  Net nie resepte vir Donkiebiltong, donkiepotjie ens nie, netnou kry die boere gedagtes… eerder dan maar kreatiewe voorstelle om die donkiebolle sinvol in jou petuniatuin aan te wend…

 

Johnnie is nie dood nie…

Nadat ek Amos se Rolbos vanoggend gelees het, kom Koos Kombuis se liedjie op die wonderlike CD Bloedrivier in my gedagtes op.

Johnnie is nie dood nie… hy is net uitgepass…  Ek sit agter my lessenaar op my afdag, ek sit die Bloedrivier CD in terwyl ek enkele briljante blogs lees… en die volgende lied na Johnnie is: Waar is Mandela?

Mandela is in die Harthospitaal in Pretoria…  Johnnie is nie dood nie… maar ek ruik ‘n helse komplot tussen die gulsiges…

daar is diewe en hijackers in die strate, sing Koos… My dogter is gesmash en grab- nog ‘n spyker in my finansieële kis…

Obama land in Suid Afrika, en Cosatu protesteer- Ons soek seker nie nog jobs nie…

Net nog ‘n *** storie, sê Koos.  Ek sal maar die 1e lied nou skip, ek is nie heeltemal opgewasse vir die *kolsong nie…

Gisteraand het ek en enkele ander manne na Dawie Spies geluister oor die Manne van die Woord beweging. Ja- ek wil graag van Suid Afrika ‘n beter plek maak. Ja, ek wil graag by myself begin. Ja, ek wil graag hê my vrou moet weer opgewonde wees oor wie ek is. Ja, ek wil graag my kinders op die regte pad lei.

Die ander Koos se CD is darem so mooi, maar ek het hom nog nie. Daar waar Koos van Prophet vir Leonard Cohen in Afrikaans sing. Ek sal sommer op die motorfiets stad toe ry vir daardie een…

Die mooiste gebed in Afrikaans is seker maar nog steeds Koos se Mercy Me- daar op Bloedrivier… maar die enkel Gereformeerdes gaan nie daarvan hou nie. Daar is daardie een ou woordjie daarin. Maar die mees opregte gebed wat ek in ‘n lang tyd gehoor het…  genade vir my want ek het my pad verloor…

Anderkant die longdrop… daardie lied draai om een of ander rede al die hele week in my gedagtes rond….

In my siel se diepste dors…

Anderkant die longdrop gaan die son weer skyn, anderkant die longdrop gaan die vlieeë verdwyn…

Solank Johnnie net nie dood is nie…

Die pampoene op die dak en die perskes op die rak sê…

Wat gaan met die Donkie aan vanoggend? Ek dink dis tyd vir Huisbesoek…  daarna sal ek ‘n mooi blog skryf met al die regte klanke, vroom soos Jan de Wet…

 

 

‘n Harde week van grondpad ry… Gatvol blog, moenie lees nie…

Hierdie week is hopelik nou amper verby. Ek het lanklaas in my lewe so ‘n uiters moeilike week beleef soos hierdie een.

Dit het begin met die begrafnis van ‘n man in ons gemeente verlede Saterdag oggend. Ek en hierdie man het mekaar verstaan- ons albei het van motorfietse gehou, ons het dieselfde smaak in boeke en musiek gehad.  Dit is nie lekker om mense te begrawe nie.

Nog ‘n man in ons gemeente het die nuus gehoor dat sy kanker nou na sy longe en lewer toe versprei het, en die dokters praat van 6 weke lewe wat oor is.

Ek het gisteroggend ‘n jong moeder op ‘n plaas in die Bosveld begrawe.   En al is dit die mooiste setting waar ‘n mens begrawe kan lê, sou ek haar soveel eerder in haar kinders se arms lewendig tuis wou sien! 2013-06-21 12.28.01

Al bogenoemde dinge was erg om te beleef in dieselfde week. Maar in al daardie gevalle kon ek voel ek help mense, dat ek daar was vir iemand in nood, en net die seer van mense so klein bietjie kon help dra…

Maar waar ek dit verloor het hierdie week, was by die Ringsitting.  Ons het Dinsdag as leraars informeel bymekaar gekom. Dit was lekker. Maar Woensdag saam met die kerkraadslede in die formele vergadering…   Dit het vir my ‘n baie slegte ervaring geword. Ek wil nie baie oor die inhoud van my ongemak uitbrei nie. Ek dink net die kerk se hantering van proponente stink. en ek is jammer dat hulle dit moet beleef in die “meerdere vergaderings”.  Ek is so moeg vir die institusionele kant van die kerk, waar alles so ordelik en netjies volgens vergaderingsprosedure moet geskied. En goeie dinge wat ‘n reuse verskil kan maak, sommer met ‘n ordemosie van die tafel af gevee kan word, of uitgestel word na volgende jaar se ringsitting toe… Ja, die ringskommissie gaan intussen daarna kyk, die betrokkenes gaan saam vergader (en ek is nie een van die betrokkenes hier nie…) Die boodskap wat uitgedra is teenoor die jongste lid van die vergadering is: Ons gee eintlik nie ‘n hel om nie.   Al kan ons dit met sulke mooi woorde probeer sê. Dan wonder ons hoekom  die tradisionele kerk op pad uit is…  Die klokke lui al lankal, die pasiënt is in ICU, maar ons gaan rustig voort, die Kerkorde sal ons mos beskerm teen die Chaos…

En toe ek terugkom van die RIngsitting, kry ek die epos van die verslag van die Emosionele Intelligensietoets wat ek moes aflê voor my prekie in die Kaap. En dié toets het ek duidelik gedop. Ek het vroeër die week dit vir ‘n aand op die blog gehad, maar weer uitgevee. Die toets het net ‘n klomp ou wonde in my hart weer kom oopkrap.  Daar is ‘n hele paar dinge wat ek weet waarmee ek sukkel in die bediening. Ek het oor jare baie werk daarvan gemaak.  Nou kom ‘n EI toets, en vra 104 vragies- watter een is die meeste jy, watter een is die minste jy?  Daar is nog steeds dinge wat ek meer van hou as ander dinge. Daar is sekere vrae wat glad nie ek is nie, maar ek moet kies en een meeste en een minste werk. Die uitslae kom genadeloos- as ek na die resultate kyk, sou ek myself nie eers wou huur nie.  Geen leierskap potensiaal nie. Druk nie deur met projekte nie. Kan nie aanpas nie. Luister wel goed na mense…  My interpretasie: ‘n regte slapgat…   Ek beleef dat daardie toets my finaal sou gesink het in die beroepingsproses.  Maar ek het gebid dat die regte ding sou gebeur- ek weet nou dat hierdie beroep nie vir my beskore was nie. Maar daardie verslaggie sink my hierdie week in die donker dieptes in.  Ek hou nie van leiding neem nie, dit is waar. Maar ek dink ek kan.  Ek voel nie altyd daarna om deur te druk met iets nie. Maar ek dink my track record sê anders…  Ek was nog nooit goed met Emosionele Intelligensie toetse nie…

Die een ding wat ek weer baie oor wonder, is die aanhaling wat Stephan Joubert eendag gemaak het, en ek kan nie onthou wie dit oorspronklik geskryf het nie- ‘n Man het in die verre Ooste die verskillende godsdienste gaan bestudeer. En dié persoon het die opmerking gemaak: “Every time I see a Buddist priest, I see a holy man. But every time I see a Christian pastor, I see a manager…”

Dit, liewe vriende, is die punt van hierdie gerammel wat ek net van my bors af wil kry, en more dalk weer ‘n keer gaan uitvee. Ek is nie ‘n goeie bestuurder nie. Ek hoef ook nie te wees nie. Paulus het gesê die Ouderlinge is immers die bestuurders van die huishouding van God.  Ek doen my werk omdat ek graag vir mense wil omgee, en saam met hulle ‘n pad wil stap.  My verstaan van die kerk is dalk anders as wat al die gemeentes wat beroepe in die Kerkbode adverteer, wil hê.  Ek wil vir die Here lief wees, en vir mense lief wees. Soos die oorspronklike roeping wat die Here my mee geroep het om in sy diens te staan.  Dis wie ek is- ek het jare lank daarteen baklei, maar ek is nou moeg vir die stryd in myself. Ek gaan nou maar aanvaar wie ek is, en myself ten volle uitleef in dit wat die Here wel vir my gegee het om mee te werk.

Ek hoop volgende week lyk beter!

Ek hoop nie jy het toe hierdie gemors gelees nie!

Die Gatvol Donkie…

Dit is te ver bo my begrip… Psalm 139:6

Dis Saterdagmiddag laat. Die Springbokke speel op Mbombela stadion. Almal juig en skree.

‘n Jong moeder is met haar babadogtertjie op pad huis toe. DIE baba is veilig in ‘n karstoeltjie vasgemaak. Daar is baie kruideniersware agter in die kar.

DIe res het ek uitgevee…

DIe babadogtertjie het ‘n paar kneusplekke op haar kop, en ‘n sny op haar een voetjie… Dis ‘n wonderwerk- sy leef!

Ek moet Vrydag iets sê, en ek…

Die ambivalente dichotomie van teleurstelling…

Hierdie ene moet ek maar in Afrikaans skryf, en heel waarskynlik uitvee ook voor ek waag om die Publish knoppie te druk…

Ek het by een van die lewe se groot kruispaaie uitgekom. Vanoggend was Die Telefoonoproep wat alles kon verander…  En toe hou die pad net reguit aan, sonder enige verandering.

Ek weet eerlikwaar nie hoe om daaroor te voel, of wat om daarmee te maak op die oomblik nie.

2013-06-13 08.23.14

Aan die een kant:

  •  Ek is in ‘n gemeente waarvoor ek baie lief is. Ek het vandat Die Spanning op die toneel verskyn het, dikwels na die mense voor my gekyk, in die erediens, in die bybelstudie, in die gemeente ete, en geweet dat ek baie lief vir hierdie mense en gemeenskap is.
  •  Die gemeente waarin ek is, kyk baie goed na my- ek woon in ‘n fantastiese huis, met die lekkerste braaiplek wat ek ooit kon verwag…
  •  My kinders is op ‘n baie sensitiewe stadium, een in Graad 11, en een in Graad 6, albei het dalk die potensiaal om volgende jaar leiers van hulle skole te wees.  My dogter maak einde volgende jaar klaar met haar studies.
  •  Dit sou bitter moeilik wees om veral my Graad 11 seun in hierdie jaar na ‘n totaal nuwe provinsie te skuif.
  •  Ek kon nie nou enige finansieële “knocks” vat met universiteitskostes van my dogter nie.
  •  Ek is baie lief vir die Bosveld
  •  Ek geniet dit baie om by die Hoërskool betrokke te wees
  •  Daar loop nog ‘n paar rooibokke rond wat ek moet gaan adresseer, en dalk eendag ‘n koedoe ook…
  •  My lewe op die oomblik is baie gemaklik, en baie terreine daarvan is lekker uitgesorteer…

Die Spanning

  •  Ek het in 2006 saam met ‘n baie goeie vriend die erediens van die gemeente in XXX  in die Kaap bygewoon. Ek het regtig net ervaar hoe daar ‘n roepstem van hierdie plek af uitgaan, wat ek nog nie voorheen by ander gemeentes beleef het nie.
  •  Ek het geweet ek moes aansoek doen vir hulle huidige beroep in die Kerkbode, anders sou ek ongehoorsaam wees.
  •  Toe ek my motorfiets in die Kaap gaan haal het, was ek verras toe ek vir ‘n onderhoud genooi word, en “toevallig” in die Kaap was daardie tyd, ek het eerlikwaar gedink hulle het al lankal ‘n beroep op iemand anders uitgebring.
  •  Ek was nog meer verbaas toe hulle my en my vrou nooi om by hulle te gaan preek as deel van die korter lys van 4 kandidate…
  •  Vandat ek gehoor het ek is op die kortlys op ‘n plek wat ek ‘n vreemde dog aangename gevoel oor het, was daar groot spanning in my- om al die redes hier bo onder die “eenkant” lysie en nog meer- ek voel veilig in my huidige omstandighede…   Ek was heeltemal gereed om vir die Here Ja te sê as daar ‘n beroep na die vreemde en verre Kaap sou wees.   Maar ek kon ook nie sien hoe ek dit sou bekostig om daar te wees nie, dit sou ‘n geloofstap van epiese proporsies van my kant af verwag… maar ek was vreemd opgewonde oor die potensiële uitdaging.
  •  Ek is so bang my huidige gemeente interpreteer wat gebeur weer soos ‘n vorige kollega dit gedoen het: dat hulle die indruk sou hê dat ek nie meer HIER wil wees nie, nie meer vir HULLE omgee nie, want dit sou glad nie waar wees nie…

Aan die Ander kant:

  •  Ek is al 19 jaar waar ek nou is.  Ek het in ons Ring al ‘n paar voorbeelde gesien van leraars wat te lank op een plek gebly het, en later hulle dryfkrag verloor het/ uitgewerk is deur gemeentes…
  •  Ek is so bang dat ek in ‘n groef beland, en niks nuuts meer het om my gemeente te bied nie.
  •  Ek is so bang dat ek verstok raak, en nie meer oop is vir verandering en om nuut te dink nie…
  •  Daar is sekere probleme waarvoor ek nie die oplossing in ons gemeente is/ het nie… soos die Sending- ek maak dit nie daar nie, en ek weet dit…
  •  Daar is ‘n groot klomp mense wat baie naby aan my was, wat uit die gemeente oor die jare bedank het. Dit bly meer word. En elke keer maak dit ongelooflik seer. My beeld van ‘n gemeente is dat dit ‘n huisgesin is, en daarom maak gesinslede se bedanking elke keer nuwe skade… daardie las word al hoe swaarder en ek weet nie hoe om dit te hanteer nie. Ek sou so graag nuut, vars en skoon  wou begin…
  •   In 19 jaar stel enige iemand mense teleur, ek het ook. Daardie mense gaan so jammer wees om te hoor ek bly…
  •  Ek was so lus om alles in my lewe te heroorweeg soos wat ek die ou lewe sou oppak, om nuut te gaan begin elders…

Daarom: die Vrae van vandag:

  •  Hoe het ek die Here se stem so verkeerd geïnterpreteer oor die plek?
  •  Wat wil die Here graag hê moet ek nog vir Hom bereik waar ek is?
  •  Ek weet ek moenie, maar ek wonder tog: wat is fout met my dat sommige van my klasmaats al by hulle 4e gemeentes trek, en ek is nog steeds in die gemeenskap waar ek begin het in die bediening?
  •  Ek weet ek moet in elk geval iets leer uit hierdie proses uit. Ek wil in elk geval ‘n klomp dinge in my lewe heroorweeg en nuut oor dink: Beginnende by my gesondheid en fiksheid, die beplanning van my werk, die beplanning van huidige bedieninge waarvoor ek verantwoordelik is. Iets moet verander, dit lyk of dit EK is.

Die Toekoms:

  • Ek IS baie lief vir my huidige gemeente. Ek is steeds geroepe om HIER te wees, en ‘n verskil te maak.  Dit sal my herverbintenis wees, om my alles te gee om ‘n verskil HIER te maak.
  • Ek sou so graag meer effektief wou raak in die uitleef van my gawes.
  •  Ek sou so graag wou ervaar dat ek ‘n verskil in mense se lewens maak.
  •  Ek kort dringend ‘n nuwe uitdaging in die lewe…

Ek gaan dit tog waag om die publish knoppie te druk, dalk meer net vir myself om êrens ‘n rekord van vandag se worsteling te hê, en iets te probeer leer uit wat gebeur… So askies dat hierdie ene in die kuberruim rondlê, die Donkie is net lekker verward en moet dit uit die sisteem uitskryf…

As enige pêrels van wysheid in jou gedagtes opskiet as jy hierdie deurmekaar gebrabbel gelees het, deel dit maar met my…

Die Donkie

Gemengde gevoelens op die Saadrag aand…

Ek probeer darem nou een keer ‘n week by die Donkie uitkom, om vir hom kos te gee. Maar hierdie week is die gedagtes so bietjie moeilik en deurmekaar geklits…

Daar is wonderlike dinge aan die gebeur:

  •  Ons hele gemeenskap is so trots op Arno Botha se debuut in die Springbokspan vanaand teen Italië- ons ken hom goed en hy is darem net een van die ouens wat die hardste gewerk het daarvoor. Hy bly nederig, en toeganklik vir almal van ons!

  • My oudste seun speel heel netjiese rugby- op die bank vir die Hoërskool se eerste span. (In Arno se ou posisie…) Hy is baie beter in die spel met die ovaal bal as wat sy pappie ooit gehoop het om te wees.
  •  My jongste seun het vandag sy rugbyloopbaan by die Laerskool afgesluit- volgende jaar moet hy by die Hoërskool gaan inskakel as ‘n onder 14. Hulle het lelik pak slae gekry by Laerskool Phalaborwa, maar hy het, behalwe vir die 2 knocks en 1 gemiste tekkel, darem baie mooi vir sy pa gespeel!
  •  My skoonma is vandag 82 jaar oud. En anders as die meeste van my pelle het ek nog nooit moeilikheid met haar gehad nie- ek hoop sy word nog lank vir die familie gespaar.

Daar is ook spannende dinge aan die gebeur:

  •  Madiba is alweer in die hospitaal, en die oubaas lyk nie goed nie.
  •  Ek het die lelikste maagkrampe, en begin vermoed ek het ‘n koring weerstandigheid- ons het juis weer so lekker weggelê aan ons plaaslike bakkery se croisants en vetkoeke vandag. Dit raak al meer gereeld dat ek so voel na broderige kos… die gemene deler begin na koring lyk…
  •  Ek beleef een van die heel spannendste tye in my lewe hierdie week- erens in die nabye toekoms kan ‘n enkele telefoonoproep alles verander… ek kan eers heelwat later daaroor gesels… bid maar vir my/ons…
  • My Corolla se agterbande is klaar en ek moet self binne die volgende 1500 km die 105000 km diens betaal…

Daar is lewensveranderende besluite nodig:

  •  Ek het alweer onfiks geraak, en is nou behoorlik gatvol vir my eie slapgatgeit… (skies sensitiewe lesers- effe donker Afrikaans…)
  •  Ek kyk na gesinsfotos, en lyk glad nie sportief en fiks nie. Dit moet nou begin verander want ek wil waaragtag nie so op AL die gesinsfotos lyk nie.
  •  Ek kort dringend bietjie orde in my studeerkamer- die kat sal nie haar kleintjies hier kry nie…
  •  Ek moet dringend weer ‘n goeie boek kry om te lees!
  • Ek wil weer dringend aandag gee aan my tydsbestuur-  ek kan beter doen as wat ek nou doen.
  •  Daar is ‘n paar groot veranderinge nodig in my kop- die manier waarop ek dink is nie lekker op die oomblik nie.

So liewe vriende, die Donkie is ok maar nie so lekker nie…  dalk, as DAARDIE stukkie onsekerheid uit die weg uit geruim word, kan ek weer voluit aangaan met my lewe!  Intussen hoop ek die lewe behandel jou nog mooi, dat jy goeie gedagtes dink en soms iets lekkers aanvang ook.